"Sien jou by die bar" is meer as net ’n slagspreuk vir Jean Jordaan. Dis ’n leefstyl. Want om Suid-Afrika se eie Ryan Seacrest te wees moet jy by al wat ’n fees of konsert is, gesig wys, kopskud en tequila koop.
Hierdie blondekop Worcester-seun het na skool besluit om koers te kies na Stellenbosch en sy BA-graad te kry, maar het in daardie tyd sy weg gevind na Mfm, waar hy as aanbieder begin werk het. Daarna het hy sy loopbaan by MK begin en na Johannesburg verhuis en is vandag al byna ‘n permanente deel van die toneel by plaaslike kuierplekke en koffiekroeë, waar mens hom dikwels raakloop. Ek is juis ontbied na een van sy gunstelinge, ODD Café in Greenside, om die man agter die mic te leer ken. Geduldig sit en wag hy vir die Pretorianer wat ewig verdwaal in Johannesburg se nou strate en verwelkom hy mens ook dan as ’n gasheer in sy gebied. Dit is nooit maklik om die tafels te draai op ’n onderhoudvoerder en hom onder kruisverhoor te plaas nie, maar Jean maak dit gou duidelik dat hy al die tyd in die wêreld het om staaltjies te deel en advies uit te deel. Selfs nadat hy vir die vierde keer vir melk in sy koffie moet vra, kan mens steeds die glimlag in sy stem hoor en kan hy onverpoosd sy stories voortsit.
Foto: Louise Pieterse
Jean se sprong van radio na TV was baie skielik en hy het ’n skamele week nadat hy op Studio1 begin het, reeds ’n onderhoud met Sum41 gevoer. "Ek het net in ’n hoekie gestaan en met niemand gepraat totdat hulle my geroep het vir die onderhoud nie. Toe spring ek net in en kry dit agter die rug. Ek het net die week vantevore by Studio1 begin, so dit was nerve-wracking," vertel hy. "Ek het toe ook net ’n paar weke daarna saam met Elma gewerk en toe is sy Nieu-Seeland toe en daar moet ek toe die hele show self oorneem." Hy het vinnig die sink-of-swem-situasie in die TV-wêreld bemeester en was binne ‘n kort tydjie gereed vir die Olimpiese vlinderslag. "Ek het agter die skerms ook betrokke geraak en dinge gedoen soos die MK Awards se script skryf." MK het die voorstel gemaak om een van sy ou programme, Flits, te herwin en tesame met sy vervaardiger, Wilma Smit, het Jean dit omskep in die skreeusnaakse weeklikse nuusbrokkies wat weekliks MK se kykers vermaak. "Ons het oorweeg of ons dit weer net straightforward nuus moet maak soos die ou Flits, maar het toe bietjie rondgespeel en vorendag gekom met die absoluut waansinnige nuus wat ons nou doen."
Bo en behalwe om elke week sy lyf Cruywagen te hou op Flits, skryf hy dit ook. "Flits hou my heeltyd besig, want ek moet heeltyd my oor op die grond hê vir nuwe materiaal wat relevant is tot daardie week."
Buite die televisiewêreld het hy ook betrokke geraak by die uitgewerswese. Hy werk tans vir YourLMG-tydskrif as verspreider en bemarker in Johannesburg. Hy is ook in beheer van Studio1 se sosiale netwerke en hou konstant daardie volgelinge op hoogte van die musiekwêreld se doen en late.
Buiten orkeslede is daar min mense wat meer weet oor die stand van die plaaslike musiekbedryf as Jean. "Musiek in ons land is op ’n baie sterk plek op die oomblik. Maar wat ons nou nodig het, is dat jong mense en ou mense saam na dieselfde musiek kan begin luister. Iemand soos Heuwels kry dit goed reg, maar dis nog nie genoeg nie. Ons moet ’n show kan hê met Kurt Darren, Die Heuwels, Die Tuindwergies en nog ’n popmusikant en almal sal moet kan gaan," sê hy.
Anders as baie mense in die kollig dink Jean al aan die lewe ná TV. "Ek sal definitief weer iets in radio wil doen. Daar is ’n groot mark vir jong Afrikaanse mense in radio en niemand het nog daardie gaping gevul nie, ek sal definitief so iets wil doen. Maar ek sal ook meer betrokke raak agter die skerms in TV."
Alhoewel die bedryf klein is, het Jean ingestap en vir homself ’n mark geskep. Hy het mense weer lus gemaak om iemand te hê wat nuus aan hulle dikteer of om ’n bekende gesig te sien wat op die verhoog spring voor ’n band. Hy is die gesig van MK. Hy is die toonbeeld van waar harde werk jou kan bring. Hy skryf, voer onderhoude en maak ons opgewonde oor musiek. Hy is die man by die bar. Hy is Jean Jordaan.
Foto: Louise Pieterse

