Om te beïnvloed

  • 0

Foto: Canva

Om te beïnvloed

“Flippen hel, Arno, wie is die boss babe hier?” vra Monique. “Jy is net die producer en ek die celeb-influencer. Hierdie is my show en I will call the shots.”

Ek haal diep asem. “Wat is die probleem, Monique?”

“Kamera een moet meer na regs.” Sy wys met ’n gemanikuurde hand en lang, ligpienk salonnaels na regs. “Jy weet my regterkant is my goeie kant. Stel dit reg.”

Ons kan nie ’n argument kort voor die regstreekse opname bekostig nie, so ek bly stil.

“Onthou om aanvanklik alles rondom my af te neem. Zoom eers in as ek gaan sit. My followers moet my Louis Vuitton-handsak, die Carrol Boyes, Irma Stern en unboxed items reg aan die begin sien.” Sy gooi haar perfek gestileerde, heuningblonde poniestert oor haar skouer.

“Reg so,” sê ek en kyk na die kameramanne wat met rollende oë die petalje gadeslaan.

“Die beligting is boonop te sag,” sê Monique. “Ek wil nie soos Brigitte Bardot op haar sterfbed lyk nie.”

“Alles sal danksy die digitale filters, ingeboude beauty settings en ringbeligting perfek wees,” sê ek. “Jy gaan pragtig lyk, soos altyd. Konsentreer op jou kameragereed-houding, die aanbieding en inhoud. Jy is die kenner van jou leefstyl-en-wellness-niche. Die ingeboude apps werk in real time op die agtergrond, terwyl ons live opneem. Los die tegniese dinge in my en die span se hande. Kan ons begin skiet?”

“Beslis nie!” sê sy. “Ek is só over jou patronising houding. Jy praat nie met ’n kind nie.”

“Ek probeer bloot verduidelik dat alles danksy die filters esteties goed en handelsmerk-veilig aangebied word,” sê ek. “En ek ...”

Sy val my in die rede. “As ek sê die beligting is te swak, dan ís dit te swak en maak jy ’n flippen plan. Dit is waarvoor ek jou betaal.”

Ek vra vir Jakes om die beligting effens op te helder. “Yep,” sê hy en knipoog.

“Ons begin waar ek smeulend, hip popped met my ken effens laer as nou na kamera een kyk,” sê Monique. “Ons gaan almal se aandag en deelname onmiddellik hook.” Haar lang salonwimpers fladder soos vlindervlerke, haar ooglede glinster en haar getatoeëerde eyeliner aksentueer haar Liz Taylor-geïnspireerde violetkleurige oë. In my kontrak moes ek onderneem om nooit Monique se oogomlyning, violet kontaklense, volronde silikoonvergrote lippe en vele ander skoonheidhulpmiddels met enigiemand te bespreek nie. Danksy vele Botox-ingrepe, is haar vel glad en haar subtiel verhewe wenkbroue toon ’n permanente “Ek is so geskok om daarvan te verneem”-boog. Haar uurglasvormige silhoeët is ’n pilates ontmoet plastiese chirurg-triomf.

“Reg so,” sê ek.

“As ek na ongeveer ’n minuut op die sofa plaasneem, gaan ek na kamera twee draai, reg so?”

“Net so,” sê ek.

“Ek gaan eers die unboxing doen en daarna my followers van die swembadkrisis vertel,” sê sy. “Hulle gaan dit love om te hoor hoe ek die swembad moes induik om die hondjie te red. En kan die likes en positiewe vibe-kommentaar reeds voel inrol.”

“Kan ons met die livestream begin?” vra ek.

“Nee,” sê sy. “My make-up is weens jou argumentering gesmudge. Tania, ons moet damage control gaan doen, skat.” Hulle verdwyn in die rigting van die studeerkamer.

Na ’n halfuur sweef Monique in ’n wolk Chanel No 5 die vertrek binne, asof sy op ’n rooi tapyt loop. Sy neem stelling in, kyk na haar Cartier Secret Phoenix Décor-polshorlosie en sê na ’n gelade stilte: “Kom ons begin.”

Die opnamemasjien begin uiteindelik beweeg. “Hallo, my skattebolle, dit is so, só heerlik om weer saam met julle te kuier en te deel. Ek het julle gemis.” Monique is op haar stukke. Sy plaas haar hand op haar bors, haal diep asem en ’n dramatiese stilte volg. Sy vee ’n haarlok na agter, sodat haar diamantoorringe nie ongesiens kan verbygaan nie. “Daar is soveel wat ek met julle wil deel.” Die kommentaar en likes begin instroom. Sy sluit af met die voorafbeplande cliffhanger: “Ek gaan julle môre die res vertel, so wees gereed vir nog ’n deep dive. Ek gaan weer bederfies weggee, danksy ons wonderlike borge. Onthou om te like, share, save, double tap, indien jy dit love en veral om te subscribe. Dit beteken oneindig baie. Ons staan kort duskant 900 000 followers. Lewer kommentaar hier onder. Ons lees en reageer op alles.” Sy leun vertroulik vorentoe en sê sagter: “Onthou ek looove julle. Julle is my familie. Ek is só blessed, want ek is omring deur julle liefde en positiewe vibes. Toedeloe tot môre.” Sy blaas ’n soen na haar volgelinge.

Sy kyk onmiddellik wat die kykerrespons sover is. “Dit lyk goed. Jammer as ek dalk ietwat bossy was. Jy kan dalk sien ek is in ’n slegte space.”

“Dis okay,” sê ek.

“Ek moet voorberei vir môre,” sê sy en verdwyn op teen die trappe.

Toe ek by die voordeur uitstap, parkeer Jacques sy Porsche Taycan Turbo GT voor die huis.

“Hoe gaan dit, pella?” vra hy. My gesigsuitdrukking spreek uiteraard boekdele. “Eish, is dit weer een van Monique se divadae? Kom ons gaan drink ’n stywe dop by die klubhuis.”

Ons loop verby die uitgestrekte gholf- en polobane en luukse huise. Die sekuriteitskompleks is pragtig geleë tussen die Bolandse berge.

Jacques bestel vir ons albei ’n dubbel-whiskey by die klubhuis.

“Vir my ook ’n tequila,” sê ek. “Ek het dit nodig.”

“Ek en jy is beste pelle sedert ons skooljare,” sê ek. “Ek kan eerlik met jou wees, so ek gaan vandag ’n graaf ’n flippen graaf noem, okay?”

Jacques gee my ’n gemoedelike klop op my skouer. “Natuurlik, laat waai,” sê hy.

“Ek weet nie hoeveel langer ek so kan voortneuk nie,” sê ek. “Monique is nie dieselfde persoon as voor sy die influencer-golf begin ry het nie. Ek het wel die inkomste nodig, maar ek is kort duskant breekpunt. Dit is ontsettend stresvol. Ek dink sy is kort duskant burnout.”

Jacques sug en sluk sy whiskey met een sluk weg. “Sy is ook nie dieselfde persoon met wie ek getrou het nie,” sê hy. “Haar online en ware lewe het saamgesmelt. Sy tree die heeltyd op asof sy voor die kameras is en skakel feitlik nooit af nie. Sy sê sy moet ‘always on’ wees. In haar kop is sy alewig aan die influence.”

“Het jy dit al met haar bespreek?” vra ek.

“Dikwels,” sê hy. “Dan ruk sy haar op en sê ek gun haar nie haar celeb-status nie. Sy praat gedurig oor haar opnames en is alewig aan die reageer op online boodskappe, tags, DM’s en mentions. Ek is ook gatvol.” Hy bestel nog twee whiskeys.

“Enige opbouende kritiek is soos olie op ’n vuur,” sê ek. “Ek is mede-verantwoordelik vir die produksies. Sy het ’n obsessie met algoritmes wat haar beloon.”

“Ek het alles probeer,” sê Jacques. “As ek voorstel dat ons iewers heen wegbreek, sê sy dat dit haar momentum sal onderbreek en dat sy aanhangers sal verloor. Haar volgelinge verwag kastig daaglikse updates. Sy is vreesbevange dat haar online opposisie haar gaan verbysteek en drink kalmeer- en slaappille by die hande vol.”

“Hoe tree sy op as julle in die openbaar is?” vra ek.

“Sy word deesdae dikwels voorgekeer,” sê hy. “Dit het aanvanklik haar ego gestreel, maar sy ervaar dit deesdae as onaangenaam.”

“Ek het so gedink,” sê ek. “Ek het haar aangeraai om ’n sekuriteitswag of twee aan te stel. ’n Suksesvolle influencer met soveel volgelinge raak ’n herkenbare gesig met die gepaardgaande risiko’s. Sal jy dit asseblief met haar bespreek?”

Jacques lig sy skouers. “Ek sal probeer, maar ek belowe niks,” sê hy.

’n Vriend van Jacques sluit by ons aan. Ek verskoon my, groet en ry huis toe.

My foon lui kort voor middernag. Dit is Monique. “Het jy die toksiese kommentaar gelees?” vra sy snikkend. “’n Troll wat haarself I Hate Fake noem, sê dat ek fake, irrelevant en ’n pateties aandagsoekende bitch is. Sy sê dat ek lieg, agter filters skuil en dat sy my online uitmekaar gaan trek, ontmasker en vernietig.”

“Moenie daarop reageer nie,” sê ek. “Feeding trolls is wat haar soort soek. Hulle floreer op aandag en reaksie.”

“Lees dit nou, asseblief,” sê sy. “Sy het vandag reeds agt keer vieslike kommentaar gelewer. My volgelinge reageer daarop; sommige net so negatief. Ek is vir die eerste keer ge-ratioed, want daar is veel meer kommentaar en antwoorde as likes en reposts. En die meeste is negatief. Bel my sodra jy dit gelees het.”

“Ons kan haar rapporteer, mute en blok,” sê ek. “’n Macro-influencer soos jy sal statisties gesproke ongelukkig soms deur trolls en haters aangeval word. Dit is amper middernag en ek is pootuit. Kom ons hanteer dit môre, asseblief? Ignoreer haar. En moenie private inligting online deel nie. Sien jou môre.”

Ek daag vroeër as gewoonlik op vir die volgende dag se opname. Monique is steeds ontsteld. Sy rook die een sigaret na die ander. “Die subscribers en likes het drasties verminder,” sê sy in trane. “Die troll-bitch se gif het my volgelinge vergiftig.”

“Ons Garnier-borg het boonop onttrek,” sê ek en sug. “Monique, ons moet dringend ’n privaat gesprek hê voor ons begin opneem.”

Ons loop na die studeerkamer. Ek trek die deur agter ons toe.

“Ek kan nie langer stilbly nie, Monique,” sê ek. “As jy nie my positiewe kritiek kan hanteer nie, gaan ek in my kar klim en verkas. Ek kan nie alewig op alles wat jy kwytraak, ja en amen nie. Jy verkleineer en ondermyn my voor die span. As jy fouteer, is dit my plig om dit met jou te bespreek.”

“Gaan voort, skoolmeester,” sê sy sarkasties.

“Ons aanbieding en inhoud moet algoritme-veilig wees en potensieel verdelende onderwerpe soos politiek en godsdiens vermy om ons borge en jou volgelinge tevrede te hou. Ons reputasie is op die spel en ...”

“Nou wanneer het ek nogal ...” val Monique my in die rede.

Dié keer laat ek my nie onderbreek nie. “Jy is nie meer getrou aan die pakket waaraan jou volgelinge gewoond was nie. Jou bitsige call-outs gister oor twee opposisie-influencers is onaanvaarbaar. Dolla Delicious en Garnier dreig met regsaksie. Jy het gister boonop waaragtig NIVEA Perfect and Radiant-room se meriete besing, so g’n wonder Garnier het hulle borgskap beëindig nie. Dit is kontrakbreuk pleeg. As jy so optree, gaan ons nog borge verloor. Hulle sal eerder ander influencers ondersteun. Jy moet enigiets wat negatiewe sentiment kan ontlok, vermy. Borge soek ’n stabiele produk en hulle verpes kontroversie, drama, onwaarhede en onstabiliteit. Hulle en jou volgelinge hou ons dop. Ons borge hou die kwaliteit van die inhoud, jou volgelinge se reaksies, likes en kommentaar dop. Jy moet ’n stabiele, afgeronde en veilige produk lewer.”

“Suggereer jy nou ook dat ek ’n shitty influencer is?” vra Monique.

“Dit is nie wat ek sê nie. Jou aanbieding moet handelsmerk-veilig wees. Persoonlike aanvalle op mede-influencers en volgelinge is ’n groot no-no. Jy het laas week ’n paar ontoepaslike en aanvegbare aanmerkings oor politiek en godsdiens kwytgeraak.”

“So jy het nou ook teen my gedraai,” sê sy.

“Nee. Jy is die gesig van die produksie. Ons staan bankvas agter jou. Jy het jouself sedert die begin as ’n selfgemaakte suksesstorie verkoop, alhoewel jy eintlik in ’n welvarende huis grootgeword het. Dit was voordat jy my aangestel het. Dit is onwaar, maar ons kan nie meer daarvan afwyk nie. Ek stel voor ons doen vandag damage control. Sê dat jy deur ’n moeilike tyd gaan, maar moenie spesifieke redes gee nie. Jy kan tranerig wees. Ons spin dit as normale emosie wat tot emosionele groei lei. Jou volgelinge behoort daarmee te identifiseer. Jy kan oor frustrasies praat, maar moenie iemand blameer nie. Ons spin dit as ’n karakteropbouende lewensles. Jou volgelinge is mal oor jou en baie lojaal. Hulle sal jou ondersteun, mits jy dieselfde Monique bly wat hulle sedert die begin ken. Jou emosie moet opreg oorkom. Indien jou aanbieding té emosioneel of chaoties is, sal jou volgelinge en borge vlug. Jy moet die twee wêrelde, die realiteit hier en die Monique-influencer, apart hou. As ons algoritme-vriendelik bly, sal ons borge en volgelinge bly. Moet veral nie ander influencers, trolls en haters persoonlik en by die naam aanval nie. Kom ons kry vandag se opname agter die rug voor ons die troll-saak bespreek.”

Monique willig wonder bo wonder in. Ons sluit aan by die span en begin te skiet.

Na afloop van die opname sê Monique dat sy aan ’n dringende saak moet aandag gee en vra of ons die troll-probleem die volgende dag kan bespreek. Ek ry huis toe.

Dit is reeds donker toe my foon lui. Dit is Jakes. “Het jy Monique se opname gesien?” vra hy.

“Waarvan praat jy?” vra ek.

Jakes sê dat Monique sonder ons medewete ’n livestream-opname op al ons platforms gemaak het. Die opname is voor hulle huis geskiet. Sy het die troll daarin persoonlik aangevat, haar ’n “patetiese loser” genoem en gesê dat sy net jaloers is. Sy het gespog met hulle huis, haar leefstyl en juwele en weer negatiewe opmerkings oor mede-influencers gemaak. Sedertdien het ’n negatiewe kommentaarstorm oor Monique se kop losgebars.

Ek is woedend. “Monique het nou feitlik alle online influencer-reëls oortree,” sê ek. “Sy het ge-overshare en haarself boonop gedoxx deur haar privaatheid en waar sy woon met almal online te deel.”

“Die troll sê op haar Facebook-profiel dat sy saam met Monique op skool was,” sê Jakes. “Sy sê daar, asook op ons ander platforms, dat sy arm grootgeword het, maar dat Monique in ’n baie gegoede huis grootgeword het. Sy ontmasker Monique as ’n vals influencer. Sy sê selfs dat Monique haar destyds dikwels geboelie en verneder het.”

“Hoe ons uit hierdie gemors gaan kom, weet ek waaragtig nie,” sê ek en groet.

Ek bel vir Monique, maar haar foon gaan onmiddellik oor op voicemail. Vele pogings later bel ek vir Jacques. “Ek is nie van die opname bewus nie,” sê hy. “Ek het vir ’n paar dae na ons strandhuis weggebreek.” Ek hoor ’n vrouestem op die agtergrond. Ek is bewus van Jacques se buite-egtelike verhouding. Ek vra hom om vir Monique te vra om my te bel, indien sy hom sou kontak. Ek sê dit nie, maar die rede waarom ek met haar wil praat, is aangesien ek my bedanking wil indien. Ek kan nie langer die Monique-chaos hanteer nie. Ek besluit om tuis te bly, totdat Monique my gekontak het. Twee dae later het ek steeds nie van haar verneem nie. Ek besluit om na hulle huis te ry.

***

“Dit was ’n bloedbad,” sê ek. “Monique se liggaam was vol steekwonde. Slegs die hef van die mes in haar bors het uitgesteek. Sy en die ander vrou was reeds dood.”

“Wat het jy gesien toe jy vanoggend by hulle huis opdaag?” vra die speurder.

“Die voordeur het op ’n skrefie oopgestaan. Ek het ingeloop. Monique het op die tapyt in die sitkamer gelê. Die ander vrou het in ’n stoel met bebloede polse gesit. Teen die muur is in bloed geskryf: ‘Vrek vals teef’.”

Ek vertel hom van Monique se gewraakte regstreekse opname waarin sy die troll getart, verkleineer en beledig het, dat hulle saam op skool was en dat Monique selfs haar woonadres online gedeel het.

“Het jy die ander persoon geken?” vra die speurder.

“Nee,” sê ek. “Ek het haar egter aan haar Facebook-profielfoto herken.”

“Was sy een van Monique se volgelinge?” vra hy.

“Nee,” sê ek, “maar sy was beslis deur Monique beïnvloed.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top