
Titel: Om Leah veilig te hou
Skrywer: Elsa Winckler
ISBN: 9781779871053
Uitgewer: Romanza
Hierdie heerlike Romanza uit Elsa Winckler, ’n internasionaal bekende romanseskrywer, se pen is die derde boek in die Bosman Sekuriteite-reeks. Die ander twee titels is Om Karolien te beskerm (2025) en Om Isla op te pas (2025). Lees my resensie van Om Karolien te beskerm hier. Al drie hierdie boeke word deur Lapa onder die hofie Spanning uitgegee en verkoop soos soetkoek.
Elsa woon saam met haar man op Bettysbaai. Hulle het drie kinders en vier kleinkinders. Sy het al meer as 60 moderne liefdesverhale en inspirerende romans in Afrikaans en Engels vir die plaaslike en internasionale boekemark die lig laat sien. Sy is ook al verskeie kere vir haar liefdesverhale bekroon. Besoek gerus haar webwerf om meer oor haar skryfwerk uit te vind.
Hierdie talentvolle en veelsydige skrywer hou daarvan dat die heldinne in haar stories beeldskoon, vurig, onafhanklik en eiesinnig moet wees. Die helde moet sterk, manlik, aantreklik en sensitief wees. Dit is presies hoe ek haar held en heldin in Om Leah veilig te hou sal opsom.
Arend en Leah is beide suksesvolle, voltydse skrywers. Hy skryf supergewilde krimi’s en sy liefdesverhale. Hulle uitgewer wag ongeduldig op albei se jongste manuskripte, maar dinge lol so ’n bietjie. Arend sukkel om ’n liefdestoneel oortuigend te skryf en is oortuig daarvan dat die macho speurder in sy boek nie een vir kerslig en koerwoordjies is nie. Leah spook weer met ’n onverwagse moordtoneel in haar storie wat net nie wil vlot nie. Die uitgewer stel voor dat hulle by mekaar kers opsteek oor hoe om hierdie probleemareas aan te spreek.
Omdat ek self ’n skrywer is, het ek hierdie karakters se dilemmas rakende hulle manuskripte geniet en daarmee geïdentifiseer. Ek het selfs ’n paar skryfwenke vir liefdes- en spanningsverhale op die koop toe gekry. Leah raai byvoorbeeld vir Arend aan om meer emosie by sy grafiese sekstoneel in te werk:
Waar is die gevoel? Jy skryf die storie net uit jou protagonis se perspektief, met ander woorde, jou leser is in sy kop en wil sien en ervaar wat jou karakter sien en ervaar. Beskryf die dringende behoefte om aan haar te raak, om haar te soen. (59)
Arend se raad is weer:
Dinge waaroor jy baie duidelikheid moet hê, is byvoorbeeld wie die moord gepleeg het. Hoe is dit gedoen? Wanneer het dit plaasgevind? Waar het dit gebeur? [...] Dis ook tydens hierdie stap wat jy die motivering vir die moord bepaal. (54)
Tipies man lees Arend eers langtand aan Leah se manuskrip, omdat hy reken liefdesverhale is vir vervelige huisvrouens bedoel, terwyl Leah ook nie juis voorheen deur krimi’s aangetrek is nie en ook maar met voorbehoude begin lees. Beide kry egter respek vir mekaar se genres en skryftalent.
Elsa plaas die held en heldin vir drie dae noodgedwonge in mekaar se geselskap toe hulle veiligheid opeens bedreig word. Arend se krimi is op ware gebeure gebaseer en die werklike rampokkers maak dit duidelik dat hulle alles sal doen om te keer dat sy boek die lig sien. Die gepaardgaande aksie en spanning vloei teen ’n geloofwaardige tempo en daar is selfs ’n ontvoering. Ek het wel gereken dat van die spanningsvolle gebeure dalk net té maklik en toevallig in die agtergrond opgelos word, maar in sy kern is en bly die boek ’n Romanza. Hoewel daar spanning is, bly dit dus verstaanbaar getrou aan sy aard – dié van ’n liefdesverhaal en nie ’n krimi nie.
Omdat Elsa die storie beurtelings uit beide hoofkarakters se perspektiewe vertel, kry die leser insae in hulle handelinge, emosies en gedagtes. En dis vanuit die staanspoor duidelik dat dié twee nie hulle hande van mekaar kan afhou nie. Begeerte figureer sterk in hierdie boek en die leser wat van vurige liefdestonele hou, sal beslis nie teleurgesteld wees nie. Voorbeeld: “Oral waar hy aan haar vel raak, lek-lek klein vuurtjies onder die oppervlak” (7).
Elsa skeep geensins die emosionele sy van ontluikende liefde tussen man en vrou af nie. As ervare skrywer, weet sy hoe om haar lesers op ’n opwindende tuimeltreinrit te neem, waar kwesbaarheid, vooroordele, bagasie en misverstande eers aangespreek moet word, alvorens volle oorgawe kan gebeur. Voorbeeld:
Lyflike lus, begeerte na ’n mooi vrou is iets wat hy ken. Ja, Leah is mooi en sexy, maar wat binne hom gebeur wanneer hy na haar kyk, is iets heel anders as wat hy nog ooit ervaar het. (63)
Arend uiter gereeld ’n geliefkoosde kragwoord wat soms by sy mond uitglip. Hoewel die woord funksioneel gebruik word en die leser volkome verstaan wat deur sy gedagtes maal wanneer hy dit gebruik, het ek op ’n stadium gevoel dat die trefkrag van die woord verlore begin gaan. Dit is ook asof Arend later weer half vergeet van die woord.
Ek het baie lekker aan Om Leah veilig te hou gelees. Dit bevat al die elemente wat Romanzas so gewild maak. Voornemende skrywers sal beslis ’n paar welkome skryfwenke hierin vind.

