
Dit het oor die jare al duideliker geword dat ons regering se buitelandse beleid ’n droewige rigting inslaan, beginselloos en ongekoördineerd. Veral wat betref die beskerming van menseregte. Die stilswye in die Veiligheidsraad toe die Mianmar-kwessie ter sprake kom, en nader tuis, toe ’n visa vir die Dalai Lama sonder slag of stoot geweier word, is van die skerpste voorbeelde. Nou werp die al-Bashir-kwessie die donkerste skadu tot dusver op die regering se buitelandse beleid, en is dit terselfdertyd ’n bomskok vir ons grondwetlike bestel.
Omar al-Bashir, met vyf aanklagte van misdade teen die mensheid, sowel as twee aanklagte van gruwelike oorlogsmisdade en drie nóg gruweliker aanklagte van volksmoord, word nie slegs diplomatieke immuniteit gegee om die Afrika-Unie se vergadering by te woon nie, maar boonop toegelaat om straffeloos vanaf ’n militêre lughawe uit die land te sluip. In weerwil van ’n hofbevel wat dit verbied.
Die skreiende ironie is dat dit juis die ANC is wat destyds in alle hoogheiligheid die VN se Algemene Vergadering oortuig het dat apartheid as ’n misdaad teen die mensheid verklaar moet word.
Hierdie optrede van ons regering is eerstens ’n blatante verbreking van sy internasionale verpligtings. Die Internasionale Konvensie van 1998 wat die internasionale strafhof ingestel het en deur ons regering aanvaar is, vereis uitdruklik dat persone wat voor die hof aangekla word, in hegtenis geneem en uitgelewer moet word.
Dieselfde konvensie is in 2003 deur ons eie wetgewing – soos die Grondwet vereis – as deel van die Suid-Afrikaanse reg ingelyf. Gevolglik is die bystand aan al-Bashir om te ontsnap nie net ’n verbreking van ’n internasionale verpligting nie, maar ook ’n growwe verkragting van ons eie reg. En boonop ’n minagting van die hofuitspraak wat sy inhegtenisname beveel.
In ons strafreg is dit ’n ernstige misdaad om ’n aangeklaagde beskuldigde te help met ’n ontsnapping van die gereg. Hiervolgens is dit glad nie vergesog om te sê dat die regeringsinstansie en persone wat al-Bashir gehelp het om landuit te gaan, strafregtelik aanspreeklik gehou moet word nie.
Die regering se onmiddellike verweer is dat al-Bashir diplomatieke immuniteit vir die bywoning van die AU-vergadering gekry het wat hom teen strafregtelike vervolging vrywaar. Dit is ’n totaal ongeldige verweer. Verlening van diplomatieke immuniteit is ’n uitvoerende handeling en geen uitvoerende handeling mag volgens die basiese vereiste van wettigheid teen ’n wetsvoorskrif gaan nie. In hierdie geval gaan die verlening van diplomatieke immuniteit nie slegs teen ’n internasionale konvensie nie, maar ook teen ons eie reg wat die Rome-verdrag deel van ons eie wette-reg gemaak het. Boonop vereis die Weense Konvensie van Diplomatieke Voorregte dat diplomate hul moet vergewis van die wette van die staat wat hulle ontvang. Dit kon dus van al-Bashir verwag gewees het, voordat hy sy opwagting by ons gemaak het, dat hy bewus moes wees van die Suid-Afrikaanse reg wat sy inhegtenisname vereis.
Die twee direkte gevolge op die internasionale terrein wat ons regering se vergryp in hierdie saak teweegbring, is:
- Dit bring ’n ernstige bedenking mee oor Suid-Afrika se rol as beskermer van menseregte, nie net in ons land nie, maar ook in ander dele van die wêreld.
- Dit werp ’n skadu op Suid-Afrika se bereidwilligheid om sy internasionale verpligtinge na te kom. As dit eers bekend word dat ons regering sy ooreenkomste op internasionale vlak willens en wetens verbreek, kan dit ongetwyfeld sy geloofwaardigheid op ’n verskeidenheid van terreine skaad.
Tydens die AU-beraad word daar nou die sinistere beskuldiging gemaak dat die internasionale strafhof hoofsaaklik ten doel het om Afrika-leiers aan te kla en dat sy bevele dus verontagsaam kan word. Aanklagte deur die internasionale strafhof gebeur nie sommer uit die bloute nie, maar word voorafgegaan deur diepgaande ondersoeke en feiteversameling. Dit moet aanvaar word dat aanklagte teen Afrika-leiers uiters grondig gefundeer en beslis nie net op vooroordeel gebaseer is nie. In alle gevalle dien daar ’n paar Afrika-regters in die hof, waarvan ons eie Justus Moloto een is.
Afrika-leiers dring nou al vir lang tyd daarop aan dat Afrika ook ’n permanente setel in die VN se Veiligheidsraad moet kry. Hul houding in die AU-beraad om die jurisdiksie van die internasionale strafhof te bevraagteken, gaan beslis nie hul aandrang op so ’n permanente setel bevorder nie.
En nou, om alles te kroon, kom Julius Malema met die opsienbarende uitspraak dat alhoewel al-Bashir se gruweldade nie goedgepraat kan word nie, die internasionale strafhof ’n “hof van imperiale magte” is en dat sy aanklagte dus geïgnoreer moet word. Sonder om te kyk na die oorsprong van die hof, sy samestelling en sy magte. Sonder om te verduidelik watse “imperium” hier te sprake is. Sonder om te sê hoe sulke misdade dus gestraf moet word. Natuurlik kan mens so ’n Malema-wysheid as uiterste bog verwerp. Die kommer is egter dat hierdie soort dwaasheid op ’n hoë vlak in ons politiek verkondig word en ons staatkundige denke in die toekoms al meer en meer kan besmet.
Die regering se hantering van die al-Bashir-aangeleentheid is ’n ernstige verbreking van sy grondwetlike en regsverpligtinge. In ’n volwasse demokrasie sou dit noodwendig lei tot ’n mosie van wantroue in die staatshoof of die kabinet. Ten minste sou die minister van internasionale betrekkinge summier afgedank word.
Dit is egter te betwyfel of ons so ’n volwasse demokrasie het.

