Rondom Bettina

  • 22

Skets: Richard Duijnstee | Pixabay

...
Is dit hoe rassiste geïdentifiseer word? Dié subjektiewe klassifikasie na aanleiding van die vrou se gesigsuitdrukking?
...

Ek het nie destyds iets gesê rondom die berugte Oos-Kaap-insident van September verlede jaar nie en is nou nogal spyt daaroor.

Veral toe ek onlangs by die Stilbaai Boekefees hoor dat die organiseerders van ’n groep kunstefeeste ’n besluit geneem het dat geen rassisme by hulle feeste toegelaat gaan word nie en dat dit van nou af as “veilige ruimtes” vir skrywers en ander deelnemers beskou word.

En soos Bettina Wyngaard dit in haar jongste bydrae in LitNet (“Boekfeeste as ‘veilige’ ruimtes”, 27 Februarie) verduidelik: “Boekruimtes kán veilige ruimtes wees vir almal, indien daar met intensie teen diskrimineerders standpunt ingeneem word.”

Hierdie stelling is nogal skrikwekkend, want kennelik is dit glad nie “veilige ruimtes” vir almal nie, maar net vir diegene wat nie as “diskrimineerders” geklassifiseer gaan of kan word nie.

Kom ons begin voor: Hoe word hierdie “diskrimineerders” geïdentifiseer sodat hulle geklassifiseer kan word? Is dit sekere woorde wat deur individue gebruik word? Of dalk selfs deur karakters in opvoerings? In ’n skrywer se werk en voorstelling van ons land en sy mense? Is dit handgebare, gesigsuitdrukkings? En hoe word iets soos gesigsuitdrukkings omskryf en wie interpreteer dit?

As ek (dis natuurlik nie nou die letterlike ek nie, asseblief!) vir iemand ’n “white racist pig” noem, diskrimineer ek teen hom? Verskil dit as die persoon wat dit sê ’n bleek Suid-Afrikaner is en nie ’n swart of bruin Suid-Afrikaner nie? En as ’n bleeksiel dit vir ’n ander bleeksiel sou sê?

As ek ’n swart feesganger in ’n gesprek aanvat en hom of haar “’n fokken rassis” noem, sou dit neerkom op “diskriminasie”? Mag iemand sonder meer iemand anders ’n “white supremacist” noem wanneer so ’n etiket diskriminerend is? Kan iemand wat beweer dat dit duidelik is dat munisipale dienste onder ’n bepaalde bestuur in duie gestort het, van rassisme beskuldig word? Of dat alles apartheid en wit Afrikaanse mans se skuld is, ook nog van seksisme?

Of moet dinge binne konteks bekyk, bespreek, geweeg en dan dalk te lig bevind word?

...
’n Kerngegewe van ons Grondwet is vryheid van assosiasie. As ek daardie vryheid uitoefen, sonder om ander te na te kom, kan dit immers nie neerkom op diskriminasie nie.
...

Is rassisme (“in the eye of the beholder”) die enigste beduidende aantoonbare diskriminerende faktor? As ek by ’n tafel sit waar daar dinge gesê word wat vir my godsdienstig aanstoot gee, mag ek maar opstaan en elders gaan sit? Of as dit duidelik is dat die hele gesprek aan tafel oor krieket gaan verloop, kan ek maar die groep verlaat en rugbymense gaan soek? As ’n klomp gay vriende op ’n jolige manier met mekaar omgaan, maar dit my irriteer en ek myself verskoon, diskrimineer ek? As ’n klompie mense Afrikaans praat en hulle gaan voort in Afrikaans wanneer ek vra dat hulle Engels moet praat en hulle doen dit nie, diskrimineer hulle teen my? Sou dit anders wees as iemand in ’n groep sou vra of ’n mens nie maar Afrikaans kan praat nie?

Ek het Bettina se aanvanklike stuk oor die Etienne van Heerden Veldsoirée in Cradock nou vir die eerste keer gaan lees en ’n paar lastige dinge rondom die rasse-insident waarna sy verwys, pla my. Want ek probeer verstaan op watter gronde die “diskrimineerder” geïdentifiseer word.

Sy skryf dat die vier mense by die tafel vir agt vir haar gesê het dat dit in orde sou wees as sy en drie vriende by hulle aansluit nadat sy hulle oor die vier leë plekke gevra het. Hulle het dus nie ’n probleem gehad rondom haar nie, en dit is dus duidelik nie “white supremacists” nie. Haar drie vriende, skryf sy, was nie toe teenwoordig nie: “My companions, two white participants and a black attendee, an attorney I’ve known for close on twenty years, were still getting drinks and talking.”

Wanneer haar Xhosa-vriend (taal-, ras-, etnisiteit- of streeksgegewe?) opdaag, merk sy iets op: “I immediately saw the change that came over the woman – the tightening around the eyes, the hardening and thinning of the lips, the flaring of the nostrils.”

Is dit hoe rassiste geïdentifiseer word? Dié subjektiewe klassifikasie na aanleiding van die vrou se gesigsuitdrukking?

Wanneer die vrou en haar metgesel hulle wyn vat en die tafel verlaat, en Bettina haar vra waarom hulle weggaan, “she could not meet my eyes and mumbled something about meeting friends.”

Die ander twee wit tafelgenote het bly sit, maar Bettina het geen poging aangewend om by hulle uit te vind oor die wat en hoekom nie. Want, skryf sy, sy het geweet: “One does not live in South Africa in a black skin and be unaware of the casual racism that abounds.”

Ek is nie seker wat “casual racism” presies beteken nie. Sou dit iets kon wees soos “Birds of a feather flock together”, maar met die aanname dat dit altyd rassisties is as daar swarterige mense by betrokke is?

Is daar ander “casual discriminations” waarvan ons moet weet, voor moet uitkyk en aan die feesorganiseerders moet rapporteer? Of miskien voel ek dat daar teen my gediskrimineer is omdat een van ’n magdom ander verskille tussen mense, hulle idees, behoeftes, belangstellings, oortuigings ens daartoe aanleiding gegee het dat iemand ’n tafel of ’n vertrek of ’n gesprek of ’n vergadering verlaat het?

’n Kerngegewe van ons Grondwet is vryheid van assosiasie. As ek daardie vryheid uitoefen, sonder om ander te na te kom, kan dit immers nie neerkom op diskriminasie nie.

En hoe presies gaan die feesbestuur met intensie teen diskrimineerders standpunt inneem? Hulle waarsku voordat hulle kaartjies koop deur ’n lys van “diskriminasies” te publiseer? Staan daar op die kaartjies dat sekere bepalings en voorwaardes geld en dat die kaartjiehouers bevestig dat hulle daarmee vertroud is?

Gaan daar feespolisie wees by wie ek kan gaan kla? Of ’n klagtekantoor?

Ons het gehoor dat mense wat diskrimineerders is, gevra gaan word om die fees (feesterrein/die dorp?) te verlaat. En as hulle weier?

Gaan daar ’n “verhoor” wees met getuies waar die “beskuldigde” die kans gaan kry om darem iets te vertel of te verduidelik? Is die feit dat iemand opgestaan het van ’n tafel sonder om enige iets te sê, ’n misdaad?

En as daar werklik sprake is van ’n misdaad (dronk op straat, molestering, haatspraak, teistering), die gereg sy gang laat gaan? En die fees gewoon net sy eie gang!

In haar jongste skrywe gee Bettina hoog op oor inklusiwiteit en diversiteit, maar onderliggend aan die hele skep van die sogenaamde vrye ruimtes, is eksklusiwiteit en die uitskakeling van daardie soort diversiteit waarin alle menings gelug en alle opvattings gehoor, bespreek en getoets word.

Dit is ontstellend dat ’n prokureur en ’n skrywer hierdie gedagte nie alleen ondersteun nie, maar propageer. Die “vrye ruimtes” waarvan daar gepraat word, is eerder “onvrye ruimtes” – die oop gesprek het heeltemal verdwyn.

Naskrif: My eie houding rondom rassisme en diskriminasie is dekades reeds duidelik, as skrywer en in my doen en late. Loer maar na my bundel Verklarings 1967–1987 en lees hoe TT Cloete my lelik bygekom het in sy vertroulike Broederbond-dokument “Versetliteratuur onder die Sestiger- en Sewentigerskrywers”. John Vorster het na ons klompie “andersdenkendes” in 1972 se SR op Stellenbosch verwys as “slaprugafrikaners”, en ’n polisieman het my eendag op die N1 ’n “meidenaaier” genoem. Ek is by ’n AWB-vergadering op Louis Trichardt uitgejaag en ’n boer op Levubu het by die skou vir my gesê hy dra ’n koeël in sy sak met my naam daarop. Terselfdertyd het studente by die Universiteit van Venda my as rassis van die kampus af gejaag omdat ek die integriteit van die rektor bevraagteken het. (Iets wat Yale onder andere ook gedoen het rondom sy PhD ...)

Lees ook:

Boekfeeste as "veilige" ruimtes

LitNet se miniseminaar oor strukturele rassisme

  • 22

Kommentaar

  • Geagte Fanie,

    Uitstekende bydrae! Die oormatig-sensitiewes moet maar hulle dik stewels aantrek, aangesien ons gewone siele soms op sagte toontjies trap sonder énige bybedoelings.

  • erla diedericks

    Beste Redaksie. Ek verstaan nie die varkie-spotprent nie. Dis tog nie 'n lighartige situasie nie - alhoewel die briefskrywer se mening wel lagwekkend is.
    erla diedericks

  • Sidney Gilroy

    Daar ís so iets soos subtiele diskriminasie wat slegs met 'n gesigsuitdrukking, liggaamstaalgebruik of gewoon die uitoefening van jou reg op assosiasie 'n werklikheid word vir die party aan die ontvangkant daarvan en totdat jy self aan die ontvangkant was - hou jy jou bek daaroor en jy werk aan jouself en aan jou vriende om hulle daarop te let as hulle dit doen. Niemand wil jou reg op assosiasie wegneem nie. Daar word eerder gepoog om dit te verbreed en inklusief te maak. Assosiasie is by uitstek uitsluiting deur voorkeur. My verstaan van Bettina se betoog was juis dat daardie voorkeur soms gegrond is in iets wat ons al in die vorige eeu geleer het 'n pot twak was. Jý is dalk nie daarop gelet nie, maar glo maar dat die party(e) wat dit daagliks moet deurleef is haarfyn daarvoor ingestel. Dit vat één oogrol. Een afkeurende wegkyk. Een opstaan en woordeloos wegstap van 'n tafel af weg. Een keer jou rug keer sonder rede. Jy trap op tone sonder énige bybedoelings, want jy stap op voete van klei rond. "Oormatig-sensitief" is dalk jou manier om daarop aan te dring dat "...dit nog maar altyd so was en so sal bly, so los dit maar eerder en let us be...". Semoer. Tensy jy self daar was, in daardie vel, in daardie situasie en op daardie tydstip - is jou werk om ag te slaan om wat Bettina aanroer. Sy het nie 'n oorlog begin nie. Sy het 'n realiteit uitgewys. Dalk nie joune nie, maar baie beslis hare. Waarom daarop aandring dat jou realiteit die juiste is? Is hierdie dan nie 'n gedeelde ervaring nie?

  • Elna van der Merwe

    Ek gaan nie op Olivier se skrywe reageer nie, want ek vind dit "facetious". (Ek gebruik opsetlik die Engels, want "ligsinnig" dra nie die volle betekenis oor nie.) As organiseerder van die Stilbaai-boekefees verduidelik ek graag wat ons bedoel met ons beleid (wat op Quicket uitgespel is) dat mense wat hulle skuldig maak aan enige diskriminasie, gevra sal word om die terrein te verlaat. (Dit sluit in mense wat teen ons gays sou wou diskrimineer deur hulself te verskoon omdat hulle geïrriteer word wanneer sulke mense "op ’n jolige manier met mekaar omgaan".) Geen organiseerder kan oral wees nie en sal dus afhanklik daarvan wees dat voorvalle van diskriminasie by hulle gerapporteer word. In so 'n geval sal die persoon/persone gevra word om die terrein te verlaat en sal toegesien word dat hulle dit dadelik doen. So eenvoudig soos dit, want ek voorsien nie dat 'n diskrimineerder aan my gaan slaan nie - heeltemal onopgevoed is hulle darem seker nie?

  • Jeanne Booysen

    Terwyl ek, Olivier se gebrabbel (is dit 'n woord) lees, sien ek net die, ou verlepte menseslagtingvoorstander, Michael Rappaport, wat in Isnotreal rondloop en na apartheid soek. 🙃

  • Sidney - ek voel verlig en trots op jou gevoelvolle insig! Ek het grootgeword ten tye van die bloeming ou bedeling en is skaam hoe mense meestal uit gewoonte en by voorbedagte rade hanteer is in soortgelyke scenarios. Maar ek is verheug om te kan sê ek het “mondig” geword voordat ek skool toe is in die Karoo. Noodlot bly in lelike dinge, watter rigting hy ookal neig om te neem…

  • Willem Landman

    Erla, om te beweer die briefskrywer (sy naam is Fanie Olivier) “se mening wel lagwekkend is”, sê bloot iets oor jouself en heeltemal niks oor Olivier se argument en vrae nie. Dit vind ek tog heel niksseggend.

  • Willem Landman

    Elna, so as jy orals op 'n feesterrein sou kon wees, sou jy persone wat diskriminasie pleeg sommer self (sonder rapporte van ander) kon identifiseer, verhoor, skuldig bevind en straf (sou bv die ganse Stellenbosch dus verboten wees). So eenvoudig soos dit, sê jy kordaat. Jy sou Julius Caesar trots maak - veni, vidi, vici. (Sal die “skuldige” feesgangers darem die geld vir hulle kaartjies terugkry na die summiere skuldigbevinding?)

  • Willem Landman

    Jeanne, hoe mooi tog val jy binne die definisie van wokeness. As Fanie Olivier waarsku teen summiere etikettering rondom rassisme en ander diskriminerende praktyke kan hy nie anders as om na apartheid te hunker nie.

  • Enige plek waar 'n klomp mense saamkoek, is altyd 'n risiko met gepaardgaande probleme en drama. Kyk hoe gaan dit in die kerke. Mens moet versigtig en oordeelkundig hierdie feeste bywoon. Aan die een kant is daar altyd 'n klomp rassiste wat oral is waar jy ook al gaan, en wat net skade en skandes maak. Aan die ander kant was daar ook al talle sake waar mense vals beskuldig was van rassisme. Gevalle soos die van Annemarie Oosthuizen, Elana Barkhuizen, Anneke Smit ens. ens. Nes Willem dink ook ek dat die skrywer se vrae en vrese legitiem is. Ons lewe juis ook in 'n wereld van aanlyn kangaroostyl verhore. Die internet het darem baie voordele ook, en daar is hordes gratis aanlyn besprekinge van boeke, so mens hoef eintlik gladnie juis jou woning meer te verlaat nie. So rondreisery na feeste toe is seker 'n lekker wegbreek en avontuur in die kleine, veral as jy op plekke kom waar jy nog nooit was nie, maar dit het ook verskeie ander bedreigings. Mense verlaat hulle bekende omgewings en ondersteuningsnetwerke, en word in die proses maklik die teiken van misadigers. Daar is soms ook 'n nagryery betrokke, wat liefs vermy moet word. En dan is daar ook nog die bedreiging van besmette voedsel as mens so op pad is, want nou koop jy kos by mense van wie jy niks van weet nie. As jy dan siek word, moet 'n vreemde dokter wat jy gladnie ken nie, jou probeer help. Dit kan komplikasies he, want jou huisdokter ken jou mediese geskiedenis die beste.

    Die skrywer se "naskrif" bied ook 'n goeie perspektief op die mensdom, en hoekom jy liefs jou afstand moet probeer hou, so ver as moontlik.

    Die kort van die lank is dat mense se verstaan van die begrip "rassisme" verskil net so hemelsbreed as hulle verstaan van woorde soos "Christen", "liberaal", "konserwatief","feminis", "apartheid" en hordes ander begrippe. Volgens sommige definisies, spesifiek die van die kritiese rasteorie en die se strominge, is dit onmoontlik dat witmense enige rassisme kan ervaar. Rassisme is daarvolgens struktureel en die slagoffer kan nooit wit wees nie. Dit is nie hoe talle ander mense daaroor dink nie. Mens het altyd met hierdie soort van onversoenbaarhede tussen mense te make.

    Daarmee moet mens nie jouself iets ontneem indien dit jou hartsbegeerte is om in persoon so iets te wil bywoon nie. Net in gedagte hou dat daar altyd alternatiewe bestaan. Wat ook baie goedkoper is en jou klomp petrol (en wie weet hoeveel ander probleme nog) kan spaar.

  • Chris Marnewick SC

    Ek wonder nou: Het dit rassisties geword om iemand te verdedig wat van rassisme beskuldig word? Of om gebeure wat as rassisme vertolk is anders te vertolk of te bevraagteken? Of te vra of daar verskillende vertolkings aan gebeure geheg word na gelang van die ras van die vertolkers?

    Ek ken Fanie goed. Hy was vir 'n jaar op 'n kursus wat ek vir pupil-advokate aangebied het, een van die minderheid wittes saam met Zoeloes, Indiȅrs en Bruines. Ironies genoeg, was dit die Zoeloes wat nie wou integreer deur in groepe saam met die ander te werk nie.

    Nietemin, Fanie is nie net 'n skrywer, digter, essayist en resensent nie, maar in wese ook 'n advokaat. Die advokaat in hom noop hom om die getuienis vir elke feitelike bewering te ondersoek en te toets. En ek dink hy het hier niks meer as dit gedoen nie.

    NS. Nou dat ek daaraan dink, Afrikaanssprekendes in die Natal van die 1970s en 1980s het rassisme gereeld eerstehands ondervind, as slagoffers. In die regspraktyk.

  • Monica Hammes

    Goeiste, ek is nog van plan om die VWB Boekefees op Cullinan en die Woordfees (teen aansienlike koste - vliegtuigkaartjie, verblyf ens.) by te woon en wonder nou of ek nog welkom is. Weet die feespolisie dalk iets van my wat ek probeer wegsteek?

    In elk geval is my profiel sodanig dat dit my dalk by voorbaat 'n verdagte maak: wit, gelowig en ver bo 70. Ek dink nie Fanie het ouderdom ook genoem nie maar ek is tog skrikkerig want in 2017, na afloop van die heerlike gesamentlike byeenkoms van Pretoriase leeskringe met Etienne van Heerden, wat Bettina ook bygewoon het, was sy baie snedig oor die ou tannies.

  • Waldemar Gouws

    Is Bettina nie 'n byderwetse soort tenk nie? Die vervaardiger van die ammunisie, soos kartetse en groepsgranate, speel saam.

  • Charl-Pierre Naudé volhard alweer vanoggend kwelsugtig in Boekevat (Beeld) met sy ongefundeerde en onwetenskaplike aanname dat die ou grand-meesters soos Dylan en Leroux se gebruik van die donkerbril na-aping van godegedrag is en nie met sensitiewe sig te make het nie.

    (Facetious, frivolous, flippant and glib! ‒ Afrikaans had nog nooit sulke groot woorde.)

    Snotjan merk tereg alle mense is fucked-up, maar niemand teken beswaar aan nie want ons weet hy praat waar, maar dit is steeds nie mooi van een groep gode om op ʼn ander neer te sien nie. En dit is inderdaad riskant om VWB se Boekefees in Cullinan by te woon, maar as ʼn ondermaanse man met ʼn donkerbril op en geklee in ʼn klein kledingstukkie opdaag, mag meisies geklee in skrapse bikini’s hom moontlik gefassineerd nader en die kultuurpolisie se aandag aftrek of -lei van die rasagtige kraaipote om sy waterige oë.

    Soos Naudé seker tereg skryf: “Godegedrag is deel van ons kollektiewe geheue as mens.”

  • Uit Stellenbosch bly ek weg, indien enigsins moontlik. Die plek se parkering gee my altoos bloedneus. My gunsteling fees bly die Adam Small-fees op Pniel.

  • Geagte Elise Bishop, Jan Breet, Jeanne Booysen, Erla Diedericks, Leane,
    Sidney Gilroy en Elna van der Merwe,

    Wokeness is besig om sy/haar gat te sien. Kyk op You Tube na Pennuel wat Orania besoek het. Wie's Pennuel? Gaan kyk bietjie. Hy is Swart, bedonnerd en befok oor hierdie ekskuus-gesêery van woke wittes én swartes.

    My magtig, ons is 30 jaar in die pad na 1994.

  • Ag, tog, Mense! Ons is almal rassiste. Rassisme en jaloesie lê diep gewortel in ons breins; trouens, dit is deel van natuurlike seleksie, die dryfveer van evolusie. Dis daardie gene waarvan die voortbestaan beskerm moet word. Die mannetjiesleeu sal maar altyd sy opponent se telge vermorsel.

  • Dirk, Dirk, Dirk. Tsk. Wens ek had jou optimisme. Ek het juis daai ienterview van Penuel gecheck gister. Dit was op die Orania nuusbriefie. Was vir my ook nogal interessant. Veral ook die reaksies onderaan. Het jy geweet Penuel het sy eie godsdiens in 2018 begin? Hy noem dit Penuelism. Hy is 'n eks-Christen. Nes ekself. Ek dink egter nie wokeness is op pad uit nie. Mense verskil en sal altyd. Een klomp is woke en die ander is nie. Die grootste gros is so tussen die boom en die bas. Hulle staan in die politiek bekend as die 'sentrum'. Mens hoor altoos seg die politieke ontleders: die sentrum moet hou! Die Here het ons mos maar almal baie uniek gemaak en gelaat staan. Daarby is die moderne liberale demokrasie mos hin demoniese sisteem, wat ruimtes laat vir mense om te wees wat hulle van nature neig om te wil wees. Of wat hulle na toe aspireer om te wees. Die resultaat is dikwels ekstreme polarisasie, veral hier op die fringes. Dit sorg altyd vir 'n lekker saaid show op die main iewent, laasgenoemde wat maar neig om 'n droee affere te wees. Ja nee, homo sapien sapien se streke is nog bitter ver van uitgewoed. Daar le nog vele vuurwerke in die verskiet.

  • Willem Landman

    Chris, jy is in die kol. Ek ken Fanie sedert 1957. Hy is geen rassis nie. So eenvoudig soos dit. Sy argumente spreek vir hulself.

  • Chris Erasmus

    Ek is miskien moedswillig, maar die rasseding/diskriminasie/modegier slaan my totaal en al dronk. As ek die klaagster se ervaring lees, kom ek tot die eenvoudige gevolgtrekking dat almal wat bleeksiele/wittes/umlungus/Europeërs/blankes is, rassiste is. Een van die party was nieblank en nogal 'n prokureur. Wat beteken dit nou? Maw as jy 'n anderskleurige gekwalifiserde persoon is, is jy beter as die ander van jou bevolkingsgroep? As jy 'n prokureur is, sou ek in elk geval openlik kapsie gemaak het :-).
    Uit my ervaring is die blanke die ergste op rassekwessies gefokus. Die wit gesigte is mos die enigste groep wat diskrimineer. Die witgesigte word gebrandmerk as die rassiste en voortdurend daarvan beskuldig en aan herinner. Iemand het my al van rassisme beskuldig en probeer om 'n konsert/drama daarvan te maak. Sy het dadelik stilgebly toe ek antwoord, ja ek is 'n rassis en wat daarvan. Ek beskou mense wat voordurend/aanhoudend kkk en kerm oor die aangeleentheid met agterdog. Die enigste reaksie wat 'n persoon, wat my van rassisme beskuldig gaan kry is ja, en wat daarvan. Ek bejeën mense met agterdog wat voortdurend op die eensnaarkitaar slaan. As jy aandag/erkenning/moeilikheid en geselskap soek, gaan voort. Daar is siele wat jou ernstig gaan opneem. As jy aan 'n minderwaardigheidskompleks lei, probeer iets anders, want die storie is nou al holrug gery. My ervaring van persone wat hulself as nierassiste voorgee, is dat hulle die grootste rassiste is. Snaaks my ervaring as rassis is positief. Terloops, ek word gereeld as rassis gegroet, geraadpleeg en genader. Die nierassiste kan jy Zoeloe, Xhosa of enige inheemse taal praat? Jou ore sal tuit as jy weet hoe van jou gepraat/geskinner word. Ek het al baie uitgevang en dit loop gewoonlik uit op 'n gekskeerdery en gelag. Ek glo aan die anti-miskruier mentaliteit. Moenie altyd loop en kkk soek nie, want jy gaan dit op 'n stadium kry en berou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top