Skrywers oor hulle nuwe boeke: René Nienaber se Serendipity.
In ’n sin: Wie is René Nienaber?
Ek spot altyd en sê ek is ’n uitgesproke skrywer vasgevang in die liggaam van ’n verveelde rekenmeester!
Jy het onlangs die boek Serendipity geskryf. Ek sê “onlangs”, maar hoe lank het dit jou geneem?
Ek het maar nog altyd ’n liefdesverhouding met die geskrewe woord. Ek het vir baie jare net gedig en later ook bietjie eksperimenteer met kortverhale. Ek het nie gedink ek het die geduld om myself te verbind tot ’n roman nie, maar toe ek uiteindelik besluit om die bul by die horings te pak, het die hele proses baie natuurlik gekom. Die roman is in minder as ses maande voltooi.
Vertel ons van die storie, asseblief?
Serendipity vertel die verhaal van twee vervreemde susters, Ramona en Jillian, wat deur omstandighede gedwing word om die verlede agter te laat sodat hulle hulle siek moeder in haar uur van nood kan bystaan. Bryn is die eienaar van ’n boekwinkel en Ramona is ’n fotograaf met ’n voorliefde vir toer en weghardloop van moeilike situasies. Ramona is egter genoop om terug te keer Clarens toe om haar suster by te staan in die versorging van Kate, hulle moeder, wat met MS gediagnoseer is. Ramona se diep en donker geheime volg haar egter tot op die voorstoep van haar ouerhuis.
Jillian is die plaaslike dokter en ook Bryn se eerste liefde. Dit was egter ’n baie kortstondige en stormagtige verhouding wat albei met diep wonde gelaat het. Die geheimsinnige kunstenaar wat skielik in Clarens opdaag, is ’n ou vriendin van Jillian – en dis ook omtrent al wat enigiemand van haar weet. Sy dra ’n reistas met haar saam, vol geheime wat met verloop van tyd op dramatiese wyse uit tuimel en nie net haar eie lewe onherroeplik verander nie, maar ook die lewens van Ramona, Bryn en Jillian.
Dis ’n meevoerende verhaal van vergifnis, verlies en die onstuitbaarheid van die noodlot.
Vertel ons van die besonderse omgewing waar die verhaal afspeel?
Ek en my lewensmaat het op ’n slag met die terugkeer van die kus af die afrit Clarens toe geneem met die hoop op ’n lekker ete en ’n vinnige koppie koffie. Dit was een van daardie onverwagse seëninge. Dit was ’n magiese ervaring om die lieflike Clarens binne te ry en ’n groot deel van my hart het daardie dag net daar agtergebly. Dis inderdaad die juweel van die Vrystaat. Op ’n besige naweek vind jy Clarens gons met ’n aansteeklike energie, maar op ’n weeksdag buite seisoen vind jy die suiwerste vorm van vrede, wanneer jy in die middel van die dorpie ’n speld kan hoor val. My lewensmaat het die mooiste ding gesê. Sy sê hier in die stad as jy wil stilte ervaar, maak jy die deure en vensters toe; daar in Clarens maak jy dit oop om die stilte in te laat. Dis ’n konsentrasie van lieflike dinge daar – kuns om elke hoek en draai.
Jy skryf dat die boek geskryf is deur ’n gay vrou vir gay vroue. Is gay vroue dus jou ideale lesers, of sal ander mense ook by die boek kan aanklank vind?
Dis die vreemdste verskynsel – ek het te alle tye karakters in my kop saam met wie ek tyd deurbring. Ek skryf nie werklik ’n storie nie, ek gee hulle eintlik vrye teuels om hulle storie te vertel. Die eindproduk het vir my gelyk soos iets wat dalk meer aanklank kan vind by gay vroue (omdat die grootste meerderheid van my karakters gay vroue is), maar dis regtig baie smaakvol geskryf en verbasend genoeg is die grootste meerderheid van die mense wat dit reeds gelees het, heteroseksuele vroue! Die ideale leser in hierdie geval is dus iemand wat ’n liefde het vir kuns – daar is redelik baie kuns betrokke – en wat die dinamiese werking van verhoudings fassinerend vind. Ja, daar is vir seker romanse betrokke, maar daar is soveel meer in hierdie verhaal opgesluit. ’n Liefde vir Ingrid Jonker of Clarens sal natuurlik ook beteken jy is die ideale leser!
Waarom het jy die boek in Engels geskryf?
Die karakters wat by my gespook het, was Engels en wanneer ek skryf, is dit gewoonlik in Engels. My gedigte was grotendeels in Afrikaans, maar die karakters wat sover hulself aan my bekend gestel het was Engels. Dit mag dalk in die toekoms verander, maar dit waarmee ek reeds weer besig geraak het, gaan ook in Engels wees.
Wat was vir jou die moeilikste aspek van die skryfproses? En die lekkerste?
Ek sou sê die moeilike deel is om af te skakel. Dis ’n baie tydrowende proses en dis ook ’n intense ervaring. Soms stop jy in die middel van ’n hartverskeurende toneel met die skrywery wanneer die dagtake roep. Ongelukkig volg die emosie van daardie toneel jou regdeur jou huis en dit kan ’n swaar atmosfeer veroorsaak. Daarom sou ek sê die moeilike deel val op die skouers van ’n mens se familie. My lewensmaat moes maar aanvaar dat ek soms vasgevang raak. Ek luister wanneer karakters gesels en ek kan enige tyd van die dag of nag ’n toneel neerskryf om dit op ’n latere stadium te gebruik – veral dialoog.
Skrywers word nie maklik ryk nie – waarom skryf jy?
Dis vir seker die geval – veral in Suid-Afrika! Ek skryf want ek kan nie anders nie. Dis werklik die wonderlikste maar vreemdste ding op aarde. Ek het een aand in die bed geklim en ’n paar reëls dialoog het by my opgekom. Ek het wakker gelê tot die son opkom, want die hele verhaal het voor my afgespeel. Al wat ek moes doen was om dit neer te pen.
Wie is jou skryfhelde – plaaslik en internasionaal?
Ek is ’n baie groot aanhanger van Jackie Nagtegaal, Reney Warrington, Ingrid Jonker en Koos Kombuis. Internasionaal sou ek se Patricia Cornwell, Melissa Brayden, Georgia Beers en Jodi Picoult.
Deur wie en hoe is jou boek uitgegee en waar kan mense dit koop of lees?
Ek het nie gedink daar is veel hoop om ’n uitgewer te vind in Suid-Afrika wat my genre sou publiseer nie. Daarom het ek besluit om dit self te publiseer. Ek het ’n baie begaafde fundi, Michelle Bristow-Bovey (voormalige Cape Times resensent) gekry om die boek te proeflees en dit daarna deur Quickfox Publishing gepubliseer. Op die oomblik is dit net in e-boek vorm beskikbaar op Amazon.com en plaaslik op publisher.co.za.


