“Om vrou te wees” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Om vrou te wees
Omtrent so ’n maand na die oom se afsterwe nader dominee Gerber my om te hoor of ek kans sien om in die kerkkantoor te werk. Oom Hans wou, na vele jare, die tuig neerlê.
Dit het my skaars ’n oggend geneem om myself te vergewis van my take. Ek wou nie verkondig dat dit eentonige werk is nie, want ou mense is mos nie veronderstel om verveeld te raak nie. Ons moet selfs opgewonde wees daaroor om asem te haal.
Op ’n dag is daar ’n sagte klop en die kantoordeur word stadig oopgestoot. ’n Vriendelike gesiggie loer vir my. Uitgehonger na geselskap spring ek uit my kantoorstoel en wink die kind die kantoor binne. Met ’n stewige greep stel sy haarself voor as Becky en sonder enige uitnodiging, gaan sit sy in die besoekerstoel.
Sou ek koffie aanbied, sal sy langer bly; wat ook al haar rede vir die besoek was. Ek het ’n bordjie voor haar neergesit en koeksisters aangebied. Sy het net twee uit die koekblik gehaal.
Ek het altyd ’n lekker bakseltjie in die kantoor gehad. ’n Soetigheid het al baie stukkende harte getroos en baie humeure tot bedaring gebring.
Sy het sommer met die rede vir die besoek in die huis geval. Sy was deel van ’n all girls bikers’ club. Hulle wou graag die tannies van die kerk nooi vir ’n breakfast run. Ek het geen benul gehad waarvan sy praat nie.
Hoe sal ons tannies dan nou lyk as ons met kieries en looprame die pad af hol? Sommige ou vrouens van die gemeente is selfs te lui om te loop.
Sy het uitgelate gelag en my verseker dat dit nie ’n hollery is waarvan sy praat nie, want sy self sal ook nie hardloop as niemand haar nie jaag nie. Hulle ry Sondagoggende met hulle motorfietse na verskillende dorpies vir ontbyt.
Waarmee ry ons as ons saamgaan? Ek kon glad nie my kop om die ding kry nie.
Hulle lift ons met die motorfietse.
Wat het haar laat dink dat motorfietsry iets is wat ons vir tydverdryf wil doen? Nie eens te praat of die bene so hoog gelig kon word om oor enige iets te klim nie.
Ek is gekonfyt daarin om die vrouens te oorreed om dinge aan te durf. Soos om seniors te kry om toneel te speel, om kinders op te pas en honde te stap, maar dié storie was ver bo my oorredingsvermoëns.
Beleefd vra ek hoekom hulle nou juis ons oues van dae wil saamnooi? Om wat mee te doen?
Hulle nooi glo gereeld allerhande groepe mense op die breakfast runs. Die vorige naweek het hulle ’n groep kinders met gesiggestremdhede uitgeneem. Hulle neem ook jaarliks deel aan die insameling en aflewering van speelgoed vir kinders in kinderhuise. Sy het vertel van alles wat hulle doen om die negatiewe reputasie wat mense van bikers het, te verander.
Ry hulle, wat die meisiekinders is, die motorfietse?
Waarop sy ja geantwoord het.
Toe vra ek daai vraag wat mens wens jy het nooit gevra nie. Die vraag waar jy jouself kasty oor jou nuuskierigheid... Waarom ry hulle mans nie saam nie?
Ons het nie mans nie, want ons is ’n groep lesbiërs. Ja, net so het sy dit gesê.
Tot op daardie dag het ek nog nooit iemand die woord lesbiër hardop hoor sê nie. Ek praat nou nie van die mense op die televisie nie.
Maar die meisiekind wat daardie oggend voor my gesit het, sou geen tekort gehad het aan jongetjies wat wou kom opsit nie. Ek wou vir die bloedjie uitvra oor waar sy die pad byster geraak het. Nie dat ek enigsins oordeel vel oor dié soort van mense nie.
Ek wou huiwerig weet of almal van die motorfietsklub lesbiërs is. Ek moes my asem intrek en fokus om daardie woord geuiter te kry. Tot op daardie dag het ek nog nooit rede gehad om die woord hardop te sê nie.
Becky het amusant geglimlag en ja geantwoord. Sy het ’n stukkie papier gevra en haar selnommer daarop geskryf.
Ek sou dit met die vrouens van die kerk bespreek en sou daar belangstelling wees, kon ek haar laat weet.
Sou daar nie wees nie en ek wou saamgaan, is ek baie welkom, het sy gesê.
Miskien moes ek die stukkie papier opgefrommel het en van haar besoek vergeet het, maar ek het haar nommer in my foontjie ingetik, want ek het geweet ek sal weer kontak met die meisiekind maak.
Dit het my twee dae geneem om eers my gedagtes te orden voor ek vir dominee Gerber gaan spreek het. Dominee het my ingelig dat die sinode se nuutste besluit was dat ons mag hierdie mense in ons midde toelaat, maar dat insluiting nie verwar moet word met aanvaarding nie. Ons moet hulle liefhê, maar ten sterkste hulle abnormaliteite afkeur terwyl ons bid vir hul verlossing. Dit was ’n bekvol vir my, maar ek kon aflei dat hulle aan die kerk mag behoort, solank hulle net nie met mekaar vroetel nie.
Ek was oor die eerste hekkie en het ’n VVV-ad hoc vergadering byeen geroep.
Die ad hoc vergadering het die vrouens erg nuuskierig gehad en daar was nie een verskoning vir afwesigheid nie. Niemand se heupe het gepyn nie, geen maaggriep het die rondtes gedoen nie en niemand se bloeddruk was deur die dak nie. Mev De Lange het mev Hanekom opgelaai, want sy was nog in ’n rolstoel na haar heupvervanging. Mev De Bruin, Engelbrecht en Swart het saam met mev Theunissen gery. Ek kon my net voorstel watse spoke daar opgejaag is op pad na die kerk toe.
Dit was asof ek ’n bom moes ontlont. Knip ek die rooi draad pleks van die swarte, blaas die vergadering die niet in. Al my voorbereide toesprake was uit my kop. Ek het iets gesê soos: ’n Groep lesbiërs wat motorfiets ry, wil ons bejaardes op ’n breakfast run neem.
Ek het stilgebly en op hulle reaksies gewag. Die see van gesigte was uitdrukkingloos en ek het voorgestel dat ons eers ’n lekker koppie tee maak. Dit moes een van die stilste teedrinkery al ooit in die konsistorie gewees het. Begrafnisse was meer gesellig.
Die vroue het teruggekeer na hul stoele en met afwagting na my gekyk. Genadiglik het mev Swart gevra wat ’n breakfast run is en ek het dit soos ’n wafferse biker verduidelik. Niemand het juis belangstelling getoon nie en sommige het gedink dit is pure lawwigheid.
Mens kon altyd staat maak op mev Swart om redelik te wees. Sy het voorgestel dat ek verdere ondersoek instel en dat ons dan weer bymekaarkom. Só het ek die volgende oggend vir Becky gebel en gesê dat ek namens die VVV hulle breakfast run sal meemaak.
Hulle het juis die volgende Sondag ’n breakfast run gehad. Almal kom by Rooi Els bymekaar, eet ’n ontbyt en ry dan saam na Hermanus, vandaar na Gansbaai en terug Kaap toe. Sy sou my seweuur die Sondagoggend oplaai.
Die gedagte dat ek op ’n bewegende motorfiets moes sit, het koue rillings oor my maag getrek. Balans is deesdae nie meer een van my sterk punte nie.
My vrees vir motorfietsry het soos mis voor die son verdwyn toe ek wonder oor watse klere ek gaan aantrek. Ek het vyf dae oorgehad om motorfietsklere vir ’n agt-en-sestig-jarige vrou saam te flans.
Vanaf my vyftigste jaar was ek al baie bewus daarvan om nie mutton dressed as lamb te wees nie. So vir my het dit gevoel soos ’n onmoontlikheid om aan te trek wat by my ouderdom, asook by ’n Harley sal pas.
Ek het myself probeer oortuig dat my rekjeans meer as geskik sal wees. Daar was nie enige toppie in my klerekas wat naastenby soos ’n Harleytoppie lyk nie. My stokou T-hempies kon dalk werk, maar hoe koud word dit agter op so ’n motorfiets? Sou ek ’n truitjie moes saamneem?
Elke dag het ek myself meer in ’n toestand ingedink. Na vier aande van rondrol kon my onderbewussyn ook met geen beter uitrusting vorendag kom nie. Toe het ek vrede gemaak daarmee dat ek met ’n ou T-hemp, wat nogal with-it lyk, ’n paar tekkies en ’n bont truitjie sal ry. Ek sou soos ’n geriatric blommekind vertoon.
Vieruur daardie Sondagoggend het ek opgestaan en ’n sterk koppie koffie gaan maak. Met die beker in die hand het ek voor die klerekas gestaan. Vanwaar my hulp sou vandaan kom om meer geskikte kledingstukke te vind, sou die liewe Vader alleen geweet het.
Ek het beide deure oopgegooi en teruggestaan. Van hoek tot kant het ek die klere deurgekyk. Niks het uitgespring en geskree: Hier is ek om jou funky te laat lyk nie. Maar steeds het ek nie tou opgegooi nie. Ek het weer klere uitgehaal en allerhande kombinasies aangetrek. Elke toppie was betrag en daarteen besluit. Die swart toppies het goed vertoon en dit het my ook skraler laat lyk, maar dan het dit weer te deftig gelyk vir ’n motorfietsrit. Die pastelkleurige bloesies was darem wragtag net te koekerig. Die wit bloesies was hopeloos te klinies. Die ordentlike T-hemde het gelyk asof ek gaan piekniek hou.
My buustelyfies was nie van so ’n aard dat dit vervang moes word nie, maar die skouerbande het nie meer veel elastisiteit gehad nie. En ’n vrou se buuste het seer sekerlik die maksimum ondersteuning nodig gehad op ’n motorfietsrit. Ek het oorweeg om ’n Wonderbra aan te skaf, maar sonder om spoggerig te klink, het ek vir my ouderdom bittermin ondersteuning nodig.
Teen sesuur daardie oggend was ek aangetrek in my rekjeans, my oudste T-hemp en my tekkies. Ek was te benoud om ’n truitjie aan te trek en het dit saam met my sleutels en handsak by die voordeur gesit.
Moes ek haarsproei aanspuit? Nee wat, ek gaan mos die valhelm ophê so my hare sal nie deurmekaar waai nie. Maar hoe plat gaan daardie valhelm my hare druk? Ek het ’n tease-kammetjie in my handsak gegooi sodat ek net haastig, by ’n kleedkamer, my hare weer kon uitlig.
Drie minute voor sewe kom die allervreeslikste gebrul in die straat op. My maag wou gaan. Ek hardloop na die slaapkamer en bekyk myself. Lyk ek nie te uitspattig nie? Is daar genoeg tyd om weer te piepie? Die gebrul trek in my oprit op. Twee keer word die petrol oopgedraai en dan word die enjin stil.
Die staanhorlosie het seweuur geslaan en daar is aan die voordeur geklop. Ek sluk amper my kunsgebit in. Ek haal diep asems in en uit en stap na die voordeur. Stadig sodat ek nie te gretig voorkom nie. Ek rol my skouers om die spanning in my nek skiet te gee.
Sy staan met ’n leerbaadjie oor die arm en ’n groot glimlag op die gesig. Ek swaai die deur oop en wys haar na binne. Die meisiekind het heerlik geruik.
Soos ek die voordeur toeskuif, sien ek ’n monstrosity van ’n motorfiets in my oprit en ek sien ook hoe mev De Lange se gordyne terugwieg. Ek was so behep met my klere dat ek glad nie aan die bure gedink het nie. Sou mev De Lange kon sien dit was ’n meisiekind wat van die motorfiets afgeklim het? Die kind kon deurgaan vir ’n klein mannetjiesmens. Dalk sou mev De Lange dink dit was ’n aflewering.
Op daai stadium van die spel was dit nog nie te laat om my naam in ere te hou nie. Ek kon vir Becky sê ek was nie alte wel vir die motorfietsrit nie.
Sy het die leerbaadjie na my uitgehou en gesê dit is een van haar ou baadjies.
Sou ek dit kon dra? Dit het gelyk of dit so swaar soos die motorfiets is.
Kom trek aan, het sy gesê.
Ek staan vas en trek die baadjie aan. Dit het soos ’n tweede vel gevoel en was veerlig op my skouers.
Becky het teruggestaan en deur haar tande gefluit.
Hoeveel dekades gelede het iemand laas vir my gefluit? ’n Fyn meisiekind met ’n groot motorfiets het my sexy laat voel.
My oog het die bont truitjie gevang. Ai, ek sou darem alte bespotlik daarin gelyk het. Ek het net my sleutels geneem en die handsak, met die tease-kammetjie daarin, langs die truitjie gelos.
Op my grasperkie het die motorfiets groter as my motortjie gestaan. Die ding waarop ek moes klim, was ook groter as my moed. Ek moes myself weerhou om nie terug in die huis in te hardloop nie.
Becky het ’n valhelm van die motorfiets losgemaak. Sy het dit vir my gegee en ek het dit bekyk en kon nie uitmaak watter kant die voorkant is nie. Sy het dit by my geneem en op my kop gesit. Dit het gevoel asof ek in ’n ander dimensie ingaan. Van huisvrou na biker. Of altans van kerkvrou na biker.
Saggies het sy te werk gegaan om ’n bandjie onder my ken vas te maak. Ek het selfbewus gevoel oor die los nekvelle. Sy het teruggestaan en haar duim in die lug gesteek. Die ou los nekvelle was vergete.
Toe kyk sy my stip aan en sê: Onthou net die belangrikste reël. Jy leun dieselfde kant toe as ek. Al dink jy ons val om, jy mag nie die anderkant toe beur nie. En hou my lyf styf vas.
Soos ’n gehoorsame kind het ek my kop op en af geknik.
Sy het nog ’n valhelm losgemaak en op haar kop gesit. Net haar sagte bruin oë het uitgeloer. Uit haar leerbaadjiesak het sy opgepofte leerhandskoene gehaal en oor haar slanke hande getrek.
Moeiteloos het sy daai kort beentjie oor die ysterperd gegooi en haar onderlyf op die swart leersitplek gewikkel. Na sy haar sit gekry het, draai sy haar kop na my toe en wink dat ek moet opklim.
Becky kon oplet dat ek vastrapplek soek en het met haar leervinger na ’n stukkie metaal gewys.
Ek het getwyfel of ek die ou lyf op daardie stukkie metaal sou kon lig en balanseer. En sou ek nie die ding aftrap nie? Ek het my voet daarop geplaas, my asem diep ingetrek sodat al die spiere genoeg suurstof kon kry en met beide hande aan die agterkant van haar baadjie vasgehou. Triomfantelik rys my liggaam; ek swaai die ander been oor en gaan sit met ’n plofgeluid.
Ek kyk oorkant die straat. Mev De Lange se gordyne was wawyd oopgetrek en haar mond ewe wawyd oopgeval. Ek het regtig nie omgegee wat sy sien of hoe sy dit sou oorvertel nie. Dalk het ek belaglik gelyk, maar ek het nie belaglik gevoel nie. Ja, ek het bang gevoel, maar ek het ook jonk gevoel. Ek het wanted gevoel.
Nog voordat die vrees vir opklim kans gehad het om uit te trek, brul die motorfiets. ’n Kragtige trilling trek vanaf my boude tot in my dubbele ken. Becky het skuins agtertoe gekyk en gevra of ek reg is. Ek was nie, maar het ja geantwoord. Ek het op my tande gekners en gewag vir ’n geweldige ruk onder my liggaam. Inteendeel, soos op ’n sweefspoor, het my liggaam vorentoe beweeg.
Ek het my arms om haar lyf geplaas. Die motorfiets het vinniger beweeg en dit het gevoel asof ek onder my vrese uitry. Ek het haar stywer vasgehou.
Ons het deur die woonbuurt se strate gery en dit het gevoel asof ek ’n verstokte ou wêreld agterlaat. Ek het geweet dat daardie motorfiets teen ’n ongoddelike spoed kon ry, maar sy het stadig en statig oor die teer beweeg.
Daar was weer ’n VVV-vergadering. Ek het genoem dat ek ’n ontbyt bygewoon het en hoe aangenaam dit was. Ek kon op die gesigte lees wat die uitslag gaan wees nog voor mev Swart dit hardop uitgespreek het. Die vroue was almal van mening dat die motorfietsryery nie betaamlik was nie. Hulle wou ook nie geassosieer word met onheilige dinge of mense nie.
Ek het nie geargumenteer nie, want ek het hulle verstaan. En vergewe. Ek het die konsistorie uitgestap en in die motor die meisiekind gebel en gevra of sy die aand kerrie by my wou kom eet.
Die lekkerte van ’n oop kop hou, is om terug te kyk en sien hoe ver mens gekom het.
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie
Kommentaar
10/10 Rita Swanepoel. Ek het 'n paar jaar terug by 'n mansbybelstudie - wat toe al meer as 25 jaar loop (almal al 60 plus in jare) - een aand vir die manne pront geseg hoe ek oor hierdie saak voel en wat is hulle siening? Ek het geweet ek steek my kop uit. Wat was ek stom verbaas oor die eenmanpositiewereaksie. Feitlik geeneen wat nie familie of vriende het wat ook anders is nie - nee, nie sg abnormaal nie - net anders. En dit is wat dit is. Van ons kinders se vriende wat ook ons vriende is, want dis soos ons die lewe bedryf, en selfs nie-amptelik as aangenome kinders van ons gepraat word.
Baie dankie, Pieta, vir hierdie ervaring en deel.