In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Appèlregter Oliver Schreiner is by geleentheid deur Ellison Kahn, redakteur van die gesaghebbende The South African Law Journal, beskryf as "die grootste hoofregter wat Suid-Afrika nie gehad het nie".[i]
Hierdie briljante juris, wat in 1945 appèlregter geword het, moes volgens gebruik in 1957 hoofregter geword het met die aftrede van regter Centlivres, maar is deur die regering van JG Strijdom oor die hoof gesien. Dieselfde het in 1959 gebeur, toe 'n opvolger vir hoofregter HA Fagan aangewys moes word. Schreiner is toe óók oor die hoof gesien.
Straks was daar 'n rede voor. Schreiner was die enigste van 11 appèlregters wat in die saak van Collins v Minister van Binnelandse Sake[ii] beslis het dat die regering se stappe om die senaat te vergroot ten einde 'n wet deur die parlement te loods waardeur die bruin mense van die Kaapprovinsie van die gemeenskaplike kieserslys verwyder sou word, ongeldig was. Dit het gevolg op 'n uitgerekte grondwetlike stryd oor hierdie aangeleentheid wat reeds in 1951 begin het. 'n Mens kan dus verstaan dat regter Schreiner as gevolg van sy afwykende uitspraak – wat wye publisiteit geniet het – destyds nie in regeringskringe baie gewild was nie.
Kahn skryf met smaak oor die ligter sy van die regter se lewe. Hy het glo 'n swakheid vir groot, vinnige Amerikaanse motors gehad. Vir sy Packard was hy die liefste, en het volgens gerugte 'n hele paar spoedkaartjies daarmee losgery.
In die hof was hy stil, geduldig en hoflik en het hy soms stilletjies sketse in sy notaboek gemaak as die saak hom verveel het. (Hy het die tekenkuns bemeester terwyl hy tydens die Eerste Wêreldoorlog krygsdiens in Frankryk verrig het.)
Kwinkslae van sy kant af was skaars, maar as hy die dag met 'n snaaksigheid vorendag gekom het, het dit verdien om opgeteken te word. Een so 'n kwinkslag het gekom tydens die verhoor van die appèl van Big Ben Soap Industries v Die Kommissaris van Binnelandse Inkomste.[iii] Die appellant was 'n maatskappy wat seep vervaardig het. Toe die oorlogswolke in 1939 begin saampak het, het hy met sy finansiële state geknoei ten einde 'n hoër belasbare wins as wat werklik die geval was te toon. Die oogmerk was om die gevaar van verhoogde belastings later gedurende die oorlog te ontduik.
Toe die maatskappy uitgevang is, het die ontvanger van inkomste hom swaar beboet. Daarteen is appèl aangeteken. Tydens die verhoor was die beroemde adv Norman Rosenberg nog besig om die hof te probeer oortuig dat as die maatskappy bereid was om méér belasting vir 1939 te betaal as wat nodig was, dit sy saak was, toe regter Schreiner hom onderbreek. "Mr Rosenberg," het hy gesê, "I thought that the business of this company was boiling soap, not cooking the books!"
'n Kenmerk van regter Schreiner was die hoë premie wat hy op sy onafhanklikheid geplaas het. Hy het dit male sonder tal op die regbank bewys; dit was by hom 'n lewenswyse. Selfs nadat hy op hoë ouderdom 'n beroerte-aanval gehad het, wou hy nie fisieke hulp van enigiemand aanvaar nie. Kahn vertel dat die regter een aand, 'n paar maande voor sy dood, 'n raadsvergadering van die Universiteit van die Witwatersrand bygewoon het. Tot almal se konsternasie is daar ná die vergadering ontdek dat die hysers van die gebou buite werking was. Die vergadering was op die 14de verdieping en die bejaarde regter was die eerste van die raadslede wat begin het om die trappe na die grondverdieping af te stap.
Oliver Deneys Schreiner is op 27 Julie 1980 – dis ook al 35 jaar gelede – in die rype ouderdom van 89 jaar oorlede.
[i] Vgl in die algemeen Kahn, "A trimestrial potpourri" in The South African Law Journal, 106, November 1989, ble 724 ev, asook Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, vol V, 734.


