Omstrede matriekuitslae: ’n Onderhoud met Gert van der Westhuizen

  • 2

Te midde van ’n groot gespog van owerheidskant en skole oor die jongste matriekuitslae is daar ook talle onbeantwoorde vrae. Jean Oosthuizen wou by Gert van der Westhuizen, professor in opvoedkunde in die Departement Opvoedkundige Sielkunde aan die Universiteit van Johannesburg, weet hoe ons die matriekuitslae moet verstaan en hoe dit moontlik is dat Suid-Afrika, wat persentasiegewys meer geld as enige ander land ter wêreld aan onderwys bestee, se onderwysstelsel van die swakste te wêreld is.

Die matriekslaagsyfer van 2016 is omstrede. Aan die een kant word daar gespog die slaagsyfer van 72,5 persent wys die onderwysstelsel beweeg in die regte rigting. Verskeie mense meen egter die uitslae is glad nie so rooskleurig as wat dit op die oog af lyk nie. Hoe akkuraat is die matriekuitslae regtig as mens die groot getal leerders in ag neem wat langs die pad uitval?

Dis goed dat mense krities na matrieksyfers kyk, veral omdat dit so baie sê van die skoolstelsel – 12 jaar se leer word daarin weerspieël, en mens kry so die beste idee van die mate waarin dié wat uit die stelsel tree, geleer het wat die skool, die kurrikulum en die onderwysers hulle aangebied het om te leer.

Matrieksyfers is sekerlik die prominentste aanduider van die prestasie van ons onderwysstelsel, en is ’n teleurstelling vir sommiges, en rede tot viering vir ander.

Daar is soveel amptelik-onbeantwoorde vrae oor vakprestasies, assesseringstandaarde, punteverstellings en lae gemiddeldes.

Hoe moet mens dan die uitslae verstaan?

Matriekuitslae word deur verskillende belanghebbendes verskillend verstaan en gebruik. Politici sien en gebruik dit as die prestasie van die regerende party; ouers juig oor suksesse, of huil oor die gevolge van hulle kinders se swak prestasies en hoe dit deure toemaak. Onderwysers spog waar hulle kan, bly baie stil, en wonder oor die gebrek aan openbare erkenning van wat hulle alles elke dag in hulle klasse doen.

Matrikulante is die belangrikste gehoor aan wie die matrieksyfers voorgehou word – baie konkreet op elke individuele sertifikaat. Dit laat hulle met die grootste vraag: Wat nou? Wat het ek in die skool geleer, en hoe gaan hierdie uitslae my vorentoe help? Kan ek daarmee ’n werk kry, toegang tot verdere studie, of ten minste ’n lewe maak?

Matriekuitslae kan met groter erns bejeën word. Is dit inderdaad wat hierdie land met al sy bronne kan regkry? Wat van die tekorte? Hoe gebruik die burokrate en politici dit om hulle toerekeningsvatbaarheid te demonstreer?

Hier by UJ is studente lank reeds uitgesproke oor “wat die skole aan ons doen”: “Ons word oorlaai, kennis is gefragmenteer, ons sien onsself nie in die kurrikulum nie, en ons voel nie bemagtig om op ons eie ’n lewe te maak in ons gemeenskap nie.”

Openbare gesprek oor matriekuitslae handel toenemend oor die kenniswaarde van matriekprestasies. Universiteite kla dat die skole nie voldoende kennisbasis bou nie.

Hierdie kennisbasis is ’n eng een, uitsluitlik Westers-georiënteerd, en ongedekoloniseerd. Dis die huidige oproep by universiteite dat kennis meer outentiek, eg Suid-Afrikaans, plaaslik, inheems moet wees, en ingesluit moet word by die amptelike kennis wat universiteite voorhou in navolging van alles “wetenskaplik” Amerikaans en Europees. Dieselfde oproep moet nou oorspoel na die kenniskrisis in skoolonderwys.

Die jongste uitslae is met groot fanfare in Midrand aangekondig maar die gemiddelde punte per vak word van die publiek weerhou. Waarom word hierdie inligting van die publiek weerhou? Suid-Afrikaners mag weet hoeveel leerlinge ’n spesifieke vak deurgekom het, maar hoe hulle gevaar het, bly ’n staatsgeheim wat die eksamenowerheid Umalusi net met sekere uitverkore partye deel. Word die publiek nie so mislei nie?

Mens verwag onvoorwaardelike openheid en openbaarmaking as deel van die stelsel se toerekeningsvatbaarheid. Dit is goed dat landsburgers dit raaksien en bevraagteken.

’n Groot aantal leerders verdwyn voor graad 12 uit die skoolstelsel en vorder nooit tot matriek nie. Wat sê dit van die onderwysstelsel in sy geheel?

Elke jaar wanneer matriekuitslae gepubliseer word, word op hierdie probleem gewys en dan vergeet almal weer daarvan. Die uitval van primêre skool af al is die groter probleem wat die styging en daling van uitslae direk beïnvloed. Dis ook ’n belangriker aanduider van wat die stelsel moet regkry, afgesien van beter matriekuitslae.

Suid-Afrika is ’n deelnemer aan die Unesco-program “Education for all” wat fokus op die insluiting van alle kinders in die skoolstelsel, sowel as die deurvoer tot op hoërskoolvlak, maar ons syfers vergelyk swak met dié van die res van die wêreld.

Die Vrystaat het die hoogste slaagsyfer gehad, maar dit blyk dat buitengewoon baie leerlinge in dié provinsie in hulle laaste drie jaar uit die skoolstelsel verdwyn het en dit nooit tot matriek gemaak het nie. Steek daar enige waarheid in die bewerings dat sommige skole leerlinge doelbewus “uitdun” om hulle matriekuitslae beter te laat lyk weens druk van distrik- en provinsiale owerhede?

Kom ons aanvaar dat onderwysmense in die Vrystaat dinge gedoen het wat help – kan provinsies by mekaar leer?

Hoewel die matriekslaagsyfer gestyg het, blyk dit uit ’n ondersoek in die media dat die oorgrote meerderheid van verlede jaar se klas net-net deurgeskraap het. Talle leerlinge het skokkend sleg gevaar in sleutelvakke soos wiskunde en wetenskap. Hoe bekommerd moet ons daaroor wees?

Net-net deurskraap beteken kinders leer nie wat die skool het om te leer nie en is ’n blywende bron van onreg teen die kinders. Die skool kom nie sy verantwoordelikheid na nie. Dis ’n etiese probleem.

Daar word wyd gedebatteer oor die belangrikheid van wiskunde as vak. Is wiskunde regtig so belangrik en waarom word wiskunde so baie beklemtoon vergeleke met ander vakke?

Die Onderwysdepartement bied wel redes hiervoor aan, maar dit kan nie óf wiskunde ٕóf niks wees nie. Dis wiskunde én al die ander skoolvakke, ter wille van balans.

Die punte vir van die ander vakke gee ook rede tot kommer. In aardykskunde het 76% van leerlinge geslaag, maar die gemiddeld was slegs 39%. Geskiedenis se gemiddeld was 44% (terwyl 84% van leerlinge geslaag het). Dit lyk dus of die probleme nie net tot vakke soos wiskunde en wetenskap beperk is nie?

Inderdaad – kinders leer nie wat die skool het om te leer nie, en dit beteken die stelsel kom nie sy verantwoordelikheid goed na nie.

Deel hiervan is die kennisprobleem: kinders en gemeenskappe sien hulleself nie in die kurrikulum nie. Amptelike kennis bly vreemd en pedagogiek gebaseer op Europese kennisstelsels.

’n Skokkende 27% van die leerlinge in die land wat ses jaar skoolonderrig ontvang het, kan nie lees nie, teenoor 4% in Tanzanië en 19% in Zimbabwe. Wat doen hierdie lande wat reg is ten opsigte van basiese geletterdheid wat ons nie raaksien nie?

Belanghebbendes kan hieroor ontstig wees en aandring op regstelling, en verantwoording hiervoor in die openbaar doen. Sekerlik het die Onderwysdepartement reeds studies gemaak van die suksesse in ander Afrikalande – ek hoop regtig dat ons reeds daaruit leer.

Mens kan in die lig van die swak prestasie van ons onderwysstelsel die vraag vra: Hoe kan ’n onderwysamptenaar ’n graad 1-ouer in die oë kyk, wel wetende dat die skoolsukses van die kind nie gewaarborg kan word nie, weens stelseltekorte?

Suid-Afrika bestee ’n groter persentasie van sy bruto binnelandse produk aan onderwys as enige ander land ter wêreld. Hoe is dit moontlik dat ons onderwysstelsel steeds een van die swakstes in die wêreld is?

Dis moontlik, en steeds onaanvaarbaar. Politieke wil kan dit regstel.

Die ou model C-skole vaar beduidend beter as voorheen benadeelde skole. Hoeveel van hierdie probleme kan toegeskryf word aan die ongelykhede in hulpbronne gedurende die apartheidsera in swart onderwys en die gebrek aan voldoende onderwyser-opleiding in sekere vakke? Is ’n deel van die land se onderwysprobleme nie maar die nalatenskap van apartheid nie?

Die nalatenskap van ongelykhede is steeds met ons. Mense bewonder die suksesse van voormalige model C-skole, en daar word op distrikvlak hopelik studies gemaak van die faktore en hoe dit tot verbetering van die stelsel in sy geheel kan bydra.

Al ons skole, insluitend die ou model C-skole, trek swaar aan die tekorte van die kurrikuluminhoud en handboeke wat steeds uitsluitlik Westers georiënteerd is, en steeds deur die OBE/C2005/NCS-kurrikula in stand gehou word.

Gesprekke oor die verbetering van die skoolstelsel gaan dan hopelik verby die oproep om matriekpunte se gemiddeldes te verbeter, om te fokus op die meer fundamentele vraag oor die gepastheid en outentisiteit van die kurrikulum.

Dit is die kenniskrisis wat die dekolonisering van kennis ook op skoolvlak noodsaaklik maak.

Tog is daar ook mooi verhale van agtergeblewe skole wat verras met uitstekende uitslae. Hoekom kry hulle dit reg en ander nie?

Mense vernuwe en leer die reëls van die spel – maar die reëls self moet verander word. Onderwys se opvoedkundige waarde word verbeter wanneer dit meervoudige kennisse en kennisdiversiteit insluit. Wat ons in die stelsel het, is kennis-onreg – waar dominante kennis wat hoofsaaklik Westers bedink en Westers in oorsprong is, terwyl ons ’n land is wat ryk is aan inheemse kennisstelsels.

Wat sou jou eerste prioriteite gewees het as jy minister van onderwys was om die onderwyssituasie in die land te beredder en die ongelykhede in die onderwys uit te skakel?

Catherine Odora Hoppers van Unisa praat van die noodsaak van kognitiewe geregtigheid, en transformasie deur uitbreiding (“enlargement”) en hoe belangrik dit is om al die land se kennisstelsels in die onderwys in te bring. Kennisstelsels het die reg op bestaan en vooropstelling.

Onderwysverandering noodsaak gelykstelling van kennisstelsels, en dit moet gebeur op die vlak van universiteite en skole.

Verder is dit belangrik om die eng fokus van skole op onderwys en kurrikulumwerk te verbreed – onderwys is ook opvoeding, en die aanduiders van goeie opvoeding in skole soos morele besluitneming, sosiale kohesie, demokratiese burgerskap kan prominenter gemaak word.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top