Onderhoud: Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam-hooforganiseerder aan die woord

  • 1

aka16.1

Lees ook:
Foto's: Openingsgeleentheid van die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam
Feesorganiseerders aan die woord
Amsterdam kry Zuid-Afrikahuis terug

Die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam vind plaas vanaf 8 tot 10 April 2016. Carina Claassens gesels met Naomi Meyer hieroor.

aka_carinaclaassensHallo Carina, die program van die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam is pas bekend. Wat is jou betrokkenheid by hierdie fees?

Jong, hier is ’n hele groot span by betrokke. Na die vorige twee feeste was daar besluit om ’n amptelike stigting te vorm: Stichting Festival voor het Afrikaans. Die stigting bestaan uit 5 direksielede, wat almal hooggeskoolde Nederlandse sakemanne en -vroue is. Die stigting is opgerig met die doel om ’n band en samewerking tussen Nederland en Suid-Afrika te bevorder met die oog op kulturele, akademiese en besigheidsbande. My rol as die hooforganiseerder van die fees is om met ’n hele span en vrywilligers die fees moontlik te maak. Die fokus van die stigting lê veral by die insameling van fondse, die opbou van samewerking tussen Nederlandse en Suid-Afrikaanse kunstenaars en vennote. Ons werk saam aan die artistieke vormgewing van die fees en die programmering. Ek hou ‘n ogie op alles wat aangaan. Die direksielede se inligting van die Stichting kan jy kry hier (onder info): www.festivalvoorhetafrikaans.nl.

Dis die eerste keer dat ek hoor van hierdie fees – met hierdie naam. In watter gedaante het dit vantevore bestaan en hoekom het die naam verander?

2011 was die eerste keer wat ons so 'n grootskaalse Afrikaanse kultuurfees in Nederland georganiseer het; toe was dit nog by die pragtige Tropenmuseumteater in Amsterdam (dié bestaan nie meer nie, maar die Tropenmuseum is nog oop) en Festival voor het Afrikaans genoem. Dit was so 'n geweldige sukses dat ons dadelik geweet het dit is 'n fees wat gaan bly. Nie net het die opkoms alle verwagtinge oortref nie, maar die deelnemers – die bands, die sangers, die skrywers, die akteurs, die sprekers, die filmmakers – was deur die bank enorm entoesiasties en oortuig daarvan dat hierdie fees móét bly.

Daar is goed en lank nagedink en beplan en besluit dat die fees tweejaarliks aangebied moet word. Die volgende een was dus in 2013 en vir afwisseling in Den Haag. Daar is dadelik weer begin organiseer en sowaar nogmaals 'n enorme sukses en weer eens dawerende entoesiasme vanuit die geledere van deelnemers, feesgangers, pers en borge. Die Nederlandse ondersteuners en Suid-Afrikaanse ekspats in Nederland en omliggende Europese lande was klaarblyklik bereid om ver te reis om dit by te woon. Dit was 'n goeie teken.

Die fees moes dus vanuit 'n vaster basis georganiseer word. Ons het koppe bymekaar gesit en besluit dat 'n stigting the way to go is. Stichting Festival voor het Afrikaans is daaruit gebore. Dit was 'n nuwe fase wat die fees betree het en daarmee het ons ook 'n nuwe naam bedink, naamlik AKA – lekker op die tong (Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam) – want dit het tog geblyk dat die sjarme van die pragtige Amsterdam die plek is waarheen die deelnemers die graagste kom. 

Ek het 'n entoesiastiese en sterk kerngroepie bymekaar gekry en saam werk ons nou al maande lank aan die fees. Ons weet ons het 'n wenresep en ons gaan voluit daarvoor.

Jy is ‘n beeldende kunstenaar. Hoe ‘n groot rol speel beeldende kunste (uit Suid-Afrika) by hierdie fees, indien enige?

Met die ATKV en Fopspeen Filmverse wat vertoon word, gaan ons ook die prints uitstal wat by die Filmverse hoort. Ons is beperk met die ruimte en kan ongelukkig nie ‘n groter uitstalling vertoon nie.

Op watter manier is Gideon van Eeden ook by hierdie fees betrokke?

Gideon is een van die mense wat van die begin van die herlewing van die fees betrokke is, en baie, baie ure belê het in brainstorming-sessies en vergaderings. Hy het ’n duidelike stempel op die koers en visie wat ons gevind het afgedruk. Sy feeservaring van sy teater- en TV-dae het baie gehelp om koers te gee. Hy maak ’n lewe uit betaalde dokumentêre werk waarvoor hy wyd en syd oor die wêreld reis, en boonop is hy besig met sy meestersgraad by ’n Britse universiteit in draaiboekskryf en regie van Suid-Afrikaanse geskiedkundige rolprente. Die kennis wat hy met hom saambring, is ’n groot bate vir ons. Gideon het die filmgedeelte van die fees nuwe lewe ingeblaas deur onder andere die AKA-toekennings wat hierdie jaar vir die eerste keer uitgereik word vir onderskeidelik beste dokumentêre en beste rolprent. Die toekennings word beoordeel deur Nederlanders, soos David Bijker, ’n bekroonde vervaardiger. Gideon se bedryf, Tafelberg Films, borg ons ook met promosievideomateriaal. Film is een van die kernkunsvorme wat ons by die fees aanbied en ons borge Showmax en kykNET maak baie moontlik in hierdie verband.

Met die rolprente het ons ook die luukse om te kan kies uit die beste van die beste, wat natuurlik nie altyd ewe maklik is nie. Omdat ons eerste doelgroep Nederlanders is, moet alles wat ons programmeer vergesel word van introduktiewe maatreëls. Afrikaanse rolprente beleef al enige jare ’n herlewing. Dis ook inspirerend om te sien dat die vakkundigheid en ambisie onder rolprentmakers met groot spronge ontwikkel. Die feit dat Afrikaanse rolprentmakers ook sosiale taboes aanpak, wys dat ons ontsnap het aan die postapartheid model waar makliker vermaak dikwels voorrang geniet het onder makers en die publiek. Dis ek Anna, SINK en ’n Man soos my pa is uitstekende voorbeelde van hierdie tendens. Vir ekspats met nostalgiese hunkering na ons land van herkoms is Faan se trein en Ballade vir ’n enkeling natuurlik soos slaptjips en snoek in die Houtbaai se hawe. Eersgenoemde is ook ’n lekker voorsmakie van die aanbod aan kwaliteitsrolprente wat op ons borg, Showmax, se streaming webtuiste beskikbaar is. Ons is besonder trots dat Abraham van Jans Rautenbach by die elitêre Rialto Film Huis vertoon word. Hierdie rolprent is een van min Afrikaanstalige films wat die marginalisering van bruin plaaswerkers ondersoek. 

Jans Rautenbach (foto: MNet)

kykNET het ons gehelp om TV-produksies soos ’n Ander wêreld met Coenie en Ruk en riel aan te pas vir langspeelformaat. ’n Song vir Emily bied ’n nuwe blik op die geskiedenis van die Boereoorlog en Afrikaaps werp nuwe lig op die oorsprong van ons pragtige moedertaal.

Ons is baie opgewonde om hierdie jaar vir die eerste keer ’n Suid-Afrikaans-Nederlandse dokumentêr te kan vertoon. Heinrich en Michele Dahms is ’n Suid-Afrikaanse egpaar wat al jare in Nederland woon. Met steun van Nederlandse bronne het hulle die kragtige, ontroerende Between the devil and the deep gemaak, wat handel met die moeilike vraagstukke van ’n Kaapse vissersgemeenskap wat sonder kwotas nie meer ’n lewe kan maak soos hul tradisie is nie en noodgedwonge in perlemoenstropery betrokke raak.

Annemarié van Niekerk reël die boekeprogram en diskoerse. Waarna kan feesgangers hier uitsien?

Ja, Annemarié is boekresensent by die Nederlandse koerant Trouw, en rubriekskrywer by die Belgiese tydskrif Streven. Sy is nou al meer as 10 jaar in Nederland, maar het nie tred verloor met wat in Suid-Afrika op kulturele en literêre gebied gebeur nie. Ook hierdie jaar neem sy weer deel aan die US Woordfees op Stellenbosch. Sy was die aangewese persoon om die skrywers, onderhoude en debatte vir die fees te reël, ook omdat sy heeltemal ingegrawe is in die Nederlandse literêre wêreld. Dit is belangrik omdat ons 'n geleentheid vir interaksie tussen Afrikaanse en Nederlandse skrywers, uitgewers en vertalers wil skep. Dit moet 'n ontmoetingsplek wees, ook om saam op die podium op te tree, en dit is presies wat ons gaan doen.

Ons het 'n fantastiese groep skrywers bymekaar gekry. Daar is Antjie Krog, wat in Nederland altyd groot gehore trek en 'n enorme aanhang het. Dan is daar Nathan Trantraal, wat tydens die komende Woordfees die Ingrid Jonker-prys vir sy bundel Chokers en survivors in ontvangs gaan neem. En ons hoor via die grapevine dat daar 'n splinternuwe bundel van hom by Kwela lê, 'n bundel wat, so hoor ons, groot opspraak gaan maak. Maar Nathan is nie net digter nie, hy's ook cartoonist, en saam met sy broer André Trantraal doen hulle die most amazing cartoons. Hulle gaan ook hieroor op die fees kom praat en interaktief demonstreer hoe hulle te werk gaan om so 'n cartoon te skep. 

Antjie Krog

Ons was ook gelukkig genoeg om een van die grootste kontemporêre romanskrywers van Suid-Afrika, Ingrid Winterbach, se ja-woord te kry! Sommige van haar werk is in Nederlands vertaal; sy is dus nie totaal onbekend hier nie, maar verdien nog veel meer bekendheid. Dit was vir Annemarié van ultieme belang om haar aan hierdie fees te laat deelneem, tereg ook! 

En dan natuurlik Ronelda Kamfer ... Nederland is mal oor haar, en vandat sy Writer in Residence in La Rochelle, Frankryk was, deelgeneem het aan 'n uitgebreide skrywerstoer deur Frankryk, gas op die Franse radio was, en haar werk ook in Frans vertaal is, versprei haar Europese gewildheid soos 'n veldbrand. Boonop het sy so pas die Jan Rabie-Marjorie Wallace Skrywersbeurs gewen. Ons gaan oa met haar praat oor wat sy hiermee beoog. En natuurlik oor haar splinternuwe bundel, Hammie, wat nou net uit is. Dit word 'n hoofletter FEES in alle opsigte.

Wie nog? So baie ...

Bettina Wyngaard

Bettina Wyngaard, ondervoorsitter van PEN Afrikaans en skrywer van drie romans, wat ons aan die Nederlandse publiek wil voorstel. Want dit is een van die oogmerke van die fees, om ook relatief onbekende skrywers 'n kans op die podium te gee. Sy is een van die sterk stemme wat haar dikwels uitlaat oor aktuele sake in Suid-Afrika. 

Ena Jansen gaan ook kom praat oor haar nuwe boek, Soos familie.

Ena Jansen

Ja, en Emma Huismans, Suid-Afrikaanse skrywer en oudaktivis wat nou al jare lank in Nederland woon, het ingestem om haar volgende reis – sy's 'n verbete reisiger – uit te stel om ook deel te neem.

En dan kom ons altyd sprankelende Marita van der Vyver uit Frankryk! En Fanie Olivier uit Pole met 'n groep Poolse studente! 

En die uitgewers, ja! Nicol Stassen van Protea, wat oneindig baie doen, nie net vir die uitgee van Afrikaanse skrywers nie, maar ook vir die uitgee van Afrikaanse vertalings van Nederlandse werk, gaan deelneem. NB hopelik ook, maar hulle is nog nie heeltemal seker oor hulle deelname nie. En natuurlik Joost Nijsen van Podium Uitgevers – die Nederlandse uitgewer wat die heel meeste doen vir die publikasie van vertaalde Afrikaanse literatuur in Nederlands. Dit is dus 'n ideale plek vir Afrikaanse skrywers om ook met hom kontak te maak. Die fees is doodeenvoudig dié plek in Nederland vir Afrikaanse en Nederlandse boekmense om kontakte te maak.

Maar ons het ook 'n hele line-up van Nederlandse skrywers, joernaliste, akademici en vertalers wat aan ons skrywersprogramme gaan deelneem ... Sjoe, dis so baie, waar begin ek ... Wel, die grootste is Tom Lanoye – wat 'n scoop! Dan is daar Christine Otten, Charles den Tex, Anneloes Timmerije, Poetry Circle Nowhere; en vertalers soos Robert Dorsman, Karina van Santen, Martine Vosmaer, Rob van der Veer, Titia Palthe en Ingrid Glorie.

Michael le Cordeur

Wie nog? Uit Suid-Afrika ook Michael le Cordeur, Tertius Kapp en Anne-Marie Beukes, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad uit Suid-Afrika; Joris Cornelissen, Jaap Goedegebuure, Eep Francken, Harry Wels, Bart Bouwman, Bart Luirink, Pieter Muysken (Spinoza pryswenner!) uit Nederland.

En ons gaan praat dat dit gons. Ons gaan 'n André Brink-herdenking hou; ons gaan gesels oor vertalings tussen Afrikaans en Nederlands; oor skrywers wat ook beeldende kunstenaars is; oor hoe dit is as meer skrywers of kunstenaars saam onder een dak woon. Ons gaan oor kinderboeke praat en Marita van der Vyver gaan selfs vir die kleintjies voorlees. Ons gaan redekawel oor Afrikaans onder vuur, oor lesbiese vroue en geweld, oor Mandela se liefde vir Afrikaans, oor die bendekultuur in die Kaap, oor meertaligheid, oor ...

Ek kan nog lank aangaan. 

Baie belangrik: ons gaan ook 'n poësiewerkswinkel hou, en deur niemand minder nie as die formidabele Antjie Krog, in samewerking met Poetry Circle International! Dis net eenvoudig 'n kans wat nie gemis kan word nie! Ons hou ook 'n poësiekompetisie, wat trouens al afgeskop het. Daar is 200 euro vir die wenner! Alles staan op ons website; inskrywings moet gestuur word aan [email protected]. Die drie bestes word boonop gepubliseer in Maandblad Zuid-Afrika

Die fees bied soveel geleenthede vir mense wat belangstel in boeke, skrywers, literatuur en alle onderwerpe daaromheen. Definitief the place to be

Hoe is bepaal watter kunstenaars en skrywers by die fees sal optree? Die wisselkoers maak dit sekerlik nie maklik om mense in Amsterdam te kry nie.

Ons het die kunstefeeste in Suid-Afrika met 'n fyn oog dopgehou. Ons het ons vinger op die pols gehou van alle kultuuraktiwiteite, die musiek scene, alle teaterproduksies, filmproduksies, nuwe boeke en skrywerstemme. Ons wil veral wegbreek van die ou beeld van Afrikaans, en die hele wye spektrum waaruit Afrikaans bestaan, hier laat sien. Ons gaan in alle soorte Afrikaans op die podium praat, sing, redeneer, voorlees, speel. Binne hierdie wye net sif ons natuurlik ook, en dan vanselfsprekend vir kwaliteit, die allerbeste, en daarby ook 'n geleentheid aan nuwer interessante stemme. Ons het maande lank ons huiswerk gedoen, alles dopgehou, “uitgeruik”, uitgehoor, bekyk en bepraat. Ons gaan met net die allerbeste hier afshow. Ongelukkig is dit nie moontlik om almal wat ons graag sou wou uitnooi uit te nooi nie, maar oor twee jaar doen ons dit weer!

Wat die borge betref ... ja, dit was moeilik. Ons steun alleen maar op borge. Ons Afrikaanse borge se rande het skielik verskriklik gekrimp en boonop is instansies maar huiwerig om geld op kultuur te spandeer. Almal besuinig, besnoei, bespaar en hou vas. Ons moet dus fyntrap met die finansies. Ons medewerkers is meestal vrywilligers, omdat daar net eenvoudig nie geld is om hulle te betaal nie. Maar ons het ook nog nie opgehou met aansoek doen vir befondsing nie, tot op die heel laaste dag sal ons nog probeer. Elke sent tel.

Afrikaans dra nog swaar aan sy bagasie van die verlede. Hoe word ‘n Afrikaanse fees in Nederland deur Nederlanders ontvang?

Ons belewing tot dusver is dat die Nederlanders gefassineer is met Afrikaans, waarskynlik oor die raakpunte uit die verlede, maar ook omdat die taal vir hulle min of meer verstaanbaar is, maar tog ook eksoties – uit die verre suide van Afrika. Hulle is ook geïnteresseerd om te sien hoe Afrikaans binne die nuwe Suid-Afrika ontplooi en op nuwe maniere ontwikkel, verander en deelneem aan verandering. Afrikaans is 'n jong taal wat vinnig aan die verander is, en dit maak dit 'n besonderse interessante taal. Ons wil ook deur die AKA laat sien dat Afrikaans beweeglik, soepel, aanpasbaar en lewend is, ook speels en humoristies, maar ook ernstig en wetenskaplik.

Waarom ‘n Afrikaanse fees in Nederland?

Met hierdie inisiatief wil die Stichting die Afrikaanse taal en kultuur in Nederland bevorder en 'n plek gee op die landelike kulturele podium. Deur die fees kleurvol en kontemporêr aan te bied en daarin allerlei elemente te verwerk wat ’n feespubliek aanspreek, wil die Stichting 'n nuwe ontmoetingsplek skep vir liefhebbers van Suid-Afrika en die Afrikaanse taal.

Die Stichting wil deur middel van kultuuraktiwiteite wys dat Afrikaans 'n springlewendige taal is met 'n ryk kultuurlewe. By alle aktiwiteite staan ​​die Afrikaanse taal en kultuur sentraal met debatte, lesings, film, literatuur, musiek en teater in Afrikaans. Belangrik is om die veelsydigheid en die kulturele rykdom van die Afrikaanstalige gemeenskappe aan Nederland te toon. Afrikaans en Nederlands is nou verwant, nie net op taalgebied nie, maar ook op kulturele gebied. Die Stichting wil 'n podium bied aan kunstenaars met Afrikaans as moedertaal én Nederlandse kunstenaars wat hul laat inspireer deur Afrikaans. Die aktiwiteite is daarop gemik om hierdie kunstenaars geleenthede te gee om in Afrikaans op te tree en interaksies tussen Afrikaanse en Nederlandse kunstenaars te bevorder. Ekstra aandag sal bestee word om geleenthede aan nuwe talent en talentontwikkeling te bied.

Samevattend is die doel van die Stichting:

- die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur in al sy variante in Nederland

- die bevordering van artistieke kruisbestuiwing en ontmoeting tussen Afrikaanse en Nederlandse kunstenaars en feeste

- die skep van nuwe vennootskappe

- die ontwikkeling van nuwe talent.

Word hierdie fees slegs in Amsterdam aangebied en waar presies is al die venues?

Die fees vind slegs in Amsterdam plaas, sodat mense maklik tussen die vier feesterreine deur die historiese middestad van Amsterdam kan stap. Die feesterreine bestaan uit die Compagnietheater (AKA-tuiste), die Zuid-Afrikahuis, musiektempel De Melkweg, filmhuis Rialto en die mooie Theater de Roode Bioscoop. Van die plekke het 'n besondere geskiedenis. So staan die Compagnietheater, die belangrikste feesterrein, naas die Oost-Indisch Huis, wat die ou hoofkantoor van die Verenigde Oostindische Compagnie (VOC) was. Hierdie teater het sy naam ontleen aan dié eienaar van die Oost-Indisch Huis. De Melkweg is geleë aan die Leidseplein, waar op 16 Junie 1990 tienduisende mense Nelson Mandela toegejuig het. Die Zuid-Afrikahuis is natuurlik die burgerlike brug tussen Nederland en Suid-Afrika. 

Wat kos die kaartjies en waar kan mense nog meer praktiese inligting bekom?

Ons het 'n stelsel waardeur mense eerstens €5 betaal vir toegang tot die feesterrein. Nadat mense vir hul toegangskaartjie betaal het, het hulle toegang tot die Compagnietheater se Bo-Kaapkafee, die hart van die fees, die Zuid-Afrikahuis en gratis optredes wat hier plaasvind. Vir sommige vertonings en optredes betaal mense 'n ekstra bedraggie. So kos die filmkaartjies 'n addisionele €3 en kan optredes – afhangend van die kunstenaar – tot 'n addisionele €15 kos. 'n Bekende klag tydens die vorige edisie was dat die kaartjies so duur was; nou kan mense egter hul eie program afhangend van hul eie begroting saamstel. Verskeie passepartouts is ook beskikbaar. AKA se kaartjies word vanaf 15 Februarie op die AKA se webwerf verkoop. Meer inligting kan ook op die AKA se webwerf gevind word. Kyk by kaartjies: http://www.aka.festivalvoorhetafrikaans.nl.

Hier is die volledige feesprogram.

 

  • Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal sal nie meer by die fees optree nie.

AKA16.650

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top