Olivia M Coetzee praat met Michaelangelo Abrahams, oorspronklik van "Lovers’ Bay", oor sy kuns

  • 0

Olivia M Coetzee: Daa is soeveel trots en talent in ôs gemeenskappe, en vandag gesels ek met een van dié talentvolles. Iemand vol talent, wysheid en visie. Lies vêder en ontmoet vi local kunstenaar Michaelangelo Abrahams.

Kan djy my meer van jouself vetel? Wat is jou kuns?

Ek is oospronklik va Lambertsbaai, ek noemit “Lovers’ Bay” ’cause almal is astrant en lief vi mekaa daa. Ek kô uit ’n huis van digters en toneelspelers, met ’n auntie wat ’n rêrige drama queen is. As dit by kuns kô, issit ’n bietjie van alles – teken, sculpture, cartoons, paint – en as ek nog by kan leer, doen ek so.

Djy het my vetel dat djy biesag is om jou final vak te skryf vi ’n Diploma in Arts. Kan djy vi my vetel van daai experience?

Vi die laaste drie ja was ek ’n student by Tshwane University of Technology Arts Campus. Dit was ’n joy vi my en ’n plesier om die voorreg te hê op ’n laat ouderdom om te ka study, but mês is mos nooit te oud vi dittie. So ek wassie oudste innie klas, maa ek het my net humble gehou wan ek wiet dat ek wiet practically bietjie mee as die ander students, so ek hettie bo-oor die res geganie. Theory was bekommernisse, maa met my mengles kô ek’am verstaan tussenie lyne deur.

Is djy met ienige projekte biesag?

Op die oomblik is ek vry, wêk aan my personal projects, dan hier en daar het ek ’n client of twee vi wie ek painting doen. Ek mis dai kant van die lewe waar ek constantly besig is innie communities. Hier waar ek nou bly, is almal wel af, so ek doen maa my eie ding by die huis.

Het djy uitstallings online of offline? Waa kan mens jou wêk uitcheck?

My wêk ka gesien wôd op Instagram, en my website is binnekot in aksie, dan ka mêse online kyk en koep. Ek mis my community elke dag waar ek ’n verskil kon maak, maa ek vul my toolbox met knowledge om die wêreld met ’n nuwe vision en mission aa’ te pak.

Hoe het COVID-19 jou persoonlik geaffekteer?

COVID-19 het my hande bietjie afgekap, omdat ek is my eie baas en wêk vi my en die huis. Exhibitions moes gecancel wôd. En djy voel net emotionally powerless, want almal moes hulle sente omdrai en vi ’n artist, eish, dis moeilik.

Vertel my meer van jou gemeenskap, en hoe mense in jou gemeenskap met COVID-19 cope?

In ons gesinne is nieman getas met Covid nie. Maa wel vriende va ôs, ennit was hartsee. Covid het baie van ôs geknak emotionally.

Wat is die doel van kuns in ôs gemeenskap, en hoe kan dit in die samelewing gebruik wôd om meedere te doen as net te “entertain”?

Kuns ka baie van ôs laaities red – dit hang net af va skillful leaders wat ka vas vat en bymekaa kom met ’n plan hoe hulle mekaa ka help om die arts en culture te dryf. As ons mense kry wat transparent met mekaa is, dan sal ons youth vooruit strewe. Mense wat wysheid en geduld toepas in ’n community ka ’n sterk force maak, saam, teen alles wat negative is.

Nina Simone sê: “You can't help it. An artist's duty, as far as I'm concerned, is to reflect the times.” Wat is jou gedagtes oo dit wat Miss Simone te sê het oo die verantwoordelikheid van ôs as artists?

As ek dittie sê nie, wie gan dit sê, as ek dittie doenie, wie ganit doen? Simone is ‘n groot inspirasie tot een en elk. Sy gebruik haa skill as tool om die truth te versprei. En dis hoekô ‘it ’n duty is vi ’n artist om te praat deu sy skill. Abused poets en singers doenit tog, hulle is activists in dit. Hulle help wee een wat vasgevang is in abusive situation. So as jou ability kan iemand help dan help djy. As ekkie, wie gaa’ da’? Ek paintie reality va my lewe en wat ek teëkô. Mense met wie ek opgegroei het, my journey. Dis dinge waa’op ek trugkyk, en ek sê dankie vi alles, reg en ve’keed, ‘cause dai het my gevorm tot nou toe, wat voo’lê is nog ’n mylpaal. En dis my inspirasie wat ek vasvang op papier en canvas.

Wat is die mooi wat djy sien in jou gemeenskap en in die algemene samelewing van Suid Afrika?

Die mooiste va’ die lewe is mense wat liefde het. Almal, goed en sleg. En dit het ek al gesien en gehoor in moordenaars, en bedelaars, en bendes. Liefde gee ôs krag dat ôs tot enige iets in staat is. Net een woord van ’n vrot appel en daa’ is jealousy soes Covid wat wil almal gaan besoek. Maa liefde breek elke donker wolk.

Wat is jou denke oo die euwels in ôs gemeenskappe?

Poverty is ’n euwel ennit verwoes ons almal, ôs is bo-op en oor mekaar, so frustration en kwaad sal inskop, plus die honderde drankwinkels in die omtes. Haal drank weg dan ga die banner effens lig, en die proses ka stap vi stap so verander. En oo’ ôs skole te help moet daa mee’ kunsonnies inkom. Ons het duisende kunstenaa’s met diplomas in ons land, maa’ ons vereistes is hoog. My drie jaa by TUT was genoeg info om ôs kids te kan leer daarmee. Ons theory het al die vlakke van art history gecover, en dit kan part van ’n postgraduate education certificate wies. So kan ons baie kids met art en culture vannie strate af en op skool hou. Ons textile industry kan weer opstaan en voortgaan.

Hoekô dink djy is daa soe min vroumense van kleur wat bekend is vi hulle fyn kuns?

Ek dink dat min het hul man gestaa’ en wys wat hulle het. Hoe ka djy gehoo wôd as djy nie raas nie. As djy ’n moment in jou lewe op skool gehad het waa juffie vi jou veskree met di woorde “Jou leë blik”, moet jy dai gebruik in jou toekomende tyd. Wees ’n leë blik. Vrouekunstenaars moenie die woord “vrou” as ’n swakheid of verskoning sien nie. Staan op en wys  jou skill.

As daa ienige iets is wat djy vi mense, jonk of ouer, wil sê wat baie graag wil doen wat djy doen, maa wat bang is om te begin skets, of om ’n kwas op te tel, wat sal dit wies?

As jy wil ’n artist is, begin net. En maak foute soveel as wat jy kan. Speel, mors, dit alles gee jou confidence om nie bang te is om lyne of kleur te trek en meng nie. Nadat jy deur al die plesier is, gaan jou skill beter en beter raak byrie dag. So moenie jou vestig op perfeksie nie, dit kô met die loep va tyd.

Foto's: verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top