Willem Boshoff: Woord en beeld – naas mekaar, deurmekaar en vervleg

  • 0

Woord en Beeld: Naasmekaar, deurmekaar en vervleg – ’n greep op die kuns van Willem Boshoff

’n Eerste benadering tot Willem Boshoff se kuns is om sy werk as ’n leser van ’n boek te benader. Beeld en woord is hier interafhanklik – dit gaan vir hom oor die begripsinhoude van woorde wat beelde skep en beelde wat tot woorde aanleiding gee. Die inhoud is gelade en ambivalent. Jou begrip van woorde, jou vermoë om dit wat jy lees in beelde te sien – en omgekeerd – is die uitdaging vir die kyker/leser van sy enigmatiese werk. AMANDA BOTHA verken WILLEM BOSHOFF se enigmatiese werk en fokus veral op die 30-jarige viering van die eerste voorbeelde van konkrete poësie met verwysing na werk in die Sanlam Kunsversameling.

’n Eerste benadering tot Willem Boshoff se kuns is om sy werk as ’n leser van ’n boek te benader. Beeld en woord is hier interafhanklik – dit gaan vir hom oor die begripsinhoude van woorde wat beelde skep en beelde wat tot woorde aanleiding gee. Die inhoud is gelade en ambivalent. Jou begrip van woorde, jou vermoë om dit wat jy lees, in beelde te sien – en omgekeerd – is die uitdaging vir die kyker/leser van sy enigmatiese werk.

Hy skep werk wat, in die spirituele sin van die woord, die uitdrukking is van sy innerlike verkenning na ruimtes vir begrip – en versoening. Vir hom gaan dit om die spel van die letterlike én figuurlike begrip van die Bybelse woorde: “In die begin was die (W)oord” wat die beginpunt aandui van lewensveranderende gebeure van kosmiese omvang wat in hout as medium gevestig is. Dit sou in Engels kon lees: “In the beginning was the (W)ord. In the beginning was wood.” Vir Boshoff is dit ’n geldige diktum van ’n vertrekpunt om skeppend, ondersoekend, filosoferend en spiritueel betrokke te wees met idees waaraan hy gestalte kan gee om ’n kunswerk, hetsy in hout of in woord, of in albei, te skep.

Boshoff is ’n skrywer-kunstenaar en sy werk is meestal gemoeid met taal en boeke. Dit is beeldhoukonstruksies, installasies, maar ook konkrete poësie. Hy is die samesteller van sy eie woordeboeke, skryf uitgebreide kommentaar op sy werk en verwoord die prosesse waarmee hy besig is. Die grense tussen sy kuns en sy poësie is poreus en kan beskou word as deurlopende passasies van ononderbroke teks. Reeds vir dekades is hy intens besig met navorsing, skryf en annoterings wat op sigself ’n lang ry boeke verteenwoordig.

As kunstenaar is hy volledig toegewyd aan sy werk. Hy vind geen kortpaaie na kitsoplossings nie en kan jare aan ’n idee werk voordat dit gestalte vind in die vorm wat vir hom beslag gee aan wat hy bedóél om te sê.

Hy het eers toe hy dertig was sy kuns aan die buitewêreld blootgestel. Dit was ’n persoonlike besluit, gebaseer op sy Christelike oortuiging van die tyd, en nou, ondanks sy internasionale bekendheid en sy gerespekteerde posisie in die Suid-Afrikaanse kunswêreld, onttrek hy hom steeds aan die breë kunswêreld. Hy is, soos hy in ’n onlangse gesprek bevestig het, nie die bemarker van sy eie werk nie. Niémand is dit nie. Wat móét gebeur sál gebeur. Sy taak is toegewyd aan dit wat hy daagliks in sy ateljee, wat soos ’n skrynwerkerswinkel lyk, moet uitvoer. Die strenge dissipline is nie vir hom onderhandelbaar nie.

Dit is insiggewend om kennis te neem van Boshoff se agtergrond en lewensbenadering, wat sy werk en die rigting wat dit ingeneem het, geslyp het. Sy jeugagtergrond in die 1960’s was in Vanderbijlpark. Sy pa was ’n skrynwerker en nutsman en as kind het Willem sy pa gehelp. Kuns was nie ’n oorweging in die huishouding of selfs op skool nie. In standerd 7 (vandag graad 9) het hy besluit om kunstenaar te word. Hy het dit as ’n roeping beskou en begin om homself te onderrig. So het hy byvoorbeeld plakboeke gehou oor alles wat hy in koerante en tydskrifte oor kuns kon versamel. Hy het selfs ’n reëling by die plaaslike groentehandelaar gehad dat hy eers daar kon kom om knipsels te maak voordat die koerante gebruik word vir die toedraai van groente en vrugte.

Dit was ’n moeilike besluit te midde van teenkanting van oral. ’n Simpatieke onderwyser, Hendrik Pretorius, het na skool met kunsonderrig gehelp. Boshoff is as kunsstudent by die destydse Johannesburgse Kollege vir Kuns, later Witwatersrand Technikon, ingeskryf. Hy het ook tydens vakansies verpligte militêre diens gedoen en moes jare lank kampe bywoon. Hy het ’n eie vorm van weerstand ontwikkel en gewoon geweier om militêr in sekere situasies betrek te word. In sy tweede studiejaar het hy ’n besondere religieuse ervaring gehad wat gelei het tot ernstige bevraagtekening van die ouer, konserwatiewe waardes waaraan hy blootgestel was. Hy was opgesweep deur ’n gevoel van ongeregtigheid soos dit in die samelewing manifesteer – eerder uit godsdienstige as uit politieke oortuiging. Hy het sy studies laat vaar en ’n straatprediker geword. Twee jaar later is hy terug om sy kunsstudies voort te sit en het hy hom as onderwyser bekwaam,  waarna hy ’n paar jaar by voorstaande seunskole in Johannesburg klas gegee het.

Weer is hy terug na die kollege om sy meestersdiploma in kuns te verwerf. In hierdie jare, 1976 tot 1982, het hy ’n reeks kunswerke in hout geskep wat die fondament was waarop hy al sy latere insigte en idees sou ontwikkel – konsepte wat hom steeds boei en wat hy steeds verken.

KYKAFRIKAANS – boekdeksel van die 1980 gepubliseerde boek.
 

Een van sy eerste groot deurbrake was die skryf en skep van die werk KYKAFRIKAANS (1976-1980) – die eerste werk wat volwaardig as konkrete poësie beskou kan word. Boshoff het KYKAFRIKAANS op ’n Hermes 2000-tikmasjien geskep en letterlik daarin geslaag om die tikmasjien as verfkwas te gebruik, maar ook deur woorde konkrete poëtiese skeppinge daargestel. Dit is in boekvorm (’n beperkte oplaag van 1 000 kopieë) saamgestel en in 1980 deur Uitgewery Pannevis van Markus de Jongh Boekhandel uitgegee. Die werk, wat op afgerolde papier geskep is, is al beskryf as die merkwaardigste boek wat nog ooit in Suid-Afrika gepubliseer is. Dit is ’n werk sonder presedent en daar was nooit enige suksesvolle nabootsing nie.

Vandag is die boek in gesogte versamelitem. Die konkrete poësie in KYKAFRIKAANS is al as poëtiese Esperanto beskryf – Afrikaans oor internasionale grense. Die oorspronklike gedigte, wat altesaam 90 bladsye beslaan, is nou in die Sackner Archives of Concrete and Visual Poetry in Miami, Florida, VSA.

Weinig konseptuele gedigte is nog ooit in Afrikaans geskryf en KYKAFRIKAANS is waarskynlik die enigste vol bundel dergelike afwykende poësie wat in hierdie beleërde “moderne” taal van Suid-Afrika gepubliseer is. Op die oog af is die gedigte op ’n lettristiese manier benader, op baie dieselfde wyse as wat beeldende kunstenaars ’n skilderdoek of tekening benader. By nadere beskouing staan hierdie eksentrieke gedigte egter eerder in opposisie teenoor tradisionele skryfwerk en interpretasie. Met tye sê dit die literêre konvensies (soos samehangendheid en woordekonomie) die stryd aan. Dikwels ondermyn dit ortodokse sienswyses en betoon eer aan onbenullighede en dubbelsinnigheid onder die dekmantel om self nougeset en aandagtig saamgestel te wees.

KYKAFRIKAANS – titelblad vir die 2003 gepubliseerde portefeulje van 12 drukke in opdrag van Sanlam. ’n Stel van die drukke is aan die Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad geskenk.
 

Tot in die vroeë 1990’s is KYKAFRIKAANS nooit ’n plek in die literêre en kunskringe van Suid-Afrika toegeken nie. Vandag is daar egter ’n groot aanvraag na inligting en beklee dit ’n gerespekteerde plek in die geskiedenis van kuns en letterkunde, in Suid-Afrika sowel as in die buiteland. In 2003 het ’n nuwe beperkte uitgawe van 20 kopieë verskyn, bestaande uit twaalf gedigte, verskillend van die ses wat vroeër gepubliseer is. Hierdie portefeulje van sifdrukke is in opdrag van Sanlam en deur Jonathan Comerford van Hardground Printmakers in Kaapstad gedruk en vorm nou deel van die Sanlam Kunsversameling.

Hekelskrrif – KYKAFRIKAANS, Sanlam-Kunsversameling
 

Om na hierdie konkrete poësie te kyk is dit belangrik om kennis te neem van die titels. Die sifdruk-gedig Hekelskrif wei uit oor die verband tussen teks, tekstiel en tekstuur – die woorde self is almal afkomstig van die Latynse woord texere:om te weef”. Hekel word gedoen deur ’n herhaling van steke in ’n bepaalde volgorde en die onderskeie lussies, en deurtrekkings eindig in ’n veld van welige versiersels van herhaalde visuele effekte. Hekel is veral geskik daarvoor om ornamentele randjies te maak. Die teks van Hekelskrif is betreklik maklik om te lees: “Dis glad nie nodig om oor ’n geriffelde sinkplaat te sit en grens nie.” In Afrikaans beteken grens ’n heining, maar ook om te huil. “Om oor iets te grens” beteken ook om daaroor (as gevolg daarvan) te huil, of om bokant dit te wees en daaroor of daarop te huil. Die gedig speel met huil en met grense en met die dubbelsinnigheid van eindes. Op die basis van Hekelskrif vind daar ’n oorloop van teks oor die grens plaas. Die teks ontsnap sy grense en definisie (vanaf die Latyn definire,wat letterlik beteken om te beëindig en om binne die grense te plaas).

Pro PatriaKYKAFRIKAANS, Sanlam-Kunsversameling
 

Die sifdrukgedig Pro Patria! (Vir die Vaderland) het Boshoff, wat ’n pasifis is, geskryf tydens ’n periode van angstige militêre diensplig. Vyf “soldate” marsjeer oor die bladsy. Hulle vyf rye voetspore herhaal fragmente van die woorde, “links, regs” in gebroke lettergrepe, wat onderbreek word deur flitse privaat gedagtes oor wat by die huis, familie en die lekker lewe daar buite aangaan. Die gedig word opgesê deur ’n “peloton” van vyf “weermag”-stemme wat in gelid marsjeer. Die titel Pro Patria! is die bevel om voorwaarts te marsjeer, en in plaas van om selfversekerd “links, regs, links, regs ...” te bulder, skree die troepe stukkies privaatgedagtes uit, wat verwaring skep. Die troep heel links marsjeer na aanleiding van die volgende verborge drie-letter-uitroepe: “bre, ekl, ink, sre, wer, kli, gsl, ink”.

SkrifskerweKYKAFRIKAANS, Sanlam-Kunsversameling
 

In die sifdrukgedig Skrifskerwe word letterlik skerwe betrek. Dun ys, delikate porseleinware en velle glas splinter maklik op in skerwe as dit ongeërg hanteer word. In Victoriaanse tye het ’n gebreekte houer of gebreekte glas verlore onskuld of verlore maagdelikheid gesimboliseer. Die antieke Grieke het die ostrakon, of potskerf as steminstrument gebruik om hul keuse aan te dui. Hierdie demokratiese stemprosedure is ostrasisme genoem. Om teen iemand in ’n amp te stem, is ook by wyse van ostrasisme gedoen – die slegste administrateur wat so uitgewys is, is dan verban, oftewel geostraseer. Dit is gedoen deur die ongewenste persoon met dieselfde potskerwe waarmee gestem is, te stenig en om hom sodoende uit die stad te dryf. In die werk Skrifskerwe is skerwe gerangskik en ingevul met onbeduidende skrif, in die struktuur van ’n kaarthuis, wat gevaarlik op die randjie van ineenstorting wankel. Dit spreek die omverwerping van die magsbasis deur misbruikende, selfversekerde outokrate aan. Selfsugtige visies en buitensporige beleidsrigtings kan omvergewerp en verpletter word deur die konsolidasie van burgers wat gedink het dat dit onbreekbaar lyk.

Stadsplaas KYKAFRIKAANS, Sanlam-Kunsversameling
 

Die beroemde Eiffeltoring was die prikkel vir die sifdruk-gedig Stadsplaas. In 1889 is die Eiffeltoring opgerig ter viering van die Franse Revolusie. Dit is die hoogste mensgemaakte struktuur van daardie tyd, sowat 300 meter hoog, en bied ’n onvergelyklike uitsig oor die stad Parys. Sommige kunskritici het beweer dat die gefragmenteerde stadsblokke, wat vir die eerste keer van so ’n hoogte waargeneem kon word, gelei het tot die blokagtige patrone van kubistiese skilderwerk. Voor hierdie tyd is uitsigte vanuit die hoogte meestal van hoë berge verkry met ’n landelike laslap-patroon wat onder hulle uitstrek. Stadsplaas wys ’n rigiede meganiese kartering van landbougrond waar alle individuele plante as letters waarneembaar is en waar ’n uitstrekking van vierkante verenig word in moeilik ontsyferbaar sinne. Modernisme, veral die idee van internasionale styl, dwing streng universele ontwerpsreëls af, maar gevoelige mense vind dit moeilik om sulke rigiditeit te hanteer. Hulle kan nie binne die wrede lyne van die ontoegeeflike woonstelprojekte asem kry nie. Boshoff sê dat hy die vraag hierin stel of internasionale styl, met reglynige vorme en lig met strakke oppervlakke, gestroop van toegepaste ornamentasie, die menslike aptyt in die steek laat.

Verskanste Openbaring KYKAFRIKAANS, Sanlam-Kunsversameling
 

In die sifdruk-gedig Verskanste Openbaring speel Boshoff in op betekenisse uit die Bybelse boek Openbaring, ook bekend as Apokalips. In die woorde van John Rawls skep dit die verwagting van die uiteindelike wegneem van ons “sluier van onkunde”. Apokalips kom van Grieks apo (“weg”) en kalyptos (“sluier”). Die Engelse benaming, Revelation, is van Latyn afgelei, waar re “terug” en velum “sluier” of “membraan” beteken. Agter die sluier is obskure en ondeurdringbare geheimenisse – in die woord van Jacques Derrida, “die ontsluiering van die onkenbare”. Verskanste Openbaring is ’n tikmasjien-weergawe van die ware teks van Openbaring. Elke sigbare reël van onduidelike getikte teks het twee bykomende reëls uit die Bybelse teks bo-op geplaas. Die wit kolletjies wat in die teks voorkom, is waar drie wit spasies tussen woorde toevallig oorvleuel. Enkele letters kan hier en daar gelees word waar ’n enkele letter in die KYKAFRIKAANS teks nie met een of twee letters van die Bybelse teks oorvleuel nie. Die benewelde teks is ’n ware visuele voorstelling van ’n “openbarende” boek wat niks “openbaar” nie.

Vierletterwoorde KYKAFRIKAANS, Sanlam-Kunsversameling
 

Die sifdruk-gedig Vierletter woorde is in 1979 gekomponeer en bestaan uit ’n sneeuval vierletterwoorde wat glad nie vloekwoorde is nie, byvoorbeeld snap, seer en keel. Die opsê hiervan het ’n purgerende funksie wanneer die woorde hard en na willekeur deur individuele “koorlede” uitgeskree word. Die “koorlede” ontlaat as’t ware giftige elemente wat hulle nie deur vloek durf doen nie – vloek is juis nie ’n gewenste sosiale uiting nie. Die vierletterwoorde val in alle rigtings – onderstebo, sywaarts, regop, ens. Voordraers word aangemoedig om ’n woord te lees en dan te gil asof dit inderdaad ’n vloekwoord is. Hulle verontwaardigde uitroepe moet soos “hael” op ’n sinkdak “neerklap”. Hoe meer mense die stuk opsê, hoe harder is die knalle.

Boshoff wys daarop dat een van die metodes van stochastiese (Iannis Xenakis) en aleatoriese musiekkomposisie (musiek deur toeval) die skep is van effektiewe grafiese diagramme vir uitvoerders (Edison Denisov). Voordraers kan hulle eie vertolkende talente na die grafiese voorstelling bring en hulle ekwivalente instrumentale of vokale vermoëns daarop toepas.

Vlegskrif KYKAFRIKAANS, Sanlam-Kunsversameling
 

Boshoff maak dikwels gebruik van basiswoorde wat aan Latyn of Grieks ontleen word. In die sifdrukgedig Vlegskrif werk hy met die woord teks, wat ontleen is aan die Latynse texere, wat beteken om te weef, soos op ’n weeftoestel. Woorde soos tekstiel, tekstuur en ook teks kom van hierdie bron. Die teks van alles wat ons skryf, is aanvanklik so genoem omdat dit soos ’n stuk weefwerk lyk. In Latyn beteken plectere “om te vleg”. Om in Engels te “perplex” is om iets te deurweef, en komplekse dinge is letterlik saamgeweef. In Vlegskrif gebruik die tikmasjien die draad van die egte teks om ’n gevlegte of gebreide stuk weefstof te maak, amper soos breinaalde ’n patroon in ’n trui sou brei.

Ydele herhaling van woorde – KYKAFRIKAANS, Sanlam-Kunsversameling
 

Die Bybelvers Mattheus 6:7 is die grondstof vir die konkrete gedig Ydele herhaling van woorde. Baie godsdienstige geleerdes neem aan dat die Bybel herhaling van woorde in gebed verbied. In die teksvers kom dié woorde voor: ”En as julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur baie woorde verhoor sal word.” Die strofes in Boshoff se gedig Ydele herhaling van woorde is ’n uittartende antwoord op hierdie waninterpretasie. Sorgvuldig gelees, blyk die uittreksel nie bloot ’n waarskuwing teen ’n herhaling van woorde te wees nie, maar eerder ’n verbod op ydelheid in herhaling.

Vir Boshoff is dit ’n soort verwaandheid om alle idees uit dieselfde linguistiese vorm te giet. ’n “Cliché” was oorspronklik een van baie afdrukke wat herhaaldelik uit dieselfde drukblok gemaak is. Hy vra die vraag: Verbied die Bybelse teks repeterende estetiese ontwerp en refrein in geskrewe, geïllustreerde of mondelinge gebedslewe? Durf ons ons verwagtinge en fantasieë oor en oor in ons gedagte rond te maal? Soos baie weefstowwe herhaal hierdie gedig sy eie woordpatrone meganies, amper eindeloos. Die teks van hierdie gedig lees: ”Dit is beslis geen ydele herhaling van woorde hierdie nie.” Hierdie herhaling word op sigself trapsgewys in woordoplynings herhaal en doen ’n beroep op oordrewe herhaling deur die ydelheid daarvan te ontken. Indirek moedig die gedig alle betekenisvolle herhaling in musiek, teks en ontwerp aan.

Vir hierdie werk het Boshoff die diktum geskep: ”Jy kan met oë hoor, maar nie met ore kyk nie.”

Tafelboek (1976–1979), 1865 x 710 x 565 mm, versameling van Pierre Lombard, Johannesburg
 

Kasboek (1980–1981), 1940 x 2300 x 275 mm (oop), versameling van UNISA
 

Boshoff is onbeskaamd Afrikaans. Sy werke dra meestal Afrikaanse titels wat moeilik vertaalbaar sou wees. Onder sy vroeë werke tel Tafelboek (1976-9), ’n lae tafel wat oopvou, geskep met ’n ingewikkelde houtstruktuur wat saamgestel is uit duisende klein stukkies hout wat presies in mekaar pas om ’n verrassend komplekse interieur te skep; Kasboek (1980-81), waarin dieselfde beginsels toegepas is; Stokkiesdraai (1980), geslypte houtstokkies in ’n leerdoek; en Vroetelmat (1980), geskep uit borsels, houtgom en houtbord.

 

Stokkiesdraai (1980), private versameling
 
370 Dae Projek (1982–1983), versameling van Jack Ginsburg, Johannesburg
 

Woorde en die konsep van kuns – as boek – is vir Boshoff ’n boeiende spel waarin hy voortdurend soek na ’n begrip vir die “ontheiliging” van die woord as skepping – en dus as draer van die idee en ontvanger van begrip. Twee seminale werke is 370 dag projek (1982-3), wat bestaan uit 370 houtspesies, ’n houtkabinet en twee dagboeke in rooi, en twee werke wat by mekaar aansluit; en Abamfusa Lawula / The Purple Shall Govern (1997). Dit bestaan uit ’n dig-gepakte muur van poëtiese slagspreuke en struggle-slagspreuke, altesaam 49 frases in 10 pic-hoofletters, wat in verskillende inheemse tale geskryf is. Tussen die reëls is ’n geskrif binne die geskrif waarin vertalings in Engels gegee word van die slagspreuke in klein lettertjies. Dit is ’n kombinasie van geskreeude slagspreuke wat nie misgekyk kan word nie, met gefluisterde kommentaar wat vir die ongeligte (wat nie die inheemse taal verstaan nie) beskikbaar is alleen as jy heel teenaan die werk kom.

370 Dae Projek (1982–1983), versameling van Jack Ginsburg, Johannesburg
 
Abamfusa Lawula / The Purple Shall Govern (1997), versameling van die Universiteit Witwatersrand
 

Abamfusa Lawula / The Purple Shall Govern (1997), versameling van die Universiteit Witwatersrand (detail)
 

 Writing That Fell From The Wall (1997), versameling van die Johannesburgse Kunsgalery
 

In dieselfde jaar skep hy die werk The Writing That Fell From The Wall, waar woorde gedruk op houtblokke in skerwe uitgesprei op die grond lê. Hierdie keer nie die skrif aan die muur nie, maar die skrif wat van die muur afgeval het. Die woorde is in sewe Europese tale wat die kyker laat wandel deur ’n warboel begrippe, wat op sy beurt ’n rommelhoop woorde word.

Die boek of konsep van die boek is vir Boshoff wesentlik belangrik soos in sy werk Kaartland (1980), wat bestaan uit duisende biblioteekkaartjies, houtbord, hout en gom. Boeke assosieer hy met dogma. Boeke word ook vir hom tronke deurdat die kennis in boeke ook gedeeltelik gefragmenteer word. Kennis word in boeke gebind – eerder as in die brein. Boeke is ook ’n ontploffende toestel met die doel om die stabiele orde van dinge omver te werp. Boeke is ook ’n graf waaruit betekenis van tyd tot tyd verrys. Volgens sy siening word die inhoud van die boek bevry deur dit oop te maak, maar daar is ook twee impulse wat boeke kan voortbring: om te waarsku en om gewaarsku te word, potensiaal dus draers van goed en kwaad.

Uit die “afvalstukke” van sy eie ervaring, en met die breë riglyne van Christelike mitologieë, het Boshoff vir hom ’n komplekse persoonlike simbolisme geskep. Die lunspenne van hierdie simboliese sisteem is hout en woorde. Hout verskaf papier en die basiese materiaal van boeke. Uit die perspektief van Boshoff sien hy die boek as “geprosesseerde boom”, maar die boom is ook die kruis – die boom van die lewe waarop Christus gekruisig is. Volgens Johannes 1 vs 14 is Christus die Woord wat vlees geword het. Met Sy kruisiging is die woord dus ook gedood. Die kruisdood word soos om op ’n bladsy te skryf. Vir Boshoff is sterf die voorbereiding van hergeboorte.

Hot Cross Bowl II (1985–1987), Sanlam-Kunsversameling
 

Hy vind aansluiting by Simon Schama se “timber history of Christ”, wat begin met Josef as timmerman tot die kruisiging van Christus aan ’n houtkruis. Die sg “timber lineage” is veel ouer – dit reik reeds na Noag se ark, Moses se staf, Salomo se tempel tot Josef se werkswinkel en Christus se kruis. In die kruisiging word die Woord en die woord gekruisig. Veral as jong kunstenaar het Boshoff hom sterk aangetrokke tot dié idees gevoel. Een van die belangrike “oorskotte” van hierdie benadering vir Boshoff is die feit dat hy nooit spykers in hout inslaan nie – met groot omsigtigheid word al die dele van hout, wat vir hom komposisie en skepping word, met nougesetheid met gom aanmekaar gelym. Tog is daar in hierdie pragmatiese benadering ’n humoristiese element en speelsheid.

Willem Boshoff werk aan Hot Cross Bowl II

’n Sprekende voorbeeld is Hot Cross Bowl II (1985–1997) in hout (76 x 56 x 18 cm) in die Sanlam-kunsversameling. Hierdie werk het op Paasfees betrekking. Dit stel ’n maalklip voor wat op ’n maalsteen rus. Dit is die proses waardeur graan tot meel gemaal word. Die maalklip is in die vorm van ’n hot cross bun. Hierdie werk is twaalf jaar ná Hot Cross Bowl I geskep. Intussen het hy die werk Blinde Alfabet geskep, en toe hy na Hot Corss Bowl II terugkeer, het hy lyne daarop aangebring wat soos braille gelees kan word. Boshoff sê dat die lyne die maal van die meel verteenwoordig wat gebak word en weer in die vorm van hot cross buns in die bak rus. “In hierdie werk wys ek hoe ons gevorm word deur ons wonde en ons littekens,” is die kunstenaar se verklaring. Die kruisvorm simboliseer Christus, maar ook die skeurwonde aan die lyf na sweepslae. Die bak dui ook die merke aan van die maalsteen. Die oorsprong van hierdie idee is in die konkrete gedig Gekrap (“Gee die taalpot hel met pottedraad”) in KYKAFRIKAANS.

Gekrap – KYKAFRIKAANS (2003), Sanlam-Kunsversameling
 

Bronnelys

Bedford, Emma (red). 2004. A Decade of Democracy:South African Art, 1994-2004. Double Storey and Iziko Museums of South Africa.
Berman. Esmé. 1983. Art and Artists of South Africa. AA Balkema, Cape Town.
Boshoff, Willem. 1980. KYKAFRIKAANS. Uitgewery Pannevis, Johannesburg.
—. 2003. KYKAFRIKAANS. Sanlam, Kaapstad.
—. 2007. Word forms and language shapes, 1975-2007. Standard Bank, Johannesburg.
Botha, Amanda. 2011. Ongepubliseerde notas van onderhoud en lesing deur Willem Boshoff. Sanlam, Spier-landgoed, Stellenbosch. 20 Februarie.
Forster, Ronél en Louise Viljoen. 1997. Poskaarte: Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1940. Tafelberg en Human & Rousseau, Kaapstad.
Geers, Kendall (red). 1997. Contemporary South African Art: The Gencor Collection. Jonathan Ball, Cape Town.
Komrij, Gerrit. 1999. De Afrikaanse poëzie in duizend en enige gedichten. Bakker, Amsterdam.
Perryer, Sophie (red). 2004. 10 Years 100 Artists: Art in a Democratic South Africa. Bell-Roberts, Cape Town.
Rankin, Elizabeth (red). 1989. Images of wood. Aspects of the history of sculpture in 20th-century South Africa. Johannesburg Art Gallery.
Stevenson, Michael en Rosholt, Annabel. 2003. Moving in Time and Space: Shifts between Abstraction and Representation in Post-War South African Art. Michael Stevenson Contemporary, Cape Town.
Vladislavić, Ivan. 2005. Willem Boshoff. Taxi-011. David Krut Publishing, Johannesburg.
Williamson, Sue en Jamal Ashraf. 1996. Art in South Africa: The Future Present. David Philip, Cape Town.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top