Om ’n kind korrek voor te berei vir ’n seksklag

  • 0

Op Sondag 15 Mei 2022 plaas Rapport ’n berig waarin beweer word dat ’n sekere welsynsinstansie in Gauteng kinders afrig om teen volwassenes in die hof te getuig tydens sekssake, ook dat van die kinders na bewering gedwing is om goed te sê wat nie waar is nie.

Die volledige berig is hier te lees.

Izak de Vries het twee kenners, ’n regsgeleerde en ’n kliniese sielkundige, gevra om te verduidelik wat hulle rolle is ten tye van ’n hofsaak waar beweerde seksdade met minderjariges ter sprake kom. Beide kenners werk in ’n ander provinsie, dus nie Gauteng nie, en is hoegenaamd nie betrokke by die instansie wat in Rapport genoem is nie.

Beide kenners se volle identiteit en hulle beroepe is aan LitNet se redaksie bekend, maar juis omdat hulle met hierdie sensitiewe sake werk, word hulle identiteit nie vermeld in hierdie onderhoud nie.

Bron: Alexas_Fotos | Pixabay

 

Jy is betrokke by sake waar kinders wat na bewering seksueel aangerand is, in die hof moet getuig. Hoeveel jaar al?

Regsgeleerde: Vier en twintig jaar.

Kliniese sielkundige: Twaalf jaar.

 

Enige persoon wat al onder eed moes getuig, weet dat kruisondervraging senutergend is. Word kinders wat in sekssake moet getuig, ook aan kruisondervraging blootgestel?

Regsgeleerde: Dit is belangrik dat enige bewering wat in ’n hof gemaak word, aan kruisondervraging onderwerp word ten einde die waarheid daarvan te toets. Derhalwe word kinders net soos volwassenes aan kruisondervraging blootgestel. Dit is ’n uitmergelende, dikwels vyandige ondervinding vir enigiemand, des te meer vir ’n jong kind wat baie keer nie kan verstaan hoekom dit klink asof die kruisondervraer hom of haar nie glo nie.

Kliniese sielkundige: Inderdaad – beide die aanklaer en die prokureur vir die aangeklaagde vra gewoonlik vrae. Die kind, dus ‘n persoon onder 18, hoor egter nie die vraag direk nie, want ’n opgeleide tussenganger sal die vraag stel.

 

Is daar spesiale reëlings om minderjariges ter wille te wees tydens ’n hofsaak, veral een waar beweerde seksdade met die minderjarige gepleeg is? Indien wel, wat sou dit wees?

Regsgeleerde: Inderdaad. Artikel 170A van die Strafproseswet, Wet 51 van 1977, maak voorsiening daarvoor dat iemand wat nog nie die fisieke of verstandelike ouderdom van 18 jaar bereik het nie, met behulp van ’n tussenganger in ’n aparte vertrek mag getuig – oor geslotebaantelevisie, of agter ’n skerm of eenrigtingglas – waar die hof die getuie kan sien en hoor, maar die getuie nie die hof, hofpersoneel of beskuldigde kan sien of hoor nie. Die meeste howe maak gebruik van kringtelevisie en ’n maatskaplike werkster, onderwyseres, sielkundige en dies meer (die lys van persone wat as tussengangers kwalifiseer, word breedvoerig in die Wet omskryf) wat die hof, aanklaer of prokureur se vrae op die eenvoudigste manier moontlik aan die kindergetuie oordra. Dit help geweldig om ’n jong getuie teen die strak atmosfeer van ’n strafhof en somtyds vyandige kruisondervraging van die verdediging te beskerm. Die howe is oor die algemeen ook baie tegemoetkomend teenoor jong getuies. Die meeste voorsittende beamptes is self ouers en weet dat die tol van ’n lang dag in die hof vir baie van hierdie kleintjies ondraaglik raak. Dit word in ag geneem tydens verhoor.

Kliniese sielkundige: Gewoonlik sit die kind in ’n ander kamer waar hul nie die beskuldigde hoef te sien nie. Die kamer is ook kindervriendelik en slegs die tussenganger se stem word deur die kind gehoor. Die kind se antwoord en die tussenganger se stem is egter hoorbaar in die hofsaal.

Omdat verdere traumatisering so maklik kan plaasvind binne die konteks van die hof, en die herfokus op die traumatiserende gebeurtenis plaasvind wanneer die kind die verhaal wéér eens moet vertel, probeer die hof dit so ondersteunend en beskermend as moontlik maak vir die kind.

Die meeste persone wat seksuele misdade moes verduur, ontvang ook ondersteuning en terapie of berading van ’n maatskaplike werker en sommige van ’n sielkundige.

 

Is dit korrek dat beide die staat en die verdediging getuies mag voorberei om te weet wat tydens ’n hofsaak op hulle wag – ongeag die ouderdom van die persoon?

Regsgeleerde: Korrek en baie belangrik. Verbeel jou jy moet op ’n verhoog klim en aan ’n groep vreemdelinge vertel van die grootste seksuele verleentheid en diepste vernedering wat jy nog ooit ervaar het. Dit is presies wat van kindergetuies verwag word. Dit is derhalwe uiters belangrik dat ’n jong getuie georiënteer word ten opsigte van die alternatiewe werklikheid waarin hulle hulle nou bevind. Kinders hou van voorspelbaarheid, en ’n verkragte, verskrikte en getraumatiseerde kind vind sekuriteit in beheer. In die praktyk is dit ’n tweeledige proses. Die aanklaer wat met die saak werk, sal vooraf met die jong getuie konsulteer en hom of haar op daardie manier hofgereed maak. Dit is egter ook belangrik vir ’n kindergetuie om vertroud gemaak te word met die fisiese omgewing, van die hofgebou, waar die badkamers is, wat ’n landdros en ’n aanklaer en ’n prokureur doen, hoe ’n hofsitting werk. Hoe meer inligting hulle het oor die omgewing waarin hulle hulle vir die doel van getuienisaflegging gaan bevind, hoe makliker is dit om hulle deur die proses te neem. En die omgewing is op sy beste bisar: Die mense wat daar werk trek soos pikkewyne aan, praat hard en baie en glimlag min. Om hierdie rede het die Departement van Justisie hofvoorbereidingsbeamptes aangestel wat geweldig help om die impak van die hofondervinding op kindergetuies te versag.

Kliniese sielkundige: Dit hang af wie se getuie die persoon is. Indien die getuie deur die staat geroep word, kan hul voor die tyd met die persoon praat, dan sal die persoon nie die verdediging voor die tyd ontmoet nie. Indien die verdediging die persoon roep as getuie, sal hul voor die tyd die persoon ontmoet.

In die minderheid van gevalle kan ’n persoon byvoorbeeld nie deur die staat geroep word tydens die verrigtinge nie, en dan beskikbaar gestel word vir die verdediging wat dan weer eens met die getuie kan byeenkom, of vice versa.

Voorbereiding behels egter nie dat die persoon gelei word om te sê wat in die hof geantwoord moet word nie.

 

Die berig in Rapport beweer dat daar “te ver gegaan” is in die voorbereiding van kinders, selfs dat van die kinders gedwing is om onwaarhede te vertel. Dit is natuurlik skokkend. Sonder om na die sake in Gauteng te verwys, hoe sou jy aan ’n leek verduidelik wat ’n korrekte metode sou wees om inligting van minderjariges te verkry ter voorbereiding van die staat se saak?

Regsgeleerde: Die ondersoek en vervolging van geslagsmisdrywe is ’n geweldige gespesialiseerde vakgebied waar inligting met die grootste omsigtigheid hanteer moet word. In dié verband stamp regslui en maatskaplike werkers en sielkundiges soms koppe, omdat daar ’n verskil tussen die forensiese en terapeutiese benaderings ten opsigte van slagofferhantering is. Ter voorbereiding van ’n hofsaak is die forensiese metode prominent. Inligting moet verkry word om ’n skuldigbevinding bo redelike twyfel te bewerkstellig. Die manier waarop die inligting voortspruitend uit die kindergetuie se openbaarmaking van die insident hanteer word, is van kardinale belang.

Ellende sluip in wanneer ’n kind in ’n spesifieke rigting gelei word, soos dié in Rapport genoem waar die kind geleer is om te sê dat die “oom sy tollie in haar koekeloeks gedruk het”.

Die goue reël is dat wanneer kinders praat, grootmense moet luister. Lúister, nie deelneem aan die gesprek nie. Vir hierdie doeleinde het grootmense twee ore en een mond.

Moenie inligting uit die kind probeer trek nie. Moenie die kind omkoop om meer te vertel nie. Moenie die kind dreig nie. Beskuldigdes is al onskuldig bevind omdat sulke praktyke plaasgevind het.

Laat die kind toe om die inligting op sy of haar manier in sy of haar taal oor te dra.

Professionele lui laat kindergetuies toe om die insident in vrye narratief te deel. Onduidelikhede word opgeklaar wanneer daar ’n geheelbeeld van die insident gevorm het. Om vir ’n kind te vra of pappa of oom of oupa aan sy of haar verkeerde plekkie gevat het, of iets in dier voege, is ’n onreg wat nege uit tien keer gaan lei tot ’n onskuldigbevinding in die hof.

Kliniese sielkundige: Wanneer ’n kind voorberei word, en ook gedurende die hofverrigtinge, moet daar nie leidende vrae gevra word nie. Die persoon word gewoonlik gevra om hul storie te vertel van wat gebeur het. Moontlike vrae wat deur die ander party gevra kan word, word ook gevra. Geen antwoorde mag verskaf word aan die getuie nie en die persoon mag herinner word om altyd die waarheid te praat.

Voorbereiding behels ook dat die persoon vertel word hoe die hof werk en hoe die proses sal geskied binne die hof. Die persoon word ook deur die hof geneem om te sien hoe dit lyk en die verskillende rolle van die betrokke persoon word verduidelik.

 

Hoe sou jy aan ’n leek verduidelik wat die korrekte metode is om aan minderjariges te verduidelik hoekom daar ’n hofsaak is en wat verwag sal word van hulle tydens die hofsaak?

Regsgeleerde: Ondervinding het geleer dat ’n mens vir ’n kind soveel inligting gee as waarvoor hy of sy vra. Niks meer nie, niks minder nie. Teen die tyd dat daar ’n klagte is, tree die stelsel in werking en baie van die bogenoemde vrae sal deur die hofvoorbereidingsbeampte hanteer word. Desnieteenstaande bly dit ’n geweldig spanningsvolle tyd vir so ’n kind en dit is nie vreemd as hulle byvoorbeeld weer begin bednatmaak of iets soortgelyk nie. Dit is ongelukkig teenproduktief om die hofsaak aanhoudend op te haal of te bespreek, want dit verhoog bloot die kind se spanningsvlakke en veroorsaak ’n weerbarstige getuietjie teen tyd dat die verhoor aanbreek. As hy of sy egter sou vra, antwoord so eenvoudig en eerlik as moontlik binne die konteks en raamwerk van die feite soos op daardie kind van toepassing.

Kliniese sielkundige: Gewoonlik weet die persoon reeds hoekom daar ’n hofsaak is. Dit is baie selde dat dit nodig is om aan ’n persoon te verduidelik dat iemand aangekla is van iets en dat die hof moet besluit of die persoon gestraf moet word of nie.

Wat egter baie belangrik is, is om nooit vir die kind voor te sê wat hul moet sê nie. ’n Mens kan aan die kind verduidelik dat daar vrae oor ’n sekere gebeurtenis gevra sal word. Ek self het egter nog nooit ’n kliënt gehad wat nie gedink het dat dit wat met hul gebeur het, nie sleg is nie. Selfs byvoorbeeld waar ’n kind sou sê dit hul kêrel was, sal daar steeds ’n bewustheid wees dat dit wat gebeur het, nie reg is nie vanweë die feit dat die polisie betrokke is en dat die ander persoon beskuldig is van iets wat gebeur het.

 

Laastens: Wat moet ’n onderwyser, of geloofsleier, of enige lid van die publiek doen as daar ’n vermoede is dat ’n kind seksueel misbruik word? En wat moet ons nie doen nie?

Regsgeleerde: Artikel 54 van die Wet op Seksuele Misdrywe, Wet 32 van 2007 maak dit verpligtend vir enigiemand wat weet dat daar ’n geslagsmisdryf teenoor ’n kind gepleeg is, om dit by die polisie aan te meld. Versuim om dit te doen is ’n misdryf wat strafbaar is met ’n boete of gevangenisstraf van hoogstens vyf jaar of ’n boete en gevangenisstraf.

Gaan meld dit aan.

Die belangrikste is om in die beste belang van die kind op te tree.

Mense raak baie emosioneel oor hierdie soort sake en vergeet in die hitte van die oomblik baie keer dat dit in die eerste plek nie oor hulle gaan nie.

As die kind in onmiddellike gevaar is, tree dienooreenkomstig op. Gebruik jou gesonde verstand. Moenie die reg in eie hande neem nie.

Artikel 54(2)(c) maak daarvoor voorsiening dat iemand wat so ’n saak bona fide aanmeld, nie krimineel of siviel aanspreeklik gehou sal word vir so ’n aanmelding nie.

Kliniese sielkundige: Volgens die wet, as jy bewus word dat ’n kind seksueel misbruik word, of voorheen misbruik is, moet jy dit aanmeld.

Daar is verskillende plekke om dit te doen. Die een is by die polisie en ’n ander by ’n maatskaplike werker wat hiermee werk.

Daar moet ook ’n sekere vorm ingevul word wat dan opgestuur word indien die persoon wat dit aanmeld byvoorbeeld ’n sielkundige is.

In sekere gevalle waar ’n ouer nie bereid is om ’n saak oop te maak nie, of die ouer die beskuldigde party is, moet die volwassene met die kennis of die maatskaplike werker die saak oopmaak.

Baie belangrik is om nie die gereg in eie hande te neem nie. Ook om nie die vermoede net weg te steek sodat jy nie hoef betrokke te raak, of die kind se vertroue in jou skend nie.

Soms probeer geloofsleiers self die situasie oplos, of dit binne ’n geloofskonteks hanteer; daardie persoon moet egter besef dat hul dan self aangekla kan word.

Maak altyd seker dat die kind veilig is en indien nie, neem die kind na die naaste polisiekantoor.

Lees ook:

Die koop en verkoop van kinders in Suid-Afrika – behoorlik gestraf, of ’n ware winskoop?

Voorkomende geskilbeslegting by voogdyskap-, sorg- en kontakaangeleenthede in Suid-Afrika

Seksuele teistering in die Suid-Afrikaanse werkplek vanuit ’n menseregtelike perspektief 

Vonnisbespreking: Sorgsaamheidsplig van ouers teenoor kinders

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top