Ons behoeftes verskil. Wat nou? (Advies van huweliksberader)

  • 2
Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.

Ek onthou toe ek ’n kind was, het ek vir ’n ruk by my grootouers op die plaas gewoon. Saans het my ouma tot laat in die nag solitaire by die eetkamer tafel gesit en speel. Doodmoeg – sy’t die hele tyd gesit en gaap, maar speel het sy gespeel. Eers later, toe ek self getroud is, het ek gesnap dat sy eers heeltemal seker wou maak dat my oupa vas slaap voordat sy by hom in die bed klim.

Is dit dalk jy? Is jy die een wat solitaire speel? Of is jy die een wat in die bed lê en wag? Nie een van die twee rolle het dit maklik nie. Iemand het eendag sinies oor verhoudings gesê: “There’s always the one who kisses, and one who turns the cheek.”

Op 15 Januarie het BiegNet ’n brief van ’n leser ontvang wat in so ’n verhouding vasgevang is. Hy sit met sy hande in sy hare – wat staan hom te doen? Die brief het ‘n stroom reaksies ontketen van lesers wat in dieselfde situasie sit – mans sowel as vroue.

 

Baie gefrustreerd skryf:

Wat doen jy as jou vrou net nie so seksueel as jy is nie? Ek en my vrou sal seks een keer ’n maand hê (miskien elke nou en dan ietsie meer, maar statisties lyk dit maar sleg), en dan kan ek sien sy doen dit net uit plig en nie dat sy wil nie. Ligte af, in die kamer, met geen opwinding behalwe om dit klaar te kry nie.

Ons is albei professioneel, laat 30’s, twee kinders, en beide van ons, al moet ek dit self sê, kyk goed fisies na onsself. 

Ek het al alles probeer – met haar ernstig gepraat, haar “gewine-en-dine”, grappenderwys dit probeer doen, geen druk op haar gesit nie, baklei, gesmeek, ens. Maar niks werk nie. My vraag is net: Moet ek dit maar nou net aanvaar, al het ek meer behoeftes? Moet ek net aanvaar al is my huwelik hoe gelukkig, ek maar hierdie opoffering moet maak en aanbeweeg?

Ek oorweeg nie egbreuk nie en wil ook nie, maar ek is so gefrustreerd ek wil iets oorkom! 

Wat is die alternatiewe – is daar alternatiewe? 

Ek weet regtig nie meer hoe om my frustrasies te oorkom nie. Voel alle vroue so? Het alle getroude paartjies so min seks en raak dit maar so vervelig na tien jaar? Ek is geen seksmasjien nie – ek sal meer as gelukkig wees om dit dan ten minste net 1 x per week te kry, maar doen ander getroude paartjies dit dan meer? En met meer opwinding?

Baie gefrustreerd

Dit lyk asof dit ‘n wesenlike probleem is wat al vir jare aan die gang is, en dringend aangespreek behoort te word.

Ingrid Botha het by die mense wat moet weet, gaan raad vra. Eerste klop sy aan by Muriel Brent, huweliksberader.

Muriel Brent, huweliksberader van Stellenbosch, antwoord:

Dit is belangrik om te onthou dat ‘n egpaar baie selde dieselfde libido het. Ek het in al my jare van huweliksterapie nog nooit ‘n egpaar teëgekom wat dieselfde seksdrang het nie. Hierdie is ook nie ’n geslagtelike seksistiese stelling nie. Beide mans en vrouens voel seksueel afgeskeep deur hul wederhelf.

Duidelik is verskeie veranderlikes onder die soeklig. Mense hanteer spaning op verskillende wyses. Seks word deur sommiges gebruik as ontvlugting, terwyl baie mense se libido ingekatrol word deur spanning.

Die lewe het maar die manier om mense uit mekaar uit te dryf. Vir een deel van die egpaar is emosionele verknogting baie belangrik, terwyl die ander seks as  ontspanningswyse kan sien. Gevolglik is die seksuele kommunikasie van so ‘n aard dat niemand regtig bevredig word nie. Uitputting bring mee dat seksuele kreatiwiteit en eksperimentering as hopeloos te veel moeite gesien word. Die Kama Sutra word beskou as ‘n goeie koeksisterresepteboek en geen moeite word gedoen om jou wederhelf se behoeftes eers te identifiseer nie.

Dus is empatie die enigste wyse om hierdie dilemma op te los. Jy sal moet uitvind wat jou wederhelf weer sal laat ontwaak. Dalk is hy/sy so moeg en gefrustreerd dat seks net as nog ‘n taak beskou word. Vind uit. lees op, stel voor, waag met jou wederhelf. Hou op om die gevoelens van verwerping te versterk deur halfhartige pogings en suggesties aan te wend om jou vermoede te bevestig.

Die beste seks is waar daar ‘n emosionele aansluiting gepaard gaan met die fisiese. Jy sal dalk van vooraf moet leer om jou wederhelf te tempteer, aan te hits en te laat wag. Maar dit vat baie energie en tyd. Kyk tog na julle huidige lewenstyl. Deel julle skielik ‘n bed met kinders en diere? Gaan slaap julle op verskillende tye? Is pornografie jou manier om alleen seksueel bevredig te word? Wat is julle fisiese en gesondheidstoestand? Het een van julle dalk iets ervaar waar julle identiteit en lewensbeskouing radikaal verander het? Het julle lewensituasie verander?

Al hierdie vrae wys tog na een pertinente vraag: Ken jy jou wederhelf of is jy so opgevang in jou eie verwerping dat jy dalk ’n vrotsige minnaar/minnares is wat glad nie die behoeftes van jou geliefde raaksien nie? ‘n Goeie seksvennoot is tog iemand wat kan antisipeer en emosioneel kan aansluit. Beoefen hierdie sg psigiese seks en die fisiese het die manier om te volg.

’n Derde party is tog veel meer veeleisend as die wederhelf wat jy eintlik dink jy so goed ken. Dit is belangrik om te onthou dat wat ons van onself dink, dikwels deur ander gevorm word. Jou wederhelf se lae libido is dalk wat hy/sy vanaf jou lees.

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Julle praat n lot tjol as n hond honger is moet hy rond loop . Seks is in alle gevalle nie die A n & Omega nie . Ons dames (veral in SA ) dink hulle besit iets wat mans behaag wel meeste is oor daai deeng. Maar as die beursie mooi lyk is sy wydsbeen joune .

  • Antoinette van der Merwe

    Ek en my man is al 24 jaar getroud, maar na 'n paar jaar het ons huwelik begin kantel en ons slaap in verskillende kamers omdat hy snork ook, maar ons sekslewe is nie daar nie. Ons het al hoe meer van mekaar af begin weglewe en so ook stel ons glad nie in mekaar se doen en late belang nie en so ook het ons respek vir mekaar verloor en daar is gedurig bakleiery tussen ons en so loop die kinders ook deur, want hul ouers kan nie hul probleme uitsorteer nie. My man het verskriklik gedrink en ek het glad nie daarvan gehou nie. Hy drink nog steeds. Hy beskuldig my van 'n verhouding met 'n ander man, maar dit was bloot 'n vriendskaplike verhouding en ons het net eenvoudig gekliek en kon oor dinge praat wat ek nie eens met my beste vriendin praat nie en ons het geen fisiese kontak met mekaar gehad nie behalwe om met mekaar oor die telefoon te praat en my man het nie daarvan gehou nie. Ek en my man werk ongelukkig saam by een maatskappy en ons huisprobleme bring hy nou al saam met hom werk toe. Hy val my voor my kollegas aan. My man het my gevra om die huis te verlaat en ek het toe begin om blyplek te soek en ander werk ook. Ek weet nie wat om vir hom te antwoord nie. Hy het my gevra of ek by hom wil bly of nie. As ek ja gaan sê weet ek dat die probleem nie eintlik sal opgelos kan word nie al probeer ek hoe hard, maar as ek nee gaan se gaan hy die lewe vir my baie moeilik maak. Ek het gesê ek sal probeer, maar hy laat my nie toe om te probeer nie. Hy gooi die verlede se foute voor my kop. Hy loop met haat, wrok en twyfel in hom rond en ek blameer hom glad nie as hy so voel nie, maar wat my ook laat twyfel moet ek ons huwelik 'n kans gee? Ek weet nie hoe om hom te benader nie. Gaan dit beter wees om maar liewer weg te gaan en met 'n nuwe lewe te begin as om myself te martel deur hierdie situasie? Groete

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top