Onderhoud met Leandie du Randt oor Kom ons jol op kykNET

  • 1

Kom ons jol, ’n splinternuwe en interaktiewe musiekprogram, bied aan kykers bobaas musiek en hope geleenthede vir dans, saamsing en lag in die gemak van hul eie sitkamer of stoep soos nog nooit vantevore nie. Remona Voges het met Leandie du Randt, een van die aanbieders, gesels.

Leandie du Randt op die stel van Kom ons jol (Foto: verskaf)

Leandie, jy het onlangs by die Kom ons jol-span op kykNET aangesluit. Kan jy asseblief vir diegene wat nie weet nie, kortliks oor die program vertel?

Kom ons jol is ’n lekker live musiekprogram wat elke Saterdagaand op kykNET van 8 tot 10 uitgesaai word. Ek en Hamilton (Hammie) Wessels bied dit saam aan. Mense kry die geleentheid om saam met ons in die jolkamer te kom kuier. Ons post weekliks op Saterdae net voor agt ’n link op Facebook waar kykers dan die jolkamer via Zoom kan join. Kykers staan dan die kans om live met ons  in die studio te gesels. Kykers kan dan ’n musiekvideo van hul keuse versoek. Ons gesels ’n bietjie met die kykers, sê vir hulle hallo en hulle verskyn dan natuurlik ook op TV! 

As jy jouself in vyf woorde moet opsom, wat sal dit wees?

Entoesiasties, spontaan, hardwerkend, dankbaar en gemotiveerd.

Hamilton Wessels is jou mede-aanbieder. Werk julle lekker saam?

Ek love Hammie – hy is baie cool. Hy pas vir my baie mooi by die program en bring ’n lekker energie na vore. Ek en hy het ’n lekker verstandhouding aangesien alles live is en ons het nie ’n teks nie. Ons feed van die mense en van mekaar af. Ek is baie dankbaar dat ek iemand soos hy het wat op sy voete en buite die boks kan dink. Ons het ’n baie lekker tyd op stel.

Leandie du Randt en Hamilton Wessels op stel (Foto: verskaf)

Jy het eintlik bekendheid as aktrise verwerf. Geniet jy dit om ’n aanbieder te wees? Wat verkies jy? Of is dit ’n onregverdige vraag?

Ek is absoluut mal oor aanbieding – dis vir my regtig lekker. Dis die eerste keer dat ek ’n live show doen, so dit is ’n totaal nuwe ervaring en ek moet sê dis nogal addictive! Ek dink ek is besig om verlief te raak op die medium. Ek love die adrenalien en die immediateness daarvan.

Al wat ek al vantevore live gedoen het, is my gereelde motiveringspraatjies. Ek het veral tydens lockdown live webinars gedoen. Ek het volgende Dinsdagaand ’n webinaar – belangstellendes kan my social media dophou vir meer besonderhede hieroor.

Ek het ’n klomp verskillende hoedjies wat ek opsit – ek is ook ’n besigheidsvrou met ’n aanlyn besigheid, To Be Gift Boxes, wat ek saam met my skoonsuster bestuur. Ander kere hou ek my lyf aktrise, ander kere doen ek motiveringspraatjies en ander kere tree ek op as aanbieder. Ek geniet al hierdie verskillende hoedjies wat ek kan opsit en ek geniet die variasie wat daarmee gepaard gaan. Ek dink ook dis belangrik om in ons industrie verskillende hoedens op te sit, want as die een been van die bedryf sukkel, doen die ander een weer goed, en op die ou end vul alles mekaar aan. Ek dink dis belangrik om nie net van een bron van inkomste afhanklik te wees nie, so ek is superdankbaar vir variasie en verskillende tipes werk.

Hoe is die ervaring vir jou om lewendige uitsendings te doen? Was dit vir jou ’n groot uitdaging aan die begin?

Ek was baie nervous die eerste aand, want ek het nog nie lekker die struktuur verstaan nie omdat dit so ’n nuwe, jong program is. Maar na die eerste keer weet jy wat om te verwag, wat great is. Omdat die program van so ’n aard is dat jy eintlik maar moet afspeel van die gehoor, is dit vir my baie lekker, want al wat dit beteken is dat jy present moet wees. As jy present is en jy luister, dan sal jy altyd weet wat om te sê, glo ek. Ek dink as jy van ’n teleprompter moet aflees en als is scripted maar live, is dit weer ’n heel nuwe challenge. Ek sal hopelik eendag die geleentheid kry om dit ook te kan ervaar, maar een ding op ’n slag!

Wat was sover vir jou een van jou gunsteling-episodes of persoonlike hoogtepunte van die reeks?

Ek het nog net twee episodes aangebied, maar 30 Mei se episode was my gunsteling, omdat ek meer voorbereid was oor wat om te verwag as in die eerste episode. Ek en Hammie het ook geweet hoe ons mekaar kan help en hulle het my ook meer betrek by al die Zoom-callers, so ek was bietjie meer interactive met almal, wat ek baie geniet het.

Hamilton en Leandie (Foto: verskaf)

Hoekom is dit belangrik vir ’n program soos Kom ons jol om lugtyd te kry tydens die staat van inperking?

Dis belangrik omdat dit die publiek betrek. Almal sit op die oomblik by die huis en niemand kan hul vriende of ander mense sien nie, so op so ’n manier kom ons almal bymekaar en voel dit asof ons saam jol, al sit ons nie in dieselfde kamer nie. Ons gee dus vir die publiek die geleentheid om virtually saam met ons in ’n jolkamer te kuier en te gesels, en hul mense by die huis kan hul selfs miskien op TV sien. Ek dink dis baie special en dat dit veral onder Afrikaanse mense en mense wat verveeld by die huis sit en lanklaas kon uitgaan, ’n tipe kameraadskap skep.

Na watter kunstenaars kan kykers in die episodes wat nog uitgesaai moet word, uitsien?

Wonderlike kunstenaars soos Brendan Peyper, Juan Boucher, Arno Jordaan, Leah en Willem Botha.

Kom Ons Jol word Saterdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144 met ’n herhaling Sondae om 15:00 op kykNET NOU, DStv-kanaal 146 uitgesaai.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top