Onderwys vir almal – kan universiteite 'n verskil maak?

  • 1

unesco650
Die vraag of dit goed gaan met die onderwys in Suid-Afrika kan maar gereeld gevra word. Landsburgers het die reg om te weet hoe goed dit gaan, of al die land se kinders ten minste op skool is, en of daar goeiegehalte-onderwys gegee word.

Die werklikheid is dat dit tans nie goed gaan met die onderwys in Suid-Afrika nie. Volgens Unesco-verslae is daar steeds 15% kinders nie op skool nie, terwyl daar ook baie hoë uitvalsyfers is, geslagsongelykheid in toewysings van bronne en skoolprestasies, en universiteite en volwassene-onderwys wat nie in behoeftes voorsien nie. Hierby vergelyk die gehalte van onderwys aan diegene wat wel op skool is, swak met ander lande, soos blyk uit die prestasiesyfers in lees en wiskunde wat gereeld in die media gerapporteer word.

By die Afrika-konferensie wat einde April 2015 in Arusha, Tanzanië gehou is, is hierdie feite oor Suid-Afrika se onderwys weer bevestig. Die vraag onder bespreking was: Wat doen universiteite om te verseker dat onderwys aan almal van goeie gehalte is?

Die doel met die konferensie was om die vordering met Unesco se Education for all (EFA)- beweging te hersien en riglyne te ontwikkel vir die rol van universiteite vir die volgende 15 jaar. Hierdie konferensie was georganiseer as Afrika-Swede-samewerking, om insette te lewer tot die wêreldkonferensie in Korea oor die post-2015 fase van die onderwys-vir-almal-inisiatief van 22–25 Mei vanjaar (https://en.unesco.org/world-education-forum-2015). Laasgenoemde is deel van Unesco se millenniumontwikkelingsplanne wat deur die meeste lande in die wêreld ondersteun en nagestreef word.

Die tema van die Arusha-konferensie was “Learning together for change” soos uiteengesit op http://www.learningforchange2015.com. Die konferensie was bygewoon deur rektore en akademici van 14 Sweedse universiteite en 24 Afrika-universiteite. Dit was gereël deur die Sweedse vereniging vir hoër onderwys (SUFH) en finansieel ondersteun deur die Sweedse ontwikkelingsagentskap SIDA (http://www.heefa.net).

Die doelstellings van die Education for all-beweging (EFA) is in 1990 geformuleer onder leiding van Unesco, met die verstandhouding dat alle lande in die wêreld sal saamwerk om te verseker dat onderwys inderdaad aan alle kinders beskikbaar sal wees. Ses spesifieke EFA-doelstellings is geformuleer: die uitbreiding van voorskoolse onderwys aan alle skoolgaande kinders, toegang tot primêre onderwys van goeie gehalte, voldoende leerprogramme vir jongmense en volwassenes, verbetering van volwassene-geletterdheid, uitskakeling van geslagsongelykheid in skoolonderwys, en die verbetering van gehalte van verskaffing van onderwys aan almal.

Regerings doen skynbaar baie moeite om hierdie doelstellings te bereik. ’n Volle vorderingsverslag is tydens die Arusha-konferensie deur Zulmira Rodrigues aangebied en is op die web beskikbaar: http://www.learningforchange2015.com/program/speaker-presentations.

Volgens die vorderingsverslag doen Suid-Afrika redelik, met 76% voltooiingsvlak van primêre onderwys, saam met lande in oos- en suidelike Afrika, met 15% van kinders steeds buite die skool. Redes vir die niebereiking van die EFA-doelstellings in hierdie dele van Afrika sluit in die gebrek aan onderwysers, beperkte bronne en weerstand in landelike gebiede om veral meisies skool toe te stuur. Verder was daar volgens hierdie verslag in suidelike Afrika ’n toename in deelname aan sekondêre en hoër onderwys van 203 in 2000 tot 444 in 2012 per 100 000 inwoners. Volwassene-geletterdheid was vasgestel op 81% in suidelike Afrika in 2012. Wat geslagsgelykheid in primêre onderwys betref, met 21 uit 47 lande wat die doel nog nie bereik het nie, was Suid-Afrika in die top 10%. Die verslag het ook aangetoon dat Suid-Afrika swak gevaar het met die gehalte van leeruitkomste: lees 51,7% en wiskunde 30,9% gemiddelde prestasie op die skoolvlakke wat getoets is. Probleme volgens die verslag sluit in swakgemotiveerde onderwysers, deprofessionalisering van die onderwys, en beskikbaarheid van leermateriaal in skole.

Vanjaar is die fokus op die toekoms: Wat moet in die volgende 15 jaar  gebeur om die doelstellings van EFA te verwesenlik? En die vraag by die Arusha-konferensie: Wat is die bydrae van universiteite, veral ten opsigte van die post-2015 fase?

Konferensiegangers het saamgestem dat universiteite ’n baie belangrike rol te speel het in die bereiking van die ideaal van gehalte-onderwys aan almal. Dit hang egter af van die sensitiwiteit vir en ingeligtheid oor die probleem van gehalte van onderwys op skool- en naskoolse vlak en daar is heelwat aanduidings dat universiteite hierdie rol afspeel.

Suid-Afrikaanse universiteite is onder sterk druk om mee te ding, om ranglyste te haal, publikasie-uitsette te verhoog omdat dit beloon word, en om markte te dien deur kennis te kommersialiseer. Hierdie internasionale druk waarvoor Suid-Afrika universiteite swig, word deur die Latyns-Amerikaanse akademikus Carlos Torres beskryf as die gevolg van die dominante ideologie van neoliberalisme. Hiervolgens word die “gesonde verstand”-idee van die rol van universiteite in die samelewing beperk tot dié van ’n enger markgedrewe instelling. Kenmerkend is die norm van “besitlike individualisme”, waarvolgens universiteite toenemend vir hulleself sorg, en in die proses bekend word as plekke waar die belange van die algemene burgery, dit wil sê prioriteite soos gehalte-onderwys aan almal, lankal nie meer gedien word nie.

Wat Suid-Afrikaanse universiteite se rol in die bevordering van gehalte-onderwys aan almal nog moeiliker maak, is dat hulle heel onkrities staan oor die historiese bydrae tot die ontwikkeling van onderwysbeleide soos uitkomsgebaseerde onderwys en die gepaardgaande maatreëls wat meegebring het dat die land se kinders baie swak presteer met lees- en wiskundetoetse in vergelyking met ander lande. Dit beteken onderwys aan diegene wat wel op skool is, is van minderwaardige gehalte. Die regering maak aanpassings teen ’n hoë tempo, maar dis ’n groot geheim wat universiteite hieraan doen. Met hulle kundigheid oor kurrikulumontwikkeling, gehalteversekering, en navorsing oor skoolvakinhoude was universiteite medebepalend vir wat tans op skole aan die gang is. Suid-Afrikaanse onderwysaktiviste soos Odora Hoppers, Vally en Soudien spreek hulle al vir ’n geruime tyd uit oor die gebrek aan relevansie van leerinhoude op skool en die mate van “kognitiewe ongeregtigheid” wat bestaan. Laasgenoemde gaan oor die kennisinhoud wat op skole geleer word en die “amptelike kennis” van die kurrikulum wat steeds Europees en Amerikaans is. Eksamenvraestelle vir graad 12 toets steeds niks van die inheemse kennis van kinders nie. Kennis in gemeenskappe is steeds uitgesluit.

Die gehalte van onderwys aan almal kan ook sterk beïnvloed word deur die navorsing wat universiteite doen. Universiteite se bydrae tot gehalte-onderwys aan almal word egter beperk deur kennispolitiek wat veral te doen het met die verheffing van die waarde van wetenskaplike kennis en die miskenning van alles wat plaaslik en inheems is. Kennisontwikkeling is een van die belangrikste funksies van universiteite, maar in die era waarin Westers-georiënteerde kennis en kennismetodes die hoofstroom vorm, bly die doeleindes van gehalte-onderwys aan almal onbereikbaar. Navorsing op Suid-Afrikaanse universiteite het ’n lang tradisie van kennis-ontkenning en -dominasie, tot die mate dat kritiese stemme praat van kennisongeregtigheid en die behoefte aan kognitiewe geregtigheid. Laasgenoemde het te doen met die bevordering van meervoudige kennissisteme en die hantering van wetenskaplike kennis as een vorm van kennis. Gehalte-onderwys aan almal word ’n haalbare ideaal in situasies waar kennis in gemeenskappe erkenning kry as geldige kennis – kennis wat ook op skool en universiteit onderrig word, soos oortuigend geargumenteer deur Catherine Odora Hoppers van Unisa.

Laastens kan die saak uitgemaak word dat gehalte-onderwys aan almal grootliks deur onderwysersopleiding bepaal word. Programme in Suid-Afrika berei studente voor vir skoolkurrikula en beleide wat onvoldoende is en aan Westerse kennisinhoude, handboeke en eksamens voorrang verleen. En dit bly die uitdaging van fakulteite wat onderwysers voordiens en indiens oplei: navorsing wat die noodsaak van kognitiewe geregtigheid ondersoek, en opleidingskurrikula wat gemik is op die integrering van kennissisteme en bydra tot wat Mbembe van Wits noem kennisdiversiteit verby die Westerse kanon.

  • 1

Kommentaar

  • Sterke positionering van cognitive justice en de noodzaak van universiteiten om de universitas / ' kennisdeling voor en van ieder' hoog in het vaandel te houden. De onderwijzersopleiding heeft daarin een wezenlijke rol.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top