Onderhoud met die nuwe voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

  • 0

 

Wessel Pienaar by die SA Akademie se bekroningsgeleentheid (Foto: Naomi Bruwer)

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wissel elke drie jaar tussen ’n geestes- en natuurwetenskaplike as voorsitter. Wessel Pienaar, ’n natuurwetenskaplike, is sedert 4 September 2014 die nuwe voorsitter. Hy gesels met Naomi Meyer oor sy nuwe aanstelling, en oor inspanning en ontspanning.

Hallo Wessel, baie geluk met die aanstelling as voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Jy is professor in die Departement Logistiek van die Universiteit Stellenbosch. Vertel asseblief vir ons lesers nog aspekte van wie jy is.

Dankie vir jou gelukwensing, Naomi. Mens is met ’n gelukwensing nooit seker of dit ’n vreugdeswens of ’n voorspoedwens is dat mens daarin sal slaag om die duwweltjies en slaggate vorentoe mis te trap nie. Hoe ook al, dis vir my ’n kompliment om vanuit LitNet-geledere gelukgewens te word.

Ek is van Mosselbaai se Pienaars en is trots op my Hugenote-afkoms en my moedertaal – Afrikaans. My ouers was onderwysers wat Oos-Londen as werkplek uitgesoek het. Ek het my skoolopvoeding daar by die Laer- en Hoërskool Grens ontvang en my weermagopleiding in die Leërgimnasium en die Valskermbataljon voltooi. My naskoolse kwalifikasies is in die siviele ingenieurswese en vervoerekonomie, wat ek aan die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Kalifornië (Berkeley) en Unisa behaal het. Ek en my vrou, Isabel, woon en werk in Stellenbosch. Ons het drie dogters – al drie is oud-Maties en is reeds op hulle eie lewensweg. Ek het in 1991 vanuit die privaat sektor in die Universiteit Stellenbosch se diens getree in die destydse Departement Vervoerekonomie. Dit was ’n tyd toe die aktualiteit van hierdie departement se vakgebied aan die kwyn was en studentegetalle drasties gedaal het. Die universiteit wou my aanvanklik vir net vyf jaar aanstel, maar gelukkig (in beide geluksbetekenisse hier bo) kon ek die destydse rektor, Mike de Vries, oortuig dat hy my vas moet aanstel, maar dit was aan streng voorwaardes onderworpe. Te danke aan ’n sameloop van omstandighede (waarop ek jou nie sal vermoei nie) en gerugsteun deur my opleiding by Berkeley en die welwillendheid van die universiteit is ek die geleentheid gebied om die Departement Logistiek tot stand te bring. Toe ek aan die einde van 2010 opgehou het om die departementele voorsitter te wees, was dit die departement met die grootste aantal geakkrediteerde navorsingsuitsette per kapita in ons fakulteit.

Dis oorsigtelik wie ek is en wat ek loopbaangewys as my een goue pluim beskou. My ander goue pluim is die voorsitterskap van die Akademie, ofskoon hierdie pluim se sukses gaan afhang van die tweede betekenis wat ek aan jou gelukwensing heg: om doelgerig koers te hou en struikelblokke óf te vermy óf te oorkom ...

Roer die wetenskap én die kunste jou?

Gewis ja, albei. Ofskoon ek nie in die kunste opgelei is nie, is my twee opleidingsrigtings enersyds toegepas-natuurwetenskaplik en andersyds sosiaalwetenskaplik. Maar hoe meer ek my kennis en insig in elkeen probeer verdiep het, hoe meer het ek besef dat ’n mens nie alles vir almal kan wees nie. Een gawe of talent kan wel ’n ander gawe of talent ondersteun en help verryk, maar ek glo nie God se plan is om aardse swerflinge te skape wat elkeen hiperbegaafd en -talentvol in net mooi alles is nie. Wat ek wel glo, is dat dit die Skepper se wil is dat hoe meer ’n mens jou in die een verdiep, hoe meer jy sal besef dat jy die ander van buite jouself nodig het en waardering daarvoor moet hê. Dis tog waarom die mensdom sosiaal georden is – komplementerend was die een hand die ander. Met inspanning en ontspanning werk dit ook so – van die wêreld se toonaangewendste wiskundiges en fisici het die wonderlikste musiektalent, maar hulle werk in die een en ontspan in die ander. Dit is wat wonderlik is van die Akademie. Dis ’n vereniging van onderling-erkende natuur- en geesteswetenskaplikes én kunstenaars wat mekaar intellektueel verryk. Die kunstenaar se inspanning kan die geestesgoedere bied vir die wetenskaplike se ontspanning en die toegepaste wetenskaplike kan die hulpmiddele help ontwikkel wat die kunstenaar ter wille is. Daarom ’n onomwonde ja, die wetenskap én die kuns roer my!

Wat beteken dit om voorsitter van die Akademie te wees – vir jou in persoonlike hoedanigheid, maar ook in die akademiese wêreld?

Voorsitterskap van die Akademie is die hoogtepunt van my loopbaan. Die Akademie bestaan uit meer as ’n 1 000 kundiges wat deurgaans presteerders op hulle werkgebied en oor die algemeen energieke mense is. Hierdie talent en dryfkrag wat die Akademie beskikbaar het, bied ’n besonderse geleentheid om opbouende en nuttige doelwitte te bereik wat blywende invloed het. Om hierdie rede lê daar ’n besondere uitdaging voor om die Akademie se onderskeie projekte en aksies te help lei sodat dit tot die beste voordeel van die breëre gemeenskap is, en nie bloot van “akademiese belang” is nie. Daarom vereis voorsitterskap benewens dienstigheid in die aanskyn van onmiddellike behoeftes ook strategiese aanvoeling en denke rakende relevansie op lang termyn in die belang van die breëre Suid-Afrikaanse akademiese wêreld.

Waarom hoegenaamd Afrikaanse vaktaal – is dit belangrik?

Dit gee my volslae genoegdoening om in gespesialiseerde tegniese en wetenskaplike forums waar Afrikaans verstaan word, suiwer Afrikaans te praat sonder om verspot te wil wees. Mense luister dan onmiddellik na jou en begryp jou boodskap makliker – die oor-na-verstand-afstand verkort en ingewikkelde begrippe klink dikwels soveel meer verstaanbaar. Die verdienste van moedertaalonderrig is hier ook ter sprake, aangesien die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekendes ontwikkeld en uit huis uit tegnologies bedrewe mense is. Sonder gestandaardiseerde en aanvaarde vakterminologie sal Afrikaans só verarm dat Afrikaanssprekendes die wetenskappe en die kunste naderhand met ’n vreemde woordeskat maar met ’n Afrikaanse sinsbou sal besig. Dit sal tot taalagteruitgang lei, met die gevolg dat aanvaarbare sinstrukture later ook daarmee heen is – en dit gebeur plek-plek reeds. Afrikaans is genoegsaam ontwikkeld en dinamies sodat vakbeoefening in Afrikaans nie vereis dat vakkundiges eers ’n ander taal moet kan praat in ’n poging om ’n getranskribeerde soort Afrikaans te besig nie – dis hoekom ek van LitNet se “Gespierde Afrikaans” hou. Dit gaan nie vir my oor kleinlike vreemdewoordjagtery nie, aangesien wetenskaplikes ordelik, stelselmatig en wetmatig moet kan dink – beheers jou taal dan ook so; dit sal jou denkdissipline verskerp en jou terselfdertyd help om wetenskapsbeoefening en verslagskrywing versigtig te benader. Só sal jou navorsingsprodukte ’n helpende wind van agter kry.

Die Akademie ken van die mees noemenswaardige literêre Afrikaanse pryse toe. Hoe sien jy jou rol hier – en waarna kyk die Akademie as literêre tekste beoordeel word?

Ek moet help toesien dat elke literêre genre ’n gesogte prys of pryse het wat van die debutantevlak tot by die hoogste vlak strek, en dat die pryse bykomend ook met gepaste geldelike aanmoediging gepaardgaan. Die beoordeling van die akademiese verdienste van voorgelegde tekste word deur die Letterkundekommissie aan die hand van geykte akademiese beoordelingsnorme behartig. Die Akademieraad dra sorg dat uitgewers alle tekste voorlê wat na hulle oordeel vir prystoekenning in aanmerking kan kom.

Die Akademie ken natuurlik hoofsaaklik akademiese pryse toe – hoe verskil die beoordeling hier van dié van die literêre tekste?

By literêre pryse is dit hoofsaaklik ’n besonderse teks of ’n aangewese oeuvre van ’n skrywer wat bekroon word. By akademiese pryse is dit meer die verdienste van die akademikus of navorser wat beoordeel word. Binne die raamwerk van ’n toekenning se reglement word akademiese pryse aan die hand van die impak van ’n wetenskaplike se navorsingsprodukte beoordeel. Impak kan gemeet word aan die hand van hoeveel keer ’n persoon se geïndekseerde publikasies in ander geïndekseerde publikasies na verwys word, of aan die hand van gepatenteerde produkte wat vernuwende bydraes gelewer het, en so meer.

Hoe sien jy die toekoms van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir die volgende paar jaar?

Die SA Akademie is tans kerngesond en groeiend. Opwindende inisiatiewe is tydens die pas uitgetrede voorsitter, Wannie Carstens, se termyn geloods en in die volgende paar jaar moet hulle behoorlik beslag kry. Twee voorbeelde hiervan is om die Virtuele Instituut vir Afrikaans- (VivA-) projek te help vestig sodat dit as ’n aparte maatskappy met ’n eie direksie kan funksioneer, en die vestiging van die pasgestigte Internasionale Vereniging vir Afrikaans (IVA). Die Kommissie vir Visuele Kunste se Tweetalige Kunswoordeboek is vanjaar voltooi en word in 2015 uitgegee. Die woordeboekkomitee het 13 jaar aan hierdie omvattende produk gewerk. Nietasbare produkte wat in 2014 die akademiese lewenslig aanskou het en sal voortgaan, is die projek Wiskunde-in-Aksiewat landswyd op skoolvlak plaasvind en die onderskeie nasionale spelkompetisies wat op skool- en tersiêre vlak plaasvind. Hierdie kompetisies is die breinkinders van Akademielede en dit word met groeiende geesdrif in samewerking met ander belanghebbendes aangebied. Dis die Akademie se wens dat hierdie kompetisies van krag tot krag sal gaan. Die Akademie is, onder meer, gemoeid met die bevordering van die hoë funksies van Afrikaans en in hierdie opsig is normering van die taal onontbeerlik. ’n Voertuig waardeur hierdie oogmerk verwesenlik word, is die uitgee van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS). Die eerste uitgawe van die AWS het in 1917 verskyn. Dit is bloot natuurlik dat die woordeskat en uitspraak van ’n dinamiese taal soos Afrikaans voortdurend verander. Die Akademie hou hiermee rekening en daarom begin die Taalkommissie in 2015 met werksaamhede wat daarop gemik is om die 11de uitgawe van die AWS in 2017 die lig te laat sien. Dit is een van verskeie opwindende projekte waarmee die Akademie in die volgende paar jaar besig gaan wees.

Wat beskou jy as die Akademie se grootste uitdagings – en grootste lekkertes?

Die Akademie geniet nie statutêre steun nie en ontvang nie owerheidsubsidies nie, maar die organisasie moet aanhou om deur verdienstelike optrede, aktuele projekte en hoogstaande produkte, soos die AWS, woordeboeke, geskiedenisboeke en wetenskaplike joernale, onteenseglike gesaghebbendheid te bly handhaaf en af te dwing. Die Akademie is daarop aangewese om hierdie oogmerke uit eie inkomste, skenkings en borgskappe te vermag, wat die uitdagings nóg groter maak. Hiernaas is daar die uitdaging om die ouderdomsprofiel van die Akademie se korpus van lede te help verjong en meer verteenwoordigend van die Afrikaanssprekende akademiese, wetenskaplike en kunstenaarsbevolking te maak. Een van die groot lekkertes van die Akademie is die wonderlike en talentvolle mense met wie ’n mens skouers skuur. Mens keer gewoonlik verryk en dikwels verwonderd van ’n byeenkoms van Akademielede af terug.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top