"Daar wag 'n groot verassing op 'n gelukkige persoon ..."
Spelfoute kan soms snaaks wees, maar dis nie 'n snaaksigheid nie - dit kom algemeen voor.
Op die spel is 'n nuwe spellingprogram op kykNET, en Gerhard van Huyssteen - hoof van die Taalkommissie - hou toesig om te sien of die antwoorde van die deelnemers aan die program korrek is. Naomi Meyer het hom 'n paar vrae gevra.
- Op die persverklaring van die program is daar reeds woorde aangedui waarmee mense dikwels sukkel, soos “onmiddellik” en “komitee”. Watter ander woorde is nog voorbeelde van dié wat Afrikaanse mense sukkel om te spel?
Daar is baie “moeilike” woorde in Afrikaans, wat veral te make het met dubbel- vs enkelkonsonante (soos papegaai vs pappery), vokaalverwarring (soos waardeur vs waardeer), skryftekens (soos dieet vs diëte; finansieel vs finansiële) en los of vas (soos huis toe en op pad). Mense sukkel ook met woorde wat in Engels anders geskryf word. In Engels is dit email, maar in Afrikaans e-pos; in Engels committee, maar in Afrikaans komitee.
- ʼn Mens mag dalk dink Afrikaans se spelling is baie foneties, maar wag maar tot mens vir jou grondslagfase-kind probeer verduidelik hoekom die woord “word” met ʼn “d” geskryf word – hier kan jy nie die voorbeeld van “een hond maar twee honde” gebruik nie. Wat is die reël ten opsigte van “t” en “d” in die algemeen, as daar een is?
Die “d” en “t” aan die einde van woorde lei wel soms tot probleme. Die “reël” wat jy gee, werk goed vir selfstandige naamwoorde, want ons kan meervoude maak van selfstandige naamwoord (een woord, twee woorde). Vir byvoeglike naamwoorde kan ons dikwels vra hoe die woord uitgespreek word as dit voor ʼn selfstandige naamwoord verskyn, byvoorbeeld: Die situasie is absurd (uitgespreek met ʼn “t”), teenoor Die absurde situasie (uitgespreek met ʼn “d”). By werkwoorde kan ʼn mens probeer om “-end” agteraan te plak, byvoorbeeld voed (uitgespreek met ʼn “t”), teenoor voedend (uitgespreek met ʼn “d”). Dis nie ʼn taalreël nie, maar dit help mense om ʼn besluit te neem.
- Los en vas skryf van woorde is iets waarmee Afrikaanse mense deesdae sukkel. Mens kan seker Engels blameer. As jy vir Afrikaanse mense moet verduidelik wanneer skryf mens ‘n woord/konsep vas en wanneer los, hoe sou jy dit doen?
Maklik! Skryf ʼn hutsteken (#) voor die woord en skryf dan alles vas! #maklikereël.
Op ʼn ernstiger noot: as jy twyfel in Afrikaans, skryf dit liewer vas, want dan is jou kans groter dat jy reg is. As daar twee selfstandige naamwoorde langs mekaar staan (soos tafel en poot), dan is die kans groter dat dit vas eerder as los geskryf moet word. Daar is natuurlik uitsonderings (soos (‘n) skool visse), maar oor die algemeen help dié beginsel nogal.
Op skool word leerders dikwels geleer: een begrip, een woord. Ek dink die “reël” veroorsaak dikwels meer verwarring, want vir my is ʼn mediese fonds een begrip, maar ons skryf dit tog los. ʼn Ander beginsel wat dikwels beter werk, is om te kyk na die klem in die woord: in samestellings of ander woorde wat vas geskryf word, val die klem meestal op die eerste lettergreep. Jy moet dus iets in ʼn woordeboek opsoek, maar jy is op soek na meer kennis. Net so is daar meer klem op tafel as op poot in tafelpoot, terwyl skool en visse ewe veel klem dra in (ʼn) skool visse.
- Wat van die klank “e” in plaas van ‘n “i”, en dan weer ander kere ‘n lang “e” teenoor een wat kort uitgespreek word – soos “sukkel”, “gelukkig” en “ontevrede”. Help bietjie om te verduidelik vir iemand wat sukkel met spelling.
Die klank wat jy hoor in ʼn woord soos pit of aan die einde van pale staan bekend as ʼn schwa (in fonetiese skrif die [ǝ]). Daar is ʼn klomp reëls in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) om jou te help om te weet wanneer jy ʼn “e” of “i” moet skryf, maar ʼn algemene beginsel wat help, is om te luister waar die klem in die woord val. As die lettergreep klem dra, word dit dikwels met ʼn “i” geskryf, byvoorbeeld akkedis (teenoor beroemd).
Die lang “e”-klank word meestal met twee e’s geskryf: leer en vrees. Wanneer jy weer die “meervoudtoets” gebruik en jy hoor steeds ʼn lang klank, skryf ons dikwels net een “e”: een leer, twee lere; een vrees, twee vrese.
- Die hele skolestelsel het verander en kinders leer nie meer soos papegaaie spelreëls uit hulle koppe nie. As jy ʼn paar algemene spelreëls vir Afrikaanssprekendes moet uitsonder, wat sou dit wees?
Van die reëls wat ek hier bo genoem het, klink dalk ingewikkeld, maar eintlik is dit nie so moeilik nie. Net soos in wiskunde of chemie, waar daar sekere beginsels is wat ʼn mens moet verstaan, is daar in taal ook beginsels wat ʼn mens moet verstaan – jy hoef dit nie uit jou kop te leer nie. As jy eers hierdie beginsels onder die knie het, is die res eintlik vreeslik maklik. As ek leerders of ander taalgebruikers kan aanraai om slegs drie terreine te probeer verstaan (ten einde goeie verbetering in spelling te sien), sou dit wees:
- Vokale (hoofstuk 16 in die AWS);
- Konsonante (hoofstuk 11 in die AWS); en
- Los of vas (hoofstuk 14 in die AWS).
- Watter raad sou jy in die algemeen vir mense gee wat hulle spelling wil verbeter?
Stap 1 is om te wéét dat jy soms sukkel met spelling. As jy nie van ʼn tekortkoming weet nie, kan jy nie daarop verbeter nie – dit geld alles in die lewe.
Stap 2 sou wees om tegnologie in te span om jou te help. Ons is bevoorreg dat ons in Afrikaans ʼn klomp digitale middele het om ons te help. Ek noem ʼn paar voorbeelde:
- Laai die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se app op jou selfoon/tablet af. Die woordelys van die AWS is deel van die app, en jy kan dus baie maklik soek hoe om ʼn woord te spel. Met Android-fone kan jy boonop die woord sê en dan verskyn die korrekte spelling op jou foon. Jy kan die app in die Play Store of App Store aflaai.
- Teken in op ʼn aanlyn woordeboek, soos byvoorbeeld die nuwe HAT (hataanlyn.co.za), die WAT (www.woordeboek.co.za), of kry binnekort toegang tot beide hierdie woordeboeke op VivA se webwerf (viva-afrikaans.org).
- Skaf vir jou ʼn goeie speltoetser aan, soos byvoorbeeld Afrikaanse SkryfGoed (speltoetser.co.za).
- Skryf in by die gratis webdiens, Beter Afrikaans (beterafrikaans.co.za), en/of laai die Beter Afrikaans-app af in die Play Store of App Store. Jy kan elke dag ʼn kort taaltoetsie doen om te help om jou spelling te verbeter – dit neem ongeveer twee minute om te voltooi en speel-speel meer oor spelling te leer.
- Is idiome besig om in onbruik te raak? Watter idiome is interessantes wat mense nie meer ken nie, as jy dink aan vorige programme soos op die radio wat jy aangebied het?
Ja, ek dink mense (nie net jong mense nie) vergeet maklik van die mooi idioomskat van Afrikaans. In enige taal gee idiome kleur aan jou taalgebruik; dit maak die manier waarop jy iets kan sê, ryk. Jy kan byvoorbeeld van iemand sê: “O, hy is baie jonk, maar het regtig baie ervaring en wysheid”, of dalk liewer ʼn idioom inspan en net sê: “Bietjie baard, maar klipsteenhard”.
Ons moenie dink dat idiome net uit die Middeleeue (raak die kluts kwyt), skeepvaartskunde (die mas opkom) of Groot Trek (hot en haar) kom nie. Ons skep nog steeds idiome in Afrikaans; dink maar aan met eish, gooi mielies, die dam onder die eend uitruk, ens.
- Hoe bied mens ʼn spelprogram op televisie aan – dis tog visuele vermaak, of hoe?
Dit is eintlik baie makliker om so ʼn taalprogram op TV as op radio aan te bied, want op TV het jy soveel meer visuele elemente om mee te werk – die woorde kan op die skerm vertoon word, jy kan ʼn telbord vertoon en jy sien mense se lyftaal.
Dis ook makliker op TV om ʼn “gevoel” te skep en implisiet ʼn boodskap oor te dra. Die vervaardigers van Op die Spel, Homebrew Films, het byvoorbeeld spesifiek gekies vir 'n meer informele benadering tot die program se aard en gevoel. Dit dra hopelik daartoe by dat die program nie as styf en skoolvosserig voorkom nie, maar juis om ook tot "gewone mense" (en veral ook jong mense) te spreek. Die hipotese is dat 'n meer informele benadering daartoe sal lei dat meer mense na die program sal kyk en dat meer mense dus in die proses iets van Afrikaans sal leer.
Hulle het op Rian van Heerden as aanbieder besluit: hy verteenwoordig as 't ware die "man op straat". Hy gebruik baie goeie Afrikaans, maar in informele, gesproke kontekste (soos in die TV-program) kán hy dus maar informele taal gebruik. Teenoor Rian sit ek (as taalkundige) wat sy vrae moet beantwoord. Dié vrae is dus eintlik die vrae wat die kykers sou kon hê, soos: Hoekom skryf ons nieaktief so? Wat beteken alma mater? Hierdie opstelling van die program hoop dus om twee vlieë met een klap te slaan: die kyker (veral ook jonger kykers) word deur Rian verteenwoordig (hy is hulle stem), terwyl ek die boekekennis verteenwoordig.
- Lyk ʼn woord soms vir jou net reg sonder dat jy self die spelreël ken?
As ek ʼn woord skryf, weet ek darem in 95% van die gevalle of die woord reg is, óf dat ek nie weet hoe om dit te spel nie – dan hark ek my digitale hulpbronne nader. Ek dink nie ek sal sommer ʼn fout maak om te besluit of iets een of twee woorde is nie, want my eie navorsing handel meestal oor samestellings in Afrikaans. Ek kom egter agter dat ek soms op sosiale media outomaties foute hiermee maak, juis onder die invloed van Engels. Maar ek sien darem meestal (hopelik) die foute betyds raak.
- Het jy al ooit nodig gehad om vir iemand ʼn woord se spelling te vra sonder dat jy self presies seker was hoe mens dit behoort te spel?
Absoluut! Dit gebeur daagliks dat ek my VivA-app of die HAT moet gebruik om seker te maak hoe om spesifieke woorde te skryf. Ek kan byvoorbeeld tot vandag toe nog nie fasiliteit skryf sonder om in ʼn woordeboek te kyk nie. (Ek het dit pas hier weer verkeerd getik!) En ek kan kennelik nie frikkadel en paraffien skryf nie *bloos*. Soos ek egter verduidelik het: stap een is om te wéét wat jy nie weet nie ...
Hier is nog leesstof oor beter taalgebruik.
Kommentaar
Dit is 'n heerlike program - net jammer dit is so kort.
Wat moet ek sê?