Ons vier fees in Den Haag

  • 0

In Den Haag was die weer aanvanklik koelerig, maar soos die fees vlam gevat het, so ook het die weer al warmer geword. Ek dink ons het die somer agtergelaat. Dit was lekker om weer vir Wannie en Wilna te sien, en ons kon heerlik kuier na die dag se vertonings. My toespraak by die NZAV is geesdriftig ontvang, die debat waaraan ek deelgeneem het saam met 'n lid van die DA het goed verloop (foto), en ek dink ek het die ATR se standpunte goed vertolk (sien 'n berig van Leopold Scholtz in vandag se koerante hieroor). My lesing Sondag het die klem daarop laat val dat Afrikaans die taal is van almal wat hom praat, dat dit beslis nie 'n witmanstaal is nie, dat dit trouens 'n taal is waarmee bruin en selfs swart Afrikaanssprekendes toenemend identifiseer. Ek kon ook met vrug verwys na ons persverklaring aangaande ons standpunt oor Afrikaans as Afrikataal – daaroor het kykNET my uitgevra; kyk dus gerus na Fiësta om dit te hoor.

Die fees was 'n groot sukses. Dit groei beslis in statuur, daarvan getuig die teenwoordigheid van die ambassadeur, wat die fees geopen het.

Die verskeidenheid kunstenaars getuig ook daarvan: van David Kramer tot Emo Adams (foto); van oom Hannes Coetzee en sy blikkitaar van die Karoo tot auntie Mary Kriel van Namakwaland wat in egte Nama-styl gesing het. Die vertoning van Vinette Ebrahim (foto) en Christo Davids met "My naam is Ellen Pakkies" was beslis 'n hoogtepunt.

En die staande applous van die Nederlanders getuig daarvan. Ronelda Kamfer (foto) se voorlesings uit haar gedigte het inspireer.

Oom Hannes, wat deur David Kramer aan die breë gehoor bekendgestel is, het die mense gaande gehad met sy blikkitaar wat hy met n teelepel bespeel. Sy liedjie “Mahala” het my tone laat omkrul van pure lekkerte.

Jack Parow se gevloekery sal hom egter waarskynlik volgende keer met Jan Tuisbly se kar laat. Ten spyte hiervan was die rockfees in Amsterdam (verneem ek) ‘n heerlike sukses.

Ek is van oordeel dat ons hier ‘n goudmyn besig het, sonder dat ons dit besef, want ons is te bang om 'n graaf te koop om die goud uit te haal. Terwyl instansies soos kykNET, die Dagbreek Trust en selfs Naspers dit besef, gee ons 'n idee wat in ons geledere ontstaan het, weg vir mahala aan die groot korporatiewe Suid-Afrikaanse maatskappye wat reeds begin planne maak om dit nog groter te maak as dit oor twee jaar weer gehou word. Sowel kykNET as Naspers het van hul mees hooggeplaaste uitvoerende beamptes hier gehad.

Dis jammer dat ook ons groot lede-organisasies nie daar was nie. Ek het gedoen wat ek kon, maar alleen gaan ek hierdie veldslag nie wen nie. Kom ons praat weer daaroor.

Lekker om by die huis en by my hond te wees.

Michael

Lees ook Michael se brief uit Parys:

"Die afgelope week was ek besig met my referate wat ek Woensdag by die Internasionale Kongres oor Moedertaalonderrig (9de IAMTE Konferensie, Parys,11–13 Junie) sal lewer met die titel “Language, especially Cape-Afrikaans, as an indicator of identity amongst the Coloured community in post-apartheid South Africa”."

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top