Onderhoud oor Harlekijn en de Zuid-Afrikaanse Dagen: 29 en 30 Augustus

  • 0

Karin Hougaard gesels met Naomi Meyer.

karinhougaard

Karin Hougaard (foto verskaf)

Karin, ek sien op die sosiale media ‘n plakkaat die ronde doen – ‘n musiekkonsert by Herman van Veen se konsertvenue. Wat kan jy ons lesers hieromtrent vertel?

Verlede jaar het ek opgetree by die Herman van Veen Arts Centre op Landgoed De Paltz, Soest Nederland. Tydens my verblyf daar het ek en Herman koppe bymekaargesit oor moontlike platforms wat ons kan skep vir Suid-Afrikaners by sy kunssentrum – ek as “moeder” van die fees en hy die “vader”. Die aanvanklike idee van die eendag-fesie was nie ‘n formele gedoe by De Paltz nie. Ons wou bloot ‘n platform beskikbaar stel vir Suid-Afrikaanse kunstenaars wat toevallig in Europa sou wees of bereid was om op eie stoom op die gekose dag deel te neem aan wat ook al daar plaasvind.

annadavel_vanaf_annadavel_punt_com_gallery

Anna Davel (foto: http://www.annadavel.com/gallery.html)

Ondertussen verskyn Ingrid Glorie, redakteur van Maandblad Zuid-Afrika, op die toneel met die idee om ‘n Afrikaanse CD te vervaardig, gemik op die Nederlandse mark, waarmee sy die diversiteit van Afrikaanse musiek wil ten toon stel. Ingrid is na Herman van Veen met die idee en hy het entoesiasties die projek onderskryf en voorgestel dat ons dit tydens ons Harlekijn en De Zuid-Afrikaanse Dagen-naweek vrystel. Die een ding het gelei tot ‘n ander en nou het ons nege kunstenaars wat oor twee dae optree.

andriesbezuidenhout

Andries Bezuidenhout (foto verskaf)

Wie is die kunstenaars wat almal gaan optree – en is dit alles sang, of nog ander dinge ook?

Die fees word geopen deur die bekende Nederlandse kabaretkunstenaar Claudia de Breij. Suid-Afrikaners wat optree, is Coenie de Villiers, Jannie du Toit, Anna Davel, Luna Paige, Andries Bezuidenhout, Joshua na die Reën, Pops Mohamed, Jaconell Mouton (begeleier) en ek.byvoorbeeld

 

Het jy en Herman saam besluit op die kunstenaars – en hoe het julle diegene gekies wat daar gaan kom optree?

Die CD, ... bijvoorbeeld, was reeds op sigself ‘n seleksieproses en ons het ‘n ope uitnodiging na die fees aan al die kunstenaars op die CD gerig. Vanweë die kort kennisgewing van die fees kon slegs enkele kunstenaars tyd maak in hulle programme om die paar dae by te woon. Die samestelling van die feesprogram het ek voorlopig gedoen, omdat ek bekend is met die kunstenaars. Wanneer ek in Nederland aankom, sal ek en Herman die finale loopordes saam bepaal.

coeniedevilliers_foto_elmien_de_wet

Coenie de Villiers (foto: Elmien de Wet)

Wanneer vind die konserte plaas en waar kan mens kaartjies koop?

Die konserte vind plaas die aand van 29 Augustus en die middag en aand van 30 Augustus by De Paltz, Soest, Nederland. Alle navrae kan gerig word aan www.hermanvanveenartscenter.com.

Sien ook dié Somerbrosjure (let wel: Die Heuwels Fantasties het sedertdien met spyt onttrek omdat hulle ‘n betalende konsert in Suid-Afrika gekry het).

Luna_Paige_foto_Robert_Hamblin

Luna Paige (foto: Robert Hamblin)

Jy en Herman van Veen het al dikwels saam opgetree. Is dit iets wat julle steeds doen? Of reël julle eerder hierdie soort konserte saam?

Ek ken Herman reeds vanaf 2001 toe ek hom in Suid-Afrika ontmoet het. In sy woorde: “Van daaruit ontstond een vriendschap voor het leven; ik noem het zielsverwantschap.” Ek doen minstens elke jaar ‘n Harlekijn Holland-projek, hetsy vir hom of by De Paltz. Die projekte wissel van toneelstukke – Mata Hari, The First Lady, Een dag in September – tot verskeie eenvrou-produksies soos Karin Hougaard Sings Queen, Alien Sky, Hartstukke, of net gasoptredes soos by sy 60ste verjaarsdag of nou weer by Herman van Veen 50 jaar in vak Liedjes in Uitvoering, waar ek drie van sy liedere in Afrikaans moet vertaal en sing, en nóg lekkerder, waar Herman twee van my Afrikaanse tekste gaan toonset!

pops_mohamed

Pops Mohamed (foto verskaf)

Is daar nog konserte wat jy in die toekoms gaan reël waaromtrent jy inligting kan verklap?

Een van die projekte waarna ek geweldig baie uitsien in 2016, is Week van De Afrikaanse Roman, waartydens ek in my hoedanigheid as sanger ‘n toer in die Lae Lande onderneem met van Suid-Afrika se beste skrywers: Marlene van Niekerk, Etienne van Heerden, Francois Smith, Marita van der Vyver en Simon Bruinders. Dit word egter deur Ingrid Glorie gereël!

jaconell_mouton

Jaconell Mouton (foto verskaf)

Jy beteken baie vir die Suid-Afrikaanse kunste deur so ‘n geleentheid te reël. Maar die kunste het mense soos jy hierso ter plaatse ook nodig. Tree jy soms in Suid-Afrika ook op, of is jy op enige manier agter die skerms hier betrokke?

Vanweë die feit dat ek ver woon, word dit toenemend duur om in Suid-Afrika op te tree; gevolglik tree ek heelwat minder op in Suid-Afrika as wat ek graag sou wou. Ek probeer egter om minstens een keer per jaar by Atterbury Teater ‘n vertoning aan te bied. Ek doen ook alternatiewe jare ‘n kunstefees, en ek is maar vol fiemies – ek glo as ek na ‘n fees toe kom, moet dit met nuwe werk wees en dis soms makliker gesê as gedaan!

josua_na_die_reen_foto_santie_korf_fotografie

Josua na die reën (foto: Santie Korf Fotografie)

Ek is egter wel betrokke op gemeenskapsvlak en is ‘n ambassadeur van die iStart2-volhoubaarheidsprojek “A Sustainabilty-through-Arts global movement in which communities participate in re-imagining and implementing solutions towards leaving sustainable footprints for our children” (http://istart2.com en ook http://www.istart2.blogspot.com). In Julie het ek byvoorbeeld saam met Pops Mohamed R100k se WakaWaka Solar-lampies oorhandig aan die NCPPDSA (National Council for Persons With Physical Disabilities South Africa). Ek is ook een van die kunstenaars op die iStart2Sing-CD getiteld Soul of Africa.

janne_du_toit

Jannie du Toit (foto verskaf)

Vertel ons lesers asseblief van jou teater- en skryfwerk?

Einde Augustus verskyn daar een van my kortverhale (of dalk moet ek dit ‘n grilstorie noem) in ‘n nuwe versamelbundel getiteld Skrik op die lyf wat deur Tafelberg uitgegee word. Dit was ‘n heerlik onverwagse uitdaging en nie ‘n genre waarin ek normaalweg skryf nie! Geëerd om deel te wees hiervan.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top