Onderwysbeurse slegs vir sprekers van inheemse Afrikatale: Christo van der Rheede reageer

  • 0

Die Departement van Basiese Onderwys sal voortaan sy Funza Lushaka-beurse slegs toeken aan studente wat in 'n inheemse Afrikataal vir die grondslagfase kan klasgee. Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut, reageer.

Christo van der Rheede

Gehalteonderwys lê die basis vir die ontwikkeling van enige land en ’n hoogsopgeleide en toegewyde onderwyser speel ’n sleutelrol in dié verband. Onderwysstudies kos egter hope geld. Vra vir my. My dogter het verlede jaar aan die US afstudeer en het die vierjaar-BEd-kursus vir grondslagfase gedoen. Die Funza Lushaka-onderwysbeurs het sowat R75 000 per jaar bedra, wat haar onderrig- en koshuisgelde gedek het. Ek moes egter ’n tweedehandse voertuig in haar tweede jaar vir haar aanskaf, want sy moes toe proefonderwys by verskeie skole gaan doen. Hierdie uitgawes en al die ander bykomstighede het my sak die afgelope vier jaar behoorlik geskud. Altesaam R500 000. Sonder die Funza Lushaka-onderwysbeurs, wat sowat R300 000 bedra het, sou ek behoorlik bloed gesweet het om haar studies self te finansier.

Sy was bevoorreg om ’n Funza Lushaka-onderwysbeurs te kry om haar professionele kwalifikasie in grondslagfase-onderwys sonder te veel finansiële druk te verwerf. Vandag hou sy in Delft op die Kaapse Vlakte skool. Dit doen sy met oorgawe en professionaliteit. Dat graad 2-leerders soms ’n handvol is, is deel van die pakket, maar in ruil daarvoor het sy ’n vaste betrekking en verdien sy ’n redelike salaris. Sy kry ook ’n pensioen-, mediese en behuisingstoelae. Pa moet soms aanvul as die uitgawes die inkomste oortref, maar toegewyde onderwysers by skole in arm gebiede loop die ekstra myl en finansier heel dikwels uit eie sak die aankope van apparaat en ander bykomstighede vir hul klaskamers.

Dit is ’n voorreg om ’n Funza Lushaka-onderwysbeurs te kry, daarom verwag ek dat my dogter net die beste in ’n staatskool en vir elke kind in haar sorg moet bied. Dis deur middel van die staat se ruim bydrae dat sy vandag is wat sy is en daarvoor is ek dankbaar. ‘n Menigte ander kinders is nie so bevoorreg nie en ek sidder as ek dink wat ouers moet deurgaan om self hul kinders se studies aan universiteite te finansier. Ek het daai pad met my oudste geloop. Hy het ’n BMus aan UK voltooi. Uiters talentvol in musiek, maar het geen studiehulp van die universiteit of studiebeurse van die staat ontvang nie. Sy talent was deurslaggewend om ’n voltydse pos as tweede tromboonspeler in die Kaapse Filharmoniese Orkes te bekom.

Die Funza Lushaka-onderwysbeurs is daarom ’n uitkoms vir baie minderbevoorregte studente wat ’n passie vir onderwys het. Om egter voornemende onderwysers wat aansoek doen om staatsbeurse, nie aan bepaalde kriteria soos verdienstelikheid, finansiële behoefte, ’n middeletoets en ander onderwysbehoeftes te onderwerp nie, is die verkeerdste ding om te doen. Suid-Afrika het byvoorbeeld ’n tekort aan onder andere grondslagfase- en wiskunde- en natuur- en skeikunde-onderwysers, dus moet ’n manier gevind word om die tekorte aan te vul.

Volgens ’n verslag deur die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming getiteld “Onderwysers in Suid-Afrika: Vraag en Aanbod 2013–2025" maak grondslagfase-gegradueerdes slegs sowat 18% van alle onderwysgegradueerdes tussen 2008 en 2012 uit, terwyl die aantal leerlinge wat jaarliks tot die grondslagfase toetree, sowat 33% van die totale leerdertal wat in die stelsel is, uitmaak. ’n Geraamde 30 000 nuwe onderwysers word benodig om onderrig aan die verhoogde leerderinskrywingsgetalle te kan verskaf. Daar word verwag dat die leerdertal van 12,4 miljoen in 2013 tot 13,4 miljoen in 2023 gaan toeneem. Die ander uitdaging is dat daar 'n ooraanbod van onderwysers in sekere vakgebiede is, maar dat daar 'n beduidende tekort in vakke soos tale in alle fases, wiskunde in die intermediêre en senior fases, en wiskundegeletterdheid in die verdere-onderwys-en-opleidingsfase is. Daar is ook ’n wesenlike tekort aan onderwysers wat in die onderrig van inheemse Afrikatale spesialiseer.

’n Verdere groot uitdaging is die klein getal swart leerders wat belangstel om ’n onderwysers te word. Dit hou ernstige implikasies in vir ’n land waarvan 70% van die bevolking swart is en die oorgrote meerderheid in landelike armoede vasgevang is. Studies wys daarop dat jongmense wat by die vermoë is om verder te gaan studeer, liefs in ander rigtings gaan studeer wat hopelik ’n werk in die stad en ’n beter inkomste as in die onderwys kan verseker. Die onderwysberoep het ook vele knoue in die townships weg vanweë die onprofessionele gedrag van sekere onderwysers, en uit studies blyk dit duidelik dat daar in sekere kringe nie veel waarde geheg word aan die onderwys as ’n beroep nie.

Alle Suid-Afrikaners, insluitend die onderwysdepartement, het ’n groot rol om hierdie persepsies om te draai en alles in hul vermoë te doen om meer gehalte swart onderwysers tot ons staatskole te laat toetree. Die Funza Lushaka-onderwysbeurs bied tot ’n sekere mate die oplossing. Die nuutste aanpassing in die kriteria om die beurs in die grondslagfase slegs aan aansoekers toe te ken wat in die behoefte voorsien vir onderrig in inheemse tale om moedertaalonderrig te bevorder, is dwingend noodsaaklik. Om egter studente heeltemal uit te sluit wat nie hierdie tale magtig is nie, maar wat graag in die grondslagfase wil onderrig, is nie grondwetlik en nie gesond nie.

My voorstel is dat die 80/20- of 70/30-beginsel liefs toegepas word om ook toegewyde en oopkop Afrikaans- en Engelssprekende studente wat nie by die vermoë is om hul studies te voltooi nie, maar wat ’n passie vir die onderwys het en wat die toekomstige onderwysleierskorps kan aanvul, ook toegang tot die Funza Lushaka-onderwysbeurs te bied. Goeie prinsipale en vakkundiges is nodig en taal en etnisiteit behoort op die vlak geen, maar géén rol te speel nie. Deur die kraan heeltemal toe te draai loop ons die gevaar dat ons potensiële goeie onderwyserkandidate ontmoedig om tot die onderwys toe te tree. Suid-Afrika het alle hande nodig om die stelsel te verbeter om armoede en verval te stuit. Maar meer nog op leierskap- en vakkundigevlakke.

Lees Michael le Cordeur se reaksie hierop.

Lees Anne-Marie Beukes se reaksie hierop.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top