Onderhoud met Floris Smith, die goue rieldansers se bestuurder

  • 3
rieldansgoud.1

Rieldanswenners arriveer op Kaapstad se lughawe (foto: Izak de Vries)

 

Die Nuwe Graskoue Trappers, wat doer ver in die Cederberg woon, het die wêreld stof in die oë geskop met hulle optrede by die 18de Internasionale Wêreldkampioenskap vir die Uitvoerende Kunste in Los Angeles in die VSA.

Die groepie het verskeie medaljes verower: 

Produksielyn: Goud

Tradisionele volksdans: Goud

Klopdans (“Tap dancing”): Goud

Ope kategorie: Silwer vir die Gumbootsdansers

Orkes: Vyf silwer en twee brons.

Izak de Vries het met die groep se bestuurder, Floris Smith, ’n onderhoud gevoer.

Floris is baie beskeie, maar bo en behalwe alles wat hy vir die riel doen, is hy ook die assistenthoofbestuurder én die uitvoerende sjef van die luukse oord Bushmans Kloof in die Cederberge. As sjef het hy al pryse gewen, maar dis nie waaroor hy wou gesels nie.

Floris, wat eintlik Engelssprekend is, het die grootste deel van die onderhoud in Afrikaans gedoen.

riel_floris_smith

Rieldansers saam met Floris Smith (regs). Foto: Izak de Vries

* * *

Floris, hoe het jy by die riel betrokke geraak?

Dans in enige vorm is vir my ’n passie. Ek kom van ’n klassiekedans-agtergrond en het vir ’n paar jaar klassieke ballet gedans. Nadat ek begin werk het in afgeleë plekke, ver weg van die stad af, was dit nie vir my moontlik om met hierdie passie voort te gaan nie. Ek het toe by my nabye gemeenskap betrokke geraak.

Ek het kennis gemaak met die riel in 2010 toe ek saam met vriende by die rielfinaal in die Paarl was. Ek het huis toe gekom en onmiddellik navorsing begin doen en begin vrae vra in die gemeenskap. Toe verneem ek dat Wupperthal wel in 2006 die eerste ATKV Rieldanstrofee gewen het. Ek het die gemeenskap bymekaar gekry en, met die finansiële hulp van Bushmans Kloof, twee groepe gestig.

Die riel beleef skielik ’n enorme oplewing, ná dit vir jare ’n stiefkind was. Waarom dink jy is dit so?

Dit is soos enigiets in die wêreld daar buite. Dit verg een persoon met inisiatief en ’n visie om iets van stapel te stuur. Elias Nel het die visie gehad om ’n tradisie en kultuur wat besig was om uit te sterf, te red. Hy het daarmee grootgeword en hy wou dit nie sien verlore gaan nie.

Sy droom het weer groepleiers en projekbestuurders geïnspireer om deel te vorm van dié visie.

eliasnel_izakfoto

Elias Nel (foto: Izak de Vries)

Ek glo dat dit veral ’n probleem onder die jeug is: omdat ons hierdie tradisies en kulture verlore laat gaan, verloor ons almal ’n gedeelte van ons identiteit, veral in gemeenskappe waar daar nie geleenthede vir die kinders geskep word nie, dan soek hulle na ander opsies. Ek glo dat die riel nou so populêr onder verskeie gemeenskappe is juis omdat dit geleenthede skep; dit gee weer ’n vorm van identiteit aan individue en hulle erken dit as ’n tradisie en iets waarmee ons eie mense grootgeword het.

Die ATKV doen gereeld werkswinkels vir die rieldans en -musiek; almal wil leer, almal wil riel.

In ons onmiddellike gemeenskap het die sukses van die projek ’n geweldige impak op die gemeenskap. Ek het die projek in 2012 begin met twee groepe. Ons is nou sewe groepe sterk en teen die einde van 2014 was daar al drie trofees in die kas. Meer het gevolg by die Suid-Afrikaanse Nasionale Kampioenskappe vir die Uitvoerende Kunste [sien 2015-resultate hier onder – IdV] en kyk net wat doen ons toe in die VSA!

Ons het in 2012 met twee musikante begin en het nou nege musikante wat ’n deel vorm van ons groep. Daar is ’n gevoel van trots en samesyn. Die riel is vol lewe, dit is energiek, die musiek laat jou voete jeuk en dit is baie vermakerig.

Jy en jou span het Suid-Afrika verteenwoordig op die Wêreldspele. Kan jy vir ons meer vertel?

Weer eens, ek is nou al vir altesaam nege jaar in die Cederberge en het eers aan die einde van 2010 uitgevind dat daar so iets soos die riel bestaan. Die geleentheid was daar en ek het die projek aanvaar.

Toe Die Nuwe Graskoue Trappers die ATKV Junior Kampioene geword het aan die einde van 2013, het ek gaan sit en dink aan wat die volgende stap is. Ek is bekend met die Suid-Afrikaanse Nasionale Kampioenskappe vir die Uitvoerende Kunste en ek het gaan kyk hoe gaan ons die riel na die volgende vlak neem.

Ek moet sê ek was ’n bietjie op my senuwees, want hierdie kampioenskap is merendeels vir kunstenaars wat toegang het tot professionele dansskole, modelskole en dramaskole en waar hulle professionele afrigting kry. Ek het die span na die beste van my vermoë voorberei en die span het hard gewerk.

Die span het met die goue medalje in die kategorie Tradisionele Volksdanse huis toe gekom, asook met die Grand Champion Award vir die beste groepoptrede by die kampioenskap. Die orkes wat verantwoordelik is vir die rielmusiek, het ook individueel ingeskryf in die kategorie Oorspronklike Musiek en in die Ope Kategorie. Hulle het in al twee kategorieë met goud weggestap, én met die Overall Trophy in die Ope Kategorie.

Om te kon kwalifiseer vir die Suid-Afrikaanse span moes jy ’n gemiddeld van minstens 86% kry. Die riel het monde laat oophang en niemand het geweet hoe, waar en wanneer nie. Die gehoor en deelnemers was onbekend met die dansvorm.

Ons was dus trots om in 2014 al te kon sê dat ons die groen en goud sou kon dra om ons land én die riel te kon verteenwoordig in Amerika.

In 2015 het ons nog beter gevaar. [Sien 2015-resultate hier onder – IdV.]

Die VSA was harde werk. Ons het teen 52 ander lande te staan gekom.

Die koste het R65 000 per deelnemer beloop en ons sê dankie aan die besighede en individue wat die projek geborg het.

Jy spandeer duidelik baie tyd daaraan om spanne af te rig. Waarom doen jy dit?

Soos ek vroeër gesê het, ek het ’n passie vir dans. Ek geniet elke oomblik van dans. Deurdat Bushmans Kloof ook ’n sterk kultuur van sosiale verantwoordelikheid het, was dit vir my maklik om die nodige ondersteuning te kry vir die projek. Ek glo ook daaraan dat as ons almal net één lewe kan verbeter, of vir één mens of kind ’n geleentheid kan skep, sal die wêreld ’n beter plek wees.

Ek geniet elke oomblik en, glo my, dit maak ’n mens geweldig trots as jy aan die einde van die jaar kan staan en kyk na die trofeekas en hy is vol!

’n Laaste woord?

To each and everyone that supports this rewarding project, a BIG, BIG THANK YOU. Thank you for changing lives.

* * *

Die trofeekas raak inderdaad elke jaar voller. Floris het in die onderhoud verwys na die suksesse wat in 2015 by Suid-Afrikaanse Nasionale Kampioenskappe vir die Uitvoerende Kunste behaal is. Hier is die resultate van dié geleentheid, wat in April 2015 te Rustenburg gehou is.

Dans

Etniese volksdanse: Goud vir die riel.

Ope kategorie, groot groep: Goud vir klopdanse. (Kommentaar van Floris, wat eintlik Engelssprekend is: “What an amazing story! Five riel dance boys in tap shoes dancing traditional riel, with no formal training at all! One would think that they have been training for years.”) 

Ope kategorie, klein groep: Goud vir die Gumbootdansers. 

Die Nuwe Graskoue Trappers het die hoogste punte gekry van alle groepe in al drie items en het daarmee ook die Grand Champion Award verower vir die beste groepoptrede by die kampioenskap.

Instrumenteel

Die orkes het goud gewen in die Ope kategorie en in die kategorie vir Oorspronklike Musiek.

Aldo Straus en Ryano Joubert het albei brons gewen in hulle ouderdomsgroepe vir tromsolo’s.

  • 3

Kommentaar

  • Paul Vigoureux

    Hartelijke gelukwensen. Je moet de mensen geen geld geven. Daar moeten ze zelf voor zorgen. Maar iedereen, en vooral de jeugd, moet kansen krijgen. Kansen om te studeren, kansen om respect te bekomen. Elke mens heeft capaciteiten. Goede leiders hebben een grote verdienste. Zij geven hun mensen zelfvertrouwen: het begin van elke vooruitgang.

  • Anthony Wilson

    Baie geluk! Hoogtyd dat die oudste van alle danse op dié kontinent internasionaal tot sy reg gekom het! Trots op die groep!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top