Om warrelwinde te maai: Asem as kernmetafoor in die ontwikkeling van ’n persoonlike simboliek in die oeuvre van Willem Boshoff

  • 0

Om warrelwinde te maai: Asem as kernmetafoor in die ontwikkeling van ’n persoonlike simboliek in die oeuvre van Willem Boshoff

Josef van Wyk, Departement Kunsgeskiedenis en Beeldstudie, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 17(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Hierdie artikel ondersoek die belang van asem in die oeuvre van Willem Boshoff en die integrerende funksie wat dit daarin vervul. Ek argumenteer dat asem en die assosiasies wat dit met wind, taal en die gesproke woord ontsluit, verteenwoordigend is van ’n ryk, onderliggende simboliek in Boshoff se oeuvre. In die omskrywing van die kunstenaar se simboliek betrek ek tekste en kunswerke waarin die kunstenaar die temas van asem, woord en wind vervleg, byvoorbeeld ’n ongepubliseerde manuskrip van die kunstenaar getiteld “Genesis” (1974–6) en bepaalde gedigte uit KYKAFRIKAANS (1980). Ek interpreteer kunswerke soos Windwoorde (2008), Kasboek (1981), Stokkiesdraai (1980) en Letters to God (1997) om sodoende die verskeie verwantskappe tussen boeke, bome, wind, asem, en die geskrewe en gesproke woord in Boshoff se oeuvre uit te pluis en die belang van asem vir sowel sy oeuvre as sy persoonlike simboliek verder te omskryf. Deur die interpretasie van die betrokke tekste en kunswerke poog ek om onder andere die volgende te beantwoord: Wat is die belang van asem vir Boshoff se oeuvre? Hoe konseptualiseer Boshoff die verhouding tussen taal/asem en die skepping? Hoe kan ’n teks soos “Genesis” (1974–6) aspekte van Boshoff se oeuvre veral in terme van sy belangstelling in tale en leksikografie belig en verryk?

Trefwoorde: asem; boeke en bome; Willem Boshoff; geskrewe en gesproke woord; taal; wind

 

Abstract

Reaping whirlwinds: Breath as a central metaphor in the development of a personal symbolism in the oeuvre of Willem Boshoff

This article explores the importance of breath in the oeuvre of Willem Boshoff. I argue that breath and the associations it triggers with wind, language and the spoken word are representative of a rich, personal symbolism in Boshoff’s oeuvre which has not been researched or explored sufficiently in the existing literature. According to Vladislavić (2005:12) Boshoff has developed a complex personal and religious symbolism. He argues that Boshoff has constructed from the pieces of his own experience as well from the broad beams of Christian imagery a personal symbolism in which wood and the Word are central concepts. I expand the breadth of these two concepts and their relevance for Boshoff’s oeuvre by exploring the ways in which they develop even further into a network of associations including tree (wood), breath/wind (word), and language and the spoken word. I interpret these concepts as the concealed life force (or breath) of Boshoff’s oeuvre.

Vladislavić’s (2005:6) emphasis on the importance of wood and the Word in Boshoff’s oeuvre links with his argument that the viewer of Boshoff’s artworks is actually a reader and that Boshoff is essentially a writer; not only because the majority of Boshoff’s artworks explore concepts related to language and books, but also because Boshoff writes concrete poetry, dictionaries and commentary on his own work and methods. Therefore Vladislavić (2005:6), himself an author, compares Boshoff’s work to a shelf of books which he unceasingly researches, writes and annotates. In contrast, I argue that breath and the spoken word are central to Boshoff’s art and that the performative aspect of breath relates to Boshoff’s interest in trees, books and language.

Vladislavić (2005:15) also argues that Boshoff’s later artworks are “drained” of their religious meaning, even though they are still filled with Christian imagery. This is visible in artworks like Tree of knowledge (1997) and a relatively recent work like Tien teen een (2012). I contend that the Christian and religious references in Boshoff’s work have been largely ignored in interpretations of his work, since the artist has gradually distanced himself from Christianity later in his life. However, Vladislavić (2005:15) points out that many of the themes Boshoff had wrestled with at the beginning of his career became prominent themes which the artist continually explores. I argue more extensively that breath and the various religious connotations that breath unleashes for Boshoff create a profound and integrative constellation of themes which anchor Boshoff’s entire oeuvre and which may assist in unravelling the alluring ambiguity of the religious nature of Boshoff’s work.

In an unpublished manuscript by the artist, titled “Genesis” (1974–6), which until now has not been sufficiently engaged with in the interpretation and discussion of Boshoff’s oeuvre, the central themes are breath and the spoken word. This text was written by a devout Boshoff and reveals a variety of themes which are of continued interest to the artist. The text is also written in an experimental style and might be seen as a precursor to Boshoff’s well-known KYKAFRIKAANS (1980), an anthology of concrete poems. In this text Boshoff explores a variety of concerns related to “creation”, including the Creation, the relationship between humans and the Creator, the role of humans within creation, creativity, the relationship of the Creator with his creation and the influence of the Creator’s breath on creation. Boshoff argues in “Genesis” (1974–6) that everything is language. According to Boshoff this language is the Word, or rather words, spoken by God when the world was created and that as spoken words they are closely related to breath: “Creation happened when the creator broke the silence with his sound [breath or spoken words].”

In the description and analysis of Boshoff’s personal symbolism I refer to specific texts and artworks in which the artist intertwines the themes of breath, wind and words, such as Wind words (2008), an artwork that triggers a variety of themes related to wind, breath and spoken word which I explore further through a comparative analysis of Boshoff and Walter Benjamin. Even though Boshoff makes no direct reference to Benjamin in his own oeuvre, they share an interest in the interconnection of creation and language, as well as the diversity of languages. This comparative analysis, along with an interpretation of sections from “Genesis” (1974–6) and of selected poems from KYKAFRIKAANS (1980), scrutinizes the significance of breath and the spoken word in the oeuvre of Boshoff. The Kabbalah’s conceptualisation of God’s creative breath resonates with sections from “Genesis” and a discussion of it contributes to unpacking the importance of breath and its relationship to language in Boshoff’s oeuvre. In this context I benefit from Clarkson’s (2006:10) argument that Boshoff searches for meaning through the “patterned media of language”, which highlights the sensuous nature of language and the ways in which it relates to breath and wind. Lastly, I analyse Kasboek (1981), Stokkiesdraai (1980) and Letters to God (1997) in order to answer the following: What is the importance of breath for Boshoff’s oeuvre? How does it contribute to the artist’s personal symbolism? How does Boshoff conceptualise the relationship between language/breath and creation? How can a text like “Genesis” (1974–6) highlight and enrich aspects of Boshoff’s oeuvre as it relates to language and lexicography? Which spiritual or religious elements related to breath are present in the work of Boshoff? In which ways do these artworks allude to the relationship between books, trees, wind and breath?

Keywords: breath; Willem Boshoff; language; trees and books; wind; written and spoken word

 

1. Inleiding1

Die belang van asem in die oeuvre van Willem Boshoff, en die rol daarvan in die ontwikkeling van ’n persoonlike simboliek by dié kunstenaar, is in die bestaande literatuur nog nie ondersoek nie. Hierdie artikel poog om die rol van asem in Boshoff se oeuvre op te weeg en te omskryf. Ek wil aandui dat asem en die gepaardgaande begrippe wind, taal en die gesproke woord implikasies het vir Boshoff se oeuvre in sy geheel en verteenwoordigend is van ’n ryk onderliggende simboliek wat tot dusver nog nie voldoende onthul is nie.

Vladislavić (2005:12) impliseer die ontwikkeling van ’n komplekse, persoonlike en religieuse simboliek by Boshoff. Hy argumenteer dat Boshoff vanuit die “afvalstukke” van sy eie ervarings en die “breë balke van die Christelike mitologie” vir homself ’n simboliek ontwikkel waarin spesifiek (of veral) hout en die Woord kernbegrippe is. Ek wil takseer hoe die omvang van hierdie twee begrippe en hulle belang vir Boshoff se oeuvre verder ontsluit en verryk kan word deur hulle vervlegting in ’n netwerk van assosiasies wat daardeur opgeroep word, naamlik boom (hout), asem/wind (woord), en taal en die gesproke woord; en om die begrippe te verstaan as ’n onderliggende, lewende dryfkrag (of asem) in Boshoff se oeuvre. Vladislavić (’n kreatiewe skrywer) se beklemtoning van hout en die Woord in Boshoff se oeuvre sluit aan by sy argument dat die betragter van Boshoff se kuns eerder ’n leser is en dat Boshoff eintlik ’n skrywer is (2005:6); nie net omdat die meerderheid van Boshoff se werke aspekte van taal en boeke ondersoek nie, maar ook omdat Boshoff konkrete poësie, woordeboeke en kommentaar op sy eie werk en werkswyses skryf. Daarom vergelyk Vladislavić (2005:6) Boshoff se uitset met ’n ongelooflike rak boeke wat hy onophoudelik navors, skryf en annoteer. Ek redeneer egter dat juis asem en die gesproke woord – eerder as die geskrewe woord wat vir eeue lank opgestel is teenoor die vryheid van die beeld – sentraal is tot Boshoff se “beeldende kuns”,2 en dat die performatiewe aspekte van asem onderliggend is aan Boshoff se belangstellings in bome, boeke en taal.

Verder argumenteer Vladislavić (2005:15) dat Boshoff se werke later in sy oeuvre “gedreineer” is van hulle religieuse bedoeling, hoewel dit tog steeds gevul bly met Christelike beelde. Werke wat hiervan getuig, is byvoorbeeld Tree of knowledge (1997) en Tien teen een van so onlangs as 2012. Tog word die Christelike en religieuse betekenis in Boshoff se werk grootliks geïgnoreer, juis omdat hy homself geleidelik van die Christelike godsdiens gedistansieer het. Maar Vladislavić (2005:15) erken juis dat verskeie deurlopende temas3 waarmee Boshoff aan die begin van sy loopbaan worstel, blywende belang vir die kunstenaar het. Ek argumenteer dat asem, en die verskeie religieuse konnotasies wat dit klaarblyklik vir Boshoff ontsluit, ’n diepgaande en integrerende konstellasie van betekenis omvat wat sy oeuvre onderlê en wat daartoe kan bydra om hierdie dubbelsinnigheid te ontrafel.

Boshoff beklemtoon die tema van asem en die gesproke woord in ’n ongepubliseerde manuskrip getiteld “Genesis” (1974–6),4 wat tot dusver ongeïnterpreteer gelaat is in die navorsing oor en interpretasie van Boshoff se oeuvre. In hierdie teks worstel Boshoff met verskeie kwessies rondom “skepping”: die skepping, die verhouding tussen die mens en die Maker, die mens se rol in die skepping, kreatiwiteit, die Maker se verhouding met Sy skepping en die invloed wat die Maker se asem op die skepping het.5

Boshoff redeneer in “Genesis” (1974–6) dat alles taal is. Volgens Boshoff is hierdie taal die Woord, of eerder die woorde wat God gespreek het toe Hy die wêreld geskep het, en as gesproke taal is dit nou verbind met asem: “Dit was Skepping toe die Maker die Stilte met sy Klank [asem of gesproke taal] verbreek het.”

Volgens hierdie redenasie is die (gesproke) Woord allesomvattend, en as gevolg daarvan bestaan alles as Woord in gestalte en is dit nodig om na alles te luister om iets te verstaan. Die volgende aanhaling uit “Genesis” dui ook op die vervlegting van gestaltes (“lewensvorme”, beelde of “kleure van die werklikheid”), taal, die Woord van God, God se skeppingswoorde/Klank, asem en die skepping:

VERBEELDINGSKRAG ONTPLOOI GEDAGTES IN DIE KLEURE VAN DIE WERKLIKHEID

Die mens is

’n onomatopeïese uitdrukking van die Maker.

Want die klanke

waarmee die mens geskep is, is soos dié
wat die Maker uitverkies het om by Homself te pas.

’n Subjektiewe

berekening van die skeppingsproses en klank
kan dalk die volgende aan die dag bring.

Daar is

met humor oor die lomp vorms van varke, visse
en paddas besin – daarom is die vorms
lagwekkender vir die mens.

Daar is

met gesag uitgebulder by die skepping van hoë
kranse en berge, daarom boesem dit vrees by
die mens in en gil die mens as hy daaroor val.

Daar is

met verontwaardiging (geswets) by die
skepping van insekte en die mense begroet hierdie
lewensvorme in dieselfde gees as waarin hulle
hulle bestaan te danke het

Daar is

vrolik gesing by die skepping van skoenlappers
en blomme, hou maar kinders dop as hulle met
hierdie lewensvorme in aanraking kom.

Kinders

leef nader aan die klanke wat die Maker in
die natuur belê het want hulle het nog nie
die verkeerde klanke wat die grootmense
daaraan gegee het geleer nie.
(Boshoff 1974–1976)

In hierdie gedeelte van sy teks beklemtoon Boshoff op ’n besondere wyse die verhouding tussen taal, die gesproke woord (asem) en die geskape wêreld. Volgens hierdie uiteensetting is alle skeppingsvorme beïnvloed deur die verskeie klankvariasies van taaluitings (“gebulder, geswets, gesing”) waarmee God hulle sou geskep het. Dit dui dus vir Boshoff op die noue vervlegting van elke skeppingsvorm met klank / die gesproke woord (asem) en taal en die spore daarvan in die skepping. Sonder die gesproke woord (’n kombinasie van asem, klank en taal) sou nie ’n enkele skeppingsvorm bestaan het nie. Alreeds is dit moontlik om die filosofiese, konseptuele en religieuse belang van asem vir Boshoff hieruit te lees. Dit bied ook ’n bepaalde raamwerk vir die interpretasie van Herfs in Nederland (2008) (Figuur 1), ’n skynbaar neutrale boomfoto wat ek vervolgens wil interpreteer om daarmee die hooftemas wat ek in sy oeuvre wil aanspreek, uit te lig.

Figuur 1. Willem Boshoff, Herfs in Nederland (2008)
©2020 Willem Boshoff / Universiteit van die Vrystaat

In sy beskrywing van die totstandkoming van die reeks kunswerke vir Windwoorde (2008) (Figuur 2) verwys Boshoff (2009a:1) na ’n geleentheid in Sonsbeek Park in Arnhem, Nederland waar ’n vlaag wind droë herfsblare rondgewaai het. Herfs in Nederland (Figuur 1), ’n foto wat versamel is saam met die ander foto’s van Windwoorde in Boshoff se digitale argief, visualiseer hierdie inspirasie vir Windwoorde (2008). Die aanvanklike eenvoud van Herfs in Nederland is misleidend. Buiten die verband met Windwoorde (2008) sluit die foto ook aan by Boshoff se groot aantal skynbaar onopdringerige alledaagse of botaniese foto’s van bome, en die ongemak met die kontinuïteit daarvan met sy oeuvre van kunswerke in die geheel, wat eers onlangs aangespreek is.6 Ek sonder dié foto uit, tussen duisende foto’s van bome, as ’n beeld wat ’n besonder integrerende funksie kan vervul in die nadink oor Boshoff se oeuvre. Soos sal blyk uit die verskeidenheid interpretasies in dié artikel, sinspeel die foto op die verwantskappe tussen asem, wind, taal, die gesproke woord, fluistering, klank, stilte, bome en boeke in die oeuvre van Boshoff.

In Herfs in Nederland hang bros, bruin blare aan dun takkies, wat skyn te ritsel, te fluister in die wind. In die agtergrond sweef triestige, grys wolke in die lug wat suggestief is van wind, maar ook herinner aan die wolkies wasem wat mense uitblaas op koue dae – wat assosiasies met asem ontsluit. Hierdie foto, saam met die aanhaling uit “Genesis” (1974–6) hier bo, wat albei sinspeel op asem en die assosiasies wat daarmee gepaardgaan, ontlok ’n verskeidenheid vrae wat ek poog om in die artikel te beantwoord: Wat is die belang van asem vir Boshoff se oeuvre? Hoe dra dit by tot die kunstenaar se persoonlike simboliek? Hoe konseptualiseer Boshoff die verhouding tussen taal/asem en die skepping? Hoe kan ’n teks soos “Genesis” (1974–6) aspekte van Boshoff se oeuvre, veral in terme van sy belangstelling in tale en leksikografie, belig en verryk? Watter geestelike of religieuse elemente wat verband hou met asem, is ter sprake in Boshoff se werk? Op watter wyses sinspeel werke soos Kasboek (1981), Stokkiesdraai (1980) en Letters to God (1997) op die verwantskappe tussen boeke en bome, wind en asem?

 

2. Windwoorde (2008): die vervlegting van wind, woord, en asem

Die tema van wind het Boshoff al in verskeie kunswerke ondersoek – vergelyk Windfall (2001), Kante van die wind (2004), Windrose (2011) en Reaping the whirlwind (2015), asook Boshoff se windwoordeboek. Windwoorde (2008) beklemtoon egter die geluide wat die wind maak en die verbintenis tussen wind en taal. Die vlaag droë herfsblare wat Boshoff in Sonsbeek Park in Arnhem, Nederland waargeneem het, dien as sy eerste bewuswording dat die wind afhanklik is van bome en blare om gesien en gehoor te word (Boshoff 2009a:1). In hierdie konteks interpreteer Boshoff (2009a:1) wind as die asem of gees van die wêreld en interpreteer hy die objekte waardeur die wind “praat”, soos bome en blare, as die stembande daarvan. In Windwoorde (Vãyu) (Figuur 2) neem die betragter die konkretisering van Boshoff se denke rondom wind beeldend waar.

Figuur 2. Willem Boshoff, Windwoorde (Vãyu) (2008)
©2020 Willem Boshoff / Universiteit van die Vrystaat 

Windwoorde (2008) verwys, soos uit die titel afleibaar is, na die verhouding tussen asem en taal, en bestaan uit ses “blare” wat in die bome van ’n woud gehang word. Die voorkoms van die blare herinner ook aan vlieërs wat wapper in die wind. Die blare is geweef uit plastiek deur die BaPedi in Mogalakwena en die voorkoms van die stiksels sinspeel op die saai van saad deur die wind (Boshoff 2009a:2). Vir die kunswerk het Boshoff woorde vir die begrip wind in ses tale gevind waar die betekenis van die woord sowel na die fenomenele as die geestelike aspekte van wind verwys (Boshoff 2009a:1).

Boshoff beskryf, in die interpretasie van die werk, die wind as lug in beweging en lê ’n verband tussen wind en taal wat ook gekenmerk word deur verandering en beweging. Soos wat die wind afhanklik is van bome, geboue en blare om gehoor te word, is tale en denke afhanklik van teks en spraak om vergestalting te vind (Boshoff 2009a:1).7 Boshoff verwys ook na die belang van wind vir bestuiwing. Hy verwys na die Latynse semen, wat dui op die saad van plante, mense en diere, asook seminaar, waarvolgens die “sade van denke” deur die asem van ’n spreker gesaai word. Die “blaar” in Figuur 2 is dus interpreteerbaar as ’n gesproke woord, as asem wat opgeneem word deur die wind en deur die wêreld versprei word. Die woord wat waarneembaar is op die “blaar”, Vãyu, is die Hindoe-naam vir wind en lug. Dit word verstaan as die kosmiese asem van die wêreld en dit fasiliteer die wyses waarop ons in- en uit-asem (Boshoff 2009a:1, 3).

Boshoff se belangstelling in wind, en veral asem, is nie net in Windwoorde (2008) waarneembaar nie. Dit is ook te vind in Boshoff se studie van die Griekse terme wat met asem verband hou, naamlik cathexis en catharsis. Boshoff verduidelik hierdie begrippe aan die hand van asemhaling: By geboorte snak babas na hulle eerste asem (cathexis) en wanneer mense sterf, blaas hulle hul laaste asem uit (catharsis). Tussendeur moet ’n mens sonder ophou inasem en uitasem. In Boshoff se oeuvre hou cathexis verband met sy obsessiewe versameling van woorde, plante, musiek en vreemde voorwerpe. Catharsis hou verband met sy besonderse vrygewigheid in die deel van sy kennis en insigte (d.m.v. lesings, onderhoude of kunswerke wat sy navorsing daarstel) of die skenking van sy argief aan die Universiteit van die Vrystaat (Van Wyk, De Villiers-Human en Van den Berg 2017:19).8

Hier onder brei ek uit op die belang van asem in Boshoff se oeuvre deur asem te ondersoek as ’n stigtende tema in Boshoff se werk wat dien as die basis vir die meeste ander temas in sy oeuvre, wat tot dusver meer aandag ontvang het in ontledings van die kunstenaar se werk. Die vervlegting van asem, klank en taal by Boshoff wat tot dusver ontsluit is in my ontleding van ’n aanhaling uit “Genesis” (1974–6) en Windwoorde (2008), word hier onder voortgesit deur ’n vergelykende ontleding van bepaalde temas wat te vind is in die oeuvres van Willem Boshoff en Walter Benjamin wat verband hou met klank en taal.

 

3. Willem Boshoff en Walter Benjamin: ’n ondersoek na die vervlegting van alle skeppingsvorme met klank en taal

In Boshoff se werk en in sy argief ontbreek enige direkte verwysing na die werk en filosofiese konsepte van Walter Benjamin. Tog deel Boshoff en Benjamin ’n belangstelling in die vervlegting van die skepping met taal en die ontstaan van die taalverwarring. Daarom fokus my ontleding veral op die mistieke en messiaanse motiewe van Benjamin se werk om daarmee versteekte verskynsels in Boshoff se werk na die oppervlak te bring. In hierdie vergelykende ontleding verwys ek na Benjamin se teks Über Sprache überhaupt und über die Sprache des Menschen (1916) waarin hy onder andere die ontstaan van die taalverwarring ondersoek wat volgens hom aanleiding gee tot ’n betekenislose gebabbel.9 In sy Trauerspiel–studie besin Benjamin oor mistiese temas en motiewe soos die natuur as droewig, geskiedenis as messiaanse katastrofe en menslike taal as ’n gebabbel (Gilloch 2002:58, 60). Hierdie elemente in Der Ursprung des Deutschen Trauerspiels is ook ter sprake in Über den Begriff der Geschichte en Über Sprache überhaupt und über die Sprache des Menschen. In hierdie tekste verwys Benjamin na die Paradys en die sondeval en die gevolge daarvan op geskiedenis, asook op taal.

In sy ontleding van taal redeneer Benjamin (1997:62) dat die mens sy eie geestelike wese kommunikeer deur ander dinge te benoem. Die linguistiese wese van die mens behels dus die aksie om name aan dinge te gee. Die hele natuur kommunikeer sigself, deur middel van taal, aan die mens sodat die mens dit kan noem, en deur dinge name te gee, kommunikeer mense hulself aan God.

Hierdie opvatting dat die natuur sigself kommunikeer aan die mens deur middel van taal, is vergelykbaar met die aangehaalde teks uit “Genesis” hier bo, waarvolgens die skeppingsvorme sekere reaksies by mense uitlok, byvoorbeeld hoë berge en kranse wat vrees by mense ontlok en mense laat gil as hulle daaroor val. Volgens Benjamin (1997:62) se opvatting van taal is God se skepping voltooi wanneer die geskape dinge hulle naam vanaf Adam, die mens, ontvang. Hierdie naamgewing dien as ’n vertaling vanaf die heilige, kreatiewe woord van God wat op elke ding in die skepping geplaas is na menslike taal (Gilloch 2002:61).

Die aangehaalde gedeelte van Boshoff hier bo weerspieël ook iets van hierdie vertaling. Daarvolgens is elke skeppingsvorm se unieke eienskappe en karakter bepaal deur die kreatiewe woord van God, oftewel die asem van God, en die mens se reaksies daarop kan as vertalings daarvan geïnterpreteer word. Hierdie verskillende vertalings is vergelykbaar met Benjamin se beeld van vertaling as die verskillende voue in ’n koningskleed (Benjamin 2007:75).

Die sondeval en die bou van die Toring van Babel het egter vir beide Boshoff en Benjamin die gevolg dat die mens die skeppertaal verloor. Die mens beskik nie meer oor die vermoë om die skeppende taal te verstaan en te vertaal nie. Die laaste strofe in die aangehaalde gedeelte uit “Genesis” (1974–6) hier bo, waarvolgens kinders nader aan die klanke van die Maker leef omdat hulle nog nie die verkeerde klanke wat volwassenes aan skeppingsvorme gegee het, geleer het nie, dui op die bestaan van taalverwarring. Dit dui op die geboorte van die menslike woord waarin die name van dinge verlore raak, soos in “Genesis”, waar volwassenes die skeppingsvorme verkeerd benoem.

Deur die verlies van die suiwer taal van name wat deur die Skepper aan die mens gegee is, verander die mens taal tot bloot ’n kommunikasiemiddel waarin taal ’n arbitrêre sisteem van tekens is wat aanleiding gee tot die meervoudigheid van tale (Benjamin 1997:70–1). Volgens Gilloch (2002:62) bestaan daar vir dinge in die gevalle wêreld nie meer ’n enkele naam vir elke ding wat deur God gewaarborg is nie, maar is daar nou verskeie name vir elke ding. Dit gee volgens Benjamin (1997:72) aanleiding tot die leë woord en die mens se verval in die bodemlose put van gebabbel. Die sondeval het tot gevolg gehad dat taal nou die funksie van kommunikatiewe bemiddelaar het en het die fondament gelê vir ’n verskeidenheid tale waarvan die uiteinde die Toring van Babel en linguistiese verwarring is (Benjamin 1997:72). In “Genesis” (1974–6) verwys Boshoff na die Toring van Babel10 en die spraakverwarring wat dit as gevolg gehad het:

Die spraakverwarring

van Babel is die rede waarom daar velerlei
taalvorme onder alle mense aangetref word.

Die

taalverskeidenheidsverskynsel is die simptoom
van destruktiewe klankskepping, want elke
skeppingsvorm is deur slegs een skeppingsklank,
sy eie skeppingsklank in die lewe geroep. Verskeidenheid van tale ontken hierdie feit.

Verskeidenheid van

tale is ook teenstrydig met die feit dat die
Maker slegs in een klanktaal met Homself verkeer.
(Boshoff 1974–1976)

In die aangehaalde gedeelte beskryf Boshoff die “taalverskeidenheidsverskynsel” as ’n simptoom van “destruktiewe klankskepping”. Soortgelyk aan Benjamin (1997:73) se argument dat elke element van die skepping ’n enkele naam het, daar geplaas deur God toe Hy in sy skeppingswoorde spreek en hierdie elemente tot lewe roep deur hulle by hulle werklike name te noem, argumenteer Boshoff dat elke skeppingsvorm met een skeppingsklank, sy eie skeppingsklank, in die lewe geroep is. Die taalverskeidenheidsverskynsel is die gevolg van God se vervloeking van die aarde en hierdeur word die voorkoms van die natuur onherroeplik verander. Hierdeur ontstaan dit waarna Benjamin (1997:72) verwys as die stilheid, die sprakeloosheid en die diepe droefheid van die natuur, waarvolgens die natuur treur omdat dit vergiftig is met taal (Benjamin 1997:72).

Die weeklag van die natuur is volgens Benjamin (1997:72) die mees ongedifferensieerde en magtelose uitdrukking van taal. Dit is nie meer as ’n sinnelike asemhaling nie. Selfs in die geritsel van plante is daar ’n weeklag as gevolg van die stomheid van die natuur. In die mens se tale beskik die natuur nie meer oor haar ware “skeppingsklanke” nie. Die wêreld is gevul met ’n verskeidenheid van tale wat oor ’n wye spektrum van name beskik. Dit lei tot ’n oorbenaming van die natuur. Hierdie oorbenaming van die skepping, wat gepaardgaan met die gevalle menslike taal, is die linguistiese rede vir alle melankolie en is die rede waarom die skepping stom en stil is (Benjamin 1997:72–3).11

Hierdie stomheid wat Benjamin beklemtoon, en die gebrek aan kommunikasie wat daarmee gepaardgaan, stem ooreen met Boshoff se beskrywing van die vernietiging van die Boom van Kennis van Goed en Kwaad en die ontstaan van die taalverwarring: “Die Boek der boeke, die aardsboek, die Boom van Kennis van Goed en Kwaad is ‘afgekap’ met die bou van die toring van Babel. Die spraakverwarring van daardie tyd is teenstrydig met die doel van die boom: naamlik om kennis oor te dra. Babel veroordeel kennis en maak kommunikasie onmoontlik” (Boshoff 1984:39).

Bepaalde werke uit KYKAFRIKAANS (1980), Boshoff se versameling van konkrete poësie (wat o.a. die verhouding tussen woord en beeld ondersoek), kan na aanleiding van die ontledings hier bo gekarakteriseer word as ’n betekenislose gebabbel, ’n geraas en moeilik leesbaar. As sulks sluit dit aan by Boshoff se beskrywing van Babel wat kommunikasie onmoontlik maak. In Ydele herhaling van woorde (Figuur 3) is die ironiese ontkenning van daardie woorde, “dit is beslis geen ydele herhaling van woorde hierdie nie”, herhaaldelik getik. Dit is ’n ironiese, moontlik spottende, Nuwe-Testamentiese verwysing na Matteus 6:7 (1953-vertaling): “En as julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word”, maar in die konteks van ’n gevalle taal is dit ook interpreteerbaar as ’n herhalende gebabbel waarin woorde juis ydellik herhaal word en waarin woorde hulle ware betekenis verloor het. Ooreenstemmend met hierdie tema is twee ander gedigte uit KYKAFRIKAANS, naamlik Verskanste openbaring (Figure 4 en 5) en Gejaag na wind (Figure 6 en 7).

Figuur 3. Willem Boshoff, Ydele herhaling van woorde (KYKAFRIKAANS) (1980:35)
©2020 Willem Boshoff / Universiteit van die Vrystaat

Figure 4 en 5. Willem Boshoff, Verskanste openbaring (KYKAFRIKAANS) (1980:82–3)
©2020 Willem Boshoff / Universiteit van die Vrystaat

In Verskanste openbaring (Figure 4 en 5) het Boshoff herhaaldelik dieselfde bladsy teruggevoer in die tikmasjien om die volle 22 hoofstukke van die boek van Openbaring oor mekaar te tik. Sodoende is die teks ’n veld van verwarring waar dit onmoontlik is om enige iets te lees, en beklemtoon Boshoff eerder die obskure/raaiselagtige (Edy 2016:9). Die werk sluit dus aan by Boshoff se kriptiese, verwarrende kunswerke wat meer versluier as wat hulle openbaar. In die konteks van die bostaande kan dié gedig ook geïnterpreteer word as die oorbenaming van die skepping, ’n betekenislose gebabbel waar dit skynbaar nie moontlik is om sin te maak van die woorde nie, maar waardeur betekenis/kennis kripties versluier is.

Gejaag na wind (Figure 6 en 7) sluit ook, soos Verskanste openbaring en Ydele herhaling van woorde, ’n bepaalde verwysing na die Bybelse boek Prediker in, waarin die frase “gejaag na wind” nege maal verskyn.12 Met groot moeite is dit moontlik om hier en daar ’n woord en ’n frase in die gedig te identifiseer. Wanneer ’n mens die gedig lees/waarneem, sien ’n mens ’n wind wat die letters vanaf die linkerkant van die bladsy wegwaai na die regterkant van die bladsy, vanaf ’n dig-geweefde teks tot eensame letters (vergelykbaar met die saaihandeling – ’n metafoor wat dikwels met die skepping en die verlossing in Christus se gelykenisse verbind word).

Vladislavić (2005:28) beskryf hierdie proses op ’n uitsonderlike wyse:

[...] I draw closer to read. The only way to decipher such a broken line is to gather the words letter by letter. My eye passes over the page, stitching together meaning. Hulle word soos kaf voor die wind ... die wind gesaai sal ’n storm maai ... flouerige spuitfontein ... bome swaai heen en weer ... op en wakker blaasbalk ... Rather than countering the elemental forces I seem to be adding my own breath to the dissolution.

Figure 6 en 7. Willem Boshoff, Gejaag na wind (KYKAFRIKAANS) (1980:16–7)
©2020 Willem Boshoff / Universiteit van die Vrystaat

Die gedig is dus nou verbind met wind en asem, sowel as met die saaihandeling. Wind vind visueel vergestalting op die bladsy en in die proses van die gedig hardop lees, blaas die leser se asem die letters verder weg. Al die gedigte in KYKAFRIKAANS het egter ’n verbintenis met asem, omdat die gedigte al verskeie kere opgevoer is en selfs opgeneem is. Hierdie opnames is versamel in Boshoff se argief en verskaf aan die luisteraar die geleentheid om die ouditiewe eienskappe van die gedigte te ervaar. In hierdie konteks beskryf Boshoff (2009c) die gedigte as bladmusiek vir ’n opvoering in klank waarvolgens die verhouding tussen die geskrewe en gesproke woord deur die opvoerings blootgelê word. Die woorde van die gedigte word herhaaldelik saggies geprewel, gefluister of luidkeels uitgeroep na aanleiding van wat op die papier getik is.

Die luisteraar hoor dus gereeld die ritmiese “plof” van asem in die opnames. Woorde word individueel opgesê, of verskeie stemme praat oor mekaar, soos die letters wat dig oor mekaar getik is. In sommige gevalle herinner die fluisteringe aan die gesuis van wind, soos in die opname van Gejaag na wind waarin asem en wind verenig word. Hierdeur word die sintuiglike en selfs welluidende musikale eienskappe van taal ontbloot en beklemtoon wat Boshoff in “Genesis” (1974–6) beskryf en wat ek hier onder verder in terme van wind en asem ontleed.

 

4. Wind en asem: ’n soeke na betekenis deur middel van die “patroonagtige media van taal”

In sy beskrywing van die Kabbala verwys Abram (1996:244) na die Zohar en ander Kabbalistiese tekste wat hy beskryf as die “orale Tora” omdat hulle ontstaan het uit mondelingse besprekings en kommentaar op die geskrewe Tora. Hierdie beklemtoning van die mondelingse eienskap van die Kabbala resoneer met Abram (1996:248) se argument dat die asem van God die hele skepping vul soos die wind, asook met sy verwysing na die 18de-eeuse Hasidiese meester, Schneur Zalman van Liadi. Hierdie meester13 beskryf hoe God se skeppingswoorde die presiese name, en daardeur die presiese vorme, van alle natuurlike wesens genereer en bepaal. Sonder die voortdurende vloei van God se asem sal al die letters wat in die wêreld bestaan, al die letterkombinasies wat die verskeie vorme van die skepping bepaal, terugkeer na hulle “ongedifferensieerde bron” in die “heilige Eenheid”. Die heilige letters en hulle letterkombinasies wat die verskeie strukture van die waarneembare wêreld bepaal, is dus afhanklik van die asem wat hulle voortdurend uiter. Die hele wêreld is daarvolgens ’n voortdurende uitspraak (Abram 1996:248).

Hierdie uiteensetting van die verhouding tussen die asem van God en die skepping in die Kabbala resoneer met Boshoff se beskrywing in “Genesis” (1974–6) van die invloed wat die Maker se asem op die skepping het:

As alle

klank van die aarde onttrek word, dan
sou alles ophou om voort te gaan,
want dan sou alle vorme saam met
die klank verdwyn.

Klank

oftewel die Woord van die Maker
bepaal alle fisies waarneembare
vorms en verseker die voortbestaan
van alle vorms deur self fisies
teenwoordig te wees daarin.

Die sinspeling in die aangehaalde gedeelte is dus op die Asem (ruach) of Gees van God binne die mens,14 asook in die skepping, en die vervlegting van alle skeppingsvorme met klank (asem) en taal. Die aanhaling uit “Genesis” (1974–6) beklemtoon Boshoff se opvatting dat alles wat ons rondom ons waarneem, uitstralings is van klank of die “Woord van die Maker” (asem), en dat alles in die skepping deur asem / die Woord bepaal is.

Die sintuiglike eienskappe van wind en asem wat nou vervleg is met taal, sluit aan by Boshoff se leksikografiese studies, sy woordeboeke en “woordwerke” en is verbind aan sy konseptualisering van God. Op die vraag: Glo jy in God? antwoord Boshoff: “Ja, ek glo absoluut in God” en direk daarna, “Nee, ek glo absoluut nie in God nie.” Hierdie antwoord van Boshoff sluit aan by die Kabbalistiese Ein sof / Ayn Sof wat verwys na God in sigself, voor sy selfopenbaring. Dit is ’n teenstellende idee wat beide die oneindige en die niet beteken (Scholem 1974:89).15 Die rede vir Boshoff se verwarrende antwoord is dat hy oortuig is dat die spesifieke vraag ’n strikvraag is, want wat word bedoel met die word/begrip God?

In verskeie gesprekke met Boshoff tydens 2016 en 2017 waarin die onderwerp van geloof en God ter sprake is, het Boshoff verskeie kere verwys na Johannes 1:1 (1953-vertaling): “In die begin was die Woord, en die Woord was by God en die Woord was God.”16 Volgens Boshoff was dit tydens sy intensiewe studie van woorde en woordeboeke dat hy oortuig daarvan geraak het dat Johannes 1:1 letterlik geïnterpreteer moet word en dat God niks meer as Logos, ’n woord of ’n idee is nie.17 Ooreenstemmend hiermee is die antwoord wat Vladislavić (2005:109) van Boshoff ontvang het in hulle gesprekke rondom God waarvolgens Boshoff nog glo in God, maar slegs as ’n betekenisvolle woord in die woordeboek.

In haar ondersoek van Boshoff se woordeboeke voer Clarkson (2006:10) ’n soortgelyke argument verder deur saam te stem met Vladislavić: Natuurlik vind ’n mens God in ’n woordeboek – waar anders sal ’n mens God vind as dit nie in ’n woordeboek is nie? Dié vraag word egter sonder enige sarkasme of ironie gevra. Volgens Clarkson (2006:10) bestaan daar ’n onderskeid tussen “God bestaan slegs as ’n woord in ’n woordeboek” en “om in God te glo as ’n woord in die woordeboek”. Om in God te glo as ’n woord in die woordeboek is volgens haar meer kompleks, want dit laat die vraag rondom God se bestaan oop en dit openbaar iets van die menslike soeke na betekenis wat plaasvind in die “patroonagtige media van taal” (Clarkson 2006:10). Nou verbind met haar idee van die betekenisgewende “patroonagtige media van taal” is die sintuiglike eienskappe van wind en asem wat Boshoff in sy uiteensetting van die verhouding tussen taal en die Maker in “Genesis” (1974–6) betrek:

Alles

kan verstaan word omdat

Alles

net mooi

Alles

woorde is

Dit is aan die mens gegee om

met sy oë die skrif om hom te lees as leestekens
met sy neus die skrif te ruik as reuktekens
met sy ore die skrif te hoor as klanktekens
met sy hande die skrif te voel as gevoeltekens
met sy tong die skrif te proe as smaaktekens

En

daarmee word die Woord verstaan

As die mens

dit so leer ken

Sal die mens

ook die Maker leer ken.

Hierdie aanhaling belig op ’n unieke wyse Boshoff se omgang met taal. Die “skrif” waarna verwys word, is ’n sinvolle konkretisering van God se asem en die gesproke Skeppingswoorde. Die betrekking van al die sintuie in die ervaring van hierdie “skrif” sluit moontlik aan by ons ervaring van wind wat Baert (2010:9) karakteriseer as ’n natuurlike verskynsel wat al ons sintuie betrek: Dit is tasbaar, produseer klank en dra reuke. Alhoewel die wind onsigbaar is, neem ons dit waar in warrelwinde, wolke en die takke en blare van bome. Deur my beklemtoning van die sintuiglike eienskappe van wind, asem en taal wat hier vervleg word, word Boshoff se verskeidenheid omgange met taal verryk en daarop uitgebrei. Dit is moontlik om te argumenteer dat Boshoff die skrif om hom gelees het as leestekens en met sy neus die skrif geruik het as reuktekens (die reuk van ink en papier) in sy studie van woorde en met die skryf van sy woordeboeke. In die skep van beeldhouwerke vir sy Blind alphabet project (1990–) waar elke beeldhouwerk ’n visuele vergestalting van ’n woord is, het hy met sy hande die skrif as gevoeltekens gevoel. Met die opvoering van sy KYKAFRIKAANS-gedigte (2009c) het hy met sy ore die skrif gehoor as klanktekens en met sy tong die skrif geproe as smaaktekens. Dit is deur hierdie verskeidenheid van omgange met taal as name/benoemings waarby al sy kunswerke en argief betrek word en wat dien as ’n voortgesette soeke na betekenis deur die “patroonagtige media van taal”.

Dit is dié bepaalde verskynsel wat ek ondersoek in die volgende afdeling deur die volgende werke te interpreteer: Kasboek (1981), Stokkiesdraai (1980) en Letters to God (1997). Al drie werke sluit verwysings in na boeke en bome, beskik oor religieuse temas en ontsluit assosiasies met wind, asem en woorde. Die werke kan gekarakteriseer word as drie voorbeelde van Boshoff se herwinning van betekenis deur die “patroonagtige media van taal”.

 

5. Bome en wind; asem en woorde: Kasboek (1981), Stokkiesdraai (1980) en Letters to God (1997)

Bome is van besonderse belang vir Boshoff en staan sentraal in sy oeuvre. Vanuit hierdie obsessiewe belangstelling het al ’n verskeidenheid kunswerke en navorsing gespruit.18 Die meerderheid van Boshoff se kunswerke is geskep uit hout en is só ook aan bome verbind. Tog is dit my mening dat die tema van asem dit alles uiteindelik integreer. Wind ritsel in bome en is hoorbaar slegs danksy die blare en takke van bome. In die afwesigheid van wind heers daar ’n stilte rondom bome. Bome het nie ’n verbintenis slegs met wind nie, maar ook met die gesproke woord en asem. In die Griekse mitologie is die heilige eikeboom19 in Dodona uitgebeeld as ’n boom wat praat. Verskeie skrywers soos, Homeros, Sokrates, Plato en Ovidius, verwys na die pratende eikebome van Dodona wat deur middel van hulle stamme profesieë oordra, en wat beskryf word as die eerste lewende wesens wat profetiese uitsprake lewer en wat selfs betekenisvolle klanke kan lewer wanneer daar geen wind is nie (Johnston 2008:65). Bome wat praat en wind wat in blare ritsel, sinspeel ook op die verbintenis tussen wind en asem.20 Abram (2000:227) beskryf die gesproke woord as gestruktureerde asem en argumenteer dat dit die wind is wat ons in staat stel om te praat. Die begrippe wind, asem, die gesproke woord en die boom is dus histories nou vervleg met mekaar. Vandag weet ons ook dat bome ’n bron van suurstof is en so ook verbind is met asem. Bome is ook natuurlik nou verbind met boeke en die geskrewe woord. Hierdie bepaalde verhouding waarvolgens ’n boek niks ander is as ’n geprosesseerde boom nie, het Boshoff al verskeie kere in sy oeuvre ondersoek . Ooreenstemmend hiermee is die beskrywing van Schoeman (2011:1): “Wood provides paper, which relates back to words. Wood is alive while Boshoff toys with wooden words or wooden beliefs.”

Hierdie verbintenis met asem en die gesproke woord ontstaan deur middel van skrif. Durham Peters (2018:191) beskryf skrif as ’n “tegnologie van asemhaling” en verwys na ’n taal soos antieke Grieks wat gebruik gemaak het van diakritiese merke om aan te dui watter gedeeltes van ’n woord deur middel van uitaseming uitgespreek word. Hy (2018:191) verwys ook na denkers soos Spinoza en Herder wat die geskrewe vokale van ’n taal interpreteer as verteenwoordigend van die asemhaling wat noodsaaklik is vir die praat van ’n taal. Deur die ontleding van die betrokke kunswerke poog ek om die verskillende verwantskappe tussen boeke, bome, wind, asem, stilte, die geskrewe en die gesproke woord in Boshoff se oeuvre uit te pluis en sodoende die belang van asem vir sowel sy oeuvre as sy persoonlike simboliek verder te omskryf.

5.1 Kasboek (1981)

Figuur 8. Willem Boshoff, Kasboek (1981)
©2020 Willem Boshoff / Universiteit  van die Vrystaat
Figuur 9. Willem Boshoff, Kasboek (gedeeltelik oopgevou) (1981)
©2020 Willem Boshoff / Universiteit van die Vrystaat

 

Die meerderheid van Boshoff se vroeë beeldhouwerke bestaan uit klein stukkies hout soos takkies, splinters, blokkies en stokkies wat met groot moeite vergader en in komplekse vorms opgerig word. Byna al hierdie werke het ’n verbintenis met die boek, die Woord van God (oftewel asem en klank), bome (wat assosiasies met wind ontsluit) en papier (sowel die geskrewe as gesproke woord) (Vladislavić 2005:12). Boshoff het juis hout gebruik omdat boeke se bladsye niks anders as geprosesseerde hout/bome is nie (Boshoff 1984:8). Kenmerkend is sy gebruik van houtsplinters wat nie van waarde vir die skrynwerker is nie. Met Kasboek (Figure 8 en 9) word hierdie weggooimateriaal, waarop die meeste mense neersien, met die grootste omsigtigheid in die kunswerk gebruik (Boshoff 1984:13).21

Kasboek (Figure 8 en 9) bestaan uit ’n versameling splinters wat noukeurig gerangskik is sodat dit kan toevou en in mekaar steek om die illusie te skep van iets wat heel is met ’n gladde oppervlak. Indien die werk oopgevou word en daar deur een van die openinge geloer word, is dit duidelik dat dit ’n uiters komplekse werk is wat uit honderde dele bestaan, ’n ervaring wat Vladislavić (2005:12) beskryf as om te verdwaal in ’n woud. Soos die titel suggereer, is die werk interpreteerbaar as beide ’n kas en ’n boek.22 As sulks sluit dit aan by Boshoff (en Vladislavić) se opvatting dat alle kuns wat hy maak, interpreteerbaar is as boeke – in die omvangrykste sin van die begrip.

Om die splinters te bekom het Boshoff vierkantige planke van ’n verskeidenheid houtsoorte met ’n hamer verbrysel; hierdie metode weerspieël elemente van die papiermaakproses waarvolgens bome vernietig word. Hierdie proses, sou mens kon argumenteer, is verbind met die begrip catharsis.23 Boshoff (1984:11) beskryf die werk as ’n ware kas wat bestaan uit skarniere en deure. Wanneer die kunswerk oopgemaak word, vorm dit egter ’n boek met sye wat oopblaai tot ’n “verwarde splinterveld”. Volgens Boshoff (1984:12) is dit ’n boek wat deur “besigtiging” gelees word.

Die blaaie van Kasboek wat oopvou, herinner die betragter egter ook aan vlerke. Boshoff (1984:12) beklemtoon ook die “vlerke” van die werk deur te verwys na engele wat in die Ou Testament boodskappe oorgedra het, wat sodoende assosiasies met asem en die gesproke woord ontsluit. In hulle ontleding van die verwantskappe tussen woord en beeld verwys Bader en Grave (2014:1) na tonele van die aankondiging, waar die gesprek tussen die engel Gabriël en Maria sentraal in die verskeidenheid uitbeeldings van hierdie verhaal staan. Dit is deur middel van hierdie gesprek dat die vleeswording van Christus plaasvind (vgl. Lukas 1:38) en ’n vrugtevolle spanning tussen woord en beeld ontstaan. Dit is die inkarnasie van Christus, die Woord wat beeld geword het, wat die maak van beelde van Christus geregverdig het tydens die Bisantynse Beelddebatte. Die engel mag moontlik in hierdie opsig geïnterpreteer word as ’n vertaler tussen woord en beeld. Hierdie ingewikkelde verhouding tussen woord en beeld ondersoek Boshoff in Kasboek.

In hulle interpretasie van aankondigingstonele verwys Bader en Grave (2014:1–2) spesifiek na Fra Angelico se Aankondiging (1433/1434) te Cortona (Figuur 10) omdat Fra Angelico skrif op ’n sensitiewe wyse in die beeld geïntegreer het wat die kernboodskap van die aankondiging help bemiddel. Hierdie verbeeldingryke kunswerk belig sekere kwessies wat die interpretasie van Kasboek verryk. Bader en Grave (2014:2) stel veral belang in die drie goue sinne tussen die engel Gabriël en Maria. Hierdie drie verse in die Bybel – twee verse vir die engel en ’n enkele vers vir Maria (wat tussen die twee verse van die engel inskuif) – vervul die funksie om die kyker aan die sentrale verse van die aankondiging (vgl. Lukas 1:26–38) te herinner. Die vleeswording van Christus dui op die verskille tussen die ou en die nuwe verbond wat vergestalting vind in die letters: Die goue, lewende, vryswewende letters verteenwoordig die lewendigmakende Gees van die nuwe Verbond wat in dié uitbeelding gekontrasteer word met die dooie letters van die Wet, uitgebeeld in die boek wat op Maria se skoot rus (Bader en Grave 2014:2–3). Indien die letters vanuit ’n sekulêre invalshoek benader word, mag die goue letters sinspeel op die kreatiewe en dinamiese krag van die gesproke woord, wat assosiasies met die wind en lugstrome ontsluit, en wat gekontrasteer kan word met die geskrewe woord – swart letters vasgevang op papier.

Figuur 10. Fra Angelico, Die Aankondiging-paneel van die altaarstuk te Cortona (1433/1434)
Bron: http://www.zeno.org – Contumax GmbH & Co. KG

In sy omskrywing van Kasboek vestig Boshoff ’n verband tussen engele en boeke. Volgens Boshoff beteken die woord engel “kennisdraer”. Boeke het vleuels soos engele en is ook boodskappers soos engele. Deur middel van die kennis op ’n boek se bladsye kan dit “opstyg om sy taak van informasie en beskerming” uit te voer (Boshoff 1984:12). Hierdie beskrywing sluit aan by die aankondiging in terme van ’n boodskap wat deur ’n boodskapdraer bemiddel word. Wanneer ’n betragter ’n oopgevoude Kasboek benader, het dit die voorkoms van ’n engel wat die betragter toespreek. In hierdie lig kan dit geplaas word in ’n ryk geskiedenis van aankondigingstonele, waarin ’n gesprek sentraal is. Hierdie gesprek tussen die engel en Maria is al kreatief ontsluit as ’n meta–interpretasie vir die verhouding tussen betragter en kunswerk.24

Kasboek, as ’n boek en nie slegs ’n engel nie, sinspeel egter ook op die geskrewe woord. Volgens Boshoff (1984:13) wil die kunswerk beide leesbaar en sienbaar wees. Boshoff verwys in hierdie konteks na die vleeswording van die Woord met die inkarnasie van Christus wat beide beeld en woordeienskappe dra, waarvolgens Christus beide manuskrip en ikoon is. Daarom karakteriseer Boshoff dit as ’n werk wat “staan op ’n grens waar die ikoon ook manuskrip wil wees” (Boshoff 1984:13). In die konteks van Boshoff se beskrywing van Kasboek as ’n werk wat “staan op ’n grens waar die ikoon ook manuskrip wil wees”, asook sy verwysing na Gotiese triptieke en altaarstukke as die voorlopers van gebinde boeke (Boshoff 1984:11), ontsluit werke soos Lucas Cranach die Ouere se Reformasie altaarstuk te Wittenberg (1547) (Figuur 11) en Hendrik Goltzius se Christus aan die boom van die lewe (1610) (Figuur 12) bepaalde historiese en tematiese kontekste waarin Kasboek besigtig kan word. In hierdie werke vind die betragter onder andere uiteensettings tussen woord en beeld, boek en boom, Christus as Woord en beeld, en die verhouding tussen die geskrewe en gesproke woord.

Figuur 11. Lucas Cranach die Ouere, die predella van die Reformasie-altaarstuk te Wittenberg (1547/1548)
Beeld gereproduseer met die toestemming van Henry Lee (fotoeins.com).

In die komposisie van die predella van die altaarstuk te Wittenberg (Figuur 11) word die werk in twee gedeel soos die bladsye van ’n oop boek, deur Christus aan die kruis (die boom van die lewe).25 Hierdie komposisie, wat herinner aan die bladsye van ’n oop boek, word verder versterk deur die oop Bybel wat voor die predella geplaas is en resoneer op ’n besondere wyse met die uitbeelding van Christus aan die kruis – die vleesgeworde Woord. Hier bestaan dus ’n vrugtevolle spanning tussen woord en beeld waar Christus uitgebeeld word as beide manuskrip en ikoon vergelykbaar met Kasboek. In sy ontleding van die werk beklemtoon Hans Belting (1994:468) veral die rol van die prediker en die posisie van die kruis voor Martin Luther tydens sy preek. Hy interpreteer Christus aan die kruis as die inhoud van die boodskap wat verkondig word deur Martin Luther aan die regterkant van die uitbeelding met sy hand voor hom uitgestrek en met ’n Bybel voor hom oopgeslaan. Hier word die geskrewe en gesproke woord gekontrasteer soos by Fra Angelico se Aankondiging. Die kruis in hierdie uitbeelding is daarom vir Belting (1994:470) ’n pikturale teken of die sigbare inhoud van die woord van die preek en is nie ’n ware beeld wat werklik sigbaar is aan die gemeente aan die linkerkant nie; dit is eerder ’n innerlike beeld van Christus wat die gemeente ervaar.

Hierdie beeld van Christus word opgeroep deur die dinamiese, kreatiewe energie van die gesproke woorde van die prediker en die verbeelding van die gemeente. Die kleed wat om Christus gedraai is en skyn te wapper in ’n wind wat rondom Christus kolk, is suggestief van die gesproke woord van die preek wat die beeld van Christus “aktiveer” en sigbaar maak.26 Die wind kom gereeld voor in voorstellings van kruisigings. Volgens Didi-Huberman (2003:279) is die lug in kruisingstonele gevul met die vibrasies van vlerke of drapeersels wat deur engele gesteur word. Waar ook al daar ’n bonatuurlike stryd ter sprake is, is die hele atmosfeer met wind gevul en getreiter. Die betragter neem hierdie verskynsel ook waar in die skildery van Hendrik Goltzius (Figuur 12).

Figuur 12. Hendrick Goltzius, Christus aan die boom van die lewe (1610)

Hier waai ’n wind soos in die predella van die Reformasie-altaarstuk te Wittenberg (1547) (Figuur 11). Die wind is waarneembaar in die wolke wat Christus aan die kruis omring en om hom kolk. Opvallend is dat alhoewel ’n wind die wolke moet dryf, die res van die landskap ongesteurd is deur hierdie wind.27 Gerubs, wie se vlerke moet wapper om hulle in die lug te hou, wat sweef op lugstrome en dryf op die wolke, omring ook die kruis van Christus. Christus blyk gekruisig te wees aan ’n lewende boom waaruit groen blare spruit wat veronderstel is om te ritsel in die wind wat die kruis omring.

In sy interpretasie van die werk noem Schama (2004:226) dat Christus spesifiek aan ’n appelboom gekruisig is. Indien die betragter versigtig kyk, is rooigroen vruggies aan die takke van die kruis/boom waarneembaar. Aan die voet van die boom sit Maria met ’n blou kleed bedek. In haar skoot en met haar linkerhand hou sy twee appels vas. In haar regterhand, aan die voet van die kruis/boom, hou sy ’n Bybel vas. Volgens Schama (2004:226) is die tekstuele bron van die werk uit die Ou Testament, uit die Hooglied van Salomo 2:3 (1953-vertaling): “Soos ’n appelboom onder die bome van die bos, so is my beminde onder die seuns. Ek het verlang om in sy skaduwee te sit, en sy vrugte is soet vir my verhemelte.” Opvallend is dat Christus se arms gevorm is om die natuurlike knope en swellings van die boom se takke te volg en dat sy bors klou aan die stam van die boom asof Hy nie van die hout geskei kan word nie (Schama 2004:26).

In ag geneem Christus se samesmelting met die boom in Goltzius se voorstelling, verwys Vladislavić (2005:12) in sy bespreking van Kasboek na die kruis as ’n boom, en Christus gekruisig aan die kruis as die sogenaamde boom van die lewe. Hierby betrek Vladislavić Johannes 1:14 waarvolgens Christus die vleesgeworde Woord is. Daarom is Christus aan die kruis vir Vladislavić (2005:12) en vir Boshoff (1984:13) vergelykbaar met skrif op papier. Boshoff (1984:13) voer hierdie interpretasie van Christus as ’n tipe skrif egter verder deur te argumenteer dat Christus as Woord leesbaar wil wees en dat die littetekens en wonde op hom uitgespel is: “Omdat Hy as Woord gespyker is, is hier sprake van ’n tipe spykerskrif met ’n verborge inslag” (Boshoff 1984:13). ’n Werk soos Kasboek ontsluit dus verskeie vervlegtings waarvolgens die spanning tussen woord en beeld, boek en boom, geskrewe woord en gesproke woord, wind en asem ondersoek word.

5.2 Stokkiesdraai (1980)

Soos Kasboek, herinterpreteer Stokkiesdraai (1980) die figuur van die boom.28 Stokkiesdraai bestaan uit 70 bruinrooi en vier wit gladafgewerkte houtstokkies met ’n onegalige vorm wat in ’n sagte leervel versamel is (Figuur 13). Boshoff (1984:25) beskryf die stokkies in Stokkiesdraai as boodskapstokkies wat vergelykbaar is met Boshoff se beskrywing van die Boom van Kennis van Goed en Kwaad as die boom “waarop ‘alle boodskappe’ uitgekerf is, waarvan mikstokke gesny is vir boodskapdraers, waaruit ‘alle kerfstokke’ kom waarmee nog ooit telling gehou is”. Die boodskap van die werk is egter volgens Boshoff kripties versluier (Boshoff 1984:25).29 Hiermee kan die betragter saamstem. Aanvanklik is die stokkies en die titel interpreteerbaar as ’n letterlike sinspeling op die uitdrukking “stokkiesdraai”. Dit is uitdagend om meer as dit uit die werk te lees. Wat is die rede vir die leervel waarin die stokkies gestoor word? Waarom is daar vier wit stokkies? Hoe sluit hierdie werk aan by die religieuse temas wat Boshoff tydens hierdie tydperk ondersoek? Hierdie vrae word eers met die lees van Boshoff se beskrywing en uiteensetting van die werk in sy verhandeling beantwoord.

Figuur 13. Willem Boshoff, Stokkiesdraai (1980)
©2020 Willem Boshoff / Universiteit van die Vrystaat

Die vier wit stokkies verwys na die vier evangelies, asook die Nuwe-Testamentiese boodskap van redding uit die verderf deur bloed wat mense reinig (Boshoff 1984:25). Die vel met die stokkies daarbinne kan oopgevou word en die stokkies op verskeie maniere gehanteer word. In die hantering van die stokkies kan die geluid wat hulle maak, beskryf word as ’n nabootsing van die ritseling van ’n boom se takke. Die stokkies word gevryf en gestreel in ’n poging om sin daarvan te maak of dit te “lees”. In hierdie konteks verskaf die vier wit stokkies ’n verdere leidraad om die gepaste “leesmetodiek” te gebruik. Boshoff (1984:26) beskryf dit soos volg: “Alle lesers is afhanklik van tyd en ruimte om te kan lees. Daar is vier seisoene in ’n jaar. Stokkiesdraai (1980) is dus dwars deur die jaar van pas. Daar is vier windrigtings. Stokkiesdraai (1980) kan dus enige plek op aarde ‘gelees’ word. Alle volke, vreemde tale ten spyt, word betrek.” Hierdie bepaalde eienskap van Stokkiesdraai waarvolgens alle volke en tale betrek word, stem ooreen met die verenigende wonderwerk van Pinkster.

In haar bespreking van Pinkster fokus Assmann (1996:86) op die idee van eenheid. Hierdie eenheid kontrasteer sy met die vernietiging van eenheid wat plaasgevind het met die bou van die Toring van Babel. Volgens Assmann (1996:86) is die onderskeid tussen tale nie tydens Pinkster afgeskaf nie en vind daar ook nie ’n terugkeer na ’n enkele taal plaas nie, maar eerder word ’n nuwe dimensie geopen waarin eenheid behaal word deur die Heilige Gees wat uitstort vanuit die hemele (vgl. Handelinge 2: 1–8) (Assmann 1996:86). Met die uitstorting van die Gees, soos beskryf in Handelinge, word assosiasies tussen wind, gees en tale ontsluit wat van belang is vir hierdie artikel. Volgens Assmann (1996:89) word die verskeidenheid van tale verenig deur die Heilige Gees en dit is wat vir die vroeë kerkvaders en Christene belangrik was, juis omdat die Christendom daardeur gedefinieer is as ’n boodskap en nie ’n medium nie. Assmann (1996:90) argumenteer dat geestelike eenheid bevestig word deur etniese en linguistiese uiteenlopendheid en dat dit die hoofrol van die kerk was om eenheid deur sendelingskap te herstel.

Stokkiesdraai (1980), wat op enige plek op aarde “gelees” kan word, waarby alle tale en volke betrek word en wat verwys na redding uit die verdoemenis stem dus ooreen met Assmann se argument dat sendelingskap linguistiese uiteenlopendheid oortref. Hierby sluit Vladislavić (2005:109) se argument aan dat alhoewel Boshoff nie meer gelowig is nie, hy geen van sy evangelistiese ywer verloor het nie en dat hy soos die apostels tydens Pinkster in verskeie tale praat met elke nasie onder die hemel. Hierdie evangelistiese ywer, en die assosiasies van wind, asem en gees wat daarmee gepaard gaan, vind op ’n abstrakte wyse vergestalting in Stokkiesdraai en meer konkreet in Boshoff se meertalige werke soos Writing that fell off the wall (1997), Writing in the sand (2000), Kring van kennis (2000), Panifice (2000), Children of the stars (2009) en Thinking stone (2011).

5.3 Letters to God (1997)

Figuur 14. Willem Boshoff, Letters to God (1997)
©2020 Willem Boshoff / Universiteit van die Vrystaat
Figuur 15. Willem Boshoff, Letters to God (detail) (1997)
©2020 Willem Boshoff / Universiteit van die Vrystaat

 

Met Letters to God (1997)30 (Figuur 14) herinterpreteer Boshoff, soos in Stokkiesdraai, die Boom van Kennis van Goed en Kwaad in die Tuin van Eden. Die versteekte letters tussen die takke van die werk (Figuur 16) interpreteer ek as spore van die Woord van God waarvolgens alles in die skepping manifestasies van asem/klank is, vergelykbaar met die aanhalings uit Genesis (1974–6) hier bo. Die versplintering en verpulping van hout waarneembaar in Letters to God en Kasboek is ’n eienskap van die papiermaakproses. Dit verg die vernietiging van bome, waarteen Boshoff gekant is en waarteen hy appelleer in die werke waaruit Tree of knowledge (1997) bestaan (Boshoff 2007:76). Ek argumenteer in die konteks van Letters to God dat asem/klank as ’n alternatief tot teks en papier voorgestel word.

Volgens Boshoff en Siebrits (2007:76) is die werk geïnspireer deur Piet Mondriaan se reeks skilderye van bome waarvan Avond; de rode boom (1908–1910) sekerlik die bekendste is. Die lyne en blokagtige strukture waaruit Mondriaan se bome bestaan, is duidelik sigbaar in die blokagtige basis en houttakkies van Letters to God (Figure 14 en 15). Die basis van die werk is ’n staander van metaal. Uit hierdie struktuur “spruit” oënskynlik honderde stukkies hout, soortgelyk aan die splinters in Kasboek of die stokkies in Stokkiesdraai. Die basis van die werk is die stam van metaal, en die gesplinterde stukkies hout wat daaruit spruit, is die takke van ’n boom.

Kyk ’n mens van nader tussen die takke van Letters to God ontdek die betragter die “vrugte” van die “boom van kennis” – die letters van die Griekse alfabet versteek tussen die takke (Figuur 15). Volgens Boshoff en Siebrits (2007:76) verwys hierdie letters na al die tekste van die wêreld wat lesers oes wanneer hulle ’n boek lees en die kennis wat hulle daardeur bekom. Die werk verwys na die verbintenis tussen die boom en die boek en kan beskou word as ’n uitbeelding van Boshoff se opvatting dat alle boeke bome is: die rug van ’n boek die stam, die blaaie van ’n boek die takke, die papier van ’n boek die hout, die teks versamel in ’n boek die vrugte. Die chaotiese struktuur van die takke ondersteun ook hierdie opvatting van Boshoff en Siebrits (2007:76) deurdat dit verwys na die voorkoms van papier soos waargeneem onder ’n mikroskoop. Die “boom” wat Letters to God daarstel, is daarom ook interpreteerbaar as ’n boek – die “takke” die struktuur van papier onder ’n mikroskoop en die letters tussen die “takke” versteek die letters wat op die papier gedruk is.

Die letters wat in die takke versteek is, is ook interpreteerbaar as ’n verwysing na die metafoor van die boek van die natuur. Die verhouding tussen boek en boom wat deur dié kunswerk, asook in Kasboek en Stokkiesdraai, daargestel word, sluit ook aan by die wêreld-as-’n-boek-metafoor wat teruggaan tot by Augustinus, volgens wie God die Outeur is en sy handskrif in die wêreld leesbaar is. Volgens Augustinus se eksemplarisme, wat gewild was vanaf die Middeleeue tot die Renaissance het God vanuit die niet ’n ordelike geheel met ’n bepaalde skeppingsorde (mundus intellegibiles) geskep, deurtrek met die kiem van alle geskape dinge, naamlik rationes seminales (afkomstig van die Stoïsyne se logoi spermatikoi) (Curry 1932:17). Hierdie logiese kiem of saad in alle dinge, wat ooreenstem met die eksemplare in God se gedagtes, het Augustinus as tekens, letters of spore van die goddelike Outeur in die wêreld verstaan (Curry 1932:17), met ander woorde die sigbare spore van God se asem in die skepping. In Chaos (Figuur 17), nóg ’n vroeë werk van Boshoff, ondersoek en poog Boshoff om hierdie sigbare spore van God se asem uit te beeld. In beide kunswerke is daar dus verwysings na die invloed wat die Maker se asem op die skepping het.

Figuur 16. Willem Boshoff, Chaos (1980)
©2020 Willem Boshoff / Universiteit van die Vrystaat

In Chaos (1980) (Figuur 16) neem die betragter ’n warboel van merke waar – wit, swart, geel, oranje, blou, rooi, groen, pienk en ligpers strepe – wat herinner aan die splintervelde wat waarneembaar is in werke soos Kasboek (Figure 8 en 9), Stokkiesdraai (Figuur 13) en Letters to God (Figure 14 en 15). Die werk sluit verwysings in na die Ou-Testamentiese wêreldskepping. Chaos verweef elemente van die “duisternis op die wêreldvloed” en van die woordvergestalting tydens die skepping wat volgens Boshoff na vertaling verwys: “[G]edagtes kan in woorde kan in voorwerpe kan in gebruik vertaal word soos dan ook met die Genesis van die wêreld gebeur het” (Boshoff 1984:29). In hierdie konteks interpreteer Boshoff die wêreld as die handskrif van die Skepper wat van sy gedagtes vertel en verwys hy na Psalm 19:2–631 om sy argument te ondersteun (Boshoff 1984:29). Ooreenstemmend hiermee is die swart-en-wit kalligrafiese patrone wat vertikaal aangebring is in Chaos soos ’n vreemde skrif om sodoende aan te sluit by die idee van die natuur as ’n soort ontsyferbare Goddelike skrif (Boshoff 1984:29) wat vergelykbaar is met die kriptiese letters in Letters to God. Beide werke visualiseer die Woord (en per implikasie die asem) van die Maker wat volgens Boshoff (1976) alle waarneembare vorme bepaal en die voortbestaan van alle vorme verseker deur fisies teenwoordig te wees daarin.

Buiten die letters se verbintenis met God se asem in die skepping en Augustinus se rationes seminales kan hulle ook beskryf word as ’n fluistering in die wind, wat herinner aan Boshoff se “Windwoorde” (2009a), en dien vir my as ’n verwysing na Boshoff se leksikografiese studies soos sy skryf van woordeboeke, waaronder onlangse kunswerke soos Platter rooster (2011)32 en Word woes (2014) tel. Hierdie werke bevat woorde wat dieselfde gespel word in Afrikaans en Engels, maar wat verskillende betekenisse en uitsprake het. Dit is woordeboeke wat vra om hardop gelees te word en sodoende assosiasies met asem en wind ontsluit.

Die windverwaaide letters in Letters to God bekom na aanleiding van die interpretasies hier bo ook ’n verskeidenheid van ander betekenisse. Aan die hand van “Genesis” (1974–6) is die letters interpreteerbaar as ’n sinspeling op die vervlegting van alle skeppingsvorme met klank en taal. In terme van die taalverwarring soos bespreek by Boshoff en Benjamin spreek die letters in Letters to God moontlik van ’n gevalle taal, ’n taal wat vernietig is, waarvan die oorspronklike woorde uitmekaargespat het en slegs die letters in Babelse verwarring oorbly – letters wat in verskeie konfigurasies gekonstrueer kan word, wat verskeie woorde in verskeie tale kan spel en op ’n linguistiese verwarring dui. Indien hierdie letters hardop gesê sou word, sou dit lei tot ’n onsamehangende kakofonie, ’n betekenislose gebabbel soos in die geval van Verskanste openbaring en Ydele herhaling van woorde. Alternatiewelik is dit interpreteerbaar as Boshoff se poging om in ’n verskeidenheid tale met elke nasie onder die hemel te kommunikeer, soos in die geval van Stokkiesdraai.

Na aanleiding van die gedigte in KYKAFRIKAANS (1980) is die letters interpreteerbaar as hoogstens ’n ritseling, ’n fluistering, ’n sinnelike asemhaling, ’n weeklag wanneer ’n windjie deur die takke waai. ’n Moeilik hoorbare geluid, nie identifiseerbaar vir die mens na die sondeval nie, vergelykbaar met die fluisteringe in die opnames van KYKAFRIKAANS (2009c), sowel as die mengelmoes van letters in Verskanste openbaring of die letters wat weg waai in Gejaag na wind. Die letters kan ook dui op die mens se oorbenoeming van die skepping waarin elke letter in die boom ’n spoor of gedeelte van ’n naam is wat aan die boom gegee is.

Hierdie letters is gerig aan God volgens die titel van die werk en is moontlik ’n poging om met die Maker te kommunikeer, om die Maker en sy taal weer te vind. Dit is egter betekenisvol dat hierdie kommunikasie by Boshoff nou deur die beeldende kuns is. Die letters in die “takke” van die boom kan egter ook op ’n ander wyse geïnterpreteer word. Omdat die letters nie werklik leesbaar, verstaanbaar of hoorbaar in die boom voorkom nie, kan dit ook sinspeel op die stomheid van die natuur of die natuur se onvermoë na die sondeval om met die mens te kommunikeer.33

Die splinteragtige voorkoms van Letters to God wat herinner aan ’n verwoeste boom met letters versteek tussen die “takke” wat die lees daarvan onmoontlik maak, sluit aan by Boshoff se beskrywing van die verwoesting van die Boom van Kennis van Goed en Kwaad met die bou van die Toring van Babel en die spraakverwarring wat dit tot gevolg gehad het. Teenoorstellend is dit interpreteerbaar as ’n poging om die vervalle taal bymekaar te skraap, te red en weer betekenisvol te maak. Letters to God is dus ’n besonder komplekse kunswerk wat ’n verskeidenheid van betekenisse ontlok. Die vervlegting van boeke en bome, asem en wind, taal, die geskrewe en gesproke woord, fluistering en stilte wat te vind is in die gekose kunswerke openbaar ’n ryk, persoonlike simboliek onderliggend in Boshoff se oeuvre.

 

6. Ten slotte

Figuur 17. Willem Boshoff voor Windrose (2011)
Fotograaf: John Hodgkiss ©2020 Willem Boshoff

In Figuur 17 neem die betragter ’n uitsonderlike foto van Boshoff waar voor sy taamlik onlangse kunswerk, Windrose (2011), waarna vroeër verwys is. Die werk bestaan uit skywe marmer en graniet, gerangskik in ’n sirkel waarop die 32 windrigtings en hulle koördinate aangebring is. Deur die sigbaarmaking van al die windrigtings beklemtoon die kunswerk die alomteenwoordigheid van wind in die skepping soortgelyk aan in Windwoorde (2008). Die posisie van Boshoff voor die werk en die wyse waarop die windrigtings om hom kring, herinner aan die voorkoms van Heiliges met stralekranse rondom hulle koppe wat assosiasies ontketen met Boshoff as prediker wat met alle nasies op aarde wil kommunikeer, waarvan sy meertalige kunswerke, wat assosiasies met asem en die gesproke woord ontsluit, getuig. Hierby sluit aan Boshoff se rol as onderwyser wat gereeld lesings aanbied, asook sy bereidwilligheid om gesprekke met studente en navorsers te voer. Kyk ’n mens nader, is dit moontlik om waar te neem dat Boshoff se mond effens oop is, asof hy uitasem, wat die indruk skep dat wind en asem vanaf Boshoff uitblaas na buite, wat versterk word deur die lyne wat uitwaarts straal om sy kop. Dit is hierdie wind en asem wat Boshoff se persoonlike simboliek karakteriseer en sy oeuvre deurgrond.

Die begrippe wind en asem, soos die verskeidenheid ontledings in hierdie artikel wys, is onderliggend in Boshoff se ondersoeke in terme van die verhouding tussen woord en beeld, tussen die geskrewe woord teenoor die gesproke woord, tussen boeke en bome – temas wat in Boshoff se oeuvre heers. Dit sluit aan by Boshoff se formulerings van die spore van God se asem in die skepping en die vervlegting van alle skeppingsvorme met klank en taal. Dit resoneer met Boshoff se “woordwerke” waarvolgens hy soek na betekenis in die “patroonagtige media van taal” waar wind en asem die sintuiglike eienskappe van taal beklemtoon. Die navorser wat Boshoff se oeuvre benader, moet bereid wees om daardeur oorweldig te word en om die warrelwinde daarin te maai. Dié navorser keer windverwaai na die werklikheid terug.

 

Bibliografie

Abram, D. 1996. The spell of the sensuous. Perception and language in a more-than-human world. New York: Vintage Books.

Alpers, S. en P. Alpers. 1972. Ut pictura noesis? Criticism in literary studies and art history. New Literary History, 3(3):437–58.

Arendt, H. (red.). 2007. Walter Benjamin. Illuminations. New York: Schocken Books.

Assmann, A. 1996. The curse and blessing of Babel; or, looking back on universalisms. In Budick en Iser (reds.) 1996:85–100.

Bader, L., G. Didi-Huberman en G. Grave (reds.). 2014. Sprechen über Bilder Sprechen in Bildern. Studien zum Wechselverhältnis von Bild und Sprache. Berlyn: Deutscher Kunstverlag.

Bader, L. en J. Grave. 2014. Sprechen über Bilder – Sprechen in Bildern. Einleitende Überlegungen. In Bader e.a. (reds.) 2014:1–22.

Baert, B. 2010. Wild is the wind. Pathosformel and iconology of a quintessence. Annual of the Antwerp Museum, 2010 (2013 gepubliseer), ble. 9–47.

Belting, H. 1994. Likeness and presence: A history of the image before the era of art. Vertaal deur E. Jephcott. Chicago: University of Chicago Press.

Benjamin, W. 1997. On language as such and on the language of man. In Bullock en Jennings (reds.) 1997:62–74.

—. 1998. The origin of German tragic drama. Vertaal deur J. Osborne. Londen: Verso.

—. 1999. The arcades project. Vertaal deur H. Eiland en K. McLaughlin. Cambridge, Massachusetts: The Belknap Press of Harvard University Press.

—. 2007. The task of the translator. In Arendt (red.) 2007:69–82.

Ben Zion, R. (red. en vert.). 1981. The anthology of Jewish mysticism. New York: Judaica Press.

Bloom, H. 1975. Kabbalah and criticism. New York: Seabury Press.

Boshoff, W.A. 1974–6. Genesis. Ongepubliseerde manuskrip. Willem Boshoff Argief, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

—. 1980. KYKAFRIKAANS. Johannesburg: Pannevis.

—. 1984. Die ontwikkeling en toepassing van visuele en letterkundige verskynsels in die samestelling van kunswerke. MA-verhandeling, Technikon Witwatersrand.

—. 2009a. Windwoorde: Essay. Ongepubliseerd. Willem Boshoff Argief, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

—. 2009b. Big Druid in his cubicle: Proposal. Ongepubliseerd. Willem Boshoff Argief, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

—. 2009c. KYKAFRIKAANS: Recitals. Ongepubliseerd. Willem Boshoff Argief, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

Boshoff, W. en W. Siebrits. 2007. Word forms and language shapes. Uitstallingskatalogus. Johannesburg: Standard Bank-galery.

Botha, A. 2011. Willem Boshoff: Woord en beeld – naas mekaar, deurmekaar en vervleg. LitNet. http://www.litnet.co.za/willem-boshoff-woord-en-beeld-naas-mekaar-deurmekaar-en-vervleg (15 Januarie 2018 geraadpleeg).

Budick, S. en W. Iser (reds.). 1996. The translatability of cultures. Figurations of the space between. Stanford: Stanford University Press.

Bullock, M. en M.W. Jennings (reds.). 1997. Walter Benjamin: Selected writings, 1 (19131926). Cambridge, Massachusetts: Belknap Press of Harvard University Press.

Clarkson, C. 2006. Willem Boshoff: Art of the dictionary. Voordrag gelewer by die jaarlikse konferensie van die internasionale vereniging van filosofie en literatuur, Universiteit van Freiburg, Duitsland, 5–10 Junie. Willem Boshoff Argief, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

Curry, W.C. 1932. Tumbling nature’s germens. Studies in Philology, 29(1):15–28.

De Villiers-Human, S. 2010. The image and the brazen serpent: Division, mediation and the translatability of cultures. Acta Academica, 42(3):1–37.

—. 2013. Textures of light in depictions of the Annunciation: On the historicity of images. Voordrag gelewer by die jaarlikse SAVAH-konferensie, Universiteit van Kaapstad, 5–8 September.

—. 2020. The Big Druid’s photographs of trees: Art and knowledge. Image & Text, 34(1):1–27.

Didi-Huberman, G. 2003. The imaginary breeze: Remarks on the air of the Quattrocento. Journal of Visual Culture, 2(3):275–89.

Durham Peters, J. 2018. The media of breathing. In Škof en Berndtson (reds.) 2018:179–95.

Edy, A. 2016. Uneasy reading. Resistance and revelation in Willem Boshoff’s “Verskanste ppenbaring”. MA-verhandeling, Universiteit van Kaapstad.

Gilloch, G. 2002. Walter Benjamin: Critical constellations. Cambridge: Polity Press.

Johnston, S. I. 2008. Ancient Greek divination. Oxford: Blackwell Publishing.

Schama, S. 2004. Landscape and memory. Londen: Harper Press.

Schoeman, G. 2011. Taking the time: Willem Boshoff’s thinking and weaving in words, images, clouds and stones. Ongepubliseerde manuskrip. Willem Boshoff Argief, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

Scholem, G. 1974. Kabbalah. Jerusalem: Keter Publishing House.

Škof, L. en P. Berndtson (reds.). 2018. Atmospheres of breathing: Respiratory questions of philosophy. Albany: State University of New York Press.

Van Wyk, J. 2018. Tree of knowledge (1997): Die ontketening van kennissamehange by Willem Boshoff. MA-verhandeling, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

Van Wyk, J., S. de Villiers-Human en D. van den Berg. 2017. Verkennende verbeeldingswêrelde: die ontsluiting van die Willem Boshoff Argief. LitNet Akademies, 14(2):26–64. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2017/10/LitNet_Akademies_14-2_vWyk-deVilliers-vdBerg_26-64.pdf.

Vladislavić, I. 2005. Willem Boshoff. Johannesburg: David Krut.

Zalman, S. 1981. The portal of unity and faith. In Ben Zion (red. en vert.) 1981:83–128.

Lys van beeldmateriaal

Figuur 1: Willem Boshoff (1951–), Herfs in Nederland (ca. 2008). Digitale foto. Willem Boshoff Argief, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

Figuur 2: Willem Boshoff (1951–), Windwoorde (Vãyu) (2008). Ses “vlieërs” of “blare” geweef uit herwinde plastiek opgehang in ’n woud of tussen geboue aan staalkabels. Afmetings veranderlik. Arnhem, Nederland. Willem Boshoff Argief, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

Figuur 3: Willem Boshoff (1951–), Ydele herhaling van woorde (KYKAFRIKAANS) (1980). Johannesburg: Pannevis. Willem Boshoff Argief, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

Figure 4 en 5: Willem Boshoff (1951–), Verskanste Openbaring (KYKAFRIKAANS) (1980). Johannesburg: Pannevis. Willem Boshoff Argief, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

Figure 6 en 7: Willem Boshoff (1951–), Gejaag na wind (KYKAFRIKAANS) (1980). Johannesburg: Pannevis. Willem Boshoff Argief, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

Figure 8 en 9: Willem Boshoff (1951–), Kasboek (1981). Versplinterde afvalhout, dun plankies, skarniere, hardebord. 230 cm x 194 cm x 27,5 cm (geopen). 109 cm x 194 cm x 27,5 cm (geslote). Unisa-versameling, Pretoria (Boshoff 1984). Willem Boshoff Argief, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

Figuur 10: Fra Angelico (1395–1455), Die Aankondiging-paneel van die altaarstuk te Cortona (detail) (ca. 1433/1434). Tempera op houtpaneel. 175 cm x 180 cm. Bisdomlike Museum, Cortona. http://www.zeno.org/Kunstwerke/B/Angelico,+Fra%3A+Verk%C3%BCndigung+%5B1%5D?hl=fra+angelico (28 September 2020 geraadpleeg).

Figuur 11: Lucas Cranach die Ouere (1472–1553), Die predella van die Reformasie Altaarstuk te Witteberg (1547/1548). Tempera op houtpaneel. 447 cm x 562 cm (altaarstuk in sy geheel). Evangeliese Stadskerk van Sint Maria, Wittenberg. https://fotoeins.com/2017/10/30/lutherstadt-wittenberg-stadtkirche-stmarys (28 September 2020 geraadpleeg).

Figuur 12: Hendrick Goltzius (1558–1617), Christus aan die boom van die lewe (1610). Olieverf op houtpaneel. 94 cm x 65,5 cm. Privaatversameling. (Schama 2004:209.)

Figuur 13: Willem Boshoff (1951–), Stokkiesdraai (1980). Kameeldoring brandhout, beukehout, fyn bereide beesleer. Buiteafmetings van leervel: 122 cm x 72 cm. Opgevoude sak met stokkies binne-in: 40 cm x 30 cm x 1 cm. Privaatversameling. (Boshoff 1984.) Willem Boshoff Argief, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

Figuur 14: Willem Boshoff (1951–), Letters to God (1997), deel van die Tree of Knowledge-reeks (1997). Gesplinterde hout, gekerfde houtletters en staalraam. 195 x 150 x 90 cm. Privaatversameling. Willem Boshoff Argief, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

Figuur 15: Willem Boshoff (1951–), Letters to God (detail) (1997), deel van die Tree of knowledge-reeks (1997). Gesplinterde hout, gekerfde houtletters en staalraam. 195 x 150 x 90 cm. Privaatversameling. Willem Boshoff Argief, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

Figuur 16: Willem Boshoff (1951–), Chaos (1980). Hardebord, industriële glansverf, hout, boomtakkies, draad, boute en moere. 122 cm x 82 cm x 8,5 cm (Boshoff 1984). Willem Boshoff Argief, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

Figuur 17: John Hodgkiss (1966–2012), Willem Boshoff voor Windrose (2011). Digitale foto. https://www.willemboshoff.com (30 Mei 2020 geraadpleeg).

 

Eindnotas

1 Hierdie artikel is ’n verwerking van en toevoeging tot ’n hoofstuk uit my MA–verhandeling, “Tree of knowledge (1997): Die ontketening van kennissamehange by Willem Boshoff” (2018). Ek bedank graag my kollegas Martin Rossouw en Suzanne Human wat vroeë weergawes van die huidige artikel gelees het en waardevolle terugvoer verskaf het.

2 Vladislavić (2005:98) beskryf hierdie belangstelling van Boshoff in die gesproke woord kortliks as ’n wens om die oerverbinding tussen die klanke en vorms van woorde met die dinge in die materiële wêreld te herstel. Dit is onder andere hierdie wens van Boshoff wat ek breedvoerig in hierdie artikel ontleed.

3 Temas soos om te ontbloot en te verskuil, te wond en te genees, te vernietig en te herstel, raaisels en woordspelings, ’n spel tussen sien en aanraak, die vertaling van sintuiglike waarnemings waarvolgens klank vertaal word in tekstuur of woorde vertaal word in beelde (Vladislavić 2005:15).

4 Die ongepubliseerde manuskrip is opgeneem in die Willem Boshoff Argief, wat geskenk is aan die Departement Kunsgeskiedenis en Beeldstudie, Universiteit van die Vrystaat. Wanneer ek uit die teks aanhaal, word geen bladsynommers verskaf nie, omdat die manuskrip geen bladsynommers het nie.

5 Hierdie vroeë religieuse en filosofiese belangstellings resoneer met ander kunswerke wat in die laat 1970’s en vroeë 1980’s gemaak is waarin Boshoff verskeie Christelike temas ondersoek (sien bv. Tafelboek, Kubus, Stokkieskluis, Splintermat, Kaartmatjie, Kaartland, Sandkoevert, Skynbord, Kleinpen I en II, Skommelpen en 370 dae projek). Eers in die vroeë 1990’s ervaar Boshoff ’n ontnugtering met die Christelike geloof en distansieer hy hom daarvan. Kunswerke wat hiervan getuig, sluit o.a. in: Bad faith chronicles (1996), Bread-and-pebble road map (2004), I am not who you think I am (2004), Jerusalem (2004), Skoob (2004), Crusade (2011).

6 Sien De Villiers-Human (2020). 

7 Die verband tussen asem, wind en taal word o.a. deur David Abram ondersoek. Abram (1996:253–4) argumenteer dat in die voor-Christelike wêreld van Europa alle dinge (diere, woude, riviere, grotte) die mag van spraak gehad het en dat die medium van taal die lug/wind was. Hy argumenteer (1996:233) dat dit die wind is wat ons in staat stel om te praat: dit is slegs deur ons asemhaling moontlik vir ons om te praat, en wind interpreteer hy as ’n kollektiewe asem wat oor die mag van taal beskik.

8 Vir ’n verdere uiteensetting van hierdie begrippe en hulle belang in Boshoff se oeuvre sien Van Wyk, De Villiers-Human en Van den Berg (2017), asook Van Wyk (2018).

9 Verskeie van Boshoff se kunswerke ondersoek die ontstaan van taal asook die kwessie van taalverwarring en Babel; sien bv. Lebab (2004), Sdrow fo nwodkaerb (2004) en Children of the stars (2009). 

10 In sy interpretasie van die woord-beeld-verhouding in Boshoff se kunswerke verwys Schoeman (2011:3–4) ook na die belang van die Toring van Babel vir beide Benjamin en Boshoff.

11 Alhoewel Benjamin se beskrywing van die natuur as stom en stil, en taal as ’n gebabbel met sommige van Boshoff se kunswerke resoneer, is dit belangrik om in ag te neem dat Boshoff nie hierdie melankoliese ingesteldheid beklemtoon nie, omdat die redding van die skepping in die Christelike geloof reeds geopenbaar is. Daarom is Boshoff se taak van versameling en “redding” (hetsy van vergete woorde vir sy woordeboeke of die name van plantspesies vir sy “woordtuine”) nooit tevergeefs nie en staan dit in teenstelling met Benjamin se benadering – sy treurspel.

12 Nóg ’n voorbeeld van Boshoff se belangstelling in wind. Vergelyk ook die kunswerk en uitstalling, beide getiteld Reap the whirlwind (2015), wat verwys na Hosea 8:7. Weer eens is hierdie meer onlangse voorbeelde tekenend daarvan dat Boshoff se vroeë belangstellings van blywende belang vir hom sou wees. 

13 Sien Schneur Zalman van Liadi se teks “The portal of unity and faith” in The anthology of Jewish mysticism (1981).

14 Sien byvoorbeeld die volgende Bybelverse wat hiermee verband hou: “Soos die liggaam sonder gees dood is” (Jakobus 2:26); “God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword” (Genesis 2:7). Job verwys na “die lewensasem van God” in sy neus (Job 27:3; vergelyk ook Jesaja 2:22). Die gees van die lewe in ons word dus aan ons gegee met geboorte, en bly in ons solank as wat ons lewe. Wanneer God se Gees van iets lewend onttrek word, vergaan dit onmiddellik – die Gees is die lewenskrag. Indien God “Sy Gees en Sy asem na Hom sou terugtrek, dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer. As daar dan verstand by u is, hoor dit” (Job 34:14–6). Met die dood sal “die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het” (Prediker 12:7). God is dus alomteenwoordig deur Sy Gees. In hierdie konteks word gesê “God is Gees” (Johannes 4:24).

15 Hierby sluit Schoeman (2011:26) se bespreking van Boshoff se I am not who you think I am (2004) aan: ’n Foto waarin die kunstenaar ’n T-hemp dra met hierdie sin onderstebo daarop gedruk. Die sin is ’n ontkenning en omkering van God se uitspraak aan Moses: “Ek is wat Ek is” (Exodus 3:14). In dié konteks verwys Schoeman na Benjamin (1999:418), vir wie elke waarheid op die teenoorgestelde daarvan dui. 

16 Botha (2011) verwys ook na Boshoff se belangstelling in hierdie spesifieke Bybelvers en argumenteer dat dit vir Boshoff handel rondom die spel van die letterlike en figuurlike betekenisse van hierdie begrip. Volgens haar is dit vir Boshoff “’n geldige diktum van ’n vertrekpunt om skeppend, ondersoekend, filosoferend, en spiritueel betrokke te wees met idees waaraan hy gestalte kan gee om ’n kunswerk, hetsy in hout of in woord, of in albei, te skep”.

17 Vergelykbaar hiermee is die Kabbalistiese Sefirot. Volgens Bloom (1975:25) is die Sefirot komplekse figurasies, emanasies of manifestasies van God, figuurlike uitdrukkings wat optree as plaasvervangers vir God. Die Sefirot is soos gedigte, in die sin dat hulle name is wat komplekse kommentaar impliseer wat hulle in tekste verander. Aanvanklik het die vroeë Kabbaliste gepoog om die Sefirot te identifiseer met die wese van God en in die Zohar staan geskryf dat God en die Sefirot een en dieselfde is: Hy is die Sefirot en die Sefirot is Hy (Bloom 1975:25). Hierdie formulering impliseer dat God en taal dieselfde is en is tot ’n mate vergelykbaar met Boshoff se formulering van God as Logos.

18 Sien bv. werke soos 370 dae projek (1984), Tree of knowledge (1997) en Tree walk (2007), asook Boshoff se plantkundige studies (foto’s van bome en plante) wat in sy argief versamel is.

19 Boshoff noem homself ’n Druïde. Dit is sy kunstenaarspersona en karakteriseer hom as ’n man van bome – die woord druïde hou verband met die Griekse drus, wat “boom” of “eikeboom” beteken (Boshoff 2009b). 

20 Botticelli se voorstellings van Zephyr (god van die Westewind of ’n ligte, warm bries) in Die geboorte van Venus (1485–1486) en Primavera (1477–1482) getuig ook van die verhouding tussen asem en wind. In dié voorstellings sien ons die god se gebolde wange soos wat hy lug uitblaas. Die asem wat hy uitblaas, is die wind wat blomme en drapeersels laat wapper in die lug. In hierdie konteks argumenteer Didi-Huberman (2003:279) dat die bonatuurlike krag van Zephyr se asem ooreenstem met gepersonifieerde voorstellings van die wind soos in Botticelli se Primavera (1477–1482). Die Duitse kunshistorikus Aby Warburg was die eerste kunshistorikus wat die wind sentraal in sy ondersoek na die kuns van die Renaissance geplaas het. Hierdie wind het Warburg beskryf as ’n “bries van die verbeelding”, ’n frase wat hy ontleen het aan ’n onbekende Romantiese digter. Die “bries van die verbeelding” laat die hare van Botticelli se Venus of Dontatello se prinses rondom hulle lywe wapper sonder enige sigbare oorsaak (Didi-Huberman 2003:275, 277). Sien ook Baert (2010) vir ’n ontleding van wind in die kunsgeskiedenis en die belang daarvan in die werk van Aby Warburg. 

21 Verskeie van Boshoff se kunswerke maak gebruik van afvalmateriaal wat vir ander waardeloos sou wees; sien bv. Cacoethes Scribendi (2004); Coprophemism (2007); Épat (2007) Auxesis (2009); Five star runner (2015). 

22 Die werk sinspeel egter ook op ’n ander betekenis: “Kasboek: 'Kantoorboek vir boekhou waarin alle inkomste en uitgawes opgeteken word'; só staan dit in die Verklarende Afrikaanse Woordeboek” (Boshoff 1984:11).

23 Die proses van hout verbrysel beskryf Vladislavić (2005:12) besonder poëties met verwysing na ’n monnik wat relikwieë vervaardig of ’n ikonoklas wat die gelykenis van God vernietig. 

24 Sien De-Villiers Human (2013).

25 Kasboek sluit ook verwysings in na die kruisiging. Die boonste twee bladsye van Kasboek open sywaarts soos twee arms en die onderste twee bladsye open sywaarts soos twee bene. Die beeld met sy liggaamsproporsies word dus elke keer gekruisig wanneer dit oopgemaak word (Boshoff 1984:13). Boshoff het hout gekies nie net omdat dit nou verbind is met boeke nie, maar ook omdat dit die kruisigingsmateriaal was: “Met elke lasplekkie is daar sprake van ’n tipe kruisiging. Die duisende lasplekke getuig van voortdurende kruisiginge” (Boshoff 1984:8). In hierdie konteks verwys die houtsplinters vir Boshoff (1984:13) na die gebroke vlees van Christus aan die kruis.

26 Sien in hierdie verband ook De Villiers-Human (2010) se bespreking van die kunswerk.

27 Vergelykbaar hiermee is Didi-Huberman (2003:279) se argument dat die opvallendste eienskap van voorstellings van “winde van die verbeelding” hulle ruimtelike onsamehangendheid is. Didi-Huberman (2003:279) verwys in sy bespreking van Paolo Uccello se Sint George en die draak (1470) na die teatrale, kolkende wolk in die skildery wat sinspeel op ’n geweldige wind en die bonatuurlike magte wat daarmee gepaard gaan (vergelykbaar met die kolkende wolke in Goltzius se voorstelling), maar wat geen invloed op die res van die landskap het nie. 

28 Stokkiesdraai (1980) is ’n herinterpretasie van die boom van kennis van goed en kwaad. Die “takke” in Stokkiesdraai is nou verbind met die ontbloting van kennis in die verstand van die mens: “Die letterlike oopkrap van alle dinge in die gedagteboek van die mens deur die takke van die ‘Boom van Kennis van Goed en Kwaad’ het hom van sy naaktheid bewus gemaak. Net soos kennis ontsluit is, is die menslike liggaam met dierevelle versluier” (Boshoff 1984:26). Stokkiesdraai weerspieël beide hierdie aspekte. Die “takke” kan met die hand oopgekrap word, net soos Eva se hand wat uitgereik het na die vrug, deur takke en blare, wat hulle verstand oopgekrap het, of die diervel kan gebruik word om die “stokkies” te bedek en te versluier soos hulle liggame met diervelle versluier is.

29 Vergelyk Boshoff se dikwels kriptiese, verwarrende kunswerke wat meer versluier as wat hulle openbaar: 370 dae projek (1984), Bangboek (1977–1981), Blind alphabet project (1990–), Druid numbers, nice guys (2007), Sdrow fo nwodkaerb (2004), Secret letters (2003), Verskanste Openbaring (1980). 

30 Letters to God (1997) vorm deel van ’n reeks werke getiteld Tree of knowledge (1997). Die ander twee werke in die reeks is Broken garden (1997) en Druid’s keyboard (1997). In hierdie werke ondersoek Boshoff die verhoudings tussen die boom, die boek, papier, woorde en teks. Die titel van die reeks werke, wat verwys na die boom van kennis van goed en kwaad in die Tuin van Eden, suggereer dat die kunswerke ook ’n ondersoek na of bevraagtekening van religieuse kwessies behels en dat dit in die besonder nou verbind is met verskeie kennisbegrippe, soos die boom as organiseringsmetafoor waarvolgens kennis in stamme en takke georden word (Van Wyk 2018:3).

31 “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande. Die een dag stort vir die ander ’n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan: daar is geen spraak en daar is geen woorde nie – onhoorbaar is hulle stem. Hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot by die einde van die wêreld. Vir die son het Hy daarin ’n tent gemaak; en dié soos ’n bruidegom wat uitgaan uit sy slaapkamer; hy is bly soos ’n held om die pad te loop” (1953-vertaling). 

32 Sien Boshoff se webtuiste vir ’n beskrywing van die kunswerk en die reëls ter sprake in die skryf van die woordeboek: https://www.willemboshoff.com/product-page/platter-rooster.

33 Dit kan moontlik ook vertolk word as ’n verwysing na die stomheid van die beeldende kunste soos verwoord deur die tradisionele gesegde van Horatius en Simonides: ut pictura poiesis – poësie is ’n sprekende prent en ’n skildery stomme poësie. Deur die eeue is literatuur geassosieer met die verbale, en die skilderkuns, beeldhouwerk en argitek­tuur met die stomme (Alpers en Alpers 1972:446). Gepaardgaande hiermee is die verskil tussen poësie en die beeldende kuns wat G.E. Lessing (1787) verwoord het, naamlik dat ’n mens geskrewe werke in tyd waarneem en beeldende kuns in ruimte waarneem (Alpers en Alpers 1972:446).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top