Anna Emm vertel vir Naomi Meyer van die boek Meelon en die elektromagnetiese storm, geskryf deur Hanlie de Wet en geïllustreer deur Elanie Bieldt.
Anna, jou Anna Emm Productions het pas Meelon en die elektromagnetiese storm uitgegee en daar word aanbeveel dat dit geskik is vir kinders tussen agt en twaalf. Wil jy nog iets omtrent hierdie boek vertel?
Meelon en die elektromagnetiese storm is die heel eerste geval waar ons van 'n buiteskrywer gebruik gemaak het vir een van ons produkte. Toe die manuskrip op my tafel land, kon ek dit net nie weerstaan nie! Die storie is anders as enige ander jeugboek wat ek al ooit gelees het. Dis vars, slim, snaaks, spannend en modern. Dis die storie van 'n ruimtewese, Meelon, van die planeet Haumea, wie se ruimtetuig in 'n elektromagnetiese storm beland en dan op die aarde neerstort. Hier kruis sy paaie met dié van 'n moderne seuntjie, Andries. Saam moet hulle 'n plan maak om hom weer in die ruimte te kry. Die hele storie word vanuit Meelon se oogpunt en ervaring vertel – met die hulp van sy dekriptor ('n spesiale toestel wat hy op sy kop dra sodat hy die Aardeane se taal kan verstaan). Omdat Meelon nie altyd verstaan wat gebeur en hóékom dit gebeur nie, en aangesien die dekriptor nie altyd verduidelikings vir al die nuwe woorde het nie, raak dinge soms so 'n bietjie deurmekaar! Dié boek is die eerste in 'n reeks van drie Meelon-boeke vir kinders 8–12. Die tweede en derde boeke verskyn later in die jaar. Grootmense is net so gaande soos die kinders oor hierdie storie!
Vertel ‘n bietjie meer van Meelon?
Meelon is op sy planeet, Haumea, geprogrammeer om in die ruimte te kan oorleef gedurende sy reise op soek na nuwe planete en voedings- en energiebronne vir die Haumeana. Hy is in kompetisie met Skalon – 'n ander Haumeaan – om die nuwe heerser van Haumea te word, en sommer vroeg in die storie al blyk dit dat Skalon dalk iets met die opwek van die elektromagnetiese storm te doen gehad het. As Meelon iets in die ruimte moet oorkom, sal hy die volgende heerser word. Om sy energie te behou, moet Meelon gereeld spesiale kapsules drink. Hy kom egter agter dat daar geen ekstra kapsules vir sy reis ingepak was nie, en moet 'n ander plan maak vir energie. Op Andries se aanbeveling probeer hy van die Aardeane se eetgoed, soos sjokolade en biltong en komkommer. Hierdie kosse het 'n vreemde uitwerking op sy stelsel ... Dit maak hom slimmer en stel hom in staat om "buite" sy programmering te begin dink. Hoe meer dinge Meelon oor die aarde en die Aardeane se vreemde gewoontes uitvind, hoe meer begin hy besef dat daar dalk 'n hele paar leemtes in die Haumeane se programmering kan wees.
Die boek is deur Hanlie de Wet geskryf – wie is sy?
Hanlie het op ’n skaap- en koringplaas in die Overberg grootgeword. In 1974 het sy aan die Hoërskool Riviersonderend gematrikuleer.
Sy is getroud, het 'n seun en 'n dogter en twee kleinkinders.
Die boek is geïllustreer deur Elanie Bieldt - wie is sy?
Elanie is 'n 15-jarige skooldogter van Hoërskool Edgemead in die Kaap. Sy is tans in graad 9, en illustreer kinderboeke al vandat sy 11 jaar oud is. Sy doen die meeste van haar werk vir Anna Emm Kinderstories, maar het ook al vir die Bazoo-tydskriffie en ander publikasies illustrasies gelewer. Sy het altesaam al meer as 40 kinderboeke geïllustreer. Elanie kom uit 'n gesin van kunstenaars – haar ma is 'n skrywer en haar stiefpa is 'n animasiekunstenaar en musikant. Haar illustrasies word gekenmerk aan haar fyn waarneming van lyftaal en gesigsuitdrukkings. Alhoewel sy potlood- en inksketse baie geniet, werk sy ook gereeld met pastelle en akrielverf. Volg gerus haar illustrasies op Instagram by https://instagram.com/elanieartist. Elanie is tans besig met die tweede Meelon-boek en 'n paar ander jeugboeke wat later die jaar sal verskyn.
Jy het genoem dat lesers na nog avonture van Meelon kan uitsien. Enigiets wat jy hieromtrent kan verklap?
Die tweede Meelon-boek, Meelon en die gesteelde fonomorf, is reeds klaar geskryf en in die redigeringsproses. Dit verskyn einde September. Die laaste boek, Meelon en die ruimtejakker, word einde van die jaar vrygestel. Die eerste boek eindig waar Meelon dit wel regkry om van die aarde af op te styg en terug te keer Haumea toe – opgewonde om die nuwe ontdekkings met die Haumeane te gaan deel. Maar dan vind hy uit Andries het per ongeluk in sy ruimtetuig beland, en is nou saam met hom in die ruimte! Weens die galaktiese kwadrant waarin hulle hulle bevind, kan hy eers oor 60 dae weer op die aarde land. Maar dit is nie die enigste probleem nie ... Meelon en die gesteelde fonomorf" is 'n lekker spannende opvolg op die eerste boek, en die lesers vind meer uit oor die wêreld waar Meelon vandaan kom.
Die Meelon-reeks kan bestel word by www.AnnaEmm.co.za | 021 930 0908 | lorraine@annaemm.co.za – of enige AnnaEmm-agent landswyd.





