Om te durf aanhou skryf – Carié Maas gesels oor haar manuskrip vir die GAR

  • 0

Carié, baie geluk met die toekenning van die GAR Debuutprys.  Vertel ons kortliks van die manuskrip wat jy voorgelê het?

Die geboorte van ’n baba krap die rowe af van ’n gesin wat jare tevore ’n gestremde boetie weens ’n onnatuurlike sterfte verloor het. Koljander word vertel uit die perspektief van Karen, ’n  jong ontwerper, en haar pa, Hendrik, ’n siniese fisikus. Die storie gaan draai by ’n buite-egtelike verhouding en ’n reis na Mali, en tussendeur vleg onder meer ’n bietjie mandjiewerk, rooi wyn (en rooi koeldrank), genetika en ’n knippie sout.

Foto: Christine Cronje

Jy het tydens jou toespraak by die prysuitdeling gesê dat jy eintlik reeds op agtjarige ouderdom gedebuteer het met "Die allenige prinses", ’n vyf bladsy lange verhaal.  Het jy jouself intussen ook besig gehou met skryf?

(Ek weet nie eintlik hoe oud ek was nie, die ‘manuskrip’ kom uit ’n boks met wisseltande en selfgemaakte Kerskaartjies, maar allenig is met een l en twee e’s gespel.) As die joernalistiek tel, het ek ’n paar sake-, geskiedenis- en leefstylstories en rubrieke op my kerfstok, en ’n sakebiografie. My fiksiepogings tot nou het uitgeloop op een dooie kortverhaalbundel, een dooie roman, en Koljander het self ná sy eerste ronde byna lepel in die dak gesteek. Twee of drie kortverhale is wel gepubliseer.

Waarom het jy besluit om vir die romanwedstryd in te skryf?

’n Bepaalde afsnydatum noop dissipline, en die hoop dat ’n mens terugvoering oor jou werk sal kry. Noem dit die werk-deel van  ora et labora.

Is daar nog ruimte vir fiksie in die hedendaagse wêreld, en veral in Suid-Afrika, waar die waarheid dikwels heelwat vreemder as die vreemdste fiksie is?

Miskien is ek te nat agter die ore vir filosofiese uitsprake, maar die interaksie tussen ons stories is dalk wat ons help sin maak van die vreugde en verdriet van hierdie land, al is elkeen se waarheid vir die ander vreemd – ek ry soggens met die Soweto-bus Sandton toe. Maar waar feite wreed kan wees, is fiksie ’n sagter en genadiger manier om wat nog rou is te verwerk. Wat anders as poësie en humor kan ons red?

Hoe beïnvloed hierdie toekenning jou planne vir die onmiddellike toekoms, en die jare vorentoe?

Ek en Madeleine Volschenk, wat saam met my op die kortlys vir die debuutprys was, was dit die aand van die prysuitdeling eens dat die blote benoeming ’n mens die vrede gee dat jy durf aanhou skryf.  

Keer terug na die GAR–indeksblad. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top