Om gedigte musiek te laat word

  • 0

 

"Kom luister en gesels saam as Elsabé Daneel, Johann Nel en van jou gunstelingdigters optree by die bekendstelling van Leserskring se Gewildste Afrikaanse gedigte." Só stel die Woordfeesprogram hierdie item bekend. Maar wat kan luisteraars verwag? Naomi Meyer het vir Ben Ludik, wat bekendheid verwerf het deur die klankbane van Die Wonderwerker en Skoonheid te komponeer, gevra oor sy betrokkenheid by Gewildste Gedigte.

 

 

Hallo Ben, dankie dat jy kans sien om te gesels. Jy het die klankbane van Skoonheid en Die Wonderwerker gekomponeer – wat is jou agtergrond?

Ek het ’n BA in visuele kommunikasie ontwerp verwerf by die Universiteit Stellenbosch, en het hier ook vir ’n rukkie gewerk as ’n ontwerper en digitalevideo-naproduksietegnikus totdat die aantrekking van my passie vir musiek (op daardie stadium slegs ’n stokperdjie) my oorrompel het. Ek het die skuif gemaak Kaapstad toe en begin om vryskut musiek te vervaardig vir advertensies en kort TV dokumentêre insetsels. Gedurende hierdie tyd het ek ook in die Kaapse nagklubs as platejoggie opgetree en selfs ’n stukkie doef-doef-deuntjies geskryf hier en daar: só het Oliver Hermanus my toe genader om vir die nagklubtoneel van Skoonheid ’n paar elektronommertjies te komponeer. Oliver het later besluit om ’n paar stukkies klassieke filmmusiek ook in te sluit, en ek het hom met effens ongegronde selfvertroue oortuig dat ek dit ook kon doen. Dit was bitter uitdagend, maar het goed afgekom, en sedertdien is ek verslaaf aan die klassieke-filmmusiek-styl. 

 

 

Vertel asseblief vir ons lesers hoe jy betrokke geraak het by hierdie projek van 100 Gewildste Gedigte ... en wat is hierdie projek? (Ek dag dis stemkunstenaars wat die publiek se gunsteling-gedigte voorlees – waar pas musiek in die prentjie?)

Die 100 Gewildste Afrikaanse Gedigte-projek is by die US Konservatorium, waar my ateljee tans geleë is, opgeneem deur Gerhard Roux, die fenomenale klankingenieur saam met wie ek beide die klankbane van Skoonheid en Die Wonderwerker se orkesopnames gemaak het. Gerhard het my aanbeveel toe die produksiespan gevra het vir kort stukkies begeleidende musiek onder die inleidings tot die gedigte, gelees deur Margot Luyt.

Hoe gaan ’n mens daarmee te werk om musiek uit te werk wat pas by die gevoel van ’n gedig, veral ou gedigte? Wat hierby aansluit: Afrikaanse mense hou nogal van nostalgie, as ek mag stereotipeer. Of hoe dink jy? Het jy jou musiek vir die gehoor geskryf – of vir jouself? Wie was jou ideale luisteraar?

Moeilike vraag! Ek het al keer op keer gevind dat my werk as komponis op sy sterkste is wanneer ek regtig die regisseurs se visie vertrou: ek voel dis hulle werk om die gehoor in ag te neem. Selfs die mees outokratiese outeur kan nie suksesvol wees sonder ’n gehoor nie, en dis hoekom hulle suksesvolle regisseurs is. Die teikengroep is wel hier baie uiteenlopend en mens wil toelaat dat elke persoon sy eie ervaring van die gedigte kan geniet. Die regie van veral Hugo Theart was baie sensitief - dit het my gehelp om deur die musiek ’n atmosfeer te skep wat nie die gedigte oordonder óf in ’n spesifieke gehoor se verwagtinge inspeel nie: die ideale resultaat is dat enigiemand die gedigte opnuut kan waardeer.

Wat was jou persoonlike gunstelinge van die gedigte?

Ek het ’n nuwe waardering vir NP Van Wyk Louw ontdek deur hierdie projek, en ek sou sê my gunsteling-gedig was “4 gebede by jaargetye in die Boland”.

Hou jy in die algemeen van gedigte – of was hierdie vir jou ’n nuwe uitdaging?

Ek geniet nog altyd gedigte en het selfs ’n pittige voordrag van Kozain se “Diagonaalstraat” as 11-jarige gelewer by die Stellenbosse eisteddfod!

Is daar enige items op die Woordfeesprogram wat jy graag sal wil bywoon – en wat is dit?

Ek sal nie die optrede van Koos Kombuis en Die Skynmaagde by Dorpstraat-teater misloop vir enigiets nie!

 

Gewildste Afrikaanse gedigte
Aangebied deur Leserskring

9 Maart 13:00 | Boektent | 50 min | R50

Klik hier vir volledige inligting oor Woordfees 2013.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top