Onderhoud: François Bloemhof oor Doodskoot

  • 1

 

François Bloemhof (foto verskaf)

“Toe my eerste boek uitkom, het ek vir myself gesê ek sal eers soos ’n regte skrywer voel as ek drie boeke op die rak het. Maar dit voel steeds te goed om waar te wees, asof dit nie my regte werk is nie – en ek skat dis omdat dit nooit soos werk voel nie.”

Só sê François Bloemhof vir Org Potgieter. Voor sy eerste boek het hy ’n baie lang pad geloop: Agt jaar lank probeer om ’n kortverhaal geplaas te kry. Hy het op skool al begin om stories vir Engelse tydskrifte te stuur, maar dit was “gruwelike goed” omdat hy sy eie kop wou volg en net skryf wat hy wil. Die kersie op die koek is dat dit presies is wat hy nou doen – meer as 80 boeke later!

Skrywers kla-spog dikwels oor die wroeging wat met die skryfproses gepaard gaan, maar vir hom is dit die makliker deel.

“Die skryf van fiksie vermaak my. Voor ek ’n boek begin, het ek reeds die raamwerk – karakters, intrige, dwaalspore en ontknoping – gevestig. Dan volg die maklike deel.”

Hy sê hy skryf baie vinnig, maar redigeer baie stadig en krities.

Sy genres sluit in speur, spanning, gruwel, humor, misterie en liefde en hy het ook reeds talle jeugverhale gepubliseer. Hy waag ook sy hand aan draaiboeke en sê die verskil tussen ’n boek en ’n draaiboek is nie so groot as wat baie mense reken nie, veral as daar heelwat aksie en dialoog is.

Noudat sy jongste boek - Doodskoot - verskyn het, gesels François Bloemhof met Org Potgieter oor Bloemhof se skryf- en redigeerwerk.

Waar kry jy jou idees, wat skynbaar sonder einde is?

Ek droom baie en van my idees ontstaan soms só. Of dit kom uit koerante en my eie waarneming, ook uit ander mense se boeke. Ek dink dis belangrik dat skrywers ander mense se boeke lees vir idees. ’n Mens moet net pasop: Die verskil tussen inspirasie skep en afkyk kan baie klein wees. Daar is ook nie iets soos ’n heeltemal nuwe storie nie – jy kan dink jy is nou heeltemal oorspronklik, maar iewers bestaan daar reeds ’n verhaal met groot ooreenkomste. Die fondamente is eeue gelede al gelê. Jy is die eggo, nie die kreet nie!

Daar is ’n geweldige toename in Afrikaanse rolprente – ek dink daar was verlede jaar 34 nuwes – en hulle kry goeie resensies. Jou siening?

Dis natuurlik ’n goeie ding, maar goeie resensies beteken nie noodwendig goeie bywoning nie. Miskien is daar ’n ooraanbod taamlik eensoortige Afrikaanse rolprente? Wat boeke betref, is daar oorgenoeg gehalte en verskeidenheid.

Reekse verkoop oral goed en daar is veral oorsese skrywers wat hul roem en aanhang rondom reekskarakters gebou het. Jy het nog net twee reekse geskryf: die Rooi Luiperd en die reeks oor Alma van der Pool, die eerste vrouespeurder in Afrikaans.

Ja, reekse verkoop oor die algemeen goed en word goed gereklameer. Maar ek voel as jy vier boeke in ’n reeks geskryf het, kon jy in dieselfde tyd vier verskillende, meer unieke leeservarings geskep het. Ek verkies ’n groter verskeidenheid, ek is kreatief ingestel en reekse is vir my ’n aanpassing, ek voel ek gee iets prys. Nogtans het ek ’n idee vir ’n nuwe reeks en as so iets sterks by jou opkom, moet jy luister.             

Jyself het al meermale gesê daar is geen navorsing vir hierdie boek van jou gedoen nie. Dit voel soms of ’n skrywer te veel op navorsing konsentreer, dan is dit soos ’n swart bra by ’n deurskynende wit bloes.

Ja, daar is mense wat daardie bra met trots vertoon. Navorsing moet onopsigtelik wees en ’n storie geloofbaar maak. Die leser kan self gaan google as hy byvoorbeeld meer van ’n skildery wil weet, of oor hoekom ’n vlinder sulke uitsonderlike vlerke het. ’n Mens moet jou altyd afvra: Is dit regtig nodig vir die storie, of vertraag dit hom net?   

Jou jongste boek – Doodskoot – is in Engels vertaal as Double Echo. Twee van ons fiksieskrywers se boeke gaan ook in Turks vertaal word. Sê dit iets?  

Nie regtig nie. Uitgewers verken pal ander tale. Dis tyd dat Afrikaans ’n beurt kry en dit moes lankal gebeur het. Dis nie altyd ’n teken van die boek se gehalte nie, maar dis ’n bonus, ook wat die binnelandse mark betref.

Ek wil aanhou skryf totdat ek nie meer kan nie, solank my kop en my vingers werk. Ek is te lief vir stories en glo my idees sal nie opraak nie. Verskillende stories moet op verskillende maniere vertel word en as skrywer moet ek my styl vir elke genre aanpas, iets wat voortdurende uitdagings skep.

Om iemand se boekeredakteur te wees – wat jy dikwels doen – verg seker ook sy eie dissipline?  

Soos met navorsing, moet jy onsigbaar wees. Jy kan die skrywer soms help om iets duideliker of meer subtiel te sê, maar jy moet sy styl respekteer. Dis natuurlik ook makliker om ander mense se foute raak te sien en dis ook goed om jou eie manuskrip drie maande te laat lê, want jy sien nie dadelik jou eie foute nie.  

Wat kan lesers in Doodskoot te wagte wees?

Dis geskryf in die styl van die film noir van die 1940’s en vyftigerjare. Daar is ’n held met probleme en ’n vrou met baie planne wat net tot verdriet kan lei – en die spanning loop op. Anders as daardie outydse flieks, speel dit plaaslik af, op Riebeek-Kasteel, met moderne karakters en situasies wat hedendaagse eise aan hulle stel. Die mense kry swaar, maar hulle wou mos! 

  • 1

Kommentaar

  • Het die onderhoud geniet. Doodskoot lees lekker en is nog een van Francois se "kan-nie-neersit-nie-boeke".

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top