"Om terug te keer na die begin; om vreugde te vind" – Jan Blohm oor sy konsep-album Jenny

  • 2

Jan Blohm het geen bekendstelling nodig nie. Hy is ’n rock- en bluessanger en hy betower al vir jare musiekliefhebbers met sy  lirieke en fluweelstem.  Sy nuwe konsep-album, Jenny, is pas vrygestel. Remona Voges het met hom gesels.

Foto van Jan Blohm: Coetzer Cooke

Hallo Jan! Jou konsep-album, Jenny, is onlangs vrygestel. Wat presies is ’n konsep-album?

Vir my is ’n konsep-album ’n groep songs wat rondom een idee/konsep speel. Een werk, een samehorigheid. Jenny se album is die eerste keer wat ek dink ek redelik suksesvol was om ’n konsep-album te maak. Met ander woorde, dit is ’n klomp liedjies wat geskryf is vir ’n spesifieke rede – ’n storie – en die storie gaan oor twee jongmense en hul families. Die jong man is ’n skrywer en die meisie is Jenny. Elke liedjie vertel ’n stukkie van die storie. Dit is nie in chronologiese volgorde op die album nie.

Wat het jou geïnspireer om hierdie struktuur aan te pak en hoe lank het hierdie projek jou besig gehou? Was dit ’n groot uitdaging in vergelyking met van jou vorige werk?

Om te bly by tema-gedrewe werk. In plaas van om te kyk hoeveel liedjies jy op die CD kan sit wat op die radio sal speel. Ek wil iets vir mense gee wat hulle van die begin tot einde kan luister. Ek was by ’n beeldhoustudio (Ruan Janse van Vuuren s’n) en die studio was net vir my ’n uiters kreatiewe spasie gewees en die storie het na my toe gekom. Ek het ’n jaar en ’n half daaraan gewerk. Ons het die album binne 3 maande opgeneem, so ja, dit was ’n groot uitdaging. Maar ek het ’n baie groot span gehad wat my gehelp het.

Vertel ons lesers asseblief oor die album en spesifiek ook die titel van die album? Wie is Jenny? Watter rol speel sy in die narratief van die album?

Die naam Jenny het net by my opgeskiet. Die naam is jeugdig en ’n uitdaging. Om terug te keer na die begin; om vreugde te vind. Soos ’n swaeltjie ná somer ’n ander somer gaan soek en baie keer op dieselfde plek opeindig. Jenny is die somer wat die swaeltjies dryf om terug te gaan huis toe.

Jy beskryf die album as "’n fliek van Jenny se lewe". Dink jy die storie sal op die silwerdoek werk?

Ja, ek beskryf dit as ’n fliek. Dit is hoe dit na my toe gekom het. Dit het ’n begin gehad, karakters wat ontwikkel het, ’n protagonis, storielyne wat ingeweef is. Dit was baie bevrydend om so baie angles op een tema te hê. Ek is mal oor films en draaiboeke en stories. Hoe films gemaak word ensovoorts. In my kop het die fliek al afgespeel. Ek dink dit sou definitief kon werk as ’n rolprent, ja.

Vertel ons asseblief van die bekendstelling wat op 17 Julie plaasgevind het. Jy het ook een van jou skilderye tydens dié geleentheid opgeveil. Wat is die storie agter dié skildery?

Dit was vir my ’n groot dag. Dis soos wanneer jy werk aan ’n kunsuitstalling. Dis die aand wat jy jou werk tentoonstel. Daar is ’n finaliteit wat daaraan gekoppel is. Ek het baie tyd spandeer om voor te berei om die storie so effektief as moontlik te vertel. Ja, ek het ’n skildery opgeveil – daar is betekenis agter die skildery. Ek sal nooit iets aanpak waaraan daar nie betekenis is nie, maar deesdae het ek ophou verduidelik oor als, anders klink dit of alles oor my en my mening gaan. Vir my gaan dit deesdae oor die interpretasie van die luisteraar of kyker. So, die storie is die storie van die mense wat dit sien.

Hoe was die ervaring om ’n virtuele bekendstelling te hou?

Om op te tree sonder ’n gehoor is baie vreemd vir my. Ek dink jy kry ’n gevoel. Met ’n live audience is daar terugvoer van die gehoor. Om vir ’n selfoon te sing was vir my regtig vreemd. Mens is gewoond aan die kontak. Dit voel amper of ek cover songs van myself sing. Maar ek het na die tyd gaan kyk en dis ongelooflik hoeveel mense jy kan bereik. Dit het darem makliker geraak. Daar was darem ’n paar mense saam met my wat my baie goed ken (binne inperking-regulasies), so hulle het my baie gehelp. Maar ek wens steeds ek kon dit "face to face" met ’n gehoor deel.

Foto van Jan Blohm: Coetzer Cooke

Jou enkelsnit "Ou Karoo" is ook onlangs vrygestel. Vertel ons ’n bietjie meer van dié song. Wat is jou spesiale verbintenis met hierdie landskap?

Ek dink die Karoo sal altyd vir my op dieselfde frekwensie as Gert Vlok Nel wees. My gunsteling-Afrikaanse skrywer, digter, kunstenaar. Daar is iets in die reinheid en ritme van die Karoo wat my aangegryp het. Dit het my eers aangegryp toe ek mense van die Karoo begin ontmoet het. Ek het dit nooit raakgesien totdat ek die mense agter die landskappe ontmoet het nie. Dit het vir my baie spesiaal geraak. Die Karoo is gekies vir die agtergrond van hierdie storie vir ’n baie spesifieke rede. Alles in die storie het simboliek teenoor mekaar. "Die ou karoo" gaan oor die kontras tussen ’n baie droë, harde wêreld wat mense kan breek, maar wat ook baie genade het. Dit is ’n baie eenvoudige en simplistiese plek. Daar is nie tolhekke nie en kaartjies wat jy by ’n winkelsentrum moet betaal nie. Daar is nie iets anders om te sien, behalwe die Karoo nie. Dis ’n plek van absoluut wees.

Na watter plaaslike kunstenaars kyk jy op en hoekom?

My hele lewe as ’n kunstenaar het begin toe ek die dag op skool ’n boek van Breyten Breytenbach opgetel het. Hy het ook later my naam vir my gegee. Jan Blohm kom van ’n boek wat hy onder die skuilnaam Jan Blom geskryf het. Dit het my absoluut gevorm. Mense wat ’n groot invloed op my lewe gehad het is Anton Goosen en ook veral Piet Botha, wat my reëlboek van die lewe op die pad oor integriteit, van opstaan en aangaan en lojaliteit geskryf het. Ek het ongelooflik baie by hom geleer. Ek sou nooit Melkstraat confessions gemaak het as ek nie ’n Suitcase vol winter gehoor het nie. En dan natuurlik is daar Gert Vlok Nel wat vir my ’n fenomeen is. Wat ek lees van hom is wie hy is. Dit is vir my verskriklik mooi. Ek het maar klaar besef en vrede gemaak ek sal seker doodgaan as ’n liedjieskrywer en nie ’n digter nie, maar ten minste is daardie ambag in gode se hande.

Jan, jy is al lank in die musiekindustrie. Wat is een van die grootste lesse wat jy al op jou pad geleer het?

Elke dag leer ’n ou lesse, maar ek dink ek is baie dankbaar dat ek tot nou oorleef het in die musiekindustrie. Soos ’n ou ouer word en rustiger is, raak sekere goed meer belangrik en ander weer minder belangrik. Ek dink my grootste les is, en wat ek baie dankbaar is dat ek nou weet, is dat alles nie oor my gaan nie, dit gaan eintlik glad nie oor my nie. En dit is wonderlik om dit te kan opgee en in ander mense te glo en vertrou.

As jy saam met een internasionaal bekende musikant kan collaborate en/of op die verhoog sou verskyn, wie sou dit wees?

My grootste droom was om een keer saam met Piet Botha te kon optree. Die grond waarop hy geloop het was vir my goud. Net kort voor sy afsterwe sou ons ’n kans gehad het om saam by ’n groot show op te tree. So, ek hoop eendag, waar ook al ons ons sal bevind, ek ’n kans sal kry om net één tune saam met hom te doen.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top