Onderhoudend: Ilse Feinauer en Elzet Kirsten

  • 0


Franci Vosloo stel vrae aan Ilse Feinauer en Elzet Kirsten oor hulle artikel in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe): Tussen tale: 'n Stereoskopiese lees van Breyten Breytenbach se oorblyfsel/voice over aan die hand van literêre teorie.



Breytenbach se teks laat ’n Derrideaanse spoor vir die literêre of vertaalteoretikus. Wat is dié spoor en wat het dit van julle as navorsers geverg om die spoor te volg? En ... is daar ’n eindbestemming?

Wel, nie een van ons is kenners op die gebied van dekonstruksie of Derrida nie. Ons uitgangspunt was die teks, en ons soeke om teorie te vind wat ons kan help om die vertaalaspek van hierdie bundel te hanteer, het ons gebring by teorie wat aansluit by en voortbou op Derrida se idees. Om te hou by Breytenbach se metafoor van reis: ons navorsingsreis was die ontdekking dat dit ’n Derrideaanse spoor is wat ons volg. Ons het ons net deur die teks laat lei.

Ek het êrens gelees dat ‘n Derrideaanse spoor “the mark of the absence of presence” is. Daar is nie ’n bron of ’n begin vir hierdie spoor nie en daar is ook nie noodwendig ’n einde nie. Dit is deels wat dit vir ons so lekker maak om met hierdie bundel te werk. Elke keer wat ons met die teks omgaan, elke keer wat ons insette of terugvoer kry of ’n gesprek (soos hierdie een) voer, gaan daar nuwe insigte en paaie vir ons oop. Soos Breytenbach dit in die Nota stel, “Die reis gaan verder en die gesprek duur voort.”

Ek is geïnteresseerd in die vertaalbaarheid van oorblyfsel/voice over. Sou die bundel vir ’n wyer Suid-Afrikaanse leserspubliek vertaal word, watter kombinasie van tale sou die mees geskikte wees? Want duidelik sou tekstuele en intertalige aspekte nie die hoofkriteria wees om ’n kombinasie te identifiseer nie!

oorblyfsel/voice over is alreeds in Frans vertaal en tweetalig uitgegee as outre voix/voice over. Wat interessant is, is dat die vertaler, Georges Lory, die Frans uit die Afrikaans vertaal het. Die spoor van die Afrikaans is dus in hierdie Franse uitgawe te vind, al is lesers moontlik nie bewus daarvan nie. Frans en Engels het, soos Afrikaans en Engels, ’n komplekse en soms stormagtige verhouding. (Dit kan egter seker in die hedendaagse wêreld van omtrent enige taal en Engels gesê word.) Daar is ook die verdere skakel met Frans, aangesien Breytenbach Frans magtig is en meld dat hy van Darwiesj se Arabiese gedigte nie net in Engels nie maar ook deur Franse vertalings gelees het. Of oortekening as vertaalstrategie in hierdie Frans/Engelse bundel voorkom, of wat die vertaalstrategie is wat gevolg is, is die werk vir ’n navorser wat Frans, Engels en Afrikaans deeglik magtig is.

Indien een van die weergawes in die bundel in ’n ander Suid-Afrikaanse taal vertaal word, sou ons ons voorstel dat dit van die vertaler (en Breytenbach) sal afhang om grafiese en fonetiese sowel as tematiese verbindings in daardie taal en kultuur met die taal en temas van die bundel raak te sien. Al sou so ’n vertaling nie die aantal en gehalte oortekeninge kan hê van die Afrikaans/Engels nie, sou ons graag wou sien dat so ’n vertaling in die “gees” van die oorspronklike gedoen word. Hierdie vraag is egter dalk eerder een wat aan Breytenbach self gerig moet word!

Op daardie noot: ek (Elzet) het die kans gehad om in 2012 ’n gesprek met Breyten Breytenbach te voer terwyl ons besig was met hierdie navorsing. Hy het toe genoem dat daar ’n Arabiese vertaling van die bundel op pad is. Ek kon nog niks verder van so ’n vertaling opspoor nie, maar ’n Arabiese vertaling sal interessant wees, nie net omdat dit die taal was waarin Darwiesj gedig het nie, maar ook omdat Arabies in Suid-Afrika figureer en geskiedkundig in noue kontak met Afrikaans se ontwikkeling was.

Hierdie vraag volg op die vorige een. So ’n vertaalproses gaan nie eenvoudig wees nie. In watter mate sal dit Breytenbach se benadering tot die Afrikaans en Engels wat “weergawes” is van mekaar, wat “terugwerkend” is ten opsigte van betekenis en vorm, en wat moontlikhede vir die tweetalige leser oopmaak, problematiseer?

Presies. Enige vertaling van hierdie bundel sal sekere besluite oor die tipe vertaling vereis. Die een opsie is dat die vertaling ’n tradisionele, getroue vertaling van die een weergawe is (byvoorbeeld van die Afrikaans) en dat hierdie vertaling dan langs die ander taal (die Engelse weergawe is die mees waarskynlike) gepubliseer word. Nog ’n opsie is dat daar gehou word by die “gees” van Breytenbach se vertaling en dat die vertaler nog ’n “weergawe” produseer wat tweetalig aangebied word. Hierdie “weergawe”, sou ons dink, sal gepubliseer word langs die een waarop dit gebaseer is. Dink byvoorbeeld aan ’n Nederlandse “weergawe” gebaseer op die Afrikaans met die twee langs mekaar in een bundel – baie speelruimte vir “vals vriende”!

Weer eens, soos ons by die vorige vraag genoem het, sal die vertaler fonetiese, grafiese en tematiese verbindings moet sien tussen die brontaal (Breytenbach se Afrikaans of Engels) en die doeltaal waarin die weergawe gaan verskyn. Hierdie tipe vertaling sal Breytenbach se ongewone vertaalstrategie nog een stappie verder neem. Die vertaler sal eintlik ’n digter moet wees. (Franci, ons dink hier aan jou navorsing oor vertaler-digters.) En dit sal iemand moet wees wat Breytenbach vertrou – soos wat Michiel Heyns en Leon de Kock in antwoord op Pieter Odendaal se artikel oor hierdie bundel gesê het, min skrywers sal ’n vertaler vertrou om so met hulle teks te speel as wat Breytenbach met sy eie weergawes doen!

Julle verwys na die magsverhouding tussen Afrikaans en Engels, en die omgekeerde invloed van Afrikaans op Engels in die bundel (en die linguistiese vlak in die algemeen). Gestel daar word ’n vertaling in twee inheemse Suid-Afrikaanse tale gepubliseer, hoe sou die kommentaar wat die bundel oor Afrikaans en Engels se posisie lewer, “vertaal” kon word? Hoe sou die gevoelswaarde in só ’n bundel manifesteer?

Soos wat al uit ons ander antwoorde blyk, sal dit afhang van die verhouding tussen die twee tale en die tipe vertaalstrategie wat gevolg word. As hierdie aspek van die bundel “vertaal” wil word, sal dit eintlik beteken dat daar nog ’n weergawe van die gedigte geproduseer word.

Terug na die navorsingsproses. In die artikel maak julle melding van Tymoczko (2003) en Baker (2005) se kritiek op Bhabha se “kulturele” benadering tot vertaling. In watter mate speel julle eie ideologiese, geografiese en tydspesifieke agtergrond(e) as navorsers ’n rol in besluite ten opsigte van ondersoektemas en invalshoeke? Hoe lyk die micro-turns van die vertaalnavorser?

Uiteraard speel ons agtergrond ’n groot rol in hierdie navorsing. Elzet se voorgraadse studie aan Stellenbosch (geografies) was gepeper met postmodernisme (ideologies) en as jong, Afrikaanse, tweetalige persoon (tydspesifiek) identifiseer sy in haar eie ervaring van die lewe sterk met postmodernisme se verklaring van kultuur en taal. Sy het dus natuurlik aanklank gevind by die bundel sowel as by die teorie wat ons in ons navorsing gebruik. Ilse het weer ’n baie sterk begronding in vertaalteorie en taalkunde. Die ongewone aard van Breytenbach se vertaling het haar dus opgeval, sowel as die feit dat ons toepassing van die postmoderne teorie verskil van die meeste ander toepassings van hierdie teorie op vertalings.

Ek (Elzet) het lekker gelag toe ek hierdie vraag lees. Ons navorsing oor hierdie bundel het begin met ’n akademiese opstel wat ek vir Ilse geskryf het as deel van my MPhil in vertaling. Ek onthou dat ek die opstel afgesluit het deur te verwys na my eie beperkinge as navorser sowel as ons beperkinge as akademici. Ek het nogal heel persoonlik geraak en dalk ’n bietjie emosioneel. Ilse het ’n baie mooi opmerking gemaak dat sy my opregtheid waardeer, maar dat ek hierdie tipe opmerkings ietwat anders moet bewoord as ek akademies skryf. Dus het ons ons navorsing begin met ’n bewustheid van ons spesifieke invalshoeke!

Ek (Ilse) is al dronk gedraai agter al die “turns” in die vertaalteorie aan. Soos met baie ander vertaalteoretiese terme is “turns” (wendings) ’n ongelukkige keuse vir die wye verskeidenheid teoretiese benaderings, want dit laat dit klink asof die vertaalteoretici nie tot ’n finale besluit kan kom oor waar hulle hulle moet posisioneer nie. Hierdie verskeidenheid invalshoeke soos Franci dit hier bo stel, is te danke aan die interdissiplinariteit van die vertaalteorie en die meeste taalkundige en literêre teorieë saam met verskeie ander teorieë binne die geesteswetenskappe (selfs die ekonomiese en bestuurswetenskappe kan binne die vertaalteorie ondersoek word). Hier laat ek nog prosesteorieë soos “eye-tracking” en “key-stroke logging” buite rekening. Dit wil nie sê die een benadering moet bo ’n ander uitgesonder word en as “turn” benoem word nie, maar elke benadering of kombinasie benaderings het ’n rol te speel op grond van die ondersoektema. Elzet se navorsing wil juis bewys dat die meer bekende “linguistiese” siening van vertaling nie teoreties die oplossing vir haar ondersoek kon wees nie en sy kon teoreties iets sinvols oor Breytenbach se vertaling bydra slegs mits sy ook die “kulturele” benadering tot vertaling betrek.

’n Wilde vraag: Breytenbach se bundel is gemik op die tweetalige leser. Sou ’n eentalige leser baat vind by ’n lees van die bundel? En indien wel, waarom en hoe? Dalk in die verbeeldingsruimte of in sy of haar antisipering van vorm en betekenis in die “onbekende” of minder bekende “ander” taal?

Ja, definitief! Een resensent het immers voorgestel dat Afrikaanse lesers die Engels eenvoudig moet ignoreer omdat dit so sleg is. Die Engelse weergawe is ook eentalig in Amerika uitgegee en is goed ontvang. As die Engels alleen gelees word, omdat dit “uit die Afrikaans gespruit” het, sal dit soms dalk wees soos om na ’n driedimensionele film te kyk sonder ’n 3D-bril, maar daar is steeds baie uit die bundel te put as slegs een taal in ag geneem word. Die effek wat oortekening in die konteks van die tweetalige uitleg op die tweetalige leser het, bevestig en bou voort op die temas wat deur die digkuns van slegs een weergawe op sy eie al klaar verwoord word – interkulturele kontak en kommunikasie, reis, ontdekking, dood en lewe, bevraagtekening, die onbekende.

Ek (Elzet) is tans besig om hierdie navorsing in Engels op te skryf en moet met my voorbeelde in ag neem dat my lesers nie noodwendig Afrikaans magtig gaan wees nie. Ek vertaal dus die Afrikaans so letterlik moontlik in Engels, maar gee die Afrikaans ook met die ooreenstemmende letters (grafika) en klanke in vetdruk. Hierdie skryfproses het my laat besef dat iemand wat ook twee tale kan verstaan, en veral iemand wat met twee tale werk, al is dit nie Afrikaans en Engels nie, wel waardering kan hê vir Breytenbach se strategie, al kan so ’n persoon nie direk toegang tot die effek daarvan in hierdie bundel hê nie. Soos wat jy sê, Franci, sulke lesers kan moontlik die vorm en betekenis van die onbekende taal antisipeer, omdat hulle wel toegang tot ’n tweetalige verwysingsveld het.

’n Gesprek oor Breytenbach se bundel en ons navorsing het die vermaarde vertaalteoretikus Anthony Pym geïnspireer om die Afrikaans in Breytenbach se bundel in Engels na te slaan (sy kennis van Duits en Sweeds het ook gehelp) om die verskille tussen die weergawes op te tel en met alternatiewe Engelse vertalings vorendag te kom! Hy het dit natuurlik net vir sy eie vermaak gedoen, maar dit wys steeds wat moontlik is en die uiterstes waartoe hierdie bundel lesers al geïnspireer het.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top