Oleanna: ’n teaterresensie

  • 0

Foto: Claude Barnardo

Die toneelstuk van die Pulitzer-pryswenner David Mamet se storielyn is op die oog af eenvoudig: ’n jong student, Carol, sit in haar dosent se kantoor. Haar punte is haglik en sy is gefrustreerd omdat sy nie deurkom nie, maar baie graag wil leer. Sy herhaal verskeie male dat sy nie verstaan wat hy bedoel of sê nie en vind sy onderrigstyl ontoeganklik. “Ek het jou boek gelees soos jy voorgeskryf het, maar ek verstaan nie wat jy skryf of wat jy bedoel nie,” verklaar sy by verskeie geleenthede.

Die dosent, John, is in die middel van ’n bevordering; ’n nuwe huis vir hom en sy vrou wink as die permanente pos hom beskore is. Hy is ingedagte en bepaal aanvanklik nie sy volle aandag by Carol en haar frustrasie nie. Hul gesprek word verskeie male deur die telefoon onderbreek.

Hy besluit om vir Carol hulp aan te bied, sodat hy sy plig as dosent kan nakom. Hy erken egter dat hy haar nie kan leer van opvoeding nie, maar dat hy haar kan vertel wat hy dink. Hy reken ook dat hy sy studente moet uitdaag tot emosies, sodat hulle die lewe kan bevraagteken en hul eie pad vind.

Hy beken ook dat hy haar woede en magteloosheid heeltemal verstaan, omdat hy ook grootgeword het met die ewige frustrasie dat hy nie dinge verstaan het nie; altyd ’n randeier was en ingekyk het op dié wat weet, wat leer en wat verstaan.

John probeer haar ook gerusstel dat almal probleme het en dat jy dit kan oorkom en ook kan verstaan. Hy glo sy twee dekades as leermeester kan jong studente help om hul weg te vind. Haar moedeloosheid maak haar emosioneel en irrasioneel en John vertroos haar met bemoedigende woorde en ’n skouer om op te leun.

Die toneelstuk is opgedeel in drie dele wat alles in sy kantoor afspeel. In die eerste deel is hy ooglopend in beheer, in die tweede deel skuif die magspel oor na haar kant en in die derde deel laat dit die kyker effe onseker oor wie in die magsposisie is en of daar enigsins meriete aan hul lang gebabbel is.

Haar ervaring van sy bemoediging is egter dat hy 20 jaar se ondervinding as verskoning gebruik om haar te beledig.

Voor jy heeltemal begryp wat aangaan, is daar klagtes van seksuele teistering en sy loopbaantoekoms is in die weegskaal.

Dis heel gepas om te sê hierdie is ’n tipiese geval van: "Hy sê, sy sê, maar wat het regtig gebeur en is jy seker jou weergawe is die regte een?"

Gaan lees ek op oor wat "Oleanna" beteken, vind ek dis ’n Noorweegse volksliedjie wat later in Engels vertaal is en bekendheid verwerf het deur Pete Seeger. Dit lewer kritiek op die Noorweegse violis, Ole Bull, se visie van ’n perfekte Amerikaanse samelewing. Oleanna was een van sy nedersettings in die nuwe Noorweegse kolonie, Pennsylvania, wat gefaal het en waarvan mense weggetrek het. Die lirieke spreek Ole se begeerte uit om Noorweë te verlaat en na Oleanna te verhuis — daar waar die koring en mielies sommer self groei, terwyl jy rustig op jou bed lê.

Die liedjie se lirieke is deur Ditmar Meidell, wat sy woorde aan die melodie van “Rio Janeiro” gekoppel het en dis vir die eerste maal in 1853 in ’n satiriese tydskrif publiseer. Dis betekenisvol dat Mamet juis hierdie titel gekies het vir sy stuk – dalk is die ontnugtering van ’n perfekte samelewing waar almal gaaf is en net wil goed doen, sy grootste boodskap. Of dalk dat ons dink ons werklikheid is dié werklikheid, maar dat dit altyd net ’n persoonlike interpretasie van dinge is.

Hoewel hy aan die progressiewe Francis W Parker School en Goddard College in Plainfield, Vermont sy opleiding gekry het, noem Mamet in ’n toespraak in 2006 dat sy alma mater eintlik die Chicago-biblioteek is, waar hy op die derde vloer in die leeskamer sy opvoedkundige grondslag gekry het. Dit is min of meer John se sentiment oor opvoeding aan tersiëre inrigtings in die teks ook.

Die toneelstuk is vir die eerste maal in Mei 1992 in Amerika opgevoer. Resensente het die afgelope 26 jaar verskeie male gereken die sosiale en seksuele landskap het drasties verander sedert sy toneelstuk sy premièr in die negentigerjare gehad het.

Maar tog bly sommige omstandighede en worstelinge tydloos en universeel, ongeag die jaartal of land waarin dit afspeel. Die verskil tussen die gegoede klas en hul probleme en die minder gegoedes se versugting oor ’n lewe wat hulle glo hulle toekom, kom baie sterk na vore tussen dosent en student. En dit behoort nie aan die negentigerjare Amerika nie; in ons eie land vlam daardie smeulende vuur gereeld by universiteite en kolleges op.

Met die uitstap uit die teater, speel die half-komiese "Oleanna" oor die luidsprekers en in jou geestesoog kan jy jou verbeel jy is by ’n barn dance in die diep-suide van Amerika, met jou denim dungerees aan en luide applous en hie-ha’s! aan die orde van die dag. Dis egter die teenoorgestelde van die verwarring in jou gemoed.

In die foyer na afloop van die vertoning, is die opinies uiteenlopend. Sommige mense voel die Amerikaanse aksente was onnodig en hinderlik en die stuk kon meer trefkrag gehad het as dit teen ’n Suid-Afrikaanse agtergrond afgespeel het; ander voel dat Carol gemeen was en seksuele teistering haar enigste troefkaart was toe sy voel sy verloor die stryd. En sommige mense was bloot verward oor wat hulle pas gade geslaan het.

Dis juis waar die stuk vir my geslaagd was: jy glo jy sien wat regtig gebeur het, maar dis steeds met jou eie ondervinding en vooroordele as agtergrond. Carol se dialoog lig aspekte van John se gedrag uit, wat aanvanklik heel onskadelik en hulpvaardig klink, maar nadat die aanklagte van seksuele teistering en aanranding ter sprake is, wil jou lojaliteit skuif. Maar later bevraagteken jy juis hierdie verskuiwing.

Ek kan net volstaan by ’n gedagte uit die resensie van Ben Brantley in die New York Times (11 Oktober 2009): “Wat só vrek slim aan Oleanna is, is dat, soos die karakters vivisekteer waartoe die gehoor so pas getuie was, ons al hoe minder seker word van wat ons gesien het.”


 

Oleanna

Met: Alan Committie en Nicole Fortuin
Deur: David Mamet
Regie: Greg Karvellas
Kostuums: Birrie le Roux

The Fugard-teater
14–30  September  

Geen onder 16’s

Kaartjies deur Computicket of die teater by 021 461-4554

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top