Om mekaar in die hare te vlieg

  • 1

Jason Lloyd

Die rasseherrie oor die TRESemmé-advertensie wat op Clicks se webwerf geplaas is waarin foto’s van ’n swart vrou en ’n wit vrou langs mekaar verskyn, het my laat dink aan die boek Afrikaners: Kroes, kras, kordaat van die skrywer en oudredakteur van Rapport, wyle Willem de Klerk, wat ook oudpresident FW de Klerk se broer was. In die Clicks-advertensie word die hare van die swart vrou onder meer as "dry and damaged" en "frizzy and dull" beskryf en die wit vrou s’n as "fine and flat" en "normal".

Kom ek gaan haal egter die storie by De Klerk se boek.

Al was dit nie De Klerk se bedoeling nie, het sy boek die nou ontslape radiojoernalis Chris Louw ’n paar jaar gelede die bliksem in gemaak. Louw was so kwaad vir De Klerk dat hy ’n opspraakwekkende ope brief aan hom geskryf het wat later tot die sogenaamde Boetman-debat gelei het.

Al het die twee mekaar lelik in die hare gevlieg, het die woord "kroes" in die titel van dié boek niks met kroeshare te doen nie.

Die gevoelige kwessie van gladde (of reguit) hare versus kroeshare is egter beslis ’n kwessie wat groter sal bly as die Boetman-debat. Om die sensitiwiteit van die reguit hare versus kroeshare uit te wys, wil ek op ‘n paar voorvalle wys wat die afgelope klompie jare in Suid-Afrika gebeur het.

In 2016 was daar ’n rasinsident in dié verband met die hare van swart meisies by San Souci Girls’ High School in Kaapstad. Hulle hare is as slordig en onbetaamlik volgens die skoolreëls beskou.

In 2019 was daar ’n soortgelyke insident by Malibu High School, ook in Kaapstad, toe daar na swart meisies se hare verwys is as "outrageous", dat hul hare soos bome lyk, en dat "net ape en leeus met Afro’s gebore word".

Nege meisies is oor hul hare geskors en dit het tot protes by die skool gelei – tot so ’n mate dat die Wes-Kaapse Departement van Onderwys moes ingryp.

In 2012 was daar ’n bohaai oor ’n (wit) haarkapper van Melkbosstrand wat geweier het om swart mense se hare te sny. Rapport het oor dié storie berig nadat dit bekend geword het dat talle swartes deur Tanya Louw, eienaar van dié manshaarkapper, The Barber Shop, die deur gewys word. Vir dié ongewilde stap, wat glo deur Helen Zille, voormalige Wes-Kaapse premier ondersoek was, het Louw die volgende redes aangevoer: "Ek is (ook) net opgelei om wit mense se hare te doen."

Terwyl Louw ten minste eerlik (?) was oor haar (onregverdige) optrede, kan die (wit) werkgewer van een van die swartes wat deur Louw weggewys is, Susan van Aswegen, "nie haar ore glo nie toe (Victor) Katekwa haar van die voorval vertel nie".

Wel, Van Aswegen moes kennis geneem het dat verskillende haartipes – dit wil sê gladde hare vs kroeshare – nogal ’n sensitiewe saak is, veral in bruin en swart gemeenskappe.

’n Kollega vertel op ’n dag dat ’n sekere dame – ’n lid van ’n bekende bruin familie wat vroeër prominent in die bruin politiek was – ’n bruin kêrel die deur gewys het omdat hy kroeshare gehad het. Dié kêrel sou met sy kroeshare nooit in die dame se familie gepas het nie, het die kollega vertel. Al sou die kêrel destyds ’n universiteitsgraad verwerf het en ook hoog op in die bruin politiek was, sou hy nog nie aanvaarbaar vir die dame se familie wees nie.

Die uiteinde van alles was dat die dame alleen oud geword het; ook eensaam gesterf het. Die kêrel het toe wel ’n vrou (met kroeshare) gekry.

Ongetwyfeld herinner die "reguit hare versus kroeshare"-issue ’n mens aan die potloodtoets – hoe dit deur die apartheidsregering gebruik – of misbruik – was om ’n persoon se ras te bepaal. Dit is reeds hierdie letsels wat nog vandag voortleef dat mense aan hul hare geken word.

Al sou die gladdebek karakters Joe Barber (Oscar Peterson) en Boeta Gamat (David Isaacs) in die destydse Joe Barber and Boeta Gamat 2 voortgaan met geniepsige herkouing aan die gevoelige kwessie, bring hul soms satiriese kommentaar geen genesing nie. Want steeds vandag vind jy nog ’n hele klomp (veral bruin) mense met soolkouse en "roulers" om kroeshare "glad" te probeer kry.

Ek vertolk dit as ’n strewe na gladde "Westerse" hare as die norm. Dit is ’n illustrasie van Suid-Afrikaners se beheptheid met hare.

Dink aan die nuuskierigheid destyds toe Allan Boesak en sy wit vrou, Elna, se eerste dogter, Sarah-Len, gebore is. So duur die nuuskierigheid voort as die babas van gemengde ouerpare gebore word.

In 2004 het Jonathan Jansen, later rektor van die Universiteit van die Vrystaat, geskryf oor sy gesukkel om sy "etniese" hare in Pretoria gesny te kry.

Jansen skryf: "Die probleem met hare is dat dit nie slegs die toetssteen vir wit oppergesag geword het nie, maar ook die stempel van swart patologie.

"[O]ndanks al die bravade aangaande swart trots en swart onafhanklikheid, skuil daar diep binne-in ’n aaklige monster wat sosiale aanvaarbaarheid gelykgestel aan gladde hare."

Daarvan was die gebeure in 2005 met Jody Kollapen, destydse voorsitter van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, ’n voorbeeld.

’n Manshaarkapper iewers in Pretoria het erken dat hy op grond van hare gediskrimineer het teen Kollapen deur te weier om sy hare te sny omdat hy nie wit is nie.

In EKM Dido se roman Stringetjie blou krale beklemtoon sy die hoofkarakter Nancy Karelse (Nomsa Hlabati) se identiteitskrisis wat met twee wêrelde verband hou – die een is bruin; die ander swart of Xhosa.

Deesdae (of is dit destyds?) gee ons (bruin en swart) uiting daaraan met warm kamme om kroeshare glad te stryk of deur kopdoeke te dra om kroeshare weg te steek.

  • 1

Kommentaar

  • Ag ek bedinges my sommer as ek nou weer oor die haardebakel lees!
    Die mense is SO die kluts kwyt rakende die haarprodukadvertensie dis net nie waar nie en hulle weet dit nie eers nie! Ek is SO vies vir Tresemmé oor hulle hul nie self verdedig het nie, want die advertensie se doel was om alle haar tipes oor die spektrum te bereik!
    As Mnr Mal-emma tog net bietjie meer ingelig was sou hy nie weggehol het met die hele storie en die hele land op hol gehad het en mense net nog verder gepolariseer het nie! Ek het “fine and flat” hare, so moet ek ook nou op die band wagon spring oor daar teen mense met my soort hare gediskrimineer word? Ek is ‘n baie donker witmens. Vanuit ‘n reguit hare oogpunt(bruinmense kan ook reguit hare hê), is dit die slegste hare om te hê! “Normal” hare is hare wat nie “brittle” of “flat” is nie! Dit het boggerol met rasgroep of kleur te doen! Word tog net wakker en hou op om so kleinserig oor alles te wees!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top