Onderhoud: Die SBA se stories uit unieke streke

  • 0

Die Melkhoutfontein Vertellers

Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) poog om geletterde, selfonderhoudende en omgewingsbewuste gemeenskappe deur die gebruik van Afrikaans te help vestig.

Odile Heunis, 'n projekbestuurder, vertel vir Naomi Meyer van die SBA se "Stories uit unieke streke"-projek.

Hallo Odile, wat is die SBA se "Stories uit unieke streke"-projek? En waar is hierdie streke?

Die SBA het fokusareas waar projekte, gebaseer op die drie pilare, nl Lees is ‘n Fees, Kreatiewe Kunsteontwikkeling, Mentorskap en Slypskole, geïmplementeer word. Skurweberg in die Koue Bokkeveld was ons fokusarea in 2015 en vanjaar is dit die Hessequastreek. "Stories uit unieke streke" sorteer onder Kreatiewe Kunsteontwikkeling. Skurweberg in die Koue Bokkeveld se stories het hoofsaaklik gewentel om ervarings van die sneeu, plaaswerk en die aardbewing in Ceres waarvoor die gebied bekend is.

In die Hessequa fokus ons op Melkhoutfontein se inwoners. Hierdie gemeenskappie is tydens die apartheidsera afgesny van die ekonomiese bedrywighede, veral die visbedryf van Stilbaai, met verreikende gevolge.

Vir dieselfde projek word onbekende, opkomende visuele kunstenaars uit die omgewing geïdentifiseer wat die stories in ‘n kunsvorm uitbeeld. Hierdie kunswerke word ook uitgestal.

Foto: http://sbafrikaans.co.za/ouma-penvloei-stories-uit-unieke-streke/

Het ons nie almal 'n storie nie? Hoe is die storievertellende volwassenes geïdentifiseer? 

Die vertrekpunt vir die identifisering van die vertellers is gewoonlik een van die skole in die omgewing. In Skurweberg is een van die leesfasiliteerders versoek om bejaarde persone in die omgewing – verkieslik diegene wat hul lewe lank reeds daar bly – te identifiseer en byeen te bring. In Hessequa – Melkhoutfontein Stories – het ‘n onderwyseres aan die Primêre Skool Melkhoutfontein die bejaardes bymekaar gekry.

Waarom dink jy word sekere mense se stories nooit vertel nie?

Bejaardes, veral van gemeenskappe wat gemarginaliseer, verafgeleë en selfs vergete is, kry nooit die blootstelling en geleentheid om stories te vertel nie. Hierdie stories bevat kosbare geskiedenis wat vir die nageslag bewaar moet bly en met ons video- en kunsinstallering dokumenteer ons nie net hierdie stories nie, maar bied ons dit ook aan die wyer publiek op ‘n vermaaklike, toeganklike manier aan.

Fotobron: https://issuu.com/kwailappies

Waar gaan mense na hierdie "Stories uit unieke streke" kom kyk/kom luister – en gaan enige hiervan in boekvorm verskyn?

Die SBA, in samewerking met kykNET en die finansiële ondersteuning van die Departement van Kultuursake en Sport, maak ‘n video-opname van die stories. Sandra Prinsloo, ‘n SBA direksielid, hanteer die projek as navorser, opsteller, regisseur en inleier. ‘n Gebaretaal-insetsel word ook gedoen vir toeganklikheid aan hoorgestremdes.

Die "Skurweberg Stories" se video is in Maart 2016 by die US Woordfees bekend gestel en word in Augustus 2016 by die Vrouefees in die Artscape herhaal tesame met die "Stories uit Melkhoutfontein". Ons beplan dan ook nog storie-opnames van Verlorenvlei by Elandsbaai om volgende jaar by die US Woordfees te première.

Stories van die Dowes en Kalkbaaivissers is ook nog in die vooruitsig. Daar was nooit sprake van die stories in boekvorm giet nie, aangesien ons juis dit op ‘n tegniese basis of mediavorm wou dokumenteer ter wille van die vermaaklikheidswaarde daarvan.

Hier is nog inligting oor die SBA.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top