Oktober 1978: Die man wat moes wegstap van die twee liefdes in sy lewe

  • 1

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Kyk, apartheid was ’n ernstige saak wat baie hartseer en droefheid veroorsaak het. Só ernstig was dit dat aspekte daarvan heel dikwels in ons land se hoogste hof, die appèlhof, weerklank gevind het. En vandag moet ons toegee dat baie van die sake wat vir dae en weke, en selfs maande, die aandag van slim regsgeleerdes in beslag geneem het, op die ou end tog maar net praatjies vir die vaak was. Om nie eens van die absurditeite te praat nie. Vat nou maar die saak van die Universiteit van Pretoria teen Tommie Meyer Films wat in die middel jare sewentig opslae gemaak het en uiteindelik in die appèlhof gedraai het.

Tommie Meyer was ’n bekende Afrikaanse rolprentvervaardiger. Hy het ’n film met die titel Die Springbok vervaardig wat die verhaal was van ’n kleurling, Attie Louw, wat hom as ’n blanke voorgedoen het en aan die Universiteit van Pretoria gestudeer het. Hy word in die film as die universiteit se rugbyheld uitgebeeld en word vir die Noord-Transvaalse rugbyspan gekies. Sy lewensdroom was om ’n Springbok te word.

As gevolg van ’n persoonlike botsing wat Attie met ’n koerantverslaggewer gehad het, het laasgenoemde besluit om ’n bietjie ondersoek na Attie se herkoms in te stel. Hy het toe uitgevind dat Attie in werklikheid ’n kleurling is. Attie was verlief op die dogter van ene Landman, ’n Noord-Transvaal- en Springbokkeurder. En wat maak die koerantverslaggewer? Hy gaan lap die storie oor Attie se kleurling-herkoms aan Landman uit en vir dié groot Afrikaner is dit omtrent die einde van die wêreld dat sy dogter se kêrel ’n kleurling is.

Die verhaal vertel verder van die gevolglike tweestryd tussen Tukkies se rugbyheld en Landman, wat vasberade is om Attie se uittrede uit rugby te bewerkstellig. Landman kom tweede en Attie word gekies om aan die Springbokproefwedstryde deel te neem. Hy word egter opsetlik deur ’n medespeler, wat met Landman geheul het, beseer, en daarmee is sy kans om ooit ’n Springbokrugbyspeler te word, vir goed daarmee heen.

Terwyl die noodlottige wedstryd aan die gang is, word die Sondagkoerante vir die volgende dag gedruk en daarin kom die feit dat Attie ’n kleurling is, vir die eerste maal onder Suid-Afrika se aandag. Dit is voorbladnuus. Die fliek eindig dan met ’n sentimentele toneel wat Attie uitbeeld waar hy wegstap van sy meisie, Landman se dogter, en sy geliefde rugby – van albei verwyder, net omdat hy ’n kleurling is.

Kort voordat die rolprent vrygestel is, het die Universiteit van Pretoria by die hooggeregshof aansoek gedoen om ’n interdik om die verspreiding van die rolprent te verbied. In ’n beëdigde verklaring deur die destydse rektor, Eddie Hamman, is aangevoer dat die universiteit beskik het oor ’n "reg op privaatheid"; dat die universiteit geregtig was op beskerming teen die skending van sy reg op privaatheid; en dat die vertoning van Tommie Meyer se film daardie reg sou skend. Verder het die rektor aangevoer dat die film die universiteit belaster het; dat dit met ander woorde die universiteit se reg op sy goeie naam aangetas het. Laastens het Hamman aangevoer dat die vertoning van die film die "vermoënsregte", soos hy dit gestel het, van die universiteit sou skend. Hy was naamlik bekommerd dat die talle donateurs van die universiteit dalk, as gevolg van die ongure publisiteit wat die universiteit na verwagting as gevolg van die hierdie rolprent sou ly, sou besluit om nie meer geld aan die universiteit te skenk nie.

Die hooggeregshof in Pretoria het geweier om die interdik aan die universiteit toe te staan. Die hof het beslis[1] dat ’n universiteit, anders as ’n gewone mens, geen reg op privaatheid het nie. Verder het die hof beslis dat daar geen sprake kon wees van laster in die gedeeltes van die film waarteen die universiteit beswaar gemaak het nie. En in die derde plek het die hof beslis dat geen toeskouer van die film enigsins onder die indruk gelaat is dat die universiteit ’n aandeel gehad het in die maak van die rolprent of daartoe ingestem het nie, of dat dit finansiële voordeel daaruit sou trek nie. Die hof het ook beslis dat die universiteit ’n deel was van die "openbare besit" – nie alleen as gebou of opvoedkundige inrigting nie, maar ook as ’n onmiskenbare deel van die gemeenskap se geestesgoed. Die gedagte dat ’n skeppende kunstenaar eers toestemming moet kry om die gemeenskap se geestesgoed in sy verhaal uit te beeld of aan te haal, is strydig met die gemeenskap se opvatting. Gevolglik, het die hof beslis, was die vertoning van Tommie Meyer se film nie onregmatig nie, en die aansoek is met koste van die hand gewys.

En toe appelleer die universiteit jou werklikwaar teen hierdie beslissing, maar ook in die appèlhof in Bloemfontein[2], meer as twee jaar later gedurende die lente van 1978, het die universiteit pak gekry en is die appèl van die hand gewys.

Vandag kan ’n mens maar net jou kop in verwondering skud oor hierdie episode uit Suid-Afrika se apartheidsverlede.


[1] Vgl Universiteit van Pretoria v Tommie Meyer Films (Edms) Bpk 1977(4) SA 376 (TPA)

[2] Vgl Universiteit van Pretoria v Tommie Meyer Films (Edms) Bpk 1979(1) SA 441 (A)

  • 1

Kommentaar

  • Karel landman

    Ek is kleinseun van Nick Shreck (oupa Landman) en is op soek na rolprent Springbok. As iemand my kan help sal ek dit baie waardeer.
    Karel Landman

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top