“Ongehoord”-reeks broodnodige diskoers

  • 1

Tussen 2010, toe ek aan my eerste Woordfees deelgeneem het, en hierdie jaar, het die fees net groter, meer veelsydig en meer inklusief geword. Daar is meer toneelstukke, meer musiek, en ’n wyer verskeidenheid skrywersgesprekke in Engels en Afrikaans.

Die nuweling in hierdie jaar se Woordfees-stal wat my die mees opgewonde stem, is egter nie in een van die bogenoemde dissiplines nie. Die Diskoers-reeks lewer jaar na jaar sprekers van hoogstaande gehalte op wat oor relevante onderwerpe praat. Jaar na jaar word die verhoog by Bloekomhoek, waar die grootste deel van die Diskoers-reeks plaasvind, deur manlike kenners oorheers.

Tot hierdie jaar. Tot vier vriendinne met die idee vorendag gekom het om ’n reeks wat hulle “Ongehoord” noem, aan te bied. Dis vier intellektuele, interdissiplinêre kragtoere, in die vorm van Louise du Toit (filosofie), Julie Claasen (teologie), Stella Viljoen (visuele kunste) en Amanda Gouws (politieke studies).

Hoekom “Ongehoord”? Want die Diskoers-reeks soos wat dit tot nou toe aangebied was, stel nie vroue spesifiek en doelbewus aan die woord nie, en dit stel nie vroue se belange en perspektiewe voorop nie. Dit klink eenvoudig, dit klink voor die hand liggend, maar dit het tot 2018 geneem vir iemand om dit deur te voer.

Die onderwerpe het gewissel van verkragtingskultuur tot politiek, die media, godsdiens en kultuur, asook korrupsie. Gespreksgenote was Lisa le Roux, Marlene le Roux, Raenette Taljaard, Pieter Fourie, Riaan Oppelt, Robert Vosloo en ek self. Benewens in die gesprek oor die media, waar daar nie een enkele vroulike paneellid was nie, was al die gesprekke deur vroue oor vroue vir vroue. Dis eintlik ’n jammerte, en ’n gemiste geleentheid, om in ’n arena waar vroue oor die laaste aantal jaar sulke groot bydraes gelewer het, nie ’n vroulike paneellid wat ’n ander perspektief kon bring, te kry nie.

Wat die Ongehoord-span besonder goed reggekry het, was om die reeks ’n spasie te maak waar vroulike deelname van die gehoor se kant aangemoedig word sonder om manlike deelname uit te sluit. Dis ’n ragfyn balanseertoertjie wat ek Louise du Toit oor twee oggende met die grasie van ’n sweefstokkunstenaar sien uitvoer het.

Die blote feit dat dit nodig was om daardie laaste sin in hierdie rubriek te plaas, wys hoe broodnodig Ongehoord is. Vroue se stemme word bloot nie gehoor in openbare diskoerse nie. Vroue se stemme word nie doelbewus uitgesoek nie. Ek kan my nie indink dat Tim du Plessis, Waldimar Pelser, Heindrich Wyngaard of enige van die ander manlike gespreksleiers ’n oomblik sou wakker lê daaroor of hulle ruimte geskep het vir vroue om deel te neem aan hulle gesprekke nie.

Die een ding wat ek graag sou wou sien, is ’n geleentheid waar Louise, Amanda, Julie en Stella as paneellede met mekaar in gesprek tree oor van die onderwerpe wat hulle as Ongehoord beskou.

Ek sien uit na wat hulle by Woordfees 2019 sal aanbied.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top