Die Departement van Basiese Onderwys sal voortaan sy Funza Lushaka-beurse slegs toeken aan studente wat in 'n inheemse Afrikataal vir die grondslagfase kan klasgee. Michael le Cordeur, hoof van die Universiteit Stellenbosch se BEd-program, reageer.

Die berig “Student teachers funding shock” van 18 Mei in die Cape Times skep sekere wanpersepsies wat ek graag wil regstel.
Ek was vanjaar betrokke by die proses en kan dus meer lig op sekere aspekte werp. Die oorweegrede van die Departement van Basiese Onderwys (DBO) om vanjaar beurse in die grondslagfase (let wel, die reëling geld net die grondslagfase) toe te ken deur voorkeur te verleen aan studente wat een van ons inheemse tale aanbied, is moedertaalonderrig. Daarom is dit vreemd dat diegene wat gereeld betoog vir moedertaalonderrig, nou ’n probleem met die proses ondervind. Moet ons dan aflei dat moedertaalonderrig net goed is as dit om Afrikaans en Engels gaan? Beteken dit dat die beswaarders moedertaalonderrig vir hul eie kinders wil hê, maar dit nie gun vir die swart kinders in die townships nie?
Die DBO assesseer elke jaar die situasie en die onderrigaanbod. Die Funza Lushaka-beurs vir onderwysstudente is ’n poging van die regering om die onderwysagterstande uit te wis. Daarmee is niks verkeerd nie; trouens ek (en ek is seker talle jongmense in ons townships) verwelkom dit. Tans is daar ’n ooraanbod van Afrikaanse en Engelse onderwysers en soos almal weet, is daar ’n reusetekort aan onderwysers wat inheemse tale onderrig wat so nodig is vir moedertaalonderrig. Ons weet ook almal wat die nood in townships is.
Dit help nie ons almal kla as die ANA-uitslae wys hoe swak die lees- en skryfvermoë van ons swart leerders is nie, maar niemand doen iets daaraan nie. Die staat het geluister na ons pleidooie. Die redenasie om die beurs te gee vir ’n swart taal as hoofvak dwing universiteite om swart studente in te neem in die grondslagfase. Daardie studente moet eendag as hulle afstudeer, teruggaan na die townships om ’n verskil te maak aan die leesvermoë van kinders wat tot dusver duidelik afgeskeep is. Is dit so moeilik om te verstaan?
Die student wat aangehaal word, is ook verkeerd. Elke jaar is daar ander fokusareas waar die behoefte bestaan. Die nuwe reëling is ook net van toepassing op nuwe aansoeke vir die grondslagfase. Studente wat reeds die beurs gekry het, gaan voort as hul uitslae voldoende is om dit te ontvang, ongeag veranderinge in prioriteitsareas. Studente wat drie jaar gelede ’n beurs gekry het om ’n Afrikaans- of Engels-onderwyser te word, behou die beurs tot hul studies klaar is. Hulle gaan dus normaal voort met hul studies, want hulle het dit die eerste keer gekry vir die areas wat toe die prioriteit was. Indien hulle beurse weggevat sou word, sou baie moes staak. Nou benodig ons land onderwysers wat in die townships wil skoolhou.
Daar moet ook genoem word dat die DBO vanjaar baie meer op die intermediêre fase (IS) (graad 4 tot 7) en die Nagraadse Onderwyssertifikaat (NOS) gekonsentreer het met die toekenning van die beurse. Vanjaar was die fokusareas in die IF wiskunde, tegnologie en wetenskap, en dieselfde vakke, asook ekonomie en rekeningkunde vir die senior fase. Alhoewel die DBO die besluit geneem het, het ek na ’n gesprek met die dekaan van opvoedkunde aan die US verneem dat alhoewel die dekane nie saam besluit het nie, hulle wel vooraf ingelig is en ook aan die gesprekke deelgeneem het.
Wat sê ons as ouers en onderwysers vir ons kinders? Ons moet hulle eerstens aanmoedig om ’n kopskuif te maak en te besef dat hulle ’n bydrae kan lewer tot die toekoms van ons land deur in die townships te gaan skoolhou as hulle ’n inheemse taal (soos Xhosa in die Wes-Kaap) as hoofvak neem in die grondslagfase. Jongmense wat graag met groter kinders wil werk, moet ons aanmoedig om wiskunde-, tegnologie- en wetenskaponderwysers te word, wat hulle in beide Afrikaans en Engels kan onderrig. En diegene wat graag op hoërskool ons toekomstige leiers wil brei, kan – afgesien van hierdie vakke – ook fokus op ekonomie en rekeningkunde. Daarvoor is daar baie Funza Lushaka-beurse beskikbaar. Ek het ook betroubaar verneem dat die kunste en musiek volgende jaar in aanmerking sal kom.
Die Xhosa-woord funza beteken “om te leer”. Die oplossing vir Suid-Afrika is nie dat alle swart ouers wat dit kan bekostig, hul kinders uit die townships vat en in wit skole plaas nie. So ’n situasie is nie volhoubaar nie; daar is gewoon nie genoeg wit skole om dit te hanteer nie. Ons moet ons land se swart skole verbeter deur daarin te belê. Die Funza-beurse is ’n voorbeeld van so ’n belegging. Op dié manier neem ons Suid-Afrika vorentoe.
Lees Anne-Marie Beukes se reaksie hierop.
Lees Christo van der Rheede se reaksie hierop.


Kommentaar
Le Cordeur praat die situasie en die ANC goed. Dit is 'n waarheid soos 'n koei dat die regering teen veral blankes diskrimineer en veral swartes bevoordeel. JC Steyn noem bv "slegs 2% van die wit studente en 4% van die bruin studente kry beurse" (Ons gaan 'n taal maak, p 456).