Onderhoud: "Lisa se klavier"

  • 0

Uit: "Lisa se klavier" deur Koos Kombuis

Aanhangers van Koos Kombuis het dalk al gewonder: wie was dié Lisa? En het sy werklik bestaan?

Inderdaad, ja. Haar naam is eintlik Liza Joubert en sy vertel vir Naomi Meyer van die geboorte van 'n besonderse lied (en vriendskap).

Liza Joubert

Liza, ek voel of ek ’n skat ontdek het. En die skat is jý. Vraag is: Waar het Koos Kombuis jou uitgedelf?

Ons het mekaar tydens 'n straatteater-etensuuruitvoering op die trappe van die Kosie Gericke Biblioteek ontmoet, begin gesels en agtergekom ons bly binne stapafstand van mekaar in die Kaap. Hy het kom tee drink (oa appelkoostee wat Christien Coetzee nog vir my present gegee het) en wanneer hy wou rook, het hy op my balkon gaan staan terwyl ek binne vir hom klavier gespeel het ... al die klassieke komponiste. Hy had 'n sagte plekkie vir Schubert.

Jy en Koos Kombuis is jonk op die YouTube-video (sien heel onder). Wie was daardie jong Liza wat die klavier bespeel het?

Die Liza van destyds was ietwat van 'n inspirerende en geïnspireerde vrygees met 'n voorliefde vir die kleur pers en tweedehandse klere- en boekwinkels en straatkafees (sy is dit nog steeds) en het benewens musiek, ook Duits, Frans en Tsjeggies studeer. Sy het nie 'n kar of selfoon besit nie, maar het vanaf haar eenvrouwoonstel in Oranjestraat (waar daardie video geskiet is) oral uitgekom. Sy verjaar op Oujaarsdag en vir verskeie jare was haar verjaardagpartytjie die destydse Nico Malan se wonderlike vieringe op daardie aand. 

Koos sing van die bergies onderin die straat; dalk was die land nie so verskillend van vandag nie. Wat onthou jy van die tydsgees 25 jaar gelede, en is daar enigiets wat vir jou uitstaan?

Sover ek onthou, is die video in 1987 of 1988 geskiet. Ek onthou "Piekniek by Dingaan", waarvan ek seker agt uitvoerings gesien het, en almal saamgesleep het wat ek kon, en die daaropvolgende Voëlvry-toer as die een baie helder ligpunt in die PW-gedomineerde samelewing van destyds. Die Afrikaanse ligtemusiekmark was tot op daardie stadium oorheers deur figure soos Carike Keuzenkamp, en die "musiek en liriek"-beweging. Dit was oorweldigend bevrydend om Johannes Kerkorrel te hoor sing "Sit dit af"! Ek was vir die eerste keer trots om Afrikaans te wees.

Ná “Lisa se klavier”: Wat het jy gedoen, wie is jy vandag en speel jy steeds klavier?

Ek kom van Stellenbosch en het 'n BMus Honneursgraad in Klavieruitvoering onder Betsie Cluver verwerf. Hierna was ek die eerste voltydse begeleidster verbonde aan die Beau Soleil-musieksentrum in Kaapstad. Ek het op uitnodiging gespeel in die historiese Chateau de la Vernede in Avignon, en het in die Tsjeggiese Republiek 'n Suid-Afrikaanse konsertprogram uitgevoer. Ander musikale belangstellings sluit Slawiese en Latyns-Amerikaanse klaviermusiek in.  Voordat ek in Desember 2014 na die Wes-Kaap verhuis het, was ek begeleidster by die Drakensberg Seunskoor en het ek gereeld plaaslik en internasionaal met die koor opgetree. 

Ek dink my grootste musikale prestasie was die speel van die Stockhausen Mantra saam met die fenomenale Jill Richards (sover ek weet, is ons die enigste twee in die land wat dit al gespeel het), maar ek het ook getrou, leer gesonde kos maak, twee seuns gebaar in my eetkamer, en geskei, en probeer op die oomblik aansluit by 'n leeskring op Stellenbosch!! Ek speel beslis steeds klavier en hoop om dit meer en meer te doen noudat ek vir die eerste keer sedert 1998 weer in die Wes-Kaap bly. Ek is 'n ma wat klavier speel en lesgee.

Met watter projekte is jy op die oomblik besig?

Ek is mal oor my ragtime-projek, waarmee ek al sedert 1998 aan en af besig is, maar is ook besig om verskeie ander projekte te realiseer, byvoorbeeld 'n Suid-Afrikaanse klaviermusiekprogram geïnspireer deur en vermeng met Suid-Afrikaanse literatuur, en iets Latyns-Amerikaans. Ek hou baie daarvan om gehore 'n bietjie uit te daag met nuwe musiek. Ek speel baie keer musiek wat ek wens ek êrens op 'n program kon hoor, maar nie het nie. Nou speel ek dit sodat mense nie eendag doodgaan, nooit daardie wonderlike goed gehoor het nie, en die rede is omdat ek dit nie vir hulle gespeel het nie.

Tree jy binnekort iewers op?

Ek lewer 26 Februarie 'n ragtime-uitvoering in Worcester.

Die geleentheid vind plaas in die ouditorium van die Instituut vir Blindes in Porterstraat, en begin om 20:00. Kaartjies is by die deure beskikbaar.

Koos Kombuis (foto: Naomi Bruwer)

 

Koos Kombuis se weergawe

 

Toe ek Liza die eerste keer sien, deur die venster van 'n pizzaplek waar ek gesit en eet het in Oranjestraat, was ek dadelik verlief op die pragtige meiisie. Sy was, het ek opgelet, in die geselskap van Nataniël.

Op daardie stadium was ek ietwat van 'n "predator" as dit kom by verhoudings, iets waarop ek vandag nie trots is nie. Getrou aan my geaardheid het ek berge versit om Liza se adres uit te vind, en vir haar gaan kuier.

Alte gou het ek besef dat ons te min gemeen gehad het om 'n liefdesverhouding te begin. Ek moes 'n moeilike keuse maak. Sou ons vriende kon word? 

Ons het. Ek dink vandag nog dat Liza een van die meisies is wat ek beter behandel het as die res. 

Behalwe vir een ding. Ek het op haar ge-"sponge" vir geld, vir tee, vir kos, sulke goed.

Dit het erger geraak toe ek intrek in 'n woonstel net onder haar. Ek was 'n volslae hooligan, en my teenwoordigheid moes soms vir haar seker steurend gewees het.

Nadat ek vir die soveelste keer klein bedraggies geld by haar geleen het sonder om dit ooit terug te betaal, wou ek weer R40 leen. Met die tipiese vindingrykheid van 'n bankrot musikant het ek gou-gou een aand die rympie "Lisa se klavier" neergepen en dit onder haar deur gaan insteek. Dit het haar hart versag, en die volgende dag het sy waaragtig vir my R40 geleen (ek skuld haar dit tot vandag toe).

Eers 'n paar weke later het ek weer die verspotte rympie in haar woonstel sien lê en besluit om dit maar te toonset. Nooit het ek verwag daardie stukkie oneerlike woordmanipulasie sou 'n treffer word nie.

Aan die ander kant: Was die rympie régtig net bullshit? Of was dit dalk onbewus tog eerlik? As ek vandag na die liedjie luister, besef ek dat dit ons vriendskap tog perfek beskryf, en kry ek mooi herinneringe aan ons beste oomblikke saam ... en dink ek weer aan al daardie aande toe sy my getroos het met haar klavierspel, appelkoostee, en selfs rugmasserings.

In 'n donker tyd vol woede, verraad en pyn, was Liza se vriendskap vir my 'n ligpunt wat altyd sal uitstaan as iets moois en suiwers en eenvoudig, byna soos 'n geskenk van Bo.

Dankie Liza!

In onderstaande YouTube-video vertolk Liza Joubert en Koos Kombuis daardie bekende liedjie van jare gelede:

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top