Onderhoud: Huisgenoot-kykNET SuperSkouspel2015

  • 0

jmi2

Die Huisgenoot-kykNET SuperSkouspel vind op 19 September 2015 in die FNB-stadion in Johannesburg plaas.

Kunstenaars wat hieraan deelneem, is onder andere: David Kramer, Mango Groove, Die Heuwels Fantasties, Kurt Darren, Freshlyground, Leon Schuster, Emo Adams, Susan Boyle, Karen Zoid, Francois van Coke en Nadine. Maar daar is ook ander kunstenaars wie se name nooit genoem word nie – diegene wat die begeleiding verskaf.

Elsabé Laubscher vertel vir Naomi Meyer van die "groot musikale energiegolf" agter die supersterre op die verhoog.

jmi4

Elsabe Laubscher

Hallo Elsabé, vertel ons lesers asseblief wie die musiek by SuperSkouspel gaan verskaf en wat jou rol is?

Die Johannesburg Music Initiative (JMI) bestaan al van 2002 af. Ons glo dat 'n orkes toeganklik moet wees vir diegene wat nie in groot stede woon en dit geredelik kan sien nie. Ons is baie alternatief in ons benadering, met die doel om te inspireer en plesier te gee. As bestuurder van die JMI bespreek ek die musikante vir die orkes, maak seker dat hulle al die oefeninge kan bywoon, en dat almal gereed is vir alle oefeninge en gereed is vir die konsert. Enige klagtes of probleme rakende die orkes moet ek uitsorteer. 

jmi650

Vertel bietjie wat dit beteken en na watter musiek diegene wat vanjaar SuperSkouspel kom bywoon, kan uitsien om te luister?

Ek kan met oortuiging sê dat SuperSkouspel almal op hulle voete gaan hê (orkes ingesluit)! Ons het 'n eg Suid-Afrikaanse program gereed met die oog op Erfenisdag en die mengsel van kunstenaars met 'n 32-stuk-orkes is altyd opwindend. Terwyl die sangers op die verhoog rondbeweeg en verander, bly die orkes regdeur die konsert op die verhoog. Ons speel deurgaans, wat beteken dat net die hoogste-gehalte musikant deel kan wees van die JMI-orkes. Die energie wat ons op die verhoog weergee, is iets wat die projek uniek maak. Ons sien die kunstenaars van agter, maar daar word nogal baie oogkontak gemaak tussen kunstenaar en orkes en dit skep lewendige interaksie op die verhoog (hoewel die gehoor nie altyd daarvan bewus is nie).

jmi3 

'n Skouspel is iets vir die oor, maar ook iets vir die oog. Watter interessante skouspelagtighede moes die orkes al in die verlede vir Skouspel aanvang en wat gebeur vanjaar, as jy iets mag verklap?

Skouspel het altyd ‘n groot element van die onverwagse, dus kan ek nie alles verklap nie. Wat ek wel kan sê, is dat die JMI vir die afgelope 13 jaar 'n uitreikprojek saam met Jaco van der Merwe van Bittereinder doen genaamd "a hip hop guide to the orchestra". Ons kom 'n lang pad saam met die talentvolle kletsrymkunstenaar en sien dus baie daarna uit om saam met Bittereinder op te tree vir SuperSkouspel dié jaar. Die orkestrasies gaan weer eens vol uitdagings wees met mooi solo’s vanuit die orkesgeledere. Skouspel 2014 was ook die eerste in Suid-Afrika wat die JMI-orkes met iPads laat werk het ipv bladmusiek. Dit beteken die gehoor kan die orkes beter sien en beleef!

jmi5

Waarom 'n lewende orkes vir SkouSpel op die verhoog hê? Kan mens nie sommer net 'n CD- of mp3-opname ter begeleiding speel nie? Beïnvloed 'n orkes die gehoor se ervaring?

 

Kunstenaars kry nie baie die geleentheid om met 'n volle orkes op te tree nie, en as hulle op die verhoog staan en 'n orkes agter hulle het wat hulle soos 'n groot musikale energiegolf van agter aandryf … Die orkes bring lewe en egtheid na die verhoog wat nooit deur 'n opname of nagemaakte klank vervang kan word nie. Die Skouspel-gehoor gaan dus nie net die topkunstenaars sien nie, maar gaan ook "die  wonderwêreld van die orkes met instrumente in die hande van top musikante" beleef … (aanhaling uit Jaco van der Merwe se Orkes familieportret).

Foto's verskaf

Hier is nog besonderhede oor die Huisgenoot-kykNET SuperSkouspel 2015

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top