Titel: On scope
Skrywers: Jack Coughlin & Donald A Davis
Uitgewer: Pan Macmillan
ISBN: 9781447263760
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Stephen Hunter het met sy ikoniese karakter, Bob Lee “The Nailer” Swagger, vir twee dekades die skerpskuttersplatform gedomineer. Swagger is ook die hoofkarakter in beide die 2007-film en die 2016-reeks Shooter. Enkele boeke soos White Star deur James Thayer het daarna die kollig gedeel.
Die Kyle Swanson-reeks (Kill Zone, 2007) is die eerste skerpskuttersreeks wat Swagger ewenaar. (Scott McEwen het eers in 2008 aan sy SEAL-sluipskutterkarakter Gil Shannon lewe gegee.) En die allerbeste, die skrywer is niemand anders as skietersersant Jack Coughlin nie. Jip, jy het reg gelees, dié skrywer van Shooter: The Autobiography of the Top-Ranked Marine Sniper.
In On Scope, die sewende boek in die reeks, staan Spanje op die rand van ekonomiese ineenstorting. ’n Alliansie van Islamitiese bankiers stel ’n reddingspakket sonder enige voorwaardes voor. Hul onderliggende doel is egter om die eenheid van Europa te verbreek en Madrid op die pad na Islamitiese bewind te plaas. Wanneer Amerika die ooreenkoms teëstaan, storm terroriste die Amerikaanse konsulaat in Barcelona.
Ná Amerika se “war on terror” weet ons wat gaan volg en Swanson en die pragtige karakter Beth “Coastie” Ledford, sy Task Force Trident-vennoot, stel ons nie teleur nie. Maar dit is nie jou tipiese kat-en-muis-spel nie, nee, in On Scope word die jagters ook gejag. Dit is ’n aksie-belaaide skaakspel tussen Swanson/Ledford en die meesterbreinantagoniste Yanis Rebiane en sy seun Djahid, waarin een skoot die toekoms van Spanje, NATO en die Europese Unie gaan bepaal.
Coughlin en Davis slaag suksesvol daarin om die aksie af en toe te vertraag met Swanson se muisneste en Ledford se sielkundige probleme, sonder om te irriteer.
Indien jy van die skerpskutterboeke Marine Sniper: 93 Confirmed Kills (deur Charles W Henderson), American Sniper (deur Chris Kyle, Jim DeFelice en Scott McEwen) en The Longest Kill (deur Craig Harrison) gehou het, gaan On Scope jou vasnael.