Om te tweet soos ? digter en ? gedig te laat tjirp – leer by Bibi

  • 2

<br />
Bibi Slippers bied by vanjaar se US Woordfees, op 14 en 15 Maart, ‘n boeiende werkswinkel aan vir hoërskoolleerders wat ook aspirantdigters is, befonds en gereël deur die ATKV en JIP.

 

Hoe kan mens iemand leer om gedigte te skryf? Hoe word mens ‘n digter in die digitale era? Hoe lyk ‘n ideale jong digter? En waar kan aspirantdigters meer inligting oor die werkswinkel kry? Rentia het haar nuuskierige ore aangesit en by die vriendelik-tjirpende Bibi gaan aanklop.

Die tema van hierdie jaar se Woordfees is ’n transformasie van Martino se bekende “Kul jou hier, kul jou daar – en siedaar!” Kan jy hierdie tema by die skryf van gedigte betrek? Is digters kulkunstenaars wat iets uit die niet optower?

Bibi: Digters tower nie dinge uit die niet op nie. Hulle neem bestaande dinge en tower dit om in iets heel anders. Dalk is digters meer soos kokke of towenaars as kulkunstenaars?

Daar is seker wel ooreenkomste tussen digkuns en kulkuns. As mens weet waarvoor om op die uitkyk te wees en dit lank genoeg bestudeer, kan jy gewoonlik uitwerk hoe ’n digter (of kulkunstenaar) se truuk inmekaarsteek. Die beste digters en die beste kulkunstenaars verklap nie hulle geheime maklik nie – dink aan daardie film The Prestige. Jy kan ook nie op ou bekende truuks staatmaak as jy die gehoor in jou handpalm wil hê nie. Mense wil verras word.

In watter behoefte voorsien die werkswinkel?

Ek kan nie regtig namens ander mense praat nie, maar ek sou beslis self kon gebaat het by ’n bietjie leiding toe ek op hoërskool was. Daar is baie mense wat graag met woorde rondtjommel, en soms is ’n ligte stampie in die regte rigting deur iemand wat ’n klein bietjie meer as jy weet, al wat nodig is om ’n getjommel in ’n meer gefokusde en produktiewe kreatiewe onderneming te verander.

Watter benadering tot die skryf van gedigte gaan jy volg?

Ek gaan geen spesifieke benadering volg nie, want nie dieselfde proses werk vir almal nie. Dis elke ou se eie penarie om uit te werk hoe hy of sy aan die skryf kom en hoe die kreatiewe proses vir hom of haar werk. Ek gaan eerder basiese beginsels bespreek wat enigiemand kan toepas om ‘n meer geslaagde gedig te skryf – hoe jy ook al die skryfproses benader.

Watter temas word tydens die werkswinkel ondersoek?

Ons gaan kyk na die verskil tussen goeie en slegte gedigte. Die uitgewer Hester Carstens gaan gesels oor die belangrikheid van lees vir skrywers en oor die tradisionele publikasieproses vir ’n Afrikaanse digbundel. Die digter Danie Marais gaan iets sê oor alternatiewe (of dalk eerder meer eietydse) publikasiekanale, soos die internet. Alfred Schaffer (digter) gaan spesifiek praat oor hoe mens jou eie werk redigeer, en Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar oor gedigte en lirieke. Al die gasdigters sal ook oor hulle eie werk en skryfprosesse gesels. Verder gaan ons kyk na die werk van digters van wie die deelnemers dalk nog nooit gehoor het nie, hulpbronne wat mens kan gebruik om jouself te help verbeter, en algemene wenke.

Hoe lyk jou ideale deelnemer aan die werkswinkel?

Soos ‘n jong Jared Leto. 😉

Die ideale deelnemer is ’n bietjie van ’n dierasie. Sy het ’n groot kop om haar sexy, ooraktiewe brein te huisves. Hy het groot ore, om beter te kan hoor, my kind. Groot oop oë wat stip na die wêreld kyk, wat nuuskierig rondloer en nooit toegaan nie. Sy mond is kleiner as sy ore en gewoonlik toe, behalwe as dit regtig saak maak – dan is daar ’n groot stem daar binne wat met mening uitkom.

Moet belangstellendes slegs belangstelling in poësie hê – of verwag jy ‘n tikkie meer?

Ek dink dat ’n belangstelling in poësie ’n breër belangstelling in die wêreld veronderstel. Iemand wat wil skryf, moet verwonderd kan wees – al is dit net verwonderd oor hoe simpel mense soms is of hoe swak party mense bestuur.

Ek sien jy gaan aan die hand van ’n gedig van Danie Marais kyk na wat dit beteken om nié ’n slegte gedig te skryf nie. Wat is jou bedoeling hiermee?

Die bedoeling is maar net om op ’n prettige manier te gesels oor algemene foute wat baie jong digters maak. Danie se gedig is snaaks, maar baie raak: dit vang ‘n klomp dinge vas oor swak poësie wat mens kan help om daardie slaggate te vermy.

‘n Sessie met praktiese skryfoefeninge is deel van die program. Is dit moontlik om iemand te leer om gedigte te skryf?

Mens leer jouself om gedigte te skryf deur te oefen en te skryf. Maar slegs met die terugvoer van ander is dit moontlik om jou pogings te verbeter, tensy jy bomenslik goed is daarmee om objektief na jou eie skryfsels te kyk. Die meeste van ons is nie. As dit moontlik is om iemand te leer houtwerk doen of lasagna maak, is dit moontlik om iemand te leer gedigte skryf. Maar nie almal gaan in Nigella verander of houtkaste maak wat jou oë laat traan nie. Party mense word gebore met ’n aanvoeling vir ’n sekere ding. As gedigte skryf jou ding is, dan kan iemand jou wel help om beter te raak met jou ding.

Hoe het jy ’n digter geword?

Ek sal eers regtig voel ek het ’n digter geword as my eerste eie boek klaar is. Maar ek het ‘n klein bietjie soos ‘n digter gevoel toe een van my gedigte destyds in By se “Digby”-projek bespreek is (die projek het elke week ‘n ongepubliseerde digter se gedig gepubliseer en dan het ’n gevestigde skrywer raad gegee oor die gedig). Ek het nóg ’n bietjie meer soos ‘n digter gevoel toe ek die eerste maal ’n kopie van Nuwe Stemme 4 vasgehou het – dit was die eerste “regte boek” waarin my skryfwerk gepubliseer is. Mens moet ook maar elke keer van voor af weer ’n digter word as jy iets probeer skryf – dis gelukkig ewe lekker en ewe moeilik.

Wie se gedigte lees jy graag / inspireer jou?

Op die oomblik lees ek die meeste Anne Carson. Ek voel altyd jaloers op haar en ek dink jaloesie is ’n teken dat jy iets raaksien wat jy graag in jouself sou wou ontwikkel. Ek hou ook baie van Anne Sexton, Antjie Krog, Elizabeth Bachinsky, Billy Collins en Anne Michaels. Ek lees op die oomblik Kaar deur Marlene van Niekerk. Ek sien uit na Andries Bezuidenhout se nuwe bundel wat een van die dae uitkom. Ek snuffel aldag op blogs rond vir gedigte deur mense wat vir my onbekend is.

Waarmee is jy tans besig wat poësie betref?

Ek probeer uitwerk hoe mens gedigte skryf wat aanloklik is vir lesers in die era van die internet. Ek wil hê dat my gedigte so snaaks soos party mense se tweets moet wees, of soos .gifs of YouTube-video’s, en dat dit die spontaniteit van e-pos-korrespondensie of gmail chats moet hê. Ek werk op die oomblik net hard daaraan om daardie tekstuur te probeer vertaal na poësie – dis moeiliker as wat ek gedink het. Ek skryf gedigte oor instagram, internet dating – en skape. Altyd skape.

Wat is die invloed van die informasie-era, met digitale hulpmiddels en die kwyn van gedrukte media, op poësie? Hoe lyk gedigte – of behoort dit te lyk – in die era van die internet?

Soos ek hier bo gesê het, is dit juis wat ek probeer uitwerk. Dis ’n opwindende tyd om ’n digter te wees, want tegnologie bring baie interessante moontlikhede en kreatiewe geleenthede mee. Mens kan lekker speel. Dis ook ’n baie moeilike tyd om ’n digter te wees, want gedigte is moeite en soms moeilik en uitdagend en dit kos inspanning om te skryf en te lees. In die era van .gifs en tweets en memes en status updates is alles meer disposable. Alles is vervlietend en het ’n super kortraklewe. Ek is nog nie seker of poësie dit kan omhels of eerder ’n teenvoeter vir hierdie kultuur moet wees nie. As ’n gedig al twee daardie dinge gelyk kan doen, sal dit my geweldig beïndruk.

Jy was self redakteur van Nuwe Skryfwerk by LitNet. Hoe kan jy raad aan aspirantdigters in ’n neutedop opsom?

Gebruik al die hulpmiddels tot jou beskikking – die internet is magtig; jy kan enigiets leer. Verder moet jy net lees en lees en lees en by alles vassteek wat jou aandag behou en wat jou jaloers laat voel, en probeer uitwerk hoekom, en hoe jy dit kan nadoen of verbeter.

Meer inligting oor die werkswinkel:
Wanneer: 14 en 15 Maart 2014
Wie: Die werkswinkel is vir hoërskoolleerders. Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar, die digters Danie Marais en Alfred Schaffer en die uitgewer Hester Carstens gaan gaslesings aanbied.
Prys: R200 per leerling. Die bedrag sluit die kursusmateriaal en ligte eetgoed in. 
Waar: Die JS Gericke-biblioteek se ouditorium op die kampus van die Universiteit Stellenbosch, tydens die US Woordfees.
Hoe: Die inskrywingsvorm en die bankbesonderhede is by ­atkv.­org.­za beskikbaar. Kliek daar op die skakel “ATKV/JIP-Gedigtekompetisie”. Die sluitingsdatum vir inskrywings is Woensdag 26 ­Februarie. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na Jeanné Naudé van die ATKV by jeannen@atkv.org.za, of tree in verbinding met Riëtte Grobler van JIP: riette.grobler@media24.com.

Bibi gaan ook tydens die Woordfees 'n onderhoud voer met Etienne van Heerden oor sy boek Klimtol (2013). 10 Maart in die Boektent. Vir meer informasie kliek hier. Die voorbladmodel van die roman Klimtol gaan sy trieks kom gooi tydens hierdie onderhoud.  

Lees ses "instagram-gedigte" van Bibi Slippers op LitNet:

Normal
Amaro
Hudson
X-Pro II
Sierra
1977

  • 2

Kommentaar

  • Johan du Plessis

    Wie kan my help met kritiek op iets wat ek geskryf het? Ek sal dit werklik baie wardeer, hoor graag van julle Groete

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top