Om alleen te gaan deur Nicole Jaekel Strauss: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 0


Om alleen te gaan
Nicole Jaekel Strauss
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801648

  1. Inleiding

Nicole Jaekel Strauss is die skrywer van twee bekroonde kortverhaalbundels, Maal (2010) en As in die mond (2017). Met die verskyning van As in die mond het resensente daarop gewys dat die gebruik van deurlopende karakters en die skakeling tussen die kortverhale vooruitwys in die rigting van die roman. Die publikasie van haar roman Om alleen te gaan in 2021 was dus nie heeltemal onverwags nie. Om alleen te gaan is ’n roman wat fokus op die ervaring van ’n middeljarige Suid-Afrikaanse vrou, Cato van Staden, en ’n jong Egiptiese man, Da’oud Malek, wat mekaar ontmoet op die vooraand van ’n bootreis op die Nyl van Luxor na Aswan om Egipte se antieke besienswaardighede te besoek. Die oënskynlik eenvoudige gegewe van die reis word egter gelaai met ’n rykdom van gegewens: ’n spektrum van menslike ervarings en emosies, ’n omvangryke stel historiese en mitologiese verwysings, asook ’n uitgebreide verskeidenheid heenwysings na kontemporêre kwessies, polities en andersins.

Foto: NB-Uitgewers (https://www.nb.co.za/af/view-book?id=9780795800177)

Die eerste motto by die roman is ’n aanhaling uit Elsa Joubert se eerste reisboek, Water en woestyn: “Veral wou ek alleen gaan, omdat mens soveel meer afhanklik en soveel meer ontvanklik is as jy alleen gaan.” Water en woestyn, in 1956 gepubliseer, was gebaseer op ’n reis wat Joubert in 1948 op 26-jarige ouderdom deur Afrika onderneem het, eers per boot vanaf Kaapstad na Mombasa, en van daar oor land en uiteindelik op die Nylrivier na Kaïro in Egipte. Dit was ’n reis wat later in fiksionele vorm in haar epiese roman Die reise van Isobelle van 1996 teruggekeer het en waarvan sy ook vertel in haar outobiografiese teks Reisiger, in 2011 gepubliseer toe sy reeds in haar tagtigerjare was. Joubert se hantering van die reisgegewe bewys in hoe ’n mate die ervarings op ’n reis die inspirasie vir selfontdekking, kennismaking met die ander en uiteindelik ook vir die transformasie van die self is. Joubert het in ’n onderhoud met Amanda Botha vertel dat iemand vir haar gesê het dat reis jou nie regtig toelaat om van jouself te ontsnap nie: “The trouble with travel is that you always take yourself along”; haar antwoord hierop was: “But you always bring someone else back.”

Foto: NB-Uitgewers (https://www.nb.co.za/af/view-book/?id=9780795801358)

Strauss se Om alleen te gaan staan volledig in die teken van hierdie insig. In die laaste instansie is dit ’n proses waardeur ’n mens alleen gaan, al is jy omring deur ander mense wat aan jou reis tekstuur te gee. Strauss vertel in ’n onderhoud met Naomi Meyer dat sy – soos Joubert – inspirasie vir haar fiksie vind in die reise wat sy onderneem. Sy sê ook dat sy saam met haar gesin in Egipte gereis het, maar dat die karakters en hulle ervarings in Om alleen te gaan die vrug van haar verbeelding is.

Elsa Joubert: https://www.litnet.co.za/aktv-elsa-joubert-1922/

  1. Die reisigers

Die twee hoofkarakters ontmoet mekaar op die lughawe waarvandaan hulle moet vlieg na die punt waarvandaan hulle met ’n dahabija (‘n soort passasiersboot) van Luxor na Aswan sal vaar om die verskillende besienswaardighede te besoek. Cato sien Da’oud vir die eerste keer wanneer hy woedend reageer op die nuus dat hulle vlug vertraag is omdat die vliegtuig onklaar is. Hulle moet oornag in ’n hotel en word gedwing om ’n tafel in die oorvol hotelrestaurant te deel.

Vanaf hierdie punt en vir die res van die reis weeg hulle mekaar op: Cato is skepties oor die opvlieënde jong man met sy rooi rugsak wat haar herinner aan haar opstandige seun Jan. Da’oud vervies hom vir die ouer vrou se indringende vrae en reageer prikkelrig daarop. Ten spyte van die wedersydse voorbehoude en vooroordele kom daar tog mettertyd momente van begrip en waardering. Dit is opvallend dat Da’oud se gevoelens in verband met Cato kompleks en teenstrydig is: Hy vrees as ‘t ware haar insig in sy gevoelens en tree dus soms bruut teenoor haar op; tog verdedig hy haar wanneer een van sy helpers na haar verwys as ’n “dom teef”: “Sy’s nie dom nie en ook nie ’n teef nie,” reageer hy (308).

Die elemente van wrywing tussen hulle het waarskynlik te doen met hulle uiteenlopende agtergronde en die komplekse geskiedenisse waardeur elkeen van hulle gevorm is. Daarbenewens reis elkeen van hulle ook met ’n eie doelstelling in gedagte. Cato is byna sestig jaar oud, ’n eertydse skoolhoof, die ma van ’n tweeling, Jan en Liza, maar geskei van haar kinders se pa, John. Die doel van haar reis hou verband met die klein waterskilpadjie van Nubiese kwartsiet wat sy in haar sak ronddra. Dié klein artefak is duisende jare oud en deur Cato se geliefde, die fotograaf Rebecca, in ’n onbesonne oomblik uit die Nubiese museum in Aswan gesteel. Dit is Cato se plan om dit terug te neem na die museum en daarmee ook sluiting te kry oor die ontydige dood van Rebecca. Da’oud is ’n jong Egiptenaar wat sewe jaar lank in die VSA gewoon het. Hy het by Columbia-universiteit gestudeer, in New York begin werk na sy studies voltooi is en verloof geraak aan ’n Amerikaanse meisie, Taylor. Ten spyte van sy voorneme om ’n Amerikaner te word, keer hy in Januarie 2011 ten tye van die Arabiese lente-opstand terug na Egipte om sy sterwende ouma te besoek en word deur sy jonger broer Mikael oorreed om op 25 Januarie saam met hom na die berugte protesoptog op Tahrir-plein in Kaïro te gaan – waar Mikael deur die polisie aangerand word en sterf. Die rooi rugsak wat Da’oud altyd by hom het wanneer hy amper vier jaar later die reis op die Nyl onderneem (die roman speel op die oorgang van 2014 na 2015 af), is die eerste ding wat Cato oplet as sy hom op die lughawe sien en dit bly ’n belangrike teenwoordigheid in die roman. Da’oud sê vir Cato dat hy die reis onderneem omdat sy broer dit so graag wou doen, maar dit blyk mettertyd dat hy eintlik wil wraak neem oor die dood van sy broer.

Foto-erkenning van Kaïro: shadyshaker, https://pixabay.com/photos/cairo-mosque-egypt-islam-1980350/

Cato en Da’oud is egter nie die enigste reisigers wat in die roman figureer nie; daar is ook ander reisigers op die dahabija wat elkeen ’n eie geskiedenis en konteks saambring om deel te word van die groter geheel.

Die gegewe van die toeristiese bootreis op die Nyl vanaf Luxor na Aswan waartydens ’n uiteenlopende groep mense van oor die wêreld heen vir ’n kort tyd dieselfde ruimte moet deel, is nie ’n onbekende literêre tegniek of “plot device” nie. Ons ken almal die speurromans, onder andere Agatha Christie se Death on the Nile, waarin ’n moord gepleeg word in ’n afgeslote ruimte en die leesplesier lê in die vernuf van die speurder wat die moord oplos deur die karakters, wat onbekend is aan mekaar, se geskiedenisse op te haal.

In die geval van Strauss se roman word hierdie saambondeling van karakters gebruik om ’n bepaalde dinamika tussen hulle in werking te stel en so die reikwydte van die onderwerpe en temas wat aangespreek kan word, uit te brei.

Foto-erkenning: PixelAnarchy, https://pixabay.com/photos/egypt-pyramids-pharaoh-desert-106313/

Naas die twee hoofkarakters uit wie se perspektief daar beurtelings vertel word (met die swaartepunt by Cato), is daar ook die toergids Gihane (met ’n meestersgraad in Egiptologie en ’n onderdrukte begeerte na vroue), ‘n gay egpaar uit Brittanje (Rory wat in IT werk en sy man Nicholas wat ’n dokter is), ’n oupa en sy kleindogter uit die VSA (Paul wat aan Alzheimers ly en die tienderjarige Jessica wat onverwags volwasse en sorgsaam teenoor haar oupa optree) en ’n Russiese egpaar wat in Parys woon (die spraaksame, belese graaf Orlov, oftewel Sasha, en sy vrou Natalya), tesame met die bemanning van die boot. Dit is ’n stel karakters wat die skrywer in staat stel om ’n hele spektrum van menslike interaksies en ander kwessies aan die orde te stel.

Ingebou in hierdie roman, byna soos in die speurromans waarna ek verwys het, is die geleidelike opbou van die verhaal tot by sy hoogtepunt. Die verhaal van Cato en Da’oud ontvou hoofstuk vir hoofstuk soos wat die reis vorder. Belangrike inligting in verband met die twee hoofkarakters word langsamerhand prysgegee om spanning te bou; in die proses word die newekarakters in die roman meermale gebruik om dié kwessies na vore te bring (om dié rede moet ’n mens ook “teruglees” in die roman om die belangrikheid van sekere momente of opmerkings vroeër in die roman te verstaan). Verswyging en verdoeseling speel dus net so ’n belangrike rol as onthulling om die impak van die slot te verseker. Dit is ’n spel wat Strauss met groot vernuf en vaardigheid speel.

  1. Die Egiptiese mitologie as verwysingsraamwerk en struktuurmiddel

Soos wat reeds geblyk het, vorm die Egiptiese landskap met sy duisende jare oue geskiedenis en ryk mitologie die agtergrond waarteen die gebeure afspeel. Strauss gebruik die Egiptiese godegalery as ’n manier om haar roman te struktureer en die durende betekenis van konstrukte soos hierdie as beskrywing van die menslike aard te beklemtoon. Elkeen van die agtien hoofstukke het as (sub)titel die naam van ’n figuur uit die Egiptiese mitologie. Die grootse agtergrond waarteen die romangebeure afspeel, word op hierdie manier voortdurend onder die leser se aandag gebring en die aard en handelinge van die romankarakters afgeteken teenoor dié van die Egiptiese godedom en farao’s.

..........

Afrikaanse romanskrywers en digters het al meermale inspirasie uit die Egiptiese mitologie en geskiedenis geput. As enkele voorbeelde kan daar verwys word na Etienne Leroux se gebruik van die mite van Isis en Osiris soos wat dit binne die Jungiaanse psigologie beskou word in sy derde trilogie, en meer spesifiek die reisroman Isis Isis Isis.

...........

Dit is geen nuwe tegniek nie: Afrikaanse romanskrywers en digters het al meermale inspirasie uit die Egiptiese mitologie en geskiedenis geput. As enkele voorbeelde kan daar verwys word na Etienne Leroux se gebruik van die mite van Isis en Osiris soos wat dit binne die Jungiaanse psigologie beskou word in sy derde trilogie, en meer spesifiek die reisroman Isis Isis Isis. Ook Breytenbach het die Isis-figuur in sy poësie gebruik om iets te sê oor die proses van lees en betekenis gee.

Die verwysings wat met die gebruik van godename as (sub)titels by elke hoofstuk in werking gestel word, word meestal sonder om opdringerig te wees verknoop met dit wat die groepie reisigers, veral Cato en Da’oud, beleef. Dit word waarskynlik gedoen om te toon dat menslike ervarings deur die eeue heen dieselfde bly, maar tog ook verander. Die tweede romanmotto, wat verwys na Heraklitus se bekende uitspraak dat ’n mens nooit twee maal in dieselfde rivier kan stap nie, bevestig dit: dieselfde maar ook anders.

As enkele voorbeelde van die skakeling tussen die (sub)titel en inhoud van ’n hoofstuk kan ’n mens verwys na die tiende hoofstuk waarvan die titel, “Taweret” (’n verwysing na die godin van geboorte en fertiliteit), aansluit by die vertelling oor Cato se swangerskappe en die geboorte van haar kinders. Dit is ook veelseggend dat die ou man Paul in die twaalfde hoofstuk, getitel “Neith” (die godin van oorlog wat geskille tussen die gode en ook tussen gode en mense kan besleg), tydelik sy geheue herwin om te vertel van sy ervaringe as Amerikaanse soldaat wat in die Tweede Wêreldoorlog in Egipte geveg het, en so Cato se herinneringe aan haar pa wat ook in dieselfde tyd in Egipte geveg het, oproep. Die leser se taak om hierdie verwysings na te speur word aansienlik vergemaklik deur die glossarium agter in die roman waarin die name en eienskappe van die gode op bondige wyse uitgelê word.

Die Egiptiese geskiedenis en mitologie verskaf ook ’n agtergrond vir die roman se verwysing na die vloeibaarheid van seksuele oriëntasie. Cato verlaat haar man John vir Rebecca, iets wat vir haar seun Jan moeilik is om te aanvaar. Cato dink by geleentheid daaraan dat hy waarskynlik aan haar dink as “sy verraderlike ma”, omdat hy so gesteld is op “die sekuriteit van die roetine van elke dag, elke ding op sy plek, elkeen in sy rol” en omdat alle grense vir hom “absoluut” en “binêr” is (29–30). Van haar eie wegbreek uit die opsigtelike binariteit van ’n man-vrou-verhouding sê sy later wanneer die gids Gihane vir haar vra of sy ’n lesbiër is: “Ek is wat ek is. Ek raak verlief op mense, siele; nie geslagte nie” (239). Dit is ook opmerklik dat Rebecca sê die klein waterskilpadjie (wat sy haar talisman en tweeling noem) het nie ’n naam of geslag nie: “Dit ís net” (70). Die roman se verwysings na die vormveranderings en geslagswisselings wat algemeen is in die Egiptiese mitologie en geskiedenis sluit dus hierby aan. Daar word byvoorbeeld verwys na die uitbeelding van die vroulike farao Hatsjepsoet se lewe op die reliëfs in haar tempel, “eers as vrou, kurwes en klere en al”, maar later as “bebaard en manlik” – volgens bronne het sy self opdrag gegee dat sy by geleentheid as manlik uitgebeeld word (77). Net soos wat Cato se seun Jan krities is oor haar vloeibare seksuele oriëntasie, is Da’oud skepties oor Hatsjepsoet wat volgens hom haar pad na die troon “geswendel en gekul het”, stories opgemaak het en ’n opportunis was met geluk aan haar kant (77–8). Vroue se posisie in die samelewing word dus ook in die roman aan die orde gestel deur verwysings na die antieke geskiedenis en mitologie.

  1. Verskillende geskiedenisse

...........

’n Belangrike gegewe in die roman is die impak van die historiese, politieke en sosiale kontekste waarbinne die karakters leef, op hulle ervaring. Die dramatiese Egiptiese landskap waardeur die karakters op die seilboot vaar, is by uitnemendheid geskik om te toon in welke mate die geskiedenis laag op laag opgebou word.

.............

’n Belangrike gegewe in die roman is die impak van die historiese, politieke en sosiale kontekste waarbinne die karakters leef, op hulle ervaring. Die dramatiese Egiptiese landskap waardeur die karakters op die seilboot vaar, is by uitnemendheid geskik om te toon in welke mate die geskiedenis laag op laag opgebou word. Die feit dat Da’oud ’n Koptiese Christen is, vorm ’n skakel met die antieke Egiptiese geskiedenis wat so sterk figureer in die roman. Die term Kopt het vroeër na alle Egiptenare verwys en het eers later sinoniem geword met Christenskap, waarvan die tradisie in Egipte teruggaan na die vestiging van die Christelike kerk deur die apostel Markus in die eerste eeu na Christus. Da’oud beklemtoon vroeg reeds teenoor Cato die feit dat hy as Kopt van die farao’s afstam: “Dis my mense, my Kopte, wat die farao’s was, lank voor die Romeine en die Islamiete nog hulle voete hier gesit het” (30). Dié opmerking van Da’oud skakel met die Faraonisme, ’n opvatting dat die Koptiese kultuur grootliks afgelei is van ’n pre-Christelike, faraoniese kultuur. Sy vyandigheid teenoor die manifestasies van Islam wat hy rondom hom sien en hoor (vgl die opmerking dat die “geroep van tientalle muezzins sy ore seerder [maak] as gewoonlik”, bl 301) en die beklemtoning van die manier waarop hy hom by die Koptiese tradisies hou (byvoorbeeld die gewoonte om te vas en geen vleis te eet voor die Koptiese Kersfees wat op 7 Januarie gevier word nie), is ’n verdere aanduiding hoeseer hy sy Koptiese identiteit uitleef nadat hy teruggekeer het uit Amerika.

Die Egiptenare met wie Cato in aanraking kom , is feitlik almal Koptiese Christene. Daar is Da’oud en sy familie, die seun Yusuf wat Cato se gids is in die Koptiese gedeelte van Kaïro en sy ouma, en ook die gids Gihane wat hulle op die bootreis vergesel. Die interne spanninge in die Egiptiese gemeenskap (waarvan die Kopte slegs 10% uitmaak) speel ’n belangrike rol in die roman, onder andere deur die verwysing na die opstande teen regeringskorrupsie, ekonomiese stagnasie en polisiebrutaliteit wat tydens die sogenaamde Arabiese lente in 2011 vanaf Tunisië na Libië, Sirië, Jemen, Bahrein en ook Egipte versprei het. In Egipte het dit begin met die opstande op die Tahrir-plein waar Da’oud se broer gesterf het. Ouer politiese spanninge binne die Egiptiese gemeenskap word ook verteenwoordig deur die Aswan-dam waar die reis op die Nyl eindig, die toergroep uitmekaar gaan en die doelstellings van beide Cato en Da’oud se reise verwesenlik word. Die dam is in die 1960’s opgerig onder die bewind van president Nasser (een van die karakters in die roman verwys daarna as Nasser se dam, bl 327) en was kontroversieel omdat dit die woonplekke van talle mense en belangrike historiese terreine onder water gelaat het (’n gegewe wat ’n mens onwillekeurig laat dink aan die Kanadese skrywer Anne Michaels se roman The winter vault wat van die verskuiwing van die Abu Simbel-tempel vertel). Dat Cato deeglik bewus is van die “politiek” van hierdie dam, blyk uit die feit dat sy dit beskryf as ’n “staatsgreep op die rivier” (315); dit is waarskynlik ook waarom Da’oud dit kies as terrein vir die volvoering van sy wraak op die politieke bestel wat sy broer se dood veroorsaak het.

Die wraakmotief wat so sterk na vore tree by Da’oud, word reliëf gegee deur die gesprekke tussen Sasha, Cato en die ander oor die Egiptiese god Horus, wat wou wraak neem oor die moord op sy vader Osiris. Sasha, wat ’n wandelstok met die kop van Horus ronddra, meen dat wraak altyd lekker is (148), terwyl Cato meen dat wraak niks verander nie, net die geleentheid skep vir verdere geweld en nog wraak (149). Da’oud vertel hoedat hulle as kinders die tempel van Edfu of Horus (wat ook op hulle reisplan is) besoek het en dat die wraaksugtige valkgod Horus met die dubbelkroon altyd sy held was (151). Die gesprek oor wraak ontwikkel ook in die rigting van die Russiese letterkunde, ’n belangstelling wat Cato met Sasha deel: Cato wonder of die hoofkarakter in Tolstoi se roman Anna Karenina nie haar eie lewe neem om wraak te neem op die verraad van haar minnaar Vronsky nie (155–6).

Die gesprekke oor die Oudegiptiese geskiedenis skakel ook met kontemporêre kwessies deurdat daar gepraat word oor pogings om die verlede te “verander” deudat sommige van die beelde en inskripsies deur daaropvolgende geslagte vernietig is. Daar word byvoorbeeld verwys na die suksesvolle vroulike farao Hatsjepsoet wie se stiefseun Toetmoses III haar gesig van alle standbeelde en reliëfs laat verwyder het en vervang het my sy eie toe hy farao geword het (77), en ook na die beskadiging van reliëfs in die tempel by Kom Ombo deur Koptiese Christene wat daar geskuil het (269). Die gesprek oor Hatsjepsoet neem ook ’n feministiese wending wanneer Cato met Da’oud swaarde kruis oor die rol wat Hatsjepsoet in die geskiedenis gespeel het en Gihane ’n reeks ander vroulike heersers noem met wie vroue kan identifiseer (Cleopatra, die Britse Boudicca, die Russiese en Chinese keiserin-weduwees Maria Fjodorowna en Cixi).

...........

Ook ander geskiedenisse wat hulle merk op die Egiptiese landskap gelaat het, word in die roman opgeroep deur die gesprekke tussen die reisigers op die dahabija.

..............

Ook ander geskiedenisse wat hulle merk op die Egiptiese landskap gelaat het, word in die roman opgeroep deur die gesprekke tussen die reisigers op die dahabija. Die periodes waarin Egipte deur Frankryk en Brittanje oorheers is, kom veral na vore in die debatte oor hierdie imperiale moondhede se plundering van Egipte se antieke skatte om dit in hulle eie museums te gaan vertoon. Da’oud is veral krities wanneer Cato hom vertel dat sy haar kinders na die Britse Museum in Londen geneem het om onder andere te gaan kyk na die mummies uit Egipte; want so leer jy jou kinders “om te vat wat hulle wil hê, maak nie saak wie s’n dit is nie,” meen hy (143). Dit sluit aan by die huidige debat oor die Britse Museum se weiering om die beelde van die Parthenon in Athene wat in die vroeë 19de eeu deur lord Elgin geplunder is, aan Griekeland terug te besorg.

Ook die feit dat Egipte die terrein was van groot veldslae tydens die Tweede Wêreldoorlog kom ter sprake wanneer die bejaarde Paul in ’n oomblik van helderheid die herinneringe aan sy deelname aan die gevegte in Egipte as Amerikaanse soldaat uit sy geheue opdiep. Vir Cato is dit ’n stimulus om haar eie geskiedenis te herroep, byvoorbeeld dié van haar pa wat haar vertel het van sy eie oorlogservaringe in Egipte. By nabetragting besef sy dat sommige van die verhale wat hy vertel het, waarskynlik nie waar is nie; sy besef dat ’n mens se geheue feilbaar is en dat jou weergawe van die verlede gekleur word deur jou onsekerhede, oordele en vooroordele, soms ook deur jou behoefte om oor die verlede en jou aandeel daarin te lieg. Dit skep egter ook vir haar die geleentheid om na te dink oor haar eie vorming deur haar familiegeskiedenis as ’n Afrikaner (veral haar oupas, pa en siek ma word in herinnering geroep), ook deur die land se geskiedenis van kolonisering, apartheid en demokrasie (daar is onder andere verwysings na die posisie van Afrikaans wat deur Da’oud die “taal van die kolonialis” genoem word wanneer Cato vir die reisigers op die boot vertel van Jan Rabie se verhaal “Drie kaalkoppe eet tesame”, bl 292). Da’oud se ervaring van die revolusionêre omstandighede op die Tahrir-plein in 2011 word op sy beurt in perspektief geplaas deur Sasha en sy vrou Natalya se vertellings van wat met hulle families gebeur het in die Russiese revolusie en onder Stalin.

  1. Die rol van representasie

Die feit dat Rebecca ’n fotograaf was, is aanleiding tot besinnings oor die aard, rol en funksie van fotografie en dus ook representasie. Cato loop in ’n sekere sin in Rebecca se spore: Rebecca het ’n fotoboek oor Egipte gepubliseer en tydens haar reis in ’n onbesonne oomblik die waterskilpadjie van Nubiese kwartsiet uit die Nubiese museum geneem, soos reeds genoem is. Die doel van Cato se reis is om die waterskilpadjie terug te neem en daarmee sluiting te kry oor die dood van Rebecca. Die vrae wat die roman opper oor die aard van fotografie, sluit aan by die emosionele prosesse waardeur Cato moet gaan om haar pelgrimstog af te handel, maar ook oor die hele kwessie van representasie (vrae wat ook van toepassing is op die skryf van die roman). Cato het Rebecca die eerste keer gesien by die bekendstelling van haar fotoboek oor Egipte en die tweede keer by ’n lesing wat sy oor fotografie gegee het. Rebecca verwys in die lesing na Susan Sontag (wat self ’n jare lange verhouding met die fotograaf Annie Leibovitz gehad het) se boek oor fotografie. Relevant vir die roman is Sontag se opmerking in verband met die toe-eiening van objekte deur foto’s en die inpalming daarvan vir die self. Volgens Cato is Rebecca se foto’s van Egipte eerder pogings om haar beelde en inhoude met ander te deel; Rebecca se teenvraag is of ’n mens iets kan deel as dit nooit jou besit was nie (67). Alhoewel Rebecca ’n fotograaf is, het Cato nie foto’s van haar nie – daar is slegs ’n weerkaatsing van haar sigbaar op een van die foto’s wat sy geneem het van ’n artefak uit Hatsjepsoet se tyd – “simulakrum” is die woord wat gebruik word, waarskynlik in ’n tersluikse verwysing na Baudrillard (73). Die verwysing na ’n afbeelding roep die idee van Rebecca se foto’s en ook hierdie roman as (onvolmaakte) representasies van die werklikheid op; dit beklemtoon ook dat al die besienswaardighede wat hulle sien, pogings was om ’n bepaalde werklikheid uit te beeld en dat dit uitgelewer is aan al die moontlikhede én beperkinge van die proses. Vrae oor skryf en skrywerskap kom ook ter sprake in Cato, wat Franse letterkunde studeer het, se gesprekke met Sasha. Hy vra haar of sy skryf en haar antwoord is dat sy net vir haarself skryf – sy antwoord daarop is: “Elke skrywer behoort net vir hom- of haarself te skryf. Daarná eers vir al die ander. […] So jy skryf nie nét vir jouself nie, jonge dame. Jy skryf vir jouself, punt” (240). Dit sluit aan by die idee dat die opskryf van traumatiese ervarings ’n manier kan wees om dit te verwerk.

  1. Ten slotte

Om te sê presies hoe die doelstellings van Cato en Da’oud se reise in die slot van die roman verwesenlik word, sal ’n spelbederwer wees vir diegene wat nog nie die roman gelees het nie. Daarom wei ek nie uit daaroor nie, behalwe om te sê dat dit wel die roman op ’n besonderse hoogtepunt laat eindig. Dit bring ook ’n bepaalde soort sluiting ten opsigte van elk van die twee hooffigure se “alleen reis” (om weer Joubert op te haal) wat hulle deur omstandighede gedwing was om saam af te lê; vir beide bring dit – weliswaar op gans verskillende maniere – ’n bepaalde soort einde aan persoonlike trauma oor verlies. Die finale hoofstuk van die roman, waarin Cato op die Heathrow-lughawe sit en wag op ’n vlug na Suid-Afrika, suggereer egter dat die trauma veroorsaak deur verlies ’n durende proses is wat eintlik nooit sy einde sal bereik nie, en ook dat die afsluiting van een persoon se trauma die oorsaak van ’n ander se verlies kan wees. Daar kan eintlik slegs sprake wees van sekere momente van verposing op die reis na sluiting.

..........

Strauss se roman bly deurgaans onderhoudend, terwyl dit die groot kwessies wat die mens in die loop van die geskiedenis besig gehou het, aankaart.

............

Strauss se roman bly deurgaans onderhoudend, terwyl dit die groot kwessies wat die mens in die loop van die geskiedenis besig gehou het, aankaart. Slegs op enkele punte raak die oordra van inligting effe meganies en geforseerd, byvoorbeeld in die vertellings oor die farao Achenaten (57–8, 232–3), maar daarvoor kan ’n mens dalk die aard van ’n reisboek met sy digtheid aan informasie verantwoordelik hou. Die verhouding van Cato met haar twee kinders sou waarskynlik meer indringend uitgebeeld kon gewees het, maar ook hier sou die teenargument gelug kon word dat die boek eintlik fokus op Cato se verhouding met Rebecca en die verwerking van haar verlies. Verder sou die teoretiese kwessies ten opsigte van representasie, seksuele oriëntasie en feminisme dalk gebaat het by verdere ontginning binne die verhaalraamwerk.

..........

Die verhouding van Cato met haar twee kinders sou waarskynlik meer indringend uitgebeeld kon gewees het, maar ook hier sou die teenargument gelug kon word dat die boek eintlik fokus op Cato se verhouding met Rebecca en die verwerking van haar verlies. Verder sou die teoretiese kwessies ten opsigte van representasie, seksuele oriëntasie en feminisme dalk gebaat het by verdere ontginning binne die verhaalraamwerk.

............

Een van die roman se sterkste punte is die ongedwonge wyse waarop dit in kleurryke Afrikaans ’n venster oopmaak op die Egiptiese geskiedenis en mitologie en dit lewend maak aan die hand van veral die intrige rondom Da’oud. Nog ’n sterk punt is die wyse waarop Strauss die abjeksie van ouderdom, siekte en armoede in die roman beskryf en in die verhaallyn integreer.

Dit is dus ’n roman wat in alle opsigte ’n waardige opvolger vir Strauss se suksesvolle kortverhaalbundels is en wat by talle lesers byval behoort te vind.

Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: As in die mond deur Nicole Jaekel Strauss

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top