Onderhoud met Gerhard van Huyssteen – nuwe voorsitter van die Taalkommissie

  • 3

Gerhard van Huyssteen is Buitengewone Professor aan die Noordwes-Universiteit en verbonde aan die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT).

Hy is pas aangestel as die nuwe voorsitter van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy het met Naomi Meyer oor sy nuwe posisie gesels.

Hallo Gerhard, en baie geluk met die prominente aanstelling by die Akademie. Hoe voel mens as jy sulke nuus ontvang – oor die land, oor Afrikaans, oor al die verantwoordelikheid wat wag?

Dankie, Naomi. Hoe voel 'n mens? Bang-opgewonde.

Aan die een kant bang, was dis 'n enorme verantwoordelikheid. Maar dié bang word gou getemper deur die feit dat jy deel is van die Taalkommissie en dat ek maar eintlik net die een is wat by vergaderings teetyd aankondig. Die Taalkommissie het 'n tradisie van byna 100 jaar, en dié lang tradisie gee 'n mens natuurlik baie sekuriteit. Die goeie werk is reeds deur die Tom McLachlans en die Ernst Kotzés en die Johan Combrinks gedoen. En vir die werk wat nog gedoen moet word, is daar 'n ongelooflik dinamiese en kundige Taalkommissie. Die Taalkommissie-lede weet so ontsettend baie: ek sit terug en leer soos 'n wafferse eerstejaarstudentjie. Ek hoef dus nie bang te wees nie ...

Aan die ander kant opgewonde, wat eintlik seker 'n bietjie van 'n cliché is. Maar ek bedoel dit in sy oorspronklike betekenis: dit wat opgewen is. Dit voel of daar so baie is om te doen, so baie idees, so baie geleenthede. En al wat ek moet doen, is om daardie geleenthede te ontsluit – deur geld te soek, deur met mense te gesels, deur konkrete dinge te doen. Ek voel dus 'n bietjie soos 'n bliksoldaatjie wat opgewen is. Ek is opgewonde ...

Hier by LitNet trek dit in die besonder ons aandag dat jy betrokke is by tekstegnologie. Afrikaans oor grense heen op die internet. Of interpreteer ek dit verkeerd? Wat beteken dit presies, ook teen die agtergrond van die aanstelling pas?

Tekstegnologie is programmatuur of stelsels wat mense help om beter met mekaar of met rekenaars te kommunikeer. Dink aan goed soos spel- en grammatikatoetsers, programmatuur wat outomaties lang dokumente kan opsom, of stelsels wat resensies (of Facebook) kan ontleed om agter te kom of iemand positief of negatief oor jou produk voel. Masjienvertaalstelsels is 'n ander goeie voorbeeld: jy tik Afrikaans aan die een kant en kry Engels/Frans/Spaans/Zoeloe aan die ander kant uit. Ek is by die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) van die Noordwes-Universiteit by navorsing en ontwikkeling oor dié soort stelsels betrokke.

In die Taalkommissie gebruik ons ook (taal)tegnologie in ons werksaamhede. Ons neem besluite onder ander deur na patrone in groot versamelings tekste ('n korpus) te gaan kyk. En ons gebruik pasmaakprogrammatuur om die woordelys te bewerk, sodat ons kan probeer om konsekwente besluite te neem.

Afrikaanse mense is divers, daaroor bestaan geen twyfel nie. Skaar die Taalkommissie hom by enigiemand, of hoe posisioneer julle julself?

Baie duidelik en eksplisiet skaar ons ons nie by enige spesifieke sprekersgemeenskap of politieke groep nie. Die Taalkommissie is so apolities soos 'n uitgebrande stuk hardekool na 'n spitbraai.

(Taal)politiek is nie deel van ons mandaat nie. Wat nie beteken dat ons nie sensitief is nie.  Allermins! Ons het byvoorbeeld by die sitting jongslede 'n lang en uitgerekte debat gehad oor die skryfwyse van "bruin/swart/wit mens" (teenoor "bruin-/swart-/witmens”. 'n Klomp oorwegings in ag genome (waaronder soektogte in korpusse om te sien wat in geskrewe tekste gebeur), het ons ook na gevoelsaspekte gekyk en toe besluit op die los vorm as voorkeurvorm in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, oftewel AWS. As makers van 'n normerende woordeboek (die AWS)  moet ons ook polities verantwoordelik wees. Dis deel van ons verantwoordelikheid.

Kaaps was onlangs onder die loep met die Adam Small-gesprek. Of dalk is dit net deur die media op die voorgrond gedruk, want dis 'n taal wat al generasies lank bestaan. Sou jy reken dis tyd dat wit Afrikaanssprekendes ook Kaaps leer, of is dit dieselfde taal?

Nou praat ek in 'n persoonlike hoedanigheid en nie in my hoedanigheid as voorsitter van die Taalkommissie nie. Want as ek hier 'n belydenis in die kuberskemering kan doen: ek weet eintlik nie. Ek is van huis uit 'n morfoloog en nie 'n sosiolinguis nie. (Miskien moes ek beter opgelet het in Christo van Rensburg en Vic Webb se honneursklasse?) Ek dink dat Afrikaans sy wortels in Afrika het, as 'n tussentaal. En dat die Noordelike Afrikaans wat ek praat, ook sy wortels in Kaaps het, soos wat Kaaps ook onder andere sy wortels in Nederlands het. Een deel van Afrikaans het so gegroei, en 'n ander deel sus. Wat dit nie 'n klomp verskillende tale maak nie, net soos wat Vlaams en sogenaamde Algemeen-Beskaafde Nederlands nie verskillende tale is nie. Sommige (politieke) groepe in die Lae Lande argumenteer dat Vlaams 'n afsonderlike taal is; groepe in Suid-Afrika argumenteer dat Kaaps 'n eie taal is. As taalkundige dink ek dat dit 'n interessante standpunt is wat verder nagevors kan word; as 'n Afrikaanssprekende dink ek dat Afrikaans armer sal wees sonder Kaaps.

Terug met 'n Taalkommissie-hoed op: op 17 Januarie 2014 hou die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Afrikaanse Taalraad juis 'n seminaar in Pretoria met die tema "Afrikaans: Almal se taal!". Miskien kan ek daar meer leer?

Wat is jou eerste prioriteite met die oog op die toekoms binne hierdie belangrike taalorganisasie?

Die Taalkommissie sien die digitalisering (en by implikasie globalisering) van Afrikaans as een van die belangrike prioriteite. Gebruikers van Afrikaans moet oor twintig, vyftig en honderd jaar van nou steeds die taal in sy hoë funksies (soos in howe, in die media, in die letterkunde) kan gebruik. Die Taalkommissie moet saam met ander help dat Afrikaans die woordeskat, die uitdrukkingsvermoë en die hulpbronne het om dit te kan doen.

Te dien effekte werk ons baie hard aan die daarstelling van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (vivA!) as 'n projek van die Akademie. Ons wil poog om die infrastruktuur daar te stel sodat produkte en dienste vir Afrikaanse taalgebruikers ontwikkel kan word. 'n Klomp goed moet agter die skerms gebeur: soos om teks- en spraakkorpusse saam te stel, of om 'n omvattende grammatika van Afrikaans te ontwikkel (in samewerking met die baie opwindende Nederlandse en Friese projek, Taalportaal; sien www.taalportaal.org). As uitvloeisels van sulke agtergrondhulpbronne wil ons konkrete hulpmiddels vir Afrikaanse joernaliste en e-posskrywers en Facebookers skep: dink byvoorbeeld aan 'n mobiele weergawe van die AWS, of 'n taaladviesdiens waar jy kan gaan aanklop as jy nie weet hoe om "grootgeldprojek" te skryf nie, of aanlyn toegang tot 'n groot databank met vakterme (om enkele voorbeelde te noem).

Hierdie inisiatief maak my ontsettend opgewonde. Soos Wannie Carstens al by geleentheid gesê het: "Dit is waarskynlik een van die belangrikste ontwikkelinge in Afrikaans sedert die oprigting van die WAT vroeg in die twintigste eeu." Tans is ek opgewonde (!!) om geld vir dié grootgeldprojek te probeer kry ...  

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Gerhard van Huyssteen verskil van voorgangers, soos Tom McLachlan en Ernst Kotze, deurdat hy nie bereid is om aan die Afrikaanse taalstryd deel te neem nie en selfs deelname ontmoedig. Eintlik beteken polities verantwoordelik vir hom polities korrek. Dit is waarom hy verwys na sogenaamde Algemeen-Beskaafde Nederlands en hy positief teenoor die mengeltaal Kaaps ingestel is. Hy is versot op Afrikaanse woordspeletjies, maar wat baat dit as Afrikaans weens gebrek aan aktiewe teenkanting deur verengelsing verswelg word? Van Huyssteen hou van koppeltekenlose woorde wat moeilik leesbaar is, bv die pleknaam Rooiels pleks van Rooi-els. Hy kan gerus kennis neem van Johan Combrink (wat hy hier bo noem) en Johan Spies se sinvolle standpunt: "Die koppelteken is 'n groot hulp en daarom 'n hoflikheid van die skrywer teenoor die leser; die leser wil nie twee keer na 'n woord kyk om hom te lees nie. Waar die koppelteken hom kan help, moet een inkom" (SARA: Sakboek van regte Afrikaans, Kaapstad: Tafelberg, 1986, p 83). Die vermyding van funksionele koppeltekens is onregverdigbaar. Koppeltekens is bv nie skaars of duur nie.

  • Beste Johannes Comestor,
    Dit is so dat die koppelteken 'n hulpmiddel is met lees, maar hoeveel koppeltekens ken jy? Ek weet net van een.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top