Om te kan vra

  • 1

Naomi Meyer het vir haar vierjarige kind uit Mummy never told me begin voorlees:

Mummy never told me that life is full of little secrets ... Why must I go to school when Mummy was expelled from hers? Why do Mummy and Daddy lock me out of their bedroom? Where do they go at night?

Die illustrasies in die boek toets ook grense. Kaal mans en vroue jaag mekaar deur die blaaie.

Vir die (voor)lesende ma was daar rede tot gesprek. Met haar kind én met volwasse kenners. Sy het ’n paar kundiges op die gebied van kinderboeke uitgesoek en vir hulle gevra wat hulle van boeke soos hierdie dink. Sommige van die kundiges het gekies om die vrae as ’n geheel te beantwoord. Hier is die vrae en die antwoorde volg daarna:

Wanneer is ’n boek nie geskik vir kinders nie, en wanneer is ’n boek ’n goeie manier om ’n oop gesprek te hê?

Wat hierby aansluit, is: Moet oop gesprek deur ’n boek aangemoedig word? Is dit nie ewe moralisties of aanmatigend as om te sê ’n onderwerp is taboe nie? En is ’n boek nie bedoel om sommer net genot te wees nie – waarom ’n boek aan omstrede onderwerpe koppel? 

Hoe ver het Suid-Afrikaanse (Afrikaanse!) boeke nog nodig om te vorder voordat hulle die stof van omstredenheid afgeskud het en sommer net vrolike en tong-in-die-kies boeke raak? (Met ander woorde – ek sien kontroversie hier raak, maar dalk is hierdie onderwerpe bloot storiemateriaal as die kultuur waarbinne dit verskyn, nie eng en verstok dink nie.)

Talle kinderboeke word geskryf om dit vir ouers moontlik te maak om moeilike onderwerpe met hulle kinders te bespreek.

Waar kom babas vandaan?

Komaan, wie sal sonder om te bloos die volgende vir ’n kind sê? “Pappa het sy penis in mamma se vagina gesteek, heen en weer gewikkel en toe sy semen in haar ingespuit.”

Dit sal in elk geval nie help nie. Die arme bloedjie sal effens verbouereerd “o” sê en steeds geen idee hê waar babas vandaan kom nie. Kinders kan eenvoudig nog nie die emosionele konsep van seks snap as hulle té klein is nie. Ek sal later hierop uitbrei, maar van belang is Babette Cole se ongelooflike kinderboek oor hierdie onderwerp.

Jip. Seks het vir Babette Cole bekend gemaak.

Haar groot deurbraak was Mummy laid an egg! Die teks is in 1993 deur Linda Rode in Afrikaans vertaal as Mamma het ’n eier gelê. Human & Rousseau was die uitgewer.

Klik hier om Mummy laid an egg te koop by Kalahari.com.

Ek en die geliefde het die teks in 1995 aangeskaf en het talle jong kinders die feite van die lewe gewys aan die hand van hierdie boekie. Talle van ons vriende se kinders het kom vra vir daardie boek as hulle by ons opdaag vir ’n kuier. Keer op keer.

Waarom is dit so ’n sukses? Want dit vertel pront die waarheid sonder om walglik te wees. Dit gebeur op ’n manier wat vir kinders totaal en al aanvaarbaar is, ook met woorde wat hulle verstaan.

Die storie verloop kortliks soos volg: Pa en Ma vertel vir die kinders dat party babas uit eiers kom (soos kuikens), ander uit saadjies (in blomme), ander uit buisies (wat, volgens die tekeninge, ’n buisie is waarmee ’n mens deeg op bakplaat druk om gemmerkoekmannetjies mee te bak). Die kinders luister dan baie mooi, maar bars uiteindelik uit van die lag. Húlle verduidelik dan aan die ouers hoe dit werk: Pappa het ’n buisie, dit pas in Mamma se gaatjie (op ’n baie spesiale manier). Pappa se saadjies hou dan ’n resies na mamma se eier toe. Die wenner maak dan dat Mamma se maag groter word, en groter en groter! Dan kruip die baba weer by mamma se gaatjie uit.

Alles is natuurlik korrek, maar dis die humor waarmee die onderwerp aangebied word wat die kinders laat skaterlag. En die grootmense? Wel. Ek het die ander dag ’n vriendin uitgedaag om al daardie seksposisies te probeer met haar man. Dit kan enige huwelik net goed doen.

Die kinders weet nou Mamma en Pappa doen dit, maar ook nie regtig nie. Die feite is vertel, daar is saam gelag en niemand was skaam nie. Mummy laid an egg! leer vir kinders die feite sonder dat hulle hoef te bloos. Belangriker nog, dit help ouers om die waarheid te vertel, sonder om te bloos.

Om te kan “nee” sê

En die waarheid is belangrik. Dink aan Leon du Plessis se uitstekende kinderboek Parmant (deur Lapa uitgegee). Al die grootmense wil aan Parmant vat. Hy sê egter vir almal: “Dit is my lyfie en ek sê nee, nee, nee!”

Klik hier om Parmant te koop by Kalahari.com.

Dié sinnetjie word oor en oor herhaal, die kinders sê dit later sommer voor jy dit nog hoef te lees.

Ja, dit klink parmantig, maar dis wat kinders aan grootmense móét sê. En dit werk. Ons het jare gelede die boekie vir vriende present gegee. Einde verlede jaar swem ons toe daar by hulle en die kleinding kom hardloop daar rond – nou ’n parmantige ses jaar oud. Pa sê nog so ewe hy moet darem klere aantrek en ek vra of ’n mens sy maag mag kielie, waarop hy, sonder om ’n oomblik te huiwer, vir my sê: “Dit is my lyfie en ek sê nee, nee, nee!”

Ek het onmiddellik hande geklap en vir hom gesê die regte antwoord.

Vir my eie seun het ek ook hierdie rympie geleer – aan die hand van Parmant.

Kinders ís seksuele wesens, dis waar. Hulle sal maklik speel “Ek wys jou myne as jy joune vir my sal wys.” Hulle sal ook op ’n vroeë ouderdom begin vat aan hulle vagina of penis, en party kinders, so jonk as ses, kan al genot put uit die speel met die organe. Dit beteken egter nie dat hulle die konsep van seks verstaan nie.

My seun, nou nege, skakel nog af as daar (selfs net liggies) gevry word in flieks waarna hy kyk. Hy kan eenvoudig nie verstaan dat ’n man en vrou wil soen nie. Newwermaaind ander goed doen.

Dit is soms waar dat sommige kinders in huise grootword waar seks openlik gepleeg word en daardie kinders het dan ’n baie deeglike idee van wat grootmense doen, maar dis eers tydens puberteit dat kinders werklik lus raak vir aksie. Die rede waarom kleiner kinders nie veronderstel is om seks dop te hou nie, is juis dat dit emosioneel nog net gewoon nie vir hulle sin maak nie.

Ander vrae

Maar daar is meer as seks waaroor kinders wonder:

  • Waarom is party mense gay?
  • Waarom het party mense (soos Izak de Vries) meer hare in sy ore as op sy kop?
  • Waarom lyk party mans soos vroue, of andersom?

Dit is presies waar Mummy never told me inpas. (Later in Afrikaans uitgegee, deur Human & Rousseau, as Mamma het my nooit vertel nie.) Babette Cole stel al hierdie vrae op só ’n manier dat die kwessies aangeraak word, maar baie, baie belangrik is die antwoord teen die einde: Eendag, as jy reg is, sal Mamma jou vertel.

Klik hier om Mummy never told me te koop by Kalahari.com.

En dís die krag van hierdie teks. Daar word nie direksie gegee nie, daar word vrae gevra, die gesprek word geopper en die antwoord is: Jy sal hoor wanneer jy reg is.

Vir ma’s wat dus nie kans sien vir die gay-kwessie (of enige van die ander) nie, is dít die antwoord: Jy sal hoor wanneer jy reg is.

Party ma’s sal kies om te sê: “Liewe Jesus het jou so gemaak.”

Nog ander sal sê: “Die duiwel het in hulle ingevaar.”

Die feit is: die saak word geopper. Dit word in die ope gebring. En die ma het ’n ontsnaproete as sy nie die saak wil aanraak nie. (Pa’s sal gewoonlik net sê: “Vra jou ma.”)

Ons eie seun gaan gereeld kerk toe saam met sy ma – wat aan ’n gayvriendelike denominasie behoort. Feitlik almal daar is gay, of biseksueel. Ons knaap is dus uiters bewus daarvan, en tog kan hy geen emosionele konsep plaas op mans wat hande vashou nie. Hy sien dit, maar dis vir hom hoegenaamd nie iets wat mens doen uit emosionele redes nie.

En dis presies die punt. Kinders hóór hierdie goed. Hulle sién dit, en hulle gáán vrae vra.

Praat daaroor, maar maak seker jy weet wat om te sê. Al is dit dan net: “Kom ons lees hierdie boekie.”

Die dood

Kinderboeke kan meer doen as om kinders in te lig oor seks en seksuele voorkeure. Dit kan ook die dood help verpersoonlik.

Wolf Erlbruch se ongelooflike boek Eend, Dood en Tulp is ’n móét op enige boekrak.

Klik hier om Eend, Dood en Tulp te koop by Kalahari.com.

In hierdie boek leer ’n eend om met die dood om te gaan, maar ook om te léwe terwyl jy hier op aarde is.

Dit is werklik een van die ongelooflikste kinderboeke wat nog geskryf is.

Kinders leer vroeg al die dood ken. Oupas, oumas, maatjies, honde, katte en selfs ouers gaan dood. En die dood is ’n konsep wat eintlik nie verstaan kan word nie. Self grootmense sukkel om dit te verstaan.

En omdat grootmense dit nie kan verstaan nie, kan hulle dit nie aan kinders verduidelik nie.

Hierdie boek help kinders om die dood aan te spreek, en met “hom” vrede te maak. Geen kind se boekrak behoort sonder Eend, Dood en Tulp te wees nie.

Gebroke verhoudings

En wat van verhoudings wat verbrokkel?

Wanneer ek eendag bankrot speel, gaan ek my eksekuteure opdrag gee om Lapa te dagvaar vir ’n persentasie van die geld wat my vrou al op Die prinses van die Afrika vlaktes, deur Alana Bailey, uitgegee het.

Klik hier om Die prinses van die Afrika vlaktes te koop by Kalahari.com.

Dit moet een van die klassieke Suid-Afrikaanse tekste wees, en een wat ek hoog sal aanbeveel as een van die beste Afrikaanse kinderboeke wat nog ooit geskryf is. Die storie is voortreflik en die sketse, deur Emily Bornoff, is eenvoudig iets wat boekliefhebbers moet sien en besit.

Tog gaan dit oor ’n prinses wat verlief raak, net om die man te verloor as hy koue voete kry. Ja, hy kom nie terug vir ’n sprokieseinde nie.

Die boek maak dit duidelik dat jy mág huil as ’n verhouding nie uitwerk nie. Maar dit vertel ook aan ons dat jy sterker anderkant uitkom – al is die einde nie ’n tipiese sprokie nie.

Hierdie boek, wat ook in Engels beskikbaar is as The princess of the African Savannah, is waarskynlik die beste teenmiddel wat ’n slagoffer van ’n gebroke verhouding kan inkry. My vrou het dit al aan talle vriendinne gegee. (Ek wonder wat dit oor verhoudings sê.)

Die feit is egter dat kinders nét soveel geraak word deur die uitsaaiings wat gebroke verhoudings tot gevolg het. ’n Boek soos hierdie kan dus aan jonk én oud troos bied.

Mense met gebreke

Of wat van kinders wat ánders is ander? Daar het onlangs drie boeke by Protea Boekhuis verskyn wat hierdie kwessie aanspreek.

Die beste van die drie is waarskynlik Die voëltjie wat nie kon fluit nie, deur Gry Kappel Jensen.

Dit handel oor ’n voëltjie wat eenvoudig nie kan fluit nie, hoe hard sy ouers ook al probeer met ekstra klasse en dies meer. Natuurlik glo die ouers dan later dat daar ook fout is met sy vlerke én met sy brein – wat natuurlik nie waar is nie.

Klik hier om Die voëltjie wat nie kon fluit nie te koop by Kalahari.com.

Die voëltjie gebruik uiteindelik sy vlerke én sy verstand om sy gebrek te bowe te kom. Lees self hoe.

Dirkie, deur Guido van Genechten, is nog ’n voorbeeld – dié keer oor ’n hasie met ’n fisieke gebrek. Die teks is geskik vir kinders van vier tot honderd en vier, want die oplossing lê in selfaanvaarding – en in die vermoë om jou gebrek te kommunikeer.

Klik hier om Dirkie te koop by Kalahari.com.

Laastens wil ek nog ’n boek deur Gry Kappel Jensen noem: Kerneels die geel kat.

Klik hier om Kerneels die geel kat te koop by Kalahari.com.

Kerneels is anders. Hy is geel, en die ander katte nie. Wanneer Kerneels egter leer dat hy spesiaal is, júís omdat hy anders lyk, dan ... nou ja, lees maar self.

Opsommend

Van belang is dat nie een van die tekste wat ek hier genoem het, ’n morele lessie ingebou het nie. Niks.

Soos in ’n goeie roman word hier ge-show en nie ge-tell nie. Die kwessies word aangespreek, maar word telkens só hanteer dat ma’s (of pa’s) en die kroos daaroor kan gesels.

Dít maak van Babette Cole ’n meester. Dít maak ook dat ek al die ander tekste wat ek hier noem, aanbeveel.

Soms moet kinders net die moed kan hê om iets te vra wat pla. En soms moet Ma en Pa die gereedskap hê om oor die saak te praat sonder om die kind te verwar.

Dankie tog vir goeie kinderboeke.

 

<<< Keer terug na die indeksblad vir hierdie seminaar.
 

 

  • 1

Kommentaar

  • Baie dankie vir 'n oulike artikel. Ek word deesdae baie met die bytjies en blommetjies gesprek gekonfronteer. En die boeke lyk na 'n fantastiese beginpunt vir sulke gesprekke.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top