Om feesloos te lewe

  • 3

Crito is glo nie meer nie. Hoor ek. Julle moenie alles glo wat julle op sosiale media lees nie. Kom gesels gerus met my, ek doen gereeld brekkie by die Karoo-restaurant aan Lynwoodweg. Miskien sal ek effe dikbek wees, dis my verstek-posisie op die oomblik. Moe-rig verby.

Vra jy hoekom?

Wel, kom ons chat ’n bietjie. Miskien sal jy agterna soos die Dude sê “that’s just your opinion, man” en dit is okay.

Kom, ek begin by die begin. Bettina Wyngaard se reaksie op ’n rassistiese insident tydens die Etienne van Heerden Veldsoirée verlede September op Cradock en in die nadraai daarvan die reaksies van Darryl David en Fanie Olivier.

My reaksie: Boeke- en kultuurfeeste het geen bestaansreg meer nie. Is hulle werklik vierings, of ’n desperate poging om ’n gemarginaliseerde deel van die groter samelewing te laat voel hulle hoort nog iewers?

Kyk ek na Wyngaard en David en Olivier se skrywes, voel ek dis tyd om aan te beweeg. Ek het die einde van my pad met al die Afrikaanse feeste bereik. G’n KKNK, niekies Aardklop, fokkolé Woordfees, zigalo Vrye Weekblad-ge-warra-warra. Stilbaai se diverse hogere feestelikhede trek my nie aan nie, die Suidoosterfees se wind het gaan lê.

Ek is gereed vir die feeslose lewe.

Jy vra: Wat gaan dan van die Afrikaanse teater word? Van skrywers wat oor hul boeke praat? Van laataand kuier en diep stukke gesels oor Tim en JP se insigte en Piet se skerp alternatiewe siening? En Heinrich se ontleding agterna?

Is dit al redes hoekom ons so feeste hou? Sodat ons die skyn van ’n gesonde kulturele en politieke lewe kan bewaar? Ek kan jou ’n brief gee – as Afrikaanse kultuur en politiek afhanklik is van feeste, het hulle vergeet om ons te laat weet die begrafnis is lankal verby.

As jy Afrikaanse kultuur soek, gaan koester liewer jou kosbare menswees by ’n gospel-konsert. Ten minste sal Pappie nie dáár in die biertuin vashaak, terwyl Moeksie en haar pêl Debra toneelstukke gaan kyk nie.

***

Watter issues het Bettina Wyngaard uitgelig? Hoofsaaklik wit rassisme.

Ek stem met haar saam en dat dit op sy naam genoem moet word: wit meerderwaardigheid, selfs wit heerssugtigheid. Op plekke en by mense waar mens dit nie verwag nie. Vriende en vriendinne wat onwillig is om ’n tafel, ’n geselskring te deel met nie-wittes. Kennisse van my wat net restaurante besoek waar wit kelners hulle kan bedien. Die blik af teen die neus so lank as ’n Sondag-piekniek by Klerksdorp se dam. Mens leer om sulke vriende te vermy en die vriendskap ’n stille dood te laat sterf.

Maar: Spreek jy ooit jou wit rassistiese vriende daaroor aan?

Natuurlik het rassisme ’n ander invalshoek ook. Jy hoef net te luister na die filosowe wat in die parlement sit. Oor enige onderwerp, van plaasmoorde tot skoolbywoning tot watertekorte en wie nou eintlik vir die strukturele verval van die land verantwoordelik is.

Een van die mees neerdrukkende gesprekke wat ek die afgelope jaar gehad het, was met ’n konsultant wat die staat help met issues rondom HR. Sy vertel my van die negering van bruin staatsamptenare ter wille van onopgeleide swart kaders, en hoe dit net weggepraat word.

Rassisme is oral, en in hierdie periode vóór die verkiesing is dit meer sigbaar as ooit tevore. Bygesê, nie net wit rassisme nie. Die situasie is nie aanvaarbaar nie, maar wees realisties daaroor. Ons gaan dit nie verander kry nie, al probeer ieder op persoonlike vlak baie hard.

Die organiseerder van die Stilbaaise boekefees gaan dit nie verander met ’n beleid om mense wat hulle skuldig maak aan rassistiese gedrag, te vra om die perseel te verlaat nie. Die skrywer-aktivis gaan nie die white supremacists uit ons kollektiewe bestel kry deur weg te bly van Afrikaanse feeste nie. Die Zoeloelandse digter gaan dit nie regkry deur te wys op die onpraktiese aspekte van optrede deur feesorganiseerders teen mense wat hulle skuldig maak aan rassistiese gedrag nie.

Keelvol soos ek is oor die herrysenis van rassisme, net so moeg is ek vir die eindelose gepraat daaroor. Ons het mos nou al geleer, by ons heersers, dat probleme in Suid-Afrika besweer word deur dit op vergaderings aan te spreek (“We have addressed the matter”, soos ons illustere president altyd sê) en daarna summier daarvan te vergeet. Jy hoef niks te doen nie. Klets net daaroor.

Rassisme onder Suid-Afrikaners kan alleen uitgeroei word deur iets soos Mao se kulturele revolusie in China. So prakties soos die hel vanself.

***

Die fees-gefoksels het vir my al lank ’n irriterende newe-aspek. Die gebrek aan behoorlike statistiek agterna. Word die verkoop van boeke werklik bevorder? Trap mense agterna die drempels deur van teaters dwarsoor die land? Hoekom maak die uitgewers nooit die syfers van verkope bekend nie? Ek wil graag weet hoe vergelyk die statistieke jaar op jaar. Waar lê die groeipunte?

Op Oudtshoorn het dieselfde mense hul gesigte kom wys wat verlede jaar op Stellenbosch by die Woordfees was. Ouerige mense wat geld te spaar het. Met “ouerig” bedoel ek mense bo 50. Die veterane van die groot feestelikheid. Ons ken mekaar al goed genoeg om ligweg vir mekaar te glimlag.

Komaan, moenie vir my probeer wysmaak dat die feeste vir almal bekostigbaar of aantreklik is nie. Was dit nie vir die uitgewers en die borge nie, sou die feeste nie aan die gang kon bly nie. En sommige van die boekefeeste het sommer ’n ingebore dodelikheid. Wie stel belang in Franschhoek se gedoente – beslis nie ek nie. Het Marita van der Vyver en Deon Meyer al genoeg hoor praat.

Verstaan jy? As die feeste jaar op jaar dieselfde ou gesigte paradeer sal nie eens Baby en Katoolsie lus voel om van Mosselbaai en Hartenbos af op te ruk nie.              

***

Die feeste wat ek genoem het, buiten Franschhoek, het ’n GGD, naamlik Afrikaans. Niemand word gedwing om dit by te woon nie. Dit is nie die organiseerders se plig om toe te sien dat die bywoners die land se demografie weerspieël nie.

As daar ’n klomp dronkgatte opdaag … Wie het die reg om hulle in die bek te ruk?

Ek respekteer Wyngaard se besluit om die rug op die feeste te keer, al gaan sy moontlik skade ly daardeur. Dis ’n dapper besluit – sy verloor waarskynlik ’n groot deel van haar bemarkbaarheid as skrywer.

Die vraag wat noodwendig hierop volg, is hoe groot haar leespubliek is? Ook: Hoe gaan dit met die verkope van Afrikaanse boeke in die algemeen? Kyk mens na die titels wat geresenseer word in die media, lyk dit asof daar ’n groot behoefte is aan misdaadfiksie en digbundels, en baie min vir nie-fiksie.

Hou dié afleiding water? Wat is die werklike verkoopsyfers?

Ek’s bang Afrikaanse lesers en boekaankopers word al hoe minder, en nie net weens die groot diaspora van Afrikaanssprekende afgestudeerdes nie. Het die oorvloed loftuitende resensies van die afgelope klompie jare vir uitgewers ’n bloeityd gebring?

Die gevaar is dat die walms van kritiese wierook deur resensente en akademici ’n talmende stank van onbelangstelling verdoesel.

***

Van statistiek gepraat: Kan iemand vir my lig werp op die vordering in die markplek van Kaaps? Overgezet zijnde, het die verkope van boeke in Kaaps net so dramaties gevorder as wat die impak daarvan op letterkundiges en akademici was?

By ’n gebrek aan behoorlike statistiek daaroor moet mens maar wag vir die soort dinge wat destyds die tekens was dat Afrikaans groei en inslag vind. Dinge soos die vertaling van die Bybel, woordeboeke en die ontwikkeling van vakkundige terminologie.

Dit laat mens dink, nè? Hoe ver in die toekoms lê ’n Kaapse fees?

***

Genoeg van die feeste. Kry jy vir jou ’n lekker flat white en gee my ’n kans om my te verdiep in Gerda Taljaard-Gilson se resensie van Karel Schoeman, stiltes en stemme, Willie Burger en ander se yodelay-hee-who oor die man wat Taljaard as ’n “ikoniese” skrywer bestempel. Dus iemand wat verering waardig is. (Ek haat daai woord, ikonies. Só True housewives of Vereeniging se clichésfeer.)

Is dit hy of sy skryfwerk wat die verering verdien? Sy skryfwerk was in drie gevalle vir haar só monumentaal dat sy onbeskoftheid en misbruik van ander mense deur die lens van Stiltes en stemme beskou moet word sodat mens self kan besluit of hy vir jou ’n aanvaarbare ikoon is. (Net vir die rekord: Ek dink nie die Stemme-trilogie is Schoeman se topprestasie nie. Op ’n eiland is.)

Taljaard-Gilson se resensie (op LitNet) is geen frivole reaksie nie. Dit is wel een wat vir my die ironie van die publikasie na vore bring. Karel Schoeman het hom taamlik skerp uitgespreek oor akademici en hul insigte. Daar sal sekerlik nog mense wees wat sy onderhoud in 1999 op kykNET (met Gerrit Olivier in die program Boeksusters) onthou, en al die snedighede wat hy daartydens oor akademici kwytgeraak het. Nou is dit juis uit daardie geledere van akademici wat Stiltes en stemme kom. Die mense wat hy so maklik verguis het, juig hom nou gesamentlik toe. Is hulle só dankbaar vir die kans om te kloek?

Taljaard-Gilson se resensie is vererend dog eerlik. Ek het Stiltes en stemme begin lees op die vliegtuig op pad terug van my KKNK-swanesang af, en dit gou neergesit. Ek was bang my lagbui oor een van die bydraers se opmerkings oor Schoeman en Marcel Proust gaan my verderaan my waardigheid nog meer laat verloor.

Ná Taljaard-Gilson se resensie beskou ek Karel Schoeman as behoorlik getakseer en afgehandel.

Ek bewonder Johann Rossouw vir die wyse waarop hy Schoeman se ploertige gedrag hanteer het. Ek sou nie kon nie. Dit gaan my verstand te bowe hoe iemand wat so ’n hoë dunk van homself gehad het dit reggekry het om almal te laat glo dat hy reg was in sy selftaksering. Mens moet Erika Terblanche se oorsig oor Schoeman lees om te snap hoe presieus Schoeman was – en hoe slim Gerda Taljaard-Gilson se aanpak van hierdie resensie is.

Nou plaas ek Schoeman maar in my donker boksie saam met die feeste. Armosyn is hy beslis nie.

Ander name sluimer nog.

***

Met pruilmond het ek Willemien Aukema se reaksie op Chanette Paul se roman Anoniem gelees (Boeke24). Paul se 50ste roman. As sy nie pasop nie, huldig Naledi haar met iets in die trant van Karel Schoeman en Petra Müller se gedenkskrifte. Die Leon van Nierop van middelmoot-lektuur.

Aukema is ’n resensent wat mens se vertroue in die resepsiologie herstel. Toonkrul-lekker! Sowat van ’n nuutskepping sien mens selde.

En dan is daar Joan Hambidge se bespreking van Betsie van Niekerk se … so ook op die aarde (ook Boeke24). Ek is ver genoeg van Hambidge af om sonder vrees van ’n snotklap te kan sê dat Hambidge met hierdie resensie nuwe geledinge van haar massiewe erudisie openbaar. Geen donker hoekie van die verhaal word oorgeslaan nie.

Maar ek dink Boeke24 het haar in ’n baie moeilike posisie geplaas met die opskrif by die resensie: “Dié prosateks ’n klein juweel”. Hambidge sê tog dat die roman ’n juweel is. ’n Volle juweel, om dit heeltemal duidelik te maak. As sy gesê het “klein juweel” sou mens dadelik gedink het daar is iets meerderwaardigs aan die formulering, selfs kleinerends. En dít is tog duidelik nie die geval nie. Mens moet net kyk hóé hoog Hambidge die roman aanslaan om te weet dat sy nie dink dis ’n mindere skat nie.

***

Crito, soos julle weet, leef vir Afrikaanse boeke en resensies. Ek voel nie altyd lus om uit te flap oor die resensies oor misdaadromans wat soos ’n kabbelende stroom water oor die stukkende bakstene van die leeskultuur spoel nie.

Soms, onverwags, is daar wel Afrikaanse resensies oor Engelse boeke wat my aandag trek en wat ek moet noem.

In Rapport Boeke was daar enkele weke gelede ’n resensie deur Michiel Heyns oor Ivan Vladislavic se The near North. Gaan lees die boek, en dan die resensie. As jy in my omgewing bly, kan jy dalk self ’n draai deur Johannesburg gaan ry, en dan weer deur die boek blaai.

Dis hoekom Crito bly lewe. Sulke boeke, sulke resensies. Vergete is die modder waarin die Afrikaanse boekekultuur vasgeval het.

Die ware feestelikheid is vasgelê in die bedrukte blaaie van sulke boeke, en resensente wat soos Michiel Heyns daarop reageer.

  • 3

Kommentaar

  • Re "Nou is dit juis uit daardie geledere van akademici wat Stiltes en stemme kom. Die mense wat hy so maklik verguis het, juig hom nou gesamentlik toe." hierbo.

    Niks nuut onder die son of in die lettere nie? 'n Ou tweespalt?

    Vergelyk 'n resensent uit 2019: "Dit is ironies dat die grootste gedeelte van dié huldigingsboek oor PG du Plessis, wat geen geheimgemaak het van sy renons in letterkundiges nie, deur literatore geskryf is, meen Francois Smith."
    Smith, F. 2019. Literatore se laaste sê sou P.G. nie geval nie. Netwerk24. 18 Augustus. https://www.netwerk24.com/Netwerk24/literatore-se-laaste-se-sou-pg-nie-geval-nie-20190818

  • Oppas Crito. Jou gal gaan na jou kop. Dis werklik moeilik om aan 'n meer ontoepaslike geleentheid te dink om die woord "negering" te gebruik.

  • Die Jirre se weë is duister en sowaar as vet bevind ek en een ander ons in die KKNK-distrik tydens die feestelikheid (deur die loop van ʼn doodgewone week) en nóg toevalliger is daar selfs ʼn stukkie teater genannt ‘Die Van Vuurens vat vlam”. Dit was pret.

    Ja die “feesterrein” verloop maar so-só: https://youtu.be/PJtfu26fXPM?si=MxrtAr-ZskYbwk1z. Die bier was vrek duur, damprokers oral en selfs geheimsinniger as Bond. In ʼn stadium het ek twee jong vroue gevra of ons hulle lang, leë tafel mag deel want die son bak die kak uit ons uit, maar hulle het gesê hulle hou plek. ʼn Uur later was hulle steeds daar op hulle eie. Tsk. (Dalk omdat ons duskant vyftig is.) Nietemin, ek sou aanbeveel jy kies ʼn item waarvan jy hou en gaan daarvoor as jy wil. Die res: pfffft.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top