Die vierde reeks van Sandra op 'n drafstap begin binnekort op kykNET. In dié reeks besoek Sandra Prinsloo bekendes in Suid-Afrika se vermaaklikheidswêreld en politieke kringe. In die proses leer mense ook vir háár wat Sandra is, beter ken.
Sy gesels met Naomi Meyer oor waarna kykers in die program kan uitsien.

Hallo Sandra, met kykNET is jy op 'n drafstap in die volgende seisoen van die reeks Sandra: op 'n drafstap. Waarheen en na wie toe is jy in hierdie reeks op pad?
Ek draf saam met Neels Hansen, die vorige artistieke direkteur van TRUK Opera en stigter saam met Mimi Coertze van die Black Tie Ensemble, met die bekende aktrise en doyenne Wilna Snyman, die bekende en beminde Riaan Cruywagen, die skrywer Dot Serfontein en ’n paar ander wat ek as verrassing wil hou.
By die kunstefeeste is die produksies waarin jy optree, altyd uitverkoop, dat mense moet stoele indra. Daar is televisieproduksies, en al die teater tussenin. Is jy nie in elk geval daagliks op 'n drafstap nie?
Die afgelope paar jaar was ek behoorlik op ’n galop en nie net ’n drafstap nie! Wat ’n voorreg en uitdaging is dit nie om aan soveel wonderlike produksies te kon deelneem nie!

Hou jy werklik van draf of stap?
Ek hou niks van draf nie! Ek is egter mal oor Pilates, seil, duik, stap met my honde of met ’n rugsak, dans en roei, en ek doen dit omdat dit lekker is en my kop skoonmaak. Die natuur is ’n wonderlike agent vir balans en help my om perspektief te behou.
As jy kon kies, sou jy nie graag ook wou rus tussenin nie?
Om te rus is nodig en ek doen dit gewoonlik as ek gaan ontspan by my plekkie op die Weskus, of as ek reis. Nuwe lande hou nog steeds ’n bekoring vir my. ’n Goeie boek laat my ook afskakel en so ook ’n aand saam met goeie vriende om ’n tafel met goeie kos en wyn! Maar om te werk bly my passie en ek probeer om ’n balans te handhaaf, maar ek glo nie ek is baie suksesvol daarmee nie!

Sandra op ’n drafstap begin op Donderdag, 8 Janurie om 20:30. Hier is nog inligting oor die reeks.
Hieronder gesels Sandra Prinsloo in 'n kykNET-insetsel oor 'n ander, onlangse toneelstuk.


Kommentaar
Ek het Sandra taamlik gereeld gesien hier so om 1970 se kant, plus of minus 'n jaar of wat. Ek het 'n meisie gehad wat in Kronendal, Sunnyside gebly het en Sandra het op dieselfde vloer gebly. Nooit met haar gepraat of selfs net gegroet nie, net gestaar want sy's mooier as 'n mens. My bek het openlik oopgehang as ek verby haar stap want sy's beeldskoon van kop tot tone; mooi bene, mildelik bedeeld, alles.