LitNet se Stemme is ’n reeks van 10 kort, kragtige monoloë, geskryf deur gevestigde en opkomende dramaturge, aangebied in samewerking met die Suidoosterfees, KKNK en NATi.
Nicola Hanekom, Hertzogpryswenner vir drama in 2021, se Olke bolke stel ’n jong massamoordenaar aan die woord. Eldon van der Merwe lewer die vertolking en Lee-Ann van Rooi was in die regisseurstoel.
Olke bolke-video:
Hier deel Eldon van der Merwe en Lee-Ann van Rooi gedagtes oor Olke bolke.
Olke bolke
Dit het begin met die masker. Ek het bal gehang in die mall. Net vir sommer. Dis so ’n crappy mall hier op die Weskus weg van die verblindende gloed van die son op die see. Alles bak te helder in hierdie sandpit. Dinge is net te fokken skitterend en daar is aircon in die mall, so. Plus, ek wou nie na skool huis toe nie. Pleegsorg. Oom Danie is met God geslaan en soos dit op die webwerf sê: “Die pleegouer moet dissipline toepas.” Somehow vereenselwig hy sy pligte as pleegouer met my kennis van die tien gebooie. Die vorige aand moes ek aan tafel bid voor ons tannie Susan se doodgekookte groente kon eet. Ek het my oë op skrefies getrek en gekoekeloer, gehoop dat die vaal, eens groenbone en bleek tjoppie my sou inspireer om die regte woorde uit te spoeg. Ek dink die somtotaal wat ek kon stamel was: “Dankie Jesus vir die lekker kos.” En die sad ding was hoe trots tannie Susan gelyk het toe ek opkyk. Trane-in-die-ogies-tipe vibes en toe daai ekstra squeeze, want mens moet hande vashou as jy bid. Sy’t pofferige hande. Ek dink nie hulle sal haar ringe van haar vingers afkry as sy die dag haar gat sien nie. G’n kans vir my om hulle te steel terwyl sy dut op die rusbank voor die sepies smiddae nie. Kwylend en vreedsaam voor die Laan. En ek dink by myself, dis mal. Dis sad maar dis ook mal. Die happyste wat die goose ooit is, is as ek voor hulle hardop met haar imaginary pel praat. As ek “bid”. En hulle wonder of ek mal is! Die vorige maatskaplike werker het eenkeer gevra of ek stemme hoor. My bek het toegetrek soos ’n hardegat mossel, want dis niks van haar besigheid nie en sy loop en plaas my in ’n huis waar hul jou aanmoedig om met ánder mense se denkbeeldige tjommies te praat!
Elk geval.
Oor die masker in die mall. Daar’s hierdie shop wat kostuums verhuur en goed verkoop vir partytjies. Jy weet, soos vuurwerke en ballonne en stront? Konfetti en engelvlerkies en kak. En in die venster was daar hierdie masker. ’n Gorillamasker. Ek is nie seker of dit veronderstel was om King Kong te wees nie. Dit het net daar gelê in die vertoonvenster asof iets, een of ander monster, vervel het en dit net daar gelos het, en skielik was ek nuuskierig. Ek wou dit opsit, dit try. Die shop-assistent-tjerrie het my snaaks aangekyk toe ek na die aanpaskamer wou gaan. Dalk is die aanpaskamer net vir as jy ’n kostuum wil huur, wie weet? Maar ek is anyway daar in. Ek kan nie verduidelik hoekom nie, maar ek wou privaatheid hê. Ek wou alleen wees. Die aanpaskamer het spieëls op al die mure. Dis nogal trippy. ’n Legio weerkaatsings. Dis soos om oneindigheid te aanskou. Ek sit die masker op en daar is soos ’n oorvloed ekke wat oral herhaal. En dit was, ek was, anders. En toe sê die masker. Toe sê die ou in die masker in die spieël: “Alles wat jy wil hê, wag aan die anderkant van vrees.”
En toe het al die ouens, al die gorillas in die spieëls, dit herhaal: “Alles wat jy wil hê, wag aan die anderkant van vrees.” En toe weet ek wat ek moet doen. Nét so het ek geweet wat ek moes doen. Dit was maklik om oom Danie se geweer te steel. Ek weet al lankal waar hy die sleutel bêre. En die hekke van Hoërskool Kraaifontein het my verwelkom die volgende oggend. Ek dink as ek reg onthou het ek Suzie Meyer se lelike gevreet eerste weggeblaas.
***
Stemme is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.
Al die Stemme-monoloë word in die volgende weke op hierdie blad vrygestel:
Lees hier meer oor die Stemme-projek:
Stemme: LitNet se monoloogprojek met Suidoosterfees, KKNK en NATi