"Om die spoor van jou verlore onskuld te volg, is om jouself vorentoe beter te verstaan" – ’n onderhoud met Johann van der Walt

  • 1

Foto van Johann van der Walt: verskaf

Parlement van uile
Johann van der Walt
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928518310

Parlement van uile is die debuutbundel van die wenner van die Ingrid Jonker L’Art Poètique-kompetisie van 2019. Naledi se beskrywing van die bundel, som die inhodud daarvan mooi op: “Díé bundel delf diep in rou emosies, menswees en skyn ’n lig op eksistensiële vrae oor ons verhouding tot mekaar en teenoor die liefde. Met ’n uiters moderne benadering tot poësie in sy geheel, word gedigte in die bundel in ’n oorspronklike en teatrale wyse deurgegee en daag lesers uit om sélf die betrokke emosies in die verse tot persoonlike ervarings te verbind. Die digter daag die grense van Afrikaanse poësie uit met die bundel, ignoreer reëls en kloof sy eie unieke plek in die spektrum oop.” Remona Voges het met Johann van der Walt oor sy werk gesels. 

Johann, ek moet jou gelukwens met die voorblad van jou bundel wat jy self ontwerp het. Dit is een van die mooistes wat ek in ’n lang tyd gesien het! Jy het ook ’n prys daarvoor gewen. Waar kom jou kreatiewe streep vandaan? Kan jy ’n bietjie van jou dag-tot-dag werk vertel?

Baie dankie vir die kompliment! Ja die ontwerp van die boek speel ’n groot rol in die totale ervaring as iemand die boek begin lees. Die geel verteenwoordig ’n uil se oë, en die rooi sinspeel op gevaar. Saam vorm hierdie kleure die palet van hoe ek wil hê mense oor die bundel moet dink (in skakerings van geel en rooi simbolisme). Die voorblad en agterblad dien as visuele gedigte, voor- en nadat die leser onderneem om die reis te voltooi, dis nou om die boek te koop of steel by jou vriende en ’n verbintenis of tipe kontrak met die uile te sluit. Só gee hulle gehoor aan die versoek wat die uile aan elke leser rig. Ek dink almal is tot ’n mate kreatief op hulle eie beskeie maniere. My kreatiwiteit spruit voort uit ’n ooraktiewe verbeelding, ek hou van ander dimensies en wêrelde wat inspraak maak op ons realiteit – nie noodwendig fantasie nie, maar dalk eerder dimensies in ons onderbewussyn. Die brein is ’n padkaart. Ek probeer elke dag skryf, dit is belangrik. Veral poësie  dit moet geskaaf word, oorgebou word, afgedroog word en opgehand word en dan alles weer van vooraf. Ek skryf ook kinderboeke, (Bhubesi verskyn vandeesmaand by Minimal Press en my tweede boek, Frankie learns to fly, sal teen Augustus plaaslik orals op die rakke wees), doen videoredigering en het so paar keer al myself verslaggewer gehou! Die toekenning was vir ’n kompetisie verlede jaar, L’Art Poetique: Ingrid Jonker. Daar word ’n gedig gekies uit ’n aantal inskrywings om dan as wengedig bekroon te word.    

Die titel is net so interessant en die motto’s sluit daarby aan. Kan jy ’n bietjie vertel oor die rol van uile in die bundel en hoekom juis dié spesie?

Uile het nog altyd ’n persoonlike rol in my lewe gespeel deur middel van ’n konneksie wat ek en my ouma met hulle gehad het. Soms sou ons sê hulle is die “watchers of the world” en ek het hierdie benadering verder gevat – uile was meer as net voëls, hulle was daadwerklik die oeroue parlement van die aarde. Ek wou teruggaan na daardie misterieuse gevoel dat hulle hoog in die takke wag om ’n persoon se saak aan te hoor. Daar is iets magies aan ’n uil in ’n oerwoud en ek wou dit dieper trek – wat as uile doelgerig met kastyding neerkyk op wat rondom hulle aangaan? Wat as uile parlementêre sittings hou op ’n dieper vlak, selfs geestelik, voor dié wie se koppe raas? Dalk is ons nie mal nie, die geraas in ons koppe dwing ons terug na die ou orde. Die soektog na stilte en vrede kom met opofferings. 

Die bundel is in vier dele opgedeel. Vertel asseblief oor die struktuur van die bundel?

Die bundel se formaat is iets wat ek self nog altyd in ’n bundel wou lees – ’n werkstuk met ’n konstante tematiese benadering wat deurvloei van begin tot einde. ’n Storie weggesteek in gedigte. Natuurlik is elke gedig ook afhanklik, maar wat ook deel uitmaak van ’n groter narratief. Dit was belangrik om iets universeel voor te lê, dis nie net ’n boek nie, dit gaan nie net oor die kuns van woorde nie, maar ook oor die vermoë om ’n storielyn te skep waarin leser hulleself vind. Daar is ’n plek waarnatoe die leser geneem word. In hierdie benadering skep ’n mens ook ’n afwagting in lesers, nie net lees hulle gedigte nie, maar hulle het aandeel in ’n gebeurtenis en moet dan sien wat presies vorentoe sal gebeur. Dis iets wat soos fiksie gevolg kan word. 

Watter skrywers/digters het ’n groot invloed op jou gehad? Watter Afrikaanse bundels wat onlangs die lig gesien het, inspireer jou?

Ek lees geweldig baie Amerikaanse en Afrikaanse poësie en tref dan ook onderskeid tussen die twee wêrelde. Skrywers uit die Amerikaanse front wat my geïnspireer het is veral Forrest Gander. Daar is seker niemand lewend wat met woorde emosies op só ’n rou vlak tot sy lesers laat deursypel nie. Mens voel elke skeet en pyn, elke desperate kreet om sin te maak van verlies, en soveel meer. Die oorhoofse aantal bundels in my versameling is egter uit die pen van vrouedigters. Vrouens soos Sylvia Plath wat selfs tot vandag toe nog relevant is met haar foutlose verse. Denise Riley is ook ’n prominente figuur, een van min Britste digters wat so vloeiend dig dat, as sy nie plekname gebruik het nie, haar styl nie haar herkoms weggee nie. Die moderne poësie wat in die VSA vlamgevat het, het my veral inspireer – digters soos Franny Choi wat poësie gebruik as ’n kode om die golf van nuwe tegnologie (AI) te ontsyfer, asook ons verhoudings daarmee.

Jorie Graham is ’n Pulitzer-pryswenner wat meer as drie dekades in die kryt is. Haar verse is persoonlik van die beste wat ek nog ooit in die kuns teëgekom het. Ek sou haar bestempel as die “Antjie Krog van die VSA”, maar sy het ook die vermoë om ’n leser só diep in haar verse vas te vang dat jy soms, selfs na die boek toegemaak is, wonder of alles van jou werklik daaruit ontsnap het. Sy pas ook soomloos aan by die verandering van poësie deur die jare. Haar laaste bundel, FAST, is ’n unieke leserservaring. Emily Skaja en Paige Ackerson-Kiely is ’n groot invloed op my latere werk. Hulle verse is van die tipe poësie wat my laat wakker lê in die aande en wonder hoekom ek nog probeer skryf.

Een van my gunstelinge is Layli Long Soldier. Daadwerklik ’n unieke stem en ’n vrou wat die poësie op sy kop gedraai het. Ek lees ook baie versamelinge met black consciousness as anker en vrouens wat werklik uitstaan in hierdie gebied volgens my, en my beïnvloed het, is digters soos Robin Coste Lewis, Tracy K Smith & Natalie Diaz.

Tans lees ek Flèche van Mary Jean Chan en The Carrying van Ada Limon.

Afrikaanse digters wat ’n invloed op my gehad het, is legio! Klassieke (en meer moderne) digters is veral CM van den Heever, Elisabeth Eybers, PJ Philander, Ina Rousseau, Ingrid Jonker, WEG Louw, Freda Plekker, Joan Hambidge en Olga Kirsch. Daar is ’n onmeetbare kwaliteit aan van die verse vanuit ons geskiedenis tot nou – ‘n interessante blik op hoe ons taal homself opnuut herskep deur die oë van digters en hul groei en groeipyne in digkuns, as dit sin maak?

Charles Freyr se rooiwielwa is een van my gunstelingbundels en bevat wat ek, in my eie hoedanigheid, beskou as een van die sterkste gedigte wat nog ooit in Afrikaans geskryf is (weereens, dis vir my persoonlik): Vervulling. Daardie gedig was ’n groot katalisator vir my probeerslae in die kuns.

Ons is self besig om ’n oplewing van moderne poësie in Afrikaans te sien. Ronelda S Kamfer se Hammie was vir my ’n ongelooflike bundel op ’n intieme vlak. Marlene van Niekerk se Kaar sal altyd op my Top 10-lys wees, en ek vind myself gereeld terug by daardie versameling. Ek was mal oor Hilda Smits se Die bome reusagtig soos ons was, en ek wens ons sien meer sulke tipe bundels in Afrikaans. Dit het werklik ’n blywende effek op my.

Tans lees ek Eunice Basson se By die dag, Gisela Ullyatt se Die waarheid oor duiwe en Fiona Zerbst se In praise of hotel rooms.

Kleur speel ’n pertinente rol in jou gedigte (ek dink hier aan “dinge is oranje” en “voor die geel kom aanklop” – albei kleure wat ook op die omslag gebruik word). Kan jy hierop uitbrei?

Kleur speel ’n geweldige belangrike rol in hoe ek dinge ervaar. Kleure en reuke en klanke bly soms by ’n mens, maar kleure het my altyd soontoe terugvervoer. Vir my is kleur nie ook net iets beperk deur een sintuig nie, maar dit omvat smaak, tyd en plek. Soms, as ’n gevoel te oorweldigend is, dan vind ek dat dit beter beskryf kan word deur ’n kleur. ’n Mens voel kleur eerder as om dit te sien. 

In “new york is ’n jaloerse vrou” skryf jy “amerika roep my al van kleintyd af”, jy skryf ook onder andere in “waar ek ook al gaan” oor New Orleans. Jy het ook onlangs ’n Engelse bundle, This road doesn’t lead home, in Noord-Amerika gepubliseer. Wat is jou verbintenis met dié land, wat maak dit vir jou so spesiaal?

Noord-Amerika was vir my presies wat ek op televisie gesien het. Ek het die ooskus alleen getroef, gekamp saam met Amerikaners en met cowboys, rednecks en inheemse Amerikaners gesprekke gevoer. Daardie land is soveel meer as die materialisme wat tans in die media verskyn. “new york is ’n jaloerse vrou” spruit uit die feit dat ek konstant herinner was aan die feit dat ek moet terugkom na Suid-Afrika toe, en in oomblikke oorsee het ek besef ek kan nie laat gaan nie. New York was jaloers en het my die mooiste dae, die eerlikste oomblikke en die snaaksste mense laat onmoet en ervaar. Dit was polities ook – ek het verdwyn in ’n samelewing waar niemand ’n vooropgestelde beeld van my as ’n wit Afrikanerman, gekoppel aan Apartheid, gehad het nie. Geen ras met wie ek te doen gehad het, het my nuuskierigheid bevraagteken  nie, of as hulle hoor ek is afkomstig van Suid-Afrika, enigsins meer ingelees in wat my herkoms dalk voorstel, buiten wat ons beide in daardie oomblik vir mekaar was nie, en ek het met elke moontlike ras te doen gehad.  

Foto: Johann van der Walt

New Orleans is ’n ander storie, ’n plek waar ek iets gevind het wat ek nie kan beskryf nie. Daardie stad het aan my iets besorg wat ek net as goddellik kan beskryf. Haar stiltes, haar geraas, haar jazz – ek het ingeskakel en was totaal meegesleur, en tog het ek daar besef dat Afrika altyd teenwoordig was. Soveel as wat New Orleans my bevry het, soveel kon ek Afrika saam met my deur die strate voel beweeg en vlug na die platteland van Louisiana, asof my verbintenis met Afrika óók daardie gevoel moes gaan ervaar. Dalk gaan soek ’n mens fasette van liefde in die verre, om die liefde wat alreeds in jou is bloot aan te vul, en nie ’n alternatief om dit te vervang nie?

This road doesn’t lead home is geskryf oor (en van) die misplaasdes onder ons. Daardie wat nie ’n plek kry waar hulle tuis voel nie. Die bundel spreek dinge op ’n meer Amerikaanse manier aan, en ek het ook ’n paar abstrakte verse daarin. Amerikaners is deesdae meer gefokus op wat jy sê as hoe jy dit sê, juis omdat hulle mark so oordonner word met dieselfde goed. Hulle is daadwerklik saturated.  

Ek was gelukkig om daar in te kom, en dit ook maar net omdat Red Mare Press op soek was na nuwe digters en hulle na aanleiding van een strofe (minder as tien lyne) ’n besluit gemaak het oor wie hulle wil publiseer. Ek moes dus in ander terme dink oor wat dit is wat ek wou sê en dit saampers. This road doesn’t lead home spreek homself ook meer uit oor die nalatenskap van vroue, en hoe konstante worsteling waarmee vrouens gekonfronteer word in hierdie wêreld, dít affekteer. Asook dit wat hulle (soms noodgedwonge) moet nalaat vir die volgende generasie. Ek is nog lank nie klaar met hierdie onderwerp nie!

Jy skryf heelwat oor digterskap en die maak van gedigte. Hoe benader jy ’n gedig? Wat is jou proses?

Die skryf van gedigte is net so belangrik as die gedig self, dieselfde geld vir ’n skildery. Daar is tye wat ’n skrywer/digter ’n plek bereik waar iets aan hom geopenbaar word. Soms is die pad soontoe, die maak van kuns, sélf kuns. Elke gedig verskil, en ek weet eerlik nie wanneer watter spesifieke idee wil uitkom nie. Dit het baie te doen met hoe tasbaar ’n oomblik of ervaring is. Soms is dinge oorweldigend en die enigste manier om die gevoel te verstaan is om dit tot ’n gedig te boei. Die gedig kan daardie volle emosie ervaar en aan ander deurgee, dit is immers haar doel.  

Die verlies van onskuld op verskillende vlakke figureer sterk in parlement van uile, nie waar nie?

Die verlies van onskuld is een van die belangrikste temas in parlement van uile, want dit is daardie proses wat veroorsaak dat die uile jou in die eerste plek uitdaag – hulle wil immers weet waarheen jou onskuld is. Dit is ook ’n nodige wordingsfase waaruit die wêreld skielik anders lyk. Hierdie is ons grootste toets – ja, jy gaan jou onskuld verloor, maar jy kan ten spyte daarvan nog steeds kinderlik glo in die dinge wat vir jou saak maak? Daar is ook vlakke daarvan, soms moet ’n mens diep delf om werklik agter die kap van die byl te kom oor hoekom jy voel soos wat jy voel. Om die spoor van jou verlore onskuld te volg, is om jouself vorentoe beter te verstaan. 

Waarom skryf jy?

As iets op papier neergelê word kan dit nie meer by my spook of my pla nie. Daar is dan ’n nuwe tuiste vir daardie gevoel/beskrywing geskep. Ek skryf omdat ek geen keuse het nie, en ek bedoel dit nie in ’n dramatiese wyse nie. Sommige mense sal ophou bestaan as hulle ophou skryf, ongeag wat of vir wie hulle skryf.

Sal jy asseblief ’n gedig uit die bundel met ons lesers deel?

alternatief

wat sal van jou word
as jy inkonk soos ’n ou geroeste draadstoel
jy die deurkosyn mistrap
en vind dat daar geen groen weiveld
langs helder waterstrome rus

jy het jou knieë deurgebid
en tog net ’n mond vol bitter gesluk
geen uitkoms is aan jou toevertrou
dawid se heuning
het nooit oor jou lippe gevloei

wat as jy vir die laaste keer
jou oë finaal sluit
jou asem aan die aarde terug besorg
en aanskou dat die berg jou oë nie herken nie
en die wilgerbome langs die stroom afgebrand het?

die groen lande is bestrooi
met plastieksakke
’n penis enlargement sticker
teen die kombi in die parkeerterrein se ruit

vir die soveelste keer
dalk maar tyd om te probeer
te soek na ’n uittog of ’n optog
dalk selfs ’n alternatief
in hoe jy moet glo

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top