Onderhoud: Afrikaanse musiek in Nederland, byvoorbeeld ...

  • 4
ingridglorie250

Ingrid Glorie (foto: Elize Zorgman)

Ingrid Glorie, redakteur van Maandblad ZA, vertel vir Naomi Meyer van 'n nuwe CD wat binnekort in Nederland beskikbaar sal wees.

  1. Hallo Ingrid! ’n Ruk gelede het ek vir Karin Hougaard gevra oor ’n musiekkonsert wat binnekort by Herman van Veen se venue plaasvind.  Hier vertel sy my van jou plan om ’n CD vry te stel (Suid-Afrikaanse musiek, Nederlandse mark). Wat het jou daardie plan gegee?

Hallo Naomi! Ek het die indruk gekry dat Nederlanders altyd net ’n deel van die Afrikaanse musiek ken. Hulle sal óf vir Amanda Strydom ken, óf vir Chris Chameleon; of net vir Jack Parow. En vir so ver die Nederlandse radio Afrikaanse musiek speel, is dit oor en oor dieselfde songs. Dit lyk asof die radio-deejays net ’n beperkte repertorium het wanneer dit by Afrikaanse musiek kom. Dis verskriklik jammer, omdat daar sedert die Musiek en Liriek-beweging, van einde jare ’70 af, so geweldig baie pragtige en opwindende musiek in Afrikaans geskryf is. Dit was hierdie rykdom en diepte waaraan ek die Nederlandse gehoor, en spesifiek ook Nederlandse radio-deejays, wou bekendstel.  

  1. ... byvoorbeeld ... Vertel asseblief wat die titel van hierdie CD beteken (“Daar’s baie musiek uit Suid-Afrika, byvoorbeeld ...”?)

In die kol! Ons praat ook nadruklik van “... byvoorbeeld (deel 1)”. Daar is net twintig snitte op die CD, terwyl ons begin het met ’n lys van goed tagtig kunstenaars wat ons graag op die CD wou hê. Ons is geweldig bly oor die kunstenaars wat hierdie jaar bereid was om ’n bydrae te lewer. Maar ons hoop om die projek oor twee jaar op te volg met ... byvoorbeeld (deel 2). En ons sal bly wees as ons dan ook ander kunstenaars kan betrek.

byvoorbeeld_agter

  1. Vertel asseblief wie almal op die CD gaan sing?

Naomi, ek is verskriklik opgewonde hieroor, en ek is ook verskriklik dankbaar, want al die kunstenaars op die CD was bereid om hulle lied sonder enige vergoeding af te staan. Vir so ver daar enige wins uit die projek voortkom, gaan dit na die Teater Bystandsfonds.

Ons het besluit om tien kunstenaars te vra wat al vóór 1994 bekendheid gekry het, en tien kunstenaars wat ná 1994 hulle loopbaan begin het, in ’n effense ander konstellasie. Eerstens is ek bly dat die families van Koos du Plessis en Lucas Maree albei ’n pragtige lied afgestaan het. En dan is daar bydraes van Anton Goosen, Amanda Strydom, David Kramer, Koos Kombuis, Karin Hougaard, Jannie du Toit, Coenie de Villiers en Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock. Die jonger kunstenaars wat op is, is Brixton Moord & Roof Orkes, Chris Chameleon, HemelBesem, Die Heuwels Fantasties, Luna Paige, Anna Davel, die Jaloersbokkies, Tribal Echo, Jack Parow en Joshua na die Reën. So daar is ’n groot verskeidenheid aan stemme en style.

hermanvanveen_JesseWillems

Herman van Veen (© Jesse Willems)

  1. Ek hoor die Nederlandse kunstenaar Herman van Veen was ook by die projek betrokke. Wat is sy rol?

Herman se rol is van onskatbare waarde! Want ek het hierdie idee gehad vir ’n versamel-CD ... Dis eintlik ingegee deur die feit dat my pa in die jare ’70 en ’80 ’n “platenzaak” in Amsterdam gehad het, en hy het destyds so nou en dan ’n “langspeelplaat” die lig laat sien: Unico’s Soul Train, deel 1, 2, 3 ... So op ’n manier moes ek die konsep van ’n versamelalbum altyd al in my agterkop gehad het, en dis nou my pa se gene wat uitkom. Maar ek het gou besef die storie met die regte was maar baie ingewikkeld. En toe het ek die stoute skoene aangetrek en vir Herman geskryf, want ek weet hy het hierdie passie vir Suid-Afrika en veral vir Afrikaans. En Herman het onmiddellik geantwoord en gesê: kom praat!

Dit was Herman wat met die titel ... byvoorbeeld vorendag gekom het, en wat voorgestel het dat ons regtig ’n mooi uitgawe maak: ’n hardebandboekie met die CD agterin, en verder die lirieke van al die songs, ’n kort biografie van elke kunstenaar én ’n kort toeligting, wat die kunstenaar self geskryf het, oor hoekom hy of sy juis hierdie lied gekies het. Herman van Veen self het ’n voorwoord geskryf en ek het ’n kort inleiding geskryf oor waar Afrikaans vandaan kom. Party van die kunstenaars se bydraes is geweldig interessant, soos dié van HemelBesem en Die Jaloersbokkies, waar hulle oor die agtergronde van hulle musiek vertel. En party is ronduit aangrypend, soos dié van Ilse, die weduwee van Lucas Maree, waar sy vertel oor die aand toe Lucas hierdie spesifieke live opname van “Die weduwee se kruik” gedoen het. Dit het absoluut ’n unieke dokument geword!

ingrid_byvoorbeeld5

Karin Hougaard (fotograaf: Bilal Chahal)

  1. Die kunstenaars op hierdie CD is in Suid-Afrika welbekend en geliefd. Sal die CD ook hier in die handel beskikbaar wees?

Nee. Die CD is saamgestel met die oog op ’n Nederlandse gehoor. Om dié rede het party kunstenaars gekies om een van hulle groot treffers af te staan wat almal in Suid-Afrika natuurlik lankal ken. Ander kunstenaars het ’n lied gekies wat spesifiek interessant gaan wees vir ’n Nederlandse gehoor en hulle sou vir ’n CD vir die Suid-Afrikaanse mark dalk ’n ander keuse gemaak het. Verder is daar natuurlik die regte-kwessie: al die kunstenaars was bereid om hulle song vir hierdie spesifieke projek sonder vergoeding af te staan. Wanneer dit by Suid-Afrika kom, het hulle dalk ander belange. Die gebaar wat hulle gemaak het – veral hulle bereidheid om Afrikaanse musiek in die algemeen in Nederland onder die aandag te bring, ongeag wat dit mag beteken vir hulle eie bekendheid daar al dan nie – is fantasties. Dis ’n projek met ’n ideële oogmerk en ’n baie duidelike fokus.

  1. Wil jy iets vertel oor die mooi omslag van die CD? Die kunstenaar en die ontwerp?

Op die voorkant én die agterkant van die omslag is twee oorspronklike kunswerke van Diek Grobler. Herman van Veen is ’n groot bewonderaar van Diek se werk. Ek het nie gedink dit gaan moontlik wees nie, maar Karin Hougaard, wat sowel Diek as Herman goed ken, het vir Diek gevra, en hoewel hy al amper op pad was na vanjaar se Biënnale in Venesië, het Diek toe hierdie twee skilderye vir die boekie gemaak. En ook Diek het sy deel, soos ons in Nederland sê, “belangeloos” gedoen.

byvoorbeeld_voor

  1. Jy besoek Suid-Afrika gereeld en kry dikwels blootstelling aan feeste waar jy ’n verskeidenheid van kunstenaars sien optree. Hoe het jy gekies wie op hierdie CD opgeneem moes word, en wie het nog meegewerk in die samestelling hiervan?

Ek het gevoel dit is nie aan my nie – of in elk geval nie aan my alleen nie – om te bepaal hoe die Afrikaanse musiek in Nederland verteenwoordig moet word. Dus het ek vir ’n paar bevriende kunstenaars gevra om my ook hulle insette te gee. Dit was in die eerste plek Jannie du Toit, wat die Afrikaanse musiekwêreld en veral ook die geskiedenis daarvan, goed ken, en wat ook geweldig baie kontakte het met ander kunstenaars. Hy het dinge baie makliker gemaak. Karin Hougaard is artistiek direkteur van Harlekijn en de Zuid-Afrikaanse dae en ’n baie goeie vriendin van Herman van Veen. Sy verteenwoordig Herman in hierdie projek, in sekere sin. En ek was bly dat ek vir Luna Paige kon vra oor die jonger kunstenaars. Net om hierdie gesprekke te kan hê en te luister na Jannie, Karin en Luna se voorstelle en insigte, was vir my al ongelooflik lekker.

Maar ek moet by sê: ons almal wou nog ander kunstenaars óók op gehad het – dis hoe die lys met tagtig name ontstaan het. Daar was net enkele kunstenaars wat nie hulle pad oop gesien het om deel te neem, of wat eenvoudig nie betyds op my e-posse gereageer het nie. En wanneer jy moet begin wegstreep, eindig jy uiteindelik tog weer met die bekende name – seker wat die kunstenaars van vóór 1994 betref. Dis ook reg so. Jy het ook altyd groot name nodig om minder bekende name by ’n nuwe gehoor te introduseer. Ek is eintlik bly dat ons nie almal in een keer op kon kry nie: ek sien nou al weer uit na ... byvoorbeeld (Deel 2), en ek hoop dat ons dan weer twintig kunstenaars bereid sal vind om hulle bydrae te lewer.

koosdoep

"Koos met kamera". Geplaas met erkenning aan die kopiereghouer Irma du Plessis (www.koosduplessis.co.za en https://commons.wikimedia.org)

  1. Ons weet teen hierdie tyd dat jy passievol is oor Afrikaans. Die vraag is: Is daar genoeg ander Nederlanders wat ook in Afrikaans belangstel? Genoeg om ’n mark vir hierdie CD te regverdig?

Dit was Herman se idee om dit ’n taamlik eksklusiewe uitgawe te maak, van 350 handgenommerde kopieë. Ek is seker dat hierdie oplae gou uitverkoop sal raak. Dit word ’n collector’s item! En daarna kan ons kleiner oplaes laat by maak, dalk in ’n iets eenvoudigere vormgewing, byvoorbeeld met die oog op die Festival voor Afrikaans in April 2016 en die Week van de Afrikaanse Roman in September 2016.

Wat baie belangrik is, is dat ’n deel van die eerste oplae baie doelgerig vir spesifieke radio-deejays en musiekresensente in Nederland en Vlaandere gestuur gaan word. Herman van Veen vier vanjaar sy vyftigjarige jubileum as ’n kunstenaar en hy weet natuurlik presies wie sal belangstel, en wie nie. Dit is juis die feit dat Herman en sy maatskappy, Harlekijn-Holland, bereid was om hulle aan hierdie CD-projek te verbind, wat vir die bekendheid van Afrikaanse musiek in die Lae Lande geweldig baie beteken.

  1. ’n Boek sal nie verkoop as niemand daarvan weet sonder bemarking nie. Ons almal in Suid-Afrika stel belang in jou CD - maar wie in Nederland gaan jou help met bemarking/advertensie?

My rol was om die kunstenaars te nader. Die hele produksie en bemarking word deur die mense van Harlekijn-Holland gedoen. En weer eens: hulle weet natuurlik presies hóé! Die CD word te koop aangebied via die webwinkel op Herman se webwerf, maar dié is eenvoudig ook gekoppel aan die groot verspreiders, soos bol.com (in Nederland) en Amazon. Hoewel ons die CD dus nie aktief in Suid-Afrika gaan bemark nie, is dit vir mense in Suid-Afrika wel moontlik om die CD langs dié weg te bestel.

ingrid_byvoorbeeld1

  1. Wat is die verband tussen ... byvoorbeeld en Harlekijn en de Zuid-Afrikaanse dagen?

Herman van Veen en Karin Hougaard het al ’n jaar gelede die plan opgevat om einde Augustus 2015 ’n Afrikaanse fees te hou op De Paltz, die pragtige landgoed in Soest waar Harlekijn-Holland se kantore gevestig is. Toe ek met die plan vir die CD kom, raak alles in ’n stroomversnelling. Die meeste kunstenaars wat by die fees gaan optree, is ook deel van die CD-projek, en die twee inisiatiewe het mekaar versterk en geïnspireer. Die CD word Sondag 30 Augustus tydens die fees bekendgestel.

 

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Stephan Lategan

    'n Mooi onderneming. Maar hoekom sluit jy nie ook opnames van Afrikaanse koormusiek by die CD in nie? Ons kore is werklik uitstekend, van die beste ter wêreld en die Nederlanders en Vlaminge sal baie daarvan hou.

  • Avatar
    Ingrid Glorie

    De cd ... BYVOORBEELD (Deel 1), mét het mooie boekje met songteksten, biografietjes, een persoonlijke toelichting door alle artiesten en twee kunstwerken door Diek Grobler (o ja, en een gedicht van Herman van Veen en iets over het Afrikaans door my) is vanaf vandaag verkrijgbaar via de webshop van Herman van Veen. Prijs: € 16,-: http://www.hermanvanveen.com/webshop/.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top