Ons biblioteke: ’n onderhoud met Talita Viola

  • 0
Agtergrond 

Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd

Afrikaans se 100-jarige viering vind oor minder as 12 maande in Mei 2025 by die Taalmonument in die Paarl plaas. Hierdie Taalmonument-viering word georganiseer deur die Afrikaans Amptelik 100-beweging met die titeltema Afrikaans kom van vêr.

LitNet het oor hierdie 100-jarige vieringe berig en sy ondersteuning aan die Afrikaans Amptelik 100-beweging toegesê.

Benewens die tuis- en skoolomgewing is boeke een van die vrugbaarste voerare van ’n taal se voortbestaan. Hulle stimuleer nie net woordeskatontwikkeling nie, maar bied ’n breër blik op uiteenlopende kulturele kontekste en dien as mylpaalmerkers van taalevolusie oor tyd.

As bewareas van boeke is biblioteke daarom die gesaghebbendste rekordhouers van Afrikaans se veranderende zeitgeist.

Daarom, en in die aanloop tot die feesverrigtinge volgende jaar, gaan LitNet by ’n rits bibliotekarisse uit verskillende streke in die Wes-Kaap verneem om van hulle te hoor of, en indien wel, hoe Afrikaanse leesgewoontes oor die jare verander het. Hierdie onderhoudreeks word in samewerking met Kaapse Bibliotekaris aangebied. 

Hierdie onderhoud met Talita Viola is die veertiende aflewering oor ons biblioteke. Talita is senior bibliotekaris by Malmesbury Biblioteek.


Ons biblioteke: ’n onderhoud met Talita Viola


Hoe lank is jy al ’n bibliotekaris en sou jy ooit ’n ander loopbaan oorweeg?

Ek werk al vir 32 jaar in die biblioteek en nee, ek sou nie ’n ander loopbaan oorweeg nie – my hartsaak is nou my dagtaak.

Waarop is jy die trotste as bibliotekaris?

Ek voel meer as net ’n amptenaar by die munisipaliteit. Ek is ’n speurder – van die verlede. Ek soek inligting op, bewaar dit vir die toekoms en ontsluit dit vir die gemeenskap. Ook [is ek trots] oor die boekvoorraad wat ek deur die jare opgebou het, met goeie en relevante titels vir elke leser.

Is bibliotekarisse gefrustreerde onderwysers?

Nee, ek voel nie so nie. Ek wou nooit ’n onderwyser word nie, maar ons werk daagliks met kinders deur middel van take, besoeke aan skole of voorskoolse sentrums. Middae dien ons as nasorgsentrum vir baie leerders wat vir hul ouers wag en moet ons ook in hul behoeftes voorsien.

Talita Viola

Wat is tans gewilde Afrikaanse genres en titels?

Spanningsfiksie en ware Suid-Afrikaanse verhale, soos:

Outopsie – Hestelle van Staden

Kultusse in Suid-Afrika – Jana Marx

Leo – Deon Meyer

Anoniem – Chanette Paul

Die verkeerde vrou – Irma Venter

Kon jy deur die jare ’n verandering in lede se Afrikaanse leesgewoontes waarneem?

Ja, hulle lees nie meer net liefdesverhale in Afrikaans nie. Die feit dat daar nou soveel meer materiaal in hul huistaal (Afrikaans) beskikbaar is, het hul leesgewoontes verander. Biografieë in Afrikaans, reisverhale en goeie spanningsverhale is nou aan die orde van die dag.

Hoe dink jy kan biblioteke bydra tot die hervestiging van ’n leeskultuur?

Ek dink die programme wat biblioteke reeds aanbied, is goeie bronne wat mense interesseer om weer te lees. Programme soos Wêreldboekedag, Biblioteekweek en belangstelling deur boekklubs help ook om die regte boeke wat die gebruikers soek, in die biblioteek te hê en lesers soontoe te lok.

Malmesbury Biblioteek

Watter impak dink jy het die internet op die biblioteekwese gehad?

Sover dit die soek van inligting betref, het dit ’n groot invloed gehad. Kinders verkies om die internet te gebruik. Hulle sukkel egter om tussen die massa inligting die regte inligting te vind – waar ’n boek of ensiklopedie reeds die inligting vir hulle opgesom het. Waar dit oor leesstof gaan, dink ek mense verkies nog steeds om boeke te lees. Boeke se duur pryse maak dit net baie moeilik.

Op watter maniere dink jy kan biblioteke hulleself herdefinieer om relevant te bly?

Openbare biblioteke verskaf dienste aan die algemene publiek wat daagliks gebruik word. Dienste soos SLIMS (ons gerekenariseerde biblioteekboek-soekprogram) maak dit ook vir hul moontlik om baie vinnig uit te vind watter bronne vir hul beskikbaar is. Gratis rekenaargebruik is ook baie relevant. Die stigting van boekklubs, waar hul die geleentheid het om skrywers te ontmoet en oor nuwe boeke te hoor, is ook baie gewild. 

Wat is jou gunsteling-openingsin uit enige Afrikaanse boek wat jy al ooit gelees het?

“Dit het alles met ’n angsaanval begin. ’n Baie ernstige angsaanval.” Uit: Soldaat deur Reynardt Hugo. 

Hoe dink jy gaan Afrikaans lyk en klink teen 2125?

Ek het werklik geen idee nie. Ons gaan in 2025 die 100 jaar mylpaal van Afrikaans as amptelike taal vier en ek glo dat te midde van al die aanslae op die taal, sal dit bly lewe en groei.

Lees ook:

Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top