Onderhoud: Skeppende Inkleurboek (Ontspanningsterapie vir besige mense)

  • 0

Marianne van Loggerenberg van Pan Macmillan Suid-Afrika vertel Naomi Meyer van Skeppende Inkleurboek (Ontspanningsterapie vir besige mense).

 skeppendeinkleurboek650

Skeppende Inkleurboek (Ontspanningsterapie vir besige mense)
Emma Farrarons (vertaal deur Marianne van Loggerenberg)
Pan Macmillan Suid-Afrika
ISBN 9781920629526

skeppendeinkleurboek1

www.emmafarrarons.com

 

Marianne, ek sien deesdae al meer inkleurboeke vir grootmense op die winkelrakke. Jy het die vertaling van Skeppende Inkleurboek (Ontspanningsterapie vir besige mense) wat deur Pan Macmillan Suid-Afrika uitgegee word, behartig. Vertel my asseblief van hierdie boek.

Skeppende Inkleurboek is ’n sakpasgrootte inkleurboek geskep deur Emma Farrarons. Emma is ’n Franse illustreerder en grafiese ontwerper. Sy is gebore op Cebu, ’n Filippynse eiland, maar het grootgeword in Parys, Frankryk. Die inkleurboek is bedoel om die inkleurder se gemoed te kalmeer en om spanning deur middel van inkleur teë te werk. Dit is ’n pragtig-geïllustreerde inkleurboek gevul met ontwerptekeninge van keurige tonele en ingewikkelde, gesofistikeerde patrone. Die inkleurboek is spesifiek bedoel om grootmense aan te spoor om stil te word en om diep betrokke by hul kunswerke te raak, terwyl die bladsye aandagtig met kleur ingevul word. Dit is wonderlik om te sien hoedat elke illustrasie ’n lewe van sy eie ontwikkel deurdat elke inkleurder se eindproduk van die ander een s’n verskil.

skeppendeinkleurboek3

www.emmafarrarons.com

Ek wou jou vra "Hoe vertaal mens 'n inkleurboek?", maar toe dink ek oor die woord "mindfulness" wat in dié boek se oorspronklike titel gebruik is (The Mindfulness Colouring Book). In plaas daarvan om te fokus op die gevoel dat hierdie konsep onvertaalbaar is as een woord in Afrikaans, sal jy kan verduidelik wat dit vir jou beteken?

Mindfulness beteken vir my eenvoudig om te vergeet van die realistiese realiteit en om diep betrokke te raak by ’n verbeeldingryke realiteit waarbinne daar geen vooropgestelde idees bestaan nie en om spesifiek klem te lê op dit wat in die huidige oomblik geskep, ervaar en ontdek kan word. Vir my is mindfulness die moontlikheid om onverskrokke te kan skep of om onverskrokke deel te word van ’n skeppingsproses, op ’n realistiese of op ’n verbeeldingsvlak.

skeppendeinkleurboek2

www.emmafarrarons.com

Dis amper teenstrydig om te dink dat besige (groot-) mense kan sit en inkleur – vir ontspanning! Wat is jou gedagtes hieromtrent?

Amper teenstrydig, maar gelukkig is alle grootmense nie soos alle grootmense nie en ook nie soos alle besige grootmense nie. Indien daar vanuit ’n besige wêreldperspektief na die inkleuraksie gekyk sou word, klink dit amper onmoontlik om tyd vir inkleur te kan maak, maar gelukkig neem dit nie ure om een illustrasie in te kleur nie. Dit werk op ’n sielkundige vlak redelik goed, aangesien die idee geskep word dat dit nie baie tyd in beslag gaan neem nie, en daarom kan die oomblik van inkleur die besige grootmens insluk en hy/sy begin ontspan sonder dat dit noodwendig op die agenda was.

www.panmacmillan.co.za

www.emmafarrarons.com

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top