Om my kastele in Spanje te sloop deur Jaco Barnard-Naudé: Foto’s en video’s vir almal wat nie daar was nie

  • 1

Jaco Barnard-Naudé se debuutdigbundel, om my kastele in Spanje te sloop, is op 29 Januarie 2025 tydens ’n intieme geleentheid by die Welgevallen-gemeenskapskliniek op Stellenbosch bekendgestel.

Naomi Meyer, senior inhoudsbestuurder van LitNet, het die geleentheid bygewoon en berig in die teks daaromtrent. Ansurette Pretorius het die foto’s en video’s namens LitNet geneem.

Jaco Barnard-Naudé

SJ Naudé, Lou-Marié Kruger en Jaco Barnard-Naudé word afgeneem.

Lou-Marié Kruger heet die gehoor welkom.

“Dit is wonderlik dat die launch van hierdie boek kan gebeur in ’n kliniek waar ons sielkundiges oplei en waar daar daagliks geworstel word met die hoop en distress (bewustelik en onbewustelik) van gewone mense.  Ons, die Departement Sielkunde van Stellenbosch-universiteit, se hoop vir die kliniek is dat dit nie net ’n gewone gemeenskapkliniek sal bly nie, maar dat dit ook ’n plek sal word waar ons kan worstel met hoe menslike hoop en distress nie net in konvensionele sielkundige taal verwoord hoef te word nie, maar ook kan en moet uitdrukking vind in poetry en novels, in visuele kuns, in musiek, in liggaamlikheid. Ek dink dikwels dat kunstenaars veel meer weet van menslike pyn en menslike hoop as sielkundiges en psigiaters.

“Jaco het my gevra dat ek iets sê oor Freud. En ek hou daarvan om oor Freud te praat! ‘I have had to demolish all my castles in Spain,’ het Freud gesê. Hieraan is die bundel se titel te danke: om my kastele in Spanje te sloop. Ek stel nou aan die woord die digter Jaco Barnard-Naudé, Charl-Pierre Naudé, wat ’n lang pad saam met Jaco en sy digkuns stap, en een van die land se voorste resensente, Jonathan Amid.”

Jonathan Amid, fasiliteerder van die gesprek, wens Jaco geluk met sy verjaardag. “Toevallig vandag! Baie geluk. Ek is verheug om die gesprek te fasiliteer. Hierdie bundel lewer bowenal kommentaar op menslikheid en kuns. Dis vir my opvallend … ek kan sien dat die een wat die bundel geskryf het, baie lees, wydbelese is, baie kennis het. Jaco, vertel ons van jou intellektuele en fisiese reise en meer oor die digbundel. Hoekom nou?”

Jaco Barnard-Naudé

Jaco: “Ek dig vanaf my tienerjare. Ek het baie gelees, maar digkuns het altyd uitgestaan … Die bundel se storie begin tydens my MA in kreatiewe skryfwerk in 2009 … Dis voltooi, maar ek het eers nog 13 jaar lank daaraan gewerk. Digkuns is nie voltyds my beroep nie; tyd om te dig is relatief beperk.

“Jonathan, jy vra hoekom nou? Ek dink dit hang af van waar mens jou op ‘n gegewe tydstip ‘bevind’ in die breedste sin van die woord. Iets van die leeservaring van Herman Lategan se Hoerkind het bepalend op my  proses ingewerk. Dit was ’n katalisator om die bundel klaar te maak, kom wat wil. Binne ’n jaar daarna – nadat ek weer daaraan begin werk het, myself ‘gepush’ het om dit af te handel – is die bundel vir publikasie by Human & Rousseau aanvaar.”

Charl-Pierre Naudé

Charl-Pierre Naudé: “Ek was betrokke by die bundel … Ek was op meer as een manier met Jaco se digkuns ‘deurmekaar’ (op ’n goeie manier – lag!). Die mate waartoe ek die bundel ‘beïnvloed’ het, kom egter slegs deur ’n misterieuse interaksie tussen die digter, die digkuns en die aard van taal. Jy maak aanbevelings sonder om te weet waarheen die gedig gaan gaan. Dan, in reaksie, vind die misterieuse spel tussen die eindige individu en wat taal kan doen, plaas. Ek beleef dit soms met studente en die digkuns. Soms is hulle kwaad, soms bedank hul jou (maar hulle bedank inderwaarheid hulself). Dis ’n interessante proses.

“Ek wil praat oor die konstruksie van die bundel. Daar is verhale van kunstenaars, denkers, klein verhale in hierdie mense se lewens, baie persoonlik gefokus en gefundeer. Daarmee sinjaleer die digter dat dit gaan oor daardie persoon se persoonlike wel en wee en dus ook sy eie … die digter se persoonlike.

Charl-Pierre Naudé en Jaco Barnard-Naudé

“Ek het die bundel beskou en myself gevra: ‘Hoe maak dit alles as ‘n geheel sin? Die mitologiese verhale, die kuns wat in die bundel beskryf word, die eie verhale? Wat is die netto effek van alles saam?’ My antwoord het met ’n bang uitgekristalliseer.

“Soms kan oënskynlik ongemotiveerde stories baie beteken. Mitewerkende stories, waarmee ons ons as mense se bestaan konstrueer … Jaco hou God en godsdiens merkbaar uit die prentjie, en tog is daar ’n intense soeke … heeltyd. Daar is nie antwoorde nie; die vrae word só uitgewerk dat dit by die leser die geheelindruk wek dat daar tog ’n antwoord mag wees.”

Die gesprek handel verder hieroor: “Daar is opvallend baie gesprekke met die dooies … Marilyn Monroe, Ted Hughes. Die gaysoener Bjorn Czepan is ook dood. Daar is voortdurend ’n interessante digterlike spel met tyd, lewe en dood.”

Jaco praat oor die mitewerkende kompulsie in teenstelling met die ooglopende oop eindes. “Op primêre vlak is daar bestekopname, betekenis soek betreffende wie ek is, wát ek is. Die noodwendige trauma wat almal gaan ondervind, die trauma van die lewe as ’n mens wat gebore word om te sterf, speel ’n bepaalde rol in die betekenisgewing. Die idee, dan, van woordvindery, ’n besegging vir dit wat buite besegging in die koninkryk van trauma gelê het vir so ’n lang tyd in beide die bewuste en onbewuste.”

In die agtergrond vertoon deurlopend skilderye van Picasso, Miró, Velázquez, Vermeer, Warhol met die titels van gedigte uit die bundel oor hierdie skilderye, maar dit blyk terselfdertyd as intertekste van die gesprek. Agter in die gesprekslokaal is die visuele kunswerk van Ledelle Moe en Ernst van der Wal in gesprek met reëls uit Om my kastele in Spanje te sloop.

Charl-Pierre Naudé en Jaco Barnard-Naudé

Charl-Pierre: “Ons het embleme. Dooie mense het ’n sekere gesag. Dit lyk soos iets om te respekteer. Hulle het iets gedoen wat ons nog nie gedoen het nie.

“Die bundel is om betekenis te maak uit ons stories uit. Mite … nie net ligtelike stories of leuens nie. Sinmaking wat nie te doen het met empiriese bewysmaking nie.”

Aan Jaco: “Baie van jou stories praat van die trauma, maar baie, die meerderheid, van jou stories is tragiek. In die bundel is daar eggo’s van klassieke tragiese verhale – Oedipus, Orpheus. Jy werk intiem met die mensekennis wat uit hierdie stories afgelei kan word. Hierdie kennis word aangebied sonder antwoorde, sonder sluiting. Jy wyk af van die gewone verwagtingshorison van gedigte. Daar is net die vaagste indikasie van ’n sluiting, maar eintlik is dit net ’n draai – en dít is ongewoon.”

Charl-Pierre lees “Soos ek dit onthou” voor.

Jonathan praat insgelyks ook van die trauma wat hy raaklees. “’n Wêreldwye trauma, Afrika, maar hoofsaaklik die trauma van die self. Dan ook: oomblikke van vervoerende skoonheid. Hoe sien jy die spel tussen trauma en skoonheid?”

Jaco sê: “Mens kan sê daar is trauma en dit lê aan die begin van geweld en dan gee geweld aanleiding tot trauma en die bose kringloop gaan voort. Dan wil mens sê, aan die teenpool is skoonheid. Die bundel kan so gelees word, ja, en daar is definitief hierdie oomblikke van teenstelling. Ons kan in kuns ’n sekere teenvoeter vind vir trauma, geweld, ontredderings. Aan die ander kant was dit vir my tog ook belangrik om te werk met iets anders as die gemaklike teenstelling: geweld teenoor skoonheid.”

Jonathan Amid, Charl-Pierre Naudé en Jaco Barnard-Naudé

Jaco praat dan pertinent oor die skilderye en die kuns in die bundel: “Die rede waarom die skilderye by mens spook, is dat hierdie skilderye ’n traumatiese oomblik op die een of ander manier vashou, vaslê. Daar is ver-beelding van geweld, ver méér as bloot fisieke geweld waaraan ons geweld so maklik beperkend en verkleinend gelykstel. Ons moet myns insiens, as mense wat met taal werk, bewus wees van die geweld van taal en betekening self. Partykeer is ’n kunswerk net ’n vasgevangde oomblik van geweld, niks meer of niks minder nie – dit is nié in hierdie opsig ’n ‘verwerking’ van trauma nie, dit is bloot ’n beeldgewing waarmee betekenisgewing sou kon begin, ’n kans sou kon staan.”

Charl-Pierre sê Jaco se bundel handel met die klassieke beelde, herinterpreteer. Jaco haal Rodin via die WhatsApp-statusreël van ’n vriendin aan: “Antiquity is my youth.”

Charl-Pierre praat ook oor die vaste vorm van party gedigte, terwyl hy meen dat Jaco as ’n digter terselfdertyd speels is. “Daar is rymskema, formele aanslag is duidelik, en tog is dit oop en vars.” Hy praat oor temas wat die bundel interessant maak, maar verwys ook na die metatemas wat aan bod kom: “Die psigoanalitiese paradigma met dan die denke oor die ewige wederkeer.”

Jaco: “Vir die psigoanalise is die menslikheid uiteindelik oorwegend tragies ingeklee. Dit wil nie sê dat daar nie baie gelag word in die verloop van die tragedies nie, en daar is baie oomblikke van blydskap, gelukkigheid, hoop (selfs die tragiese Oedipus het homself in die verloop by tye mateloos aan die genot oorgegee). Oor die ewige wederkeer: Daar is voortdurend nuwe dinge in die wêreld, maar die mens is bowenal ’n geskiedkundige wese – die nuutheid moet binne sy geskiedkundigheid, dit wat vóór sy nuutheid en nuwigheid gebeur het, benader en beoordeel word. Op hierdie manier is die menslike nuutheid afgelei van sy geskiedenis, en dus sou mens kon sê dat daar terselfdertyd niks nuuts onder die son is nie.”

Charl-Pierre wens dan vir Jaco geluk met “die wonderlike skepping, raar en mooi”.

Jonathan Amid sê die gesprek moet eindig, maar dis nie klaar nie. Charl-Pierre spot dat dit die volgende Woensdag in die Filosofiekafee voortgesit sal word.

Emma Kotzé en Jacques Bessenger lees ten slotte die bundel se twee gedigte oor Rosa Luxemburg voor, maar eers nadat Jaco noem dat dié twee gedigte ingegee is deur die korrespondensie tussen hom en sy onlangs oorlede Duitse tante.

Emma Kotzé en Jacques Bessenger

Die gesprekke is nie klaar nie. Die gehoor spoel uit na buite.

Lede van die gehoor verkeer gesellig in die tuin na afloop van die geleentheid.

Feestelike feestafels

Tom Dreyer

Lydelle Moe en Charl-Pierre Naudé

SJ Naudé, Pierre Brugman, Andries Visagie

Pierre Brugman en Michiel Heyns

Gedagtes oor die aand se gesprekke duur voort.

Kunswerke (links en middel) deur Ernst van der Wal, beeld (regs): Ledelle Moe (foto: verskaf)

Kunswerk deur Ernst van der Wal (foto: verskaf)

Kunswerk deur Ernst van der Wal (foto: verskaf)   

Beelde deur Ledelle Moe (foto: verskaf)

Lees ook:

Plekspesifieke poësie in Jaco Barnard-Naudé se Om my kastele in Spanje te sloop

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top